Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoekom word die apostel Paulus gewoonlik met ’n kaalkop of min hare deur Jehovah se Getuies uitgebeeld?

Eintlik weet niemand vandag hoe Paulus regtig gelyk het nie. Die tekeninge en skilderye in ons publikasies is voorstellings deur kunstenaars, en is nie prente wat op erkende argeologiese feite gebaseer is nie.

Maar daar is wel aanduidings van hoe Paulus gelyk het. Een voorbeeld hiervan is in Zion’s Watch Tower van 1 Maart 1902. Dit het gesê: “Wat Paulus se persoonlike voorkoms betref: . . . Die ‘Handelinge van Paulus en Tekla’, . . . wat ongeveer 150 n.C. geskryf is, bevat ’n beskrywing van Paulus wat seker die duidelikste is en wat tradisioneel aanvaar word. Hier word hy beskryf as ‘klein, met ’n kaalkop, bakbene, fris gebou, met wenkbroue wat aan mekaar raak en ’n redelike lang neus’.”

The Oxford Dictionary of the Christian Church (uitgawe van 1997) sê oor hierdie ou geskrif: “Dit is moontlik dat die ‘Handelinge’ sekere elemente bevat wat geskiedkundig waar is.” Die feit dat 80 Griekse manuskripte van die Handelinge van Paulus en Tekla bestaan en dat daar soveel weergawes in ander tale is, wys dat mense eeue gelede baie respek daarvoor gehad het. Daarom stem die voorstellings van ons kunstenaars ooreen met party antieke beskrywings van hoe die apostel gelyk het.

Ons moenie vergeet dat daar belangriker dinge is as Paulus se voorkoms nie. Tydens Paulus se bediening het mense wat hom gekritiseer het, gesê dat “sy persoonlike teenwoordigheid swak [is] en sy spraak veragtelik” (2 Kor. 10:10). Maar ons moet onthou dat hy ’n Christen geword het nadat Jesus wonderdadig aan hom verskyn het. Dink aan wat Paulus bereik het as ‘’n uitverkore vat vir Christus om Jesus se naam na die nasies te dra’ (Hand. 9:3-5, 15; 22:6-8). Dink ook aan hoe die Bybelboeke wat Jehovah Paulus geïnspireer het om te skryf, ons vandag help.

Paulus het nie gespog oor wat hy alles bereik het voordat hy ’n Christen geword het nie. Hy het ook nooit sy voorkoms beskryf nie (Hand. 26:4, 5; Fil. 3:4-6). Hy het erken: “Ek is die geringste van die apostels, en ek is nie werd om ’n apostel genoem te word nie” (1 Kor. 15:9). Later het hy geskryf: “Aan my, iemand wat geringer is as die geringste van alle heiliges, is hierdie onverdiende goedhartigheid gegee, sodat ek die goeie nuus oor die onpeilbare rykdom van die Christus aan die nasies bekend sou maak” (Ef. 3:8). Hierdie boodskap is beslis belangriker as om te wonder hoe Paulus dalk gelyk het.