Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Luister na dissipline en word wys”

“Luister na dissipline en word wys”

“O seuns, . . . luister na dissipline en word wys.” — SPR. 8:32, 33.

LIED: 56, 89

1. Hoe kan ons wysheid kry, en hoe kan dit ons help?

WYSHEID kom van Jehovah, en hy deel dit graag met ander. Jakobus 1:5 sê: “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt.” Een manier hoe ons wysheid van God kry, is deur sy dissipline te aanvaar. Hierdie wysheid beskerm ons sodat ons nie dinge doen wat verkeerd is nie en help ons om na aan Jehovah te bly (Spr. 2:10-12). Dit sal ons “in God se liefde hou . . . met die ewige lewe in die vooruitsig.” — Jud. 21.

2. Hoe kan ons leer om lief te word vir God se dissipline?

2 Maar ons onvolmaaktheid, die manier waarop ons grootgemaak is en ander dinge kan dit soms vir ons moeilik maak om dissipline te aanvaar of om dit as iets te sien wat ons kan help. Ons leer om lief te word vir dissipline en besef dat dit ’n bewys van God se liefde is, wanneer ons sien hoe dit ons in ons lewe help. Spreuke 3:11, 12 sê: “My seun, moenie die dissipline van Jehovah verwerp nie . . . want Jehovah wys die een tereg wat hy liefhet.” Ons kan seker wees dat Jehovah die beste vir ons wil hê. (Lees Hebreërs 12:5-11.) Omdat God ons so goed ken, is sy dissipline altyd regverdig en presies wat ons nodig het. In hierdie artikel, gaan ons kyk na vier aspekte van dissipline: (1) selfdissipline (2) dissipline wat ouers gee, (3) dissipline in die Christengemeente en (4) iets wat baie erger is as enige tydelike pyn van dissipline.

SELFDISSIPLINE IS ’N TEKEN VAN WYSHEID

3. Hoe kan ’n kind selfdissipline ontwikkel? Gee ’n voorbeeld.

3 Selfdissipline beteken dat ons beheer het oor onsself sodat ons die manier waarop ons dink en dinge doen kan verbeter. Ons word nie met selfdissipline gebore nie, ons moet dit aanleer. Kyk na hierdie voorbeeld: Wanneer ’n kind vir die eerste keer leer om fiets te ry, hou sy ma of pa gewoonlik die fiets vas sodat hy nie val nie. Terwyl die kind nog leer om sy balans te kry, sal hulle die fiets dalk vir ’n paar sekondes laat gaan. Maar wanneer die kind geleer het om sy balans te hou, kan hy die fiets ry sonder dat iemand dit vashou. Net so help ouers hulle kinders om selfdissipline en wysheid te kry wanneer hulle hulle kinders geduldig “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” grootmaak. — Ef. 6:4.

4, 5. (a) Hoekom is selfdissipline ’n belangrike deel van “die nuwe persoonlikheid”? (b) Hoekom moet ons nie moed verloor nie, al maak ons baie foute?

4 Dit is dieselfde vir mense wat Jehovah eers later in hulle lewe leer ken. Hulle het dalk ’n mate van selfdissipline, maar omdat hulle Jehovah eers onlangs begin dien het, is hulle nog nie geestelik volwasse nie. Maar terwyl hulle Christus navolg en begin om die “nuwe persoonlikheid” aan te trek, sal hulle geestelik meer volwasse word (Ef. 4:23, 24). As ons selfdissipline het, help dit ons “om goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp en om met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe.” — Tit. 2:12.

5 Maar ons almal sondig (Pred. 7:20). Beteken dit dat wanneer ons sondig ons nie genoeg of dalk geen selfdissipline het nie? Nie noodwendig nie. Spreuke 24:16 sê: “Want die regverdige kan selfs sewe keer val, en hy sal beslis opstaan”. Wat sal ons help om weer ‘op te staan’? Ons kan dit nie op ons eie doen nie. Ons het die krag van God se gees nodig. (Lees Filippense 4:13.) Selfbeheersing is ’n aspek van die vrug van die gees. Dit is baie dieselfde as selfdissipline.

6. Hoe kan ons beter studente van God se Woord wees? (Sien prent aan begin van artikel.)

6 As ons selfdissipline wil hê, is dit ook belangrik dat ons uit ons hart met Jehovah praat, gereeld die Bybel studeer en nadink oor wat ons gelees het. Maar sê nou dit is vir jou moeilik om die Bybel te studeer of jy hou nie daarvan om te studeer nie? Moenie mismoedig word nie. Onthou, Jehovah sal jou help as jy hom toelaat. Hy kan jou help om “’n verlange na” sy Woord te ontwikkel (1 Pet. 2:2). Bid eers en vra Jehovah vir selfdissipline sodat jy tyd opsy sal sit om sy Woord te studeer. Miskien kan jy begin deur net vir ’n paar minute op ’n slag te studeer. Dit sal later makliker word en jy sal dit baie meer geniet! Die tyd wat jy opsysit om in stilte oor Jehovah se kosbare gedagtes na te dink en daarin verdiep te raak, sal vir jou baie spesiaal word. — 1 Tim. 4:15.

7. Hoe kan selfdissipline ons help om ’n geestelike doelwit te bereik?

7 Selfdissipline help ons om geestelike doelwitte te bereik. ’n Pa het byvoorbeeld gevoel dat hy besig was om sy ywer te verloor, en daarom het hy dit sy doelwit gemaak om ’n pionier te word. Hy het artikels oor die pionierdiens in ons tydskrifte gelees en daaroor gebid. Dit het hom geestelik opgebou en sy verhouding met Jehovah sterker gemaak. Hy het ook hulppionierdiens gedoen wanneer hy kon. Al was dit moeilik het hy nie toegelaat dat enigiets hom keer om ’n gewone pionier te word nie, en hy het uiteindelik sy doelwit bereik.

MAAK JOU KINDERS GROOT IN DIE DISSIPLINE VAN JEHOVAH

Wanneer kinders gebore word, weet hulle nie wat reg of verkeerd is nie. Hulle moet geleer word (Sien paragraaf 8)

8-10. Wat kan ouers help om hulle kinders groot te maak sodat hulle Jehovah sal dien? Gee ’n voorbeeld.

8 Christenouers het die kosbare voorreg om hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Ef. 6:4). Dit is baie moeilik, veral in vandag se wêreld (2 Tim. 3:1-5). Wanneer kinders gebore word, weet hulle nie wat reg of verkeerd is nie, en is hulle gewete nog nie opgelei nie. Hulle het dissipline nodig om dit op te lei (Rom. 2:14, 15). Een Bybelgeleerde het verduidelik dat die Griekse woord vir “dissipline” ook as “kinderontwikkeling” vertaal kan word.

9 Wanneer ouers hulle kinders liefdevol dissiplineer, laat dit die kinders gewoonlik veilig voel. Hulle leer dat vryheid perke het en dat alles wat hulle in die lewe doen goeie of slegte gevolge het. Daarom is dit belangrik dat Christenouers op Jehovah se wysheid vertrou wanneer hulle hulle kinders grootmaak. Idees oor hoe om kinders groot te maak en die manier waarop dit gedoen word, verskil van kultuur tot kultuur en van geslag tot geslag. Maar wanneer ouers na Jehovah luister, hoef hulle nie te raai oor hoe om hulle kinders groot te maak nie. Hulle hoef ook nie staat te maak op ander mense se ervaring en idees nie.

10 Ons kan uit die voorbeeld van Noag leer. Toe Jehovah Noag gevra het om die ark te bou, het Noag glad nie geweet hoe om dit te doen nie. Hy het nog nooit ’n ark gebou nie. Hy moes op Jehovah vertrou en “net so” doen, met ander woorde net soos Jehovah gesê het (Gen. 6:22). Omdat Noag geluister het, het die ark Noag en sy familie gered. Noag was ook ’n suksesvolle ouer omdat hy op Jehovah se wysheid vertrou het. Hy het sy kinders mooi geleer en ’n goeie voorbeeld vir hulle gestel, al was dit nie maklik in daardie goddelose tyd voor die Vloed nie. — Gen. 6:5.

11. Hoekom moet ouers ’n goeie voorbeeld stel?

11 Hoe kan jy as ’n ouer “net so” in God se oë doen? Luister na Jehovah. Laat hom toe om jou te help om jou kinders groot te maak. Pas die raad toe wat ons in sy Woord en deur sy organisasie kry. Jou kinders sal heel moontlik later vir jou dankie sê omdat jy dit gedoen het! ’n Broer het gesê: “Ek is dankbaar vir die manier waarop my ouers my grootgemaak het. Hulle het hulle bes gedoen om my hart te bereik.” Hy sê ook dat sy ouers hom gehelp het om nader aan Jehovah te kom. Al doen ouers alles wat hulle kan om hulle kinders te leer, sal party kinders Jehovah nog steeds verlaat. Maar ouers wat hulle bes gedoen het om hulle kind die waarheid te leer, kan ’n skoon gewete hê en hoop dat hulle kind eendag na Jehovah sal terugkeer.

12, 13. (a) Hoe kan ouers wys dat hulle gehoorsaam is aan God as hulle kind uitgesit word? (b) Hoe het dit een gesin gehelp omdat die ouers aan Jehovah gehoorsaam was?

12 Dit kan vir party ouers baie moeilik wees om gehoorsaam te bly wanneer ’n kind uitgesit word. Dink aan die voorbeeld van ’n ma wie se dogter uitgesit is en die huis verlaat het. Die ma erken: “Ek het na iets in ons publikasies gesoek wat my ’n verskoning sou gee om tyd saam met my dogter en kleindogter te spandeer.” Maar haar man het haar liefdevol gehelp om te sien dat hulle nie meer vir hulle dogter verantwoordelik was nie en dat hulle nie met Jehovah se dissipline moes inmeng nie.

13 ’n Paar jaar later is die dogter in die gemeente herstel. Die ma het gesê: “Nou bel en stuur sy amper elke dag vir my boodskappe! Sy het diep respek vir my en my man omdat sy weet dat ons aan God gehoorsaam was. Ons het ’n wonderlike verhouding.” Sal jy, as jou kind uitgesit is, ‘op Jehovah vertrou met jou hele hart en nie op jou eie begrip steun nie’? (Spr. 3:5, 6). Onthou, Jehovah se dissipline is ’n bewys van sy groot wysheid en liefde vir ons. Moet nooit vergeet dat hy sy Seun vir ons almal, insluitende jou kind, gegee het nie. God wil nie hê dat enigiemand vernietig moet word nie. (Lees 2 Petrus 3:9.) Daarom moet ouers aanhou om op Jehovah se dissipline en leiding te vertrou. Hulle moet dit doen selfs wanneer dit baie moeilik is. Luister na God se dissipline, en moenie daarteen stry nie.

IN DIE GEMEENTE

14. Hoe vind ons baat by die onderrigting wat Jehovah vir ons deur middel van die “getroue bestuurder” gee?

14 Jehovah het belowe om die Christengemeente te beskerm, te onderrig en daarvoor te sorg. Hy doen dit op verskillende maniere. Hy het byvoorbeeld sy Seun die verantwoordelikheid gegee om vir die gemeente te sorg. Jesus het die “getroue bestuurder” aangestel om geestelike voedsel op die regte tyd te voorsien (Luk. 12:42). Daardie “bestuurder” gee ons kosbare onderrigting, of dissipline, op verskillende maniere. Vra jou af: ‘Hoeveel keer het ’n toespraak of artikel in een van ons tydskrifte my al gemotiveer om die manier waarop ek dink en dinge doen, te verander?’ Dit is baie goed as jy sulke veranderinge gemaak het, want dit beteken dat jy toelaat dat Jehovah jou vorm, of dissiplineer. — Spr. 2:1-5.

15, 16. (a) Hoe kan die ouer manne in die gemeente ons help? (b) Wat kan ons doen sodat die ouer manne hulle werk meer geniet?

15 Christus het ook vir die gemeente “gawes in die vorm van mense” gegee — ouer manne wat liefdevol vir God se skape sorg (Ef. 4:8, 11-13). Hoe kan hierdie ouer manne ons help? Een manier is om hulle geloof en goeie voorbeeld na te volg. Nog ’n manier is om na die raad te luister wat hulle uit die Bybel gee. (Lees Hebreërs 13:7, 17.) Die ouer manne is lief vir ons en wil hê dat ons nader aan God moet kom. As hulle byvoorbeeld agterkom dat ons nie by al die vergaderinge is nie of dat ons nie meer so ywerig is nie, sal hulle dadelik iets doen om ons te help. Hulle sal na ons luister en ons dan liefdevol aanmoedig en goeie raad uit die Bybel gee. Sien jy hulle hulp as ’n bewys van Jehovah se liefde vir jou?

16 Onthou, dit is nie altyd maklik vir die ouer manne om vir ons raad te gee nie. Dink byvoorbeeld hoe moeilik dit vir die profeet Natan moes gewees het om met koning Dawid te praat nadat Dawid probeer het om sy ernstige sonde weg te steek! (2 Sam. 12:1-14). Die apostel Paulus het ook baie moed nodig gehad om Petrus, een van die 12 apostels, reg te help omdat hy die Joodse Christene beter behandel het as die nie-Joodse Christene (Gal. 2:11-14). Hoe kan jy dit vir die ouer manne makliker maak om vir jou raad te gee? Wees nederig, dankbaar en iemand met wie ’n mens maklik kan praat. Hulle hulp moet vir jou ’n bewys van God se liefde wees. Dit sal jou help, en die ouer manne sal hulle werk ook meer geniet.

17. Hoe het die ouer manne ’n suster gehelp?

17 As gevolg van dinge wat in die verlede met ’n suster gebeur het, was dit vir haar moeilik om Jehovah lief te hê. Dit het haar baie depressief laat word. Sy sê: “Ek het geweet dat ek met die ouer manne moet praat. Hulle het my nie sleg laat voel of gekritiseer nie. Hulle het my eerder aangemoedig en versterk. Ná elke vergadering het ten minste een van hulle gevra hoe dit met my gaan, maak nie saak hoe besig hulle was nie. As gevolg van my verlede het ek gevoel dat God nie vir my lief kan wees nie. Maar Jehovah het die gemeente en die ouer manne keer op keer gebruik om te wys dat hy my liefhet. Ek smeek Jehovah dat ek altyd na aan hom sal bly.”

WAT IS ERGER AS ENIGE PYN VAN DISSIPLINE?

18, 19. Wat is erger as enige pyn wat deur dissipline veroorsaak word? Gee ’n voorbeeld.

18 Hoewel dissipline dalk pynlik is, is daar iets wat erger is — die slegte gevolge as jy nie na dissipline luister nie (Heb. 12:11). Kom ons kyk na twee voorbeelde — Kain en koning Sedekia. Toe Kain sy broer Abel begin haat het en hom wou doodmaak, het God hom gewaarsku: “Waarom het jy kwaad geword, en waarom het jou gesig somber geword? As jy jou daartoe wend om goed te doen, sal daar dan nie ’n verheffing wees nie? Maar as jy jou nie daartoe wend om goed te doen nie, is daar sonde wat by die ingang lê en loer, en sy begeerte is na jou; en sal jý die oorhand daaroor kry?” (Gen. 4:6, 7). Kain het nie na Jehovah geluister nie. Hy het sy broer vermoor en vir die res van sy lewe die slegte gevolge daarvan gedra (Gen. 4:11, 12). Hierdie pyn was baie erger as om deur Jehovah tereggewys te word.

19 Sedekia was ’n goddelose koning wat swak regeer het gedurende ’n moeilike tyd in Jerusalem se geskiedenis. Die profeet Jeremia het Sedekia oor en oor gewaarsku om te verander. Maar hy het geweier om na Jehovah se dissipline te luister. Weer eens was die gevolge baie tragies (Jer. 52:8-11). Jehovah wil nie hê dat ons deur onnodige pyn en hartseer moet gaan nie! — Lees Jesaja 48:17, 18.

20. Wat sal gebeur met dié wat God se dissipline aanvaar en dié wat weier om dit te aanvaar?

20 Vandag dink die meeste mense dat dissipline, insluitende selfdissipline, belaglik is. Maar binnekort gaan enigeen wat God se dissipline ignoreer, die pynlike gevolge daarvan moet dra (Spr. 1:24-31). Daarom moet ons ‘na dissipline luister en wys word’. Soos Spreuke 4:13 sê: “Gryp dissipline aan; moet dit nie laat los nie. Bewaar dit, want dit is jou lewe.”