Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die lieflike weg van gasvryheid — Iets wat dringend nodig is!

Die lieflike weg van gasvryheid — Iets wat dringend nodig is!

“Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.” — 1 PET. 4:9.

LIED: 100, 87

1. Watter probleme het Christene in die eerste eeu gehad?

DIE apostel Petrus het die een of ander tyd tussen die jaar 62 en 64 ’n brief geskryf aan “die tydelike inwoners wat oral in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië verstrooi” was (1 Pet. 1:1). Hierdie broers en susters het van verskillende plekke gekom. Hulle het aanmoediging en leiding nodig gehad omdat hulle baie erg vervolg is. Petrus het hierdie vervolging ’n ‘brand onder hulle’ genoem. Hulle het ook in ’n gevaarlike tyd gelewe. Petrus het geskryf dat ‘die einde van alles naby gekom het’. Jerusalem sou binne tien jaar vernietig word. Wat kon hierdie Christene help om deur daardie stresvolle tyd te kom? — 1 Pet. 4:4, 7, 12.

2, 3. Hoekom het Petrus die broers aangemoedig om gasvry te wees? (Sien prent aan begin van artikel.)

2 Petrus het die broers aangemoedig: “Wees gasvry teenoor mekaar” (1 Pet. 4:9). Die Griekse woord vir “gasvryheid” beteken letterlik “liefde vir of goedheid teenoor vreemdelinge”. Let op dat Petrus sy broers en susters aangemoedig het om gasvry te wees “teenoor mekaar”, teenoor dié wat reeds hulle vriende was. Hoe sou gasvryheid hulle help?

3 Dit sou hulle nader aan mekaar bring. Dink aan jou eie ondervinding. Het iemand jou al na hulle huis toe genooi? Onthou jy nog hoe lekker dit was? Is julle vriendskap nie versterk toe jy broers of susters na jou huis oorgenooi het nie? ’n Baie goeie manier om ons broers en susters beter te leer ken, is deur gasvry teenoor hulle te wees. Christene in Petrus se dag moes al hoe nader aan mekaar kom terwyl toestande vererger het. Ons moet dieselfde in hierdie “laaste dae” doen. — 2 Tim. 3:1.

4. Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Watter geleenthede het ons om gasvry “teenoor mekaar” te wees? Wat kan dit soms moeilik maak om gasvry te wees, en hoe kan ons hierdie struikelblokke oorkom? Wat kan ons help om ’n goeie kuiergas te wees?

GELEENTHEDE OM GASVRY TE WEES

5. Hoe kan ons by ons vergaderinge gasvry wees?

5 By vergaderinge: Jehovah en sy organisasie nooi ons om na die vergaderinge toe te kom. Ons wil hê dat almal wat die vergaderinge bywoon welkom moet voel (Rom. 15:7). Persone wat dit vir die eerste keer bywoon, is ook Jehovah se gaste. Daarom moet ons vriendelik wees en hulle op hulle gemak laat voel, maak nie saak wat hulle aanhet of hoe hulle lyk nie (Jak. 2:1-4). As jy sien dat die persoon alleen is, kan jy hom miskien vra om langs jou te kom sit. Hy sal dit moontlik waardeer as jy hom help om te verstaan wat gedurende die vergadering gebeur en om die tekste wat gelees word te kry. Dit is ’n goeie manier om ‘die weg van gasvryheid te volg’. — Rom. 12:13.

6. Teenoor wie moet ons veral gasvry wees?

6 Vir ietsie kleins of ’n ete: In Bybeltye het mense dikwels gasvryheid betoon deur gaste vir ’n ete oor te nooi (Gen. 18:1-8; Rigt. 13:15; Luk. 24:28-30). Dit het gewys dat hulle vriende wou wees en vrede wou hê. Teenoor wie moet ons veral gasvry wees? Teenoor ons broers en susters in die gemeente, wat reeds deel van ons lewe is. Wanneer toestande slegter word, sal ons op mekaar moet staatmaak. Ons sal lojale vriende nodig hê en goed met mekaar oor die weg moet kom. In 2011 het die Bestuursliggaam die tyd van die Wagtoring-studie vir die Bethelgesin in die Verenigde State van 6:45 na 6:15 in die aand verander. Hoekom? Volgens die aankondiging is die tyd verander om dit vir almal makliker te maak om ná die vergadering gasvry te wees of ’n uitnodiging van mede-Betheliete te aanvaar. Ander takkantore het dieselfde gedoen. Hierdie reëling het Betheliete gehelp om nader aan mekaar te kom.

7, 8. Hoe kan ons gasvry wees teenoor verteenwoordigers van Jehovah se organisasie?

7 Wanneer sprekers van ander gemeentes, kringopsieners en verteenwoordigers van die plaaslike takkantoor ons kom besoek, gee dit ons die geleentheid om gasvry te wees. (Lees 3 Johannes 5-8.) Ons kan hulle nooi vir ’n ete of dalk vir ietsie kleins. Kan jy aan maniere dink hoe jy kan help?

8 ’n Suster in die Verenigde State onthou: “Oor die jare heen het ek en my man baie geleenthede gehad om gasvry te wees teenoor sprekers en hulle vrouens. Dit was elke keer ’n wonderlike ervaring. Dit was lekker en geestelik opbouend. Ons was nog nooit spyt dat ons dit gedoen het nie.”

9, 10. (a) Wie sal dalk oor ’n langer tydperk verblyf nodig hê? (b) Kan diegene met kleiner huise ook help? Gee ’n voorbeeld.

9 Gaste wat langer bly: In Bybeltye het mense dikwels blyplek aan besoekers voorsien (Job 31:32; Filem. 22). In ons dag is dit ook soms nodig om dit te doen. Kringopsieners het gewoonlik blyplek nodig wanneer hulle gemeentes besoek. Studente van teokratiese skole en vrywilligers op bouprojekte het ook soms plek nodig om te bly. En party gesinne het hulle huis in ’n natuurramp verloor en het blyplek nodig gehad totdat die broers hulle huis kon herbou. Ons moenie dink dat net broers wat groot huise het hulp kan aanbied nie. Hulle het dalk al baie keer in die verlede gehelp. Kan jy vir iemand blyplek gee, al is jou huis miskien nie so groot nie?

10 ’n Broer in Suid-Korea dink terug aan die tye toe studente van teokratiese skole by hom gebly het. Hy sê: “Aan die begin het ek ’n bietjie gehuiwer omdat ek en my vrou pas getroud was en ons huisie maar klein was. Maar dit was baie lekker om die studente by ons te hê. As ’n pasgetroude paartjie kon ons sien hoe gelukkig ’n egpaar kan wees wanneer hulle Jehovah saam dien en geestelike doelwitte het.”

11. Hoekom het broers en susters wat nuut in jou gemeente is, ook dalk gasvryheid nodig?

11 Nuwe broers en susters in die gemeente: Party broers trek dalk na julle gemeente toe. Hulle het dalk gekom omdat jou gemeente hulp nodig het. Of hulle is pioniers wat gevra is om jou gemeente te help. Dit is ’n groot verandering vir hulle. Hulle moet gewoond raak aan ’n nuwe plek, ’n nuwe gemeente of selfs ’n nuwe taal of kultuur. As jy hulle nooi vir ’n ete, vir koffie of om saam iets te doen, sal dit hulle help om nuwe vriende te maak en om aan te pas by hulle nuwe omstandighede.

12. Watter ondervinding wys dat jy nie baie dinge nodig het om gasvry te wees nie?

12 Jy het nie baie dinge nodig om gasvry te wees nie. (Lees Lukas 10:41, 42.) ’n Broer vertel wat gebeur het toe hy en sy vrou as sendelinge begin dien het: “Ons was jonk, onervare en ons het huis toe verlang. Een aand het my vrou baie erg verlang en ek het probeer help, maar dit het nie gewerk nie. En toe, omtrent 7:30, het iemand aan die deur geklop. Dit was ’n Bybelstudent wat vir ons drie lemoene gebring het. Sy het gekom om die nuwe sendelinge te verwelkom. Ons het haar ingenooi en haar ’n glas water gegee. Toe het ons tee en warm sjokolade gemaak. Ons kon nog nie Swahili praat nie, en sy kon nie Engels praat nie.” Die broer sê dat hierdie ondervinding hulle gehelp het om goeie vriende te maak met die plaaslike broers en om gelukkiger te wees.

LAAT NIKS JOU KEER OM GASVRY TE WEES NIE

13. Hoekom is dit goed vir ons om gasvry te wees?

13 Het jy al gehuiwer om gasvry te wees? Dan het jy dalk die kans gemis om goeie geselskap te geniet en lewenslange vriende te maak. Gasvryheid is goeie medisyne vir eensaamheid. Maar jy wonder dalk: ‘Hoekom sou iemand huiwer om gasvry te wees?’ Daar kan ’n hele paar redes wees.

14. Wat kan ons doen as ons te min tyd en energie het om gasvry te wees of by ander te gaan kuier?

14 Tyd en energie: Jehovah se knegte is baie besig en het dikwels verskeie verantwoordelikhede. Party voel dat hulle eenvoudig nie die tyd of energie het om gasvry te wees nie. As jy so voel, moet jy dalk veranderinge in jou skedule maak sodat jy meer tyd en energie kan hê om gasvry te wees of by ander te gaan kuier. Die Bybel spoor Christene aan om gasvry te wees (Heb. 13:2). Dit is nie verkeerd om tyd hiervoor opsy te sit nie. Dit is eintlik die regte ding om te doen. Maar jy sal natuurlik bereid moet wees om minder tyd aan onbelangrike dinge te spandeer.

15. Waarom voel party dat hulle nie gasvry kan wees nie?

15 Jou persoonlike gevoelens: Miskien wou jy al gasvry wees, maar jy het gedink dat dit iets is wat jy nie kan doen nie. Party is skaam of bang dat hulle nie gaan weet waaroor om te gesels nie of dat die gaste dalk verveeld sal wees. Ander het min geld en voel dat hulle nooit vir hulle gaste sal kan gee wat ander in die gemeente kan nie. Onthou, jy hoef nie ’n groot of mooi huis te hê nie. Dit is eerder belangrik dat jou huis skoon en netjies is en dat jy vriendelik is.

16, 17. Wat kan jy doen as dit jou senuweeagtig laat voel om gaste oor te nooi?

16 As dit jou senuweeagtig laat voel om gaste oor te nooi, is jy nie alleen nie. ’n Ouer man in Brittanje erken: “Dit kan ’n mens ’n bietjie senuweeagtig maak wanneer jy dinge vir jou gaste begin gereed kry. Maar soos met enigiets in Jehovah se diens, is die voordele en die gevoel van tevredenheid wat dit jou gee, baie meer as enige bekommernisse. Ek geniet dit om soms net ’n koppie koffie saam met gaste te drink terwyl ons gesels.” Onthou, dit is altyd goed om persoonlike belangstelling in jou gaste te toon (Fil. 2:4). Die meeste mense hou daarvan om vir ander te vertel wat in hulle lewe gebeur het. En wanneer ons saam kuier, gee dit ons die ideale geleentheid om ander se ondervindinge te hoor. Nog ’n ouer man skryf: “Wanneer ek broers en susters van die gemeente na my huis toe oornooi, gee dit my die kans om hulle beter te leer ken, hulle te verstaan en om te hoor hoe hulle in die waarheid gekom het.” As jy wys dat jy in jou gaste belangstel, sal almal die tydjie saam baie geniet.

17 ’n Pioniersuster wat dikwels studente van verskeie teokratiese skole in haar huis laat bly het, sê: “Ek was eers ’n bietjie bekommerd, want ek het maar ’n eenvoudige huisie en tweedehandse meubels. Maar die vrou van een van die instrukteurs het my regtig op my gemak laat voel. Sy het gesê dat wanneer sy en haar man reisende werk doen, hulle dit die meeste geniet om by broers te bly wat geestelik is. Hulle het dalk nie veel besittings nie, maar hulle het dieselfde doelwitte — om Jehovah te dien en om hulle lewe eenvoudig te hou. Dit het my laat dink aan wat my ma altyd gesê het toe ons nog kinders was: ‘Solank daar liefde is, is ’n bak groente al wat jy nodig het’” (Spr. 15:17). As liefde jou motiveer om gasvry te wees, hoef jy oor niks bekommerd te wees nie.

18, 19. Hoe kan gasvryheid ons help om negatiewe gevoelens oor ander te oorkom?

18 Jou gevoelens oor ander: Is daar iemand in jou gemeente wat jou irriteer? As jy nie van hierdie negatiewe gevoelens probeer ontslae raak nie, sal dit nie weggaan nie. As jy nie van iemand se persoonlikheid hou nie, sal jy hom dalk nie wil oornooi nie. Of miskien het iemand jou in die verlede seergemaak, en dit is vir jou moeilik om dit te vergeet.

19 Die Bybel sê dat gasvryheid jou verhouding met ander, selfs jou vyande, kan verbeter. (Lees Spreuke 25:21, 22.) As jy gasvry teenoor iemand is, kan dit help om die spanning te verlig en die vrede te herstel. Jy sal dalk dieselfde goeie eienskappe in die persoon begin raaksien wat Jehovah gesien het toe hy daardie persoon na die waarheid getrek het (Joh. 6:44). As liefde jou motiveer om iemand te nooi wat dit nie verwag nie, kan dit die begin van ’n goeie vriendskap wees. Hoe kan jy seker maak dat dit regtig liefde is wat jou motiveer om gasvry te wees? Een manier is deur die raad in Filippense 2:3 toe te pas wat sê dat ons ‘met ootmoed die ander hoër as onsself moet ag’. Ons moet na maniere soek waarop ons broers en susters wel “hoër” as ons is, of beter as ons doen. Ons kan leer uit hulle voorbeeld van geloof, volharding, moed of ’n ander Christelike eienskap. As ons oor hulle goeie eienskappe nadink, sal dit ons liefde vir hulle versterk en dit vir ons makliker maak om gasvry te wees.

WEES ’N GOEIE KUIERGAS

Mense doen gewoonlik baie moeite vir hulle gaste (Sien paragraaf 20)

20. Wat moet ons doen as ons reeds ’n uitnodiging aanvaar het, en hoekom is dit belangrik?

20 Die psalmis Dawid het gevra: “O Jehovah, wie sal ’n gas in u tent wees?” (Ps. 15:1). Nadat hy daardie vraag gevra het, het hy bespreek watter geestelike eienskappe God in sy gaste soek. Een van daardie eienskappe is om ons woord te hou: “Hy het gesweer tot sy skade, en tog verander hy nie” (Ps. 15:4). As ons ’n uitnodiging aanvaar, moet ons nie onnodig kanselleer nie. Die persoon wat ons genooi het, het dalk baie moeite gedoen, en dit sal alles verniet wees as ons kanselleer (Matt. 5:37). Party het al ’n uitnodiging wat hulle aanvaar het, gekanselleer om ’n ander een te aanvaar wat hulle dink beter is. Sou dit liefdevol en respekvol wees? Ons moet eerder opreg dankbaar wees vir enigiets wat ons kry by die persoon wat ons genooi het (Luk. 10:7). En as iets opduik wat ons werklik nie kan vermy nie en wat veroorsaak dat ons moet kanselleer, sal dit liefdevol en bedagsaam wees om die mense wat ons genooi het, so gou as moontlik te laat weet.

21. Hoe kan dit ons help om goeie kuiergaste te wees as ons plaaslike gebruike respekteer?

21 Dit is ook belangrik om plaaslike gebruike te respekteer. In party kulture is onverwagte gaste welkom, maar in ander kulture is dit verkieslik dat ’n mens eers reëlings tref. Op party plekke gee mense hulle gaste net die beste, en die gesin kom tweede. Op ander plekke word almal dieselfde behandel. In party gebiede bring gaste gewoonlik iets saam, en in ander gebiede verkies mense dat hulle gaste liewer nie iets saambring nie. En in party kulture word daar van gaste verwag om die eerste of tweede uitnodiging nie te aanvaar nie. Maar in ander kulture is dit swak maniere om nie die eerste uitnodiging te aanvaar nie. Ons moet altyd ons bes doen om seker te maak dat die persoon wat ons uitgenooi het, bly is dat hy dit gedoen het.

22. Hoekom is dit belangrik om ‘gasvry teenoor mekaar te wees’?

22 Petrus het gesê: “Die einde van alles het naby gekom” (1 Pet. 4:7). Dit is nou nader as ooit. Ons gaan binnekort die grootste verdrukking ervaar wat die wêreld nog ooit gesien het. Terwyl dinge al hoe slegter word, sal die liefde tussen ons en ons broers en susters baie sterk moet wees. Petrus se raad aan Christene is nou meer as ooit tevore van toepassing: “Wees gasvry teenoor mekaar” (1 Pet. 4:9). Ja, die lieflike weg van gasvryheid is nou dringend nodig. Dit is iets wat altyd ’n belangrike deel van ons lewe sal wees.