Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goedheid – Hoe kan jy dit aankweek?

Goedheid – Hoe kan jy dit aankweek?

ELKEEN van ons wil graag hê dat ander ons as ’n goeie mens moet sien. Maar in vandag se wêreld is dit moeilik om ’n goeie persoon te wees. Baie mense is “sonder liefde vir die goeie” (2 Tim. 3:3). Hulle volg dalk hulle eie standaard van wat reg en verkeerd is en sê in werklikheid dat “goed sleg is en sleg goed” (Jes. 5:20). En ons agtergrond en die feit dat ons onvolmaak is, kan dit vir ons moeilik maak om goed te wees. Daarom voel ons dalk soos Anne. * Sy dien Jehovah al jare lank, maar sy erken: “Ek sukkel om te glo dat ek ’n goeie mens kan wees.”

Die goeie nuus is dat elkeen van ons goedheid kan aankweek! Dit is ’n eienskap wat deur God se heilige gees voortgebring word, en sy gees is sterker as enige uitdagings wat dit vir ons moeilik kan maak om goed te wees. Kom ons leer wat goedheid is en hoe ons hierdie eienskap in ’n groter mate kan weerspieël.

WAT IS GOEDHEID?

Goedheid sluit sedelike voortreflikheid en deug in en is sonder enige slegtheid. Goedheid kan gesien word in die goeie uitwerking wat dit op ander het. ’n Goeie persoon soek altyd na maniere om ander te help en doen goeie dinge vir hulle.

Jy het miskien al gesien dat party mense graag goeie dinge vir hulle gesin en vriende doen, maar dit beteken nie noodwendig dat hulle goeie persone in Jehovah se oë is nie. Ons is natuurlik beperk in ons vermoë om goed te wees, want die Bybel sê: “Daar is geen mens regverdig op die aarde wat voortdurend goed doen en nie sondig nie” (Pred. 7:20). Die apostel Paulus het erken: “Ek weet dat daar in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie” (Rom. 7:18). Daarom maak dit sin dat ons na die Bron van goedheid moet gaan as ons hierdie eienskap wil aankweek.

“JEHOVAH IS GOED”

Jehovah God stel die standaard vir wat goed is. Die Bybel sê oor Jehovah: “U is goed en doen goed. Leer my u voorskrifte” (Ps. 119:68). Kom ons bespreek die twee aspekte van Jehovah se goedheid wat in hierdie vers genoem word.

Jehovah is goed. Goedheid kan nie van Jehovah se persoonlikheid geskei word nie. Kyk wat gebeur het toe Jehovah vir Moses gesê het: “Ek sal al my goedheid voor jou aangesig laat verbygaan.” Terwyl Jehovah se heerlikheid – insluitende sy goedheid – verby Moses gegaan het, het Moses hierdie woorde gehoor: “Jehovah, Jehovah, ’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid, wat liefderyke goedhartigheid vir duisende bewaar, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar hy sal geensins vrystelling van straf gee nie” (Eks. 33:19; 34:6, 7). Hierdie verse maak dit duidelik dat Jehovah in alle opsigte goed is. Alhoewel Jesus as ’n mens die beste voorbeeld van goedheid was, het hy gesê: “Niemand is goed nie, behalwe een, God.” – Luk. 18:19.

Ons sien bewyse van Jehovah se goedheid in die skepping

Jehovah se werke is goed. Goedheid kan gesien word in alles wat Jehovah doen. “Jehovah is goed vir almal, en sy barmhartighede is oor al sy werke” (Ps. 145:9). Omdat Jehovah goed en onpartydig is, gee hy aan alle mense lewe en alles wat hulle nodig het om aan die lewe te bly (Hand. 14:17). Hy wys ook dat hy goed is wanneer hy ons vergewe. Die psalmskrywer het gesê: “U, o Jehovah, is goed en vergewensgesind” (Ps. 86:5). Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah “niks goeds [sal] terughou van dié wat in onberispelikheid wandel nie”. – Ps. 84:11.

“LEER OM GOED TE DOEN”

Ons is na God se beeld geskep, en daarom het ons die potensiaal om goeie mense te wees en om goeie dinge te doen (Gen. 1:27). Nogtans spoor God se Woord sy knegte aan om te “leer om goed te doen” (Jes. 1:17). Maar hoe kan ons leer om goed te doen? Kom ons kyk na drie maniere hoe ons dit kan doen.

Eerstens, ons kan vir heilige gees bid, wat Christene kan help om ware goedheid voort te bring (Gal. 5:22). God se gees kan ons help om lief te word vir wat goed is en te vermy wat sleg is (Rom. 12:9). Die Bybel wys dat Jehovah ons “standvastig [kan] maak in elke goeie daad en woord”. – 2 Tess. 2:16, 17.

Tweedens, ons moet God se geïnspireerde Woord lees. Terwyl ons dit doen, kan Jehovah ons “die hele weg van wat goed is”, leer en ons “vir elke goeie werk” voorberei (Spr. 2:9; 2 Tim. 3:17). Wanneer ons die Bybel lees en daaroor nadink, vul ons ons hart met goeie dinge oor God en sy wil. Op hierdie manier maak ons skatte bymekaar wat ons later kan help. – Luk. 6:45; Ef. 5:9.

Derdens, ons doen ons bes om “’n navolger [te wees] van wat goed is” (3 Joh. 11). Daar is voorbeelde in die Bybel wat ons kan navolg. Jehovah en Jesus is natuurlik die beste voorbeelde. Maar daar is ook ander wat bekend was vir hulle goedheid. Twee persone aan wie ons miskien dink, is Tabita en Barnabas (Hand. 9:36; 11:22-24). Jy kan daarby baat vind as jy kyk wat die Bybel oor hulle sê en watter praktiese dinge hulle gedoen het om ander te help. Dink aan wat jy kan doen om party in jou gesin of gemeente te help. En let ook op hoe Tabita en Barnabas daarby baat gevind het omdat hulle goeie dinge vir ander gedoen het. Jy kan ook sulke voordele geniet.

Ons kan ook dink aan mense in ons dag wat goeie dinge doen. Byvoorbeeld, dink aan die hardwerkende ouer manne in die gemeente wat “die goeie liefhet”. En moenie vergeet van die getroue susters wat deur hulle woorde en voorbeeld “onderrigters [is] van wat goed is” nie (Tit. 1:8; 2:3). ’n Suster met die naam Roslyn sê: “My vriend gaan uit haar pad uit om ander in die gemeente te help en aan te moedig. Sy dink aan hulle situasie en gee dikwels vir hulle klein geskenkies of help hulle op ander praktiese maniere. Ek dink sy is regtig ’n goeie persoon.”

Jehovah moedig sy knegte aan om te “soek wat goed is” (Amos 5:14). As ons dit doen, sal ons nie net lief word vir sy standaarde nie, maar ook meer gemotiveerd wees om te doen wat goed is.

Ons probeer om goeie mense te wees en om goeie dinge te doen

Ons hoef nie ander te beïndruk of duur geskenke vir hulle te gee om goed te wees nie. Dink hieraan: ’n Kunstenaar sal nie net een of twee groot strepe verf en dan klaar wees met sy skildery nie. Hy sal eerder ’n hele paar kleiner strepe verf om sy skildery te voltooi. Net so sal ons goedheid gesien kan word in al die klein dingetjies wat ons doen om ander te help.

Die Bybel spoor ons aan om “toeberei” en “gereed” te wees om aan ander goed te doen (2 Tim. 2:21; Tit. 3:1). As ons bewus is van ander se omstandighede, sal ons aan maniere kan dink om ons naaste te help “in wat goed is vir [hulle] opbouing” (Rom. 15:2). Dit kan beteken dat ons iets wat aan ons behoort met ander moet deel (Spr. 3:27). Ons kan dalk iemand oornooi om ietsie kleins by ons te kom eet of om opbouende assosiasie te geniet. As ons weet dat iemand siek is, kan ons vir hom ’n kaartjie stuur, hom besoek of bel. Ja, jy sal dalk aan baie maniere kan dink om iets te sê “wat goed is vir opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel”. – Ef. 4:29.

Net soos Jehovah wil ons graag aan alle mense goed doen. Daarom behandel ons almal dieselfde. ’n Uitstekende manier hoe ons dit kan doen, is deur die goeie nuus van die Koninkryk aan almal te verkondig. Net soos Jesus beveel het, probeer ons om goed te doen selfs aan dié wat ons haat (Luk. 6:27). Dit is nooit verkeerd om goedhartig te wees en om goeie dinge vir ander te doen nie, want “teen sulke dinge is daar geen wet nie” (Gal. 5:22, 23). Deur goeie dinge te doen selfs wanneer ons sleg behandel word of wanneer ons probleme het, kan ons ander na die waarheid trek en God verheerlik. – 1 Pet. 3:16, 17.

ONS VIND DAARBY BAAT WANNEER ONS GOEIE DINGE DOEN

‘Die goeie man sal versadig [of beloon] word met die gevolge van sy handelinge’ (Spr. 14:14). Wat is van hierdie belonings? Wanneer ons goeie dinge vir ander doen, sal hulle ons heel moontlik goed behandel (Spr. 14:22). Selfs al behandel ander ons nie goed nie, moet ons aanhou om goeie dinge vir hulle te doen. Dalk sal hulle gesindheid verander en sal hulle ons beter behandel. – Rom. 12:20.

Baie broers en susters sê dat hulle daarby baat gevind het om goeie dinge te doen en nie meer slegte dinge nie. Kyk byvoorbeeld na Nancy se ondervinding. Sy erken: “Terwyl ek grootgeword het, was ek roekeloos, onsedelik en disrespekvol. Maar namate ek geleer het wat Jehovah se standaard van goedheid is en dit toegepas het, het ek gelukkiger begin voel. Nou het ek selfrespek.”

Die belangrikste rede hoekom ons goedheid wil aankweek, is omdat dit Jehovah gelukkig maak. Selfs al sien baie mense nie wat ons doen nie, sien Jehovah dit. Hy is bewus van elke goeie ding wat ons doen en dink (Ef. 6:7, 8). Hoe beloon hy ons? “Iemand wat goed is, verkry Jehovah se goedkeuring” (Spr. 12:2). Kom ons hou aan om goedheid aan te kweek. Jehovah belowe “heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat goed doen”. – Rom. 2:10.

^ par. 2 Naam is verander.