Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 12

Wanneer is die regte tyd om te praat?

Wanneer is die regte tyd om te praat?

“Daar is . . . ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat.” – PRED. 3:1, 7.

LIED 124 Bly lojaal

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat leer Prediker 3:1, 7 ons?

 PARTY van ons hou daarvan om baie te praat. Ander hou daarvan om stil te wees. Soos die temateks van hierdie artikel wys, is daar ’n tyd om te praat en ’n tyd om stil te bly. (Lees Prediker 3:1, 7.) Maar miskien wens ons nog steeds dat party van ons broers en susters meer moet praat en dat ander minder moet praat.

2. Wie het die reg om vir ons die standaarde te stel vir wanneer en hoe ons moet praat?

2 Om te kan praat is ’n geskenk van Jehovah (Eks. 4:10, 11; Op. 4:11). In die Bybel help hy ons om te verstaan hoe om hierdie geskenk reg te gebruik. In hierdie artikel sal ons na voorbeelde in die Bybel kyk wat ons sal help om te weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Ons sal ook sien hoe Jehovah voel oor wat ons vir ander sê. Eerstens, kom ons kyk na wanneer ons moet praat.

WANNEER MOET ONS PRAAT?

3. Wanneer moet ons praat volgens Romeine 10:14?

3 Ons moet altyd gereed wees om oor Jehovah en die Koninkryk te praat. (Matt. 24:14; lees Romeine 10:14.) Wanneer ons dit doen, volg ons Jesus na. Een van die hoofredes hoekom Jesus aarde toe gekom het, is om mense die waarheid oor sy Vader te vertel (Joh. 18:37). Maar ons moet onthou dat hoe ons praat ook belangrik is. So wanneer ons met ander oor Jehovah praat, moet ons dit met “sagmoedigheid en diep respek” doen (1 Pet. 3:15). Ons moet ook wys dat ons aan die ander persoon se gevoelens dink, en dit waaraan hy glo, respekteer. Dan sal ons meer doen as om net te praat; ons sal hom ook onderrig en moontlik sy hart bereik.

4. Hoe kan ons woorde ander help volgens Spreuke 9:9?

4 Ouermanne moenie bang wees om iets te sê wanneer hulle sien dat ’n broer of ’n suster raad nodig het nie. Hulle sal natuurlik die regte tyd kies om te praat sodat hulle nie die persoon in die verleentheid stel nie. Hulle sal dit nie voor ander mense doen nie. Ouermanne probeer altyd om op ’n manier te praat wat die persoon sal help om nog steeds sy waardigheid te behou. Maar dit keer hulle nie om vir die persoon Bybelbeginsels te wys wat hom sal help om wys op te tree nie. (Lees Spreuke 9:9.) Hoekom is dit so belangrik om dapper te wees en iets te sê wanneer dit nodig is? Kom ons kyk na twee voorbeelde wat van mekaar verskil. In die een voorbeeld is dit ’n man wat sy seuns moes dissiplineer. In die ander voorbeeld is dit ’n vrou wat met ’n toekomstige koning moes praat.

5. Wanneer het die hoëpriester Eli nie gepraat toe hy moes praat nie?

5 Die hoëpriester Eli het twee seuns gehad en hy was baie lief vir hulle. Maar daardie seuns het geen respek vir Jehovah gehad nie. Hulle het belangrike posisies gehad. Hulle het as priesters by die tabernakel gedien. Maar hulle het hulle gesag misbruik, hulle het geen respek gehad vir die offerandes wat aan Jehovah gegee is nie en hulle het openlik seksuele sondes gepleeg (1 Sam. 2:12-17, 22). Volgens die Wet van Moses moes hulle doodgemaak word, maar Eli het hulle net liggies gedissiplineer en hulle toegelaat om aan te hou om by die tabernakel te dien (Deut. 21:18-21). Hoe het Jehovah gevoel oor die manier waarop Eli die situasie hanteer het? Hy het vir Eli gesê: “Hoekom eer jy jou seuns meer as wat jy my eer?” Jehovah het toe besluit om daardie twee slegte manne dood te maak. – 1 Sam. 2:29, 34.

6. Wat leer ons uit Eli se voorbeeld?

6 Ons leer ’n belangrike les uit Eli se voorbeeld. Wanneer ons uitvind dat ’n vriend of ’n familielid iets verkeerds gedoen het, moet ons met hom praat en hom herinner aan Jehovah se standaarde. Dan moet ons seker maak dat hy die hulp kry wat hy nodig het by Jehovah se verteenwoordigers (Jak. 5:14). Ons wil nooit soos Eli wees en ’n vriend of ’n familielid meer eer as wat ons Jehovah eer nie. Dit is nie maklik om met iemand te praat wat reggehelp moet word nie, maar dit is die moeite werd. Kyk na die verskil tussen Eli se voorbeeld en die voorbeeld van ’n Israelitiese vrou met die naam Abigail.

Abigail het ’n goeie voorbeeld gestel deur die regte tyd te kies om te praat (Sien paragraaf 7-8) *

7. Hoekom het Abigail met Dawid gepraat?

7 Abigail was die vrou van ’n ryk grondeienaar met die naam Nabal. Toe Dawid en sy manne van koning Saul weggehardloop het, het hulle tyd saam met Nabal se herders spandeer en sy kudde teen rowerbendes beskerm. Was Nabal dankbaar omdat hulle hom gehelp het? Nee. Toe Dawid vir Nabal gevra het om vir hom en sy manne ’n bietjie kos en water te gee, het Nabal kwaad geword en op hulle geskree en hulle beledig (1 Sam. 25:5-8, 10-12, 14). En daarom het Dawid besluit om al die manne wat aan Nabal behoort, dood te maak (1 Sam. 25:13, 22). Hoe kon so ’n groot ramp gekeer word? Abigail het besef dat dit tyd was om iets te sê. Sy het moedig na die 400 honger, kwaad en gewapende manne gegaan en met Dawid gepraat.

8. Wat leer ons uit Abigail se voorbeeld?

8 Toe Abigail vir Dawid ontmoet het, het sy op ’n manier gepraat wat gewys het dat sy moedig was en respek vir hom gehad het. Dit het gemaak dat hy wou doen wat sy sê. Alhoewel hierdie slegte situasie nie Abigail se skuld was nie, het sy vir Dawid jammer gesê. Sy het gesê dat sy weet dat Dawid ’n goeie mens is en dat hy die regte ding sal doen. Sy het ook op Jehovah vertrou om haar te help (1 Sam. 25:24, 26, 28, 33, 34). Net soos Abigail moet ons dapper wees en iets sê as ons sien dat iemand ’n ernstige fout gaan maak (Ps. 141:5). Ons moet die persoon met respek behandel, maar ons moet ook dapper wees. Wanneer ons ’n persoon liefdevol raad gee, wys ons dat ons ’n ware vriend is. – Spr. 27:17.

9-10. Wat moet ouermanne onthou wanneer hulle raad gee?

9 Ouermanne moet veral die moed hê om met persone in die gemeente te praat wat iets verkeerds gedoen het (Gal. 6:1). Ouermanne besef nederig dat hulle ook onvolmaak is en dat hulle dalk eendag raad nodig sal hê. Maar ouermanne laat nie toe dat dit hulle keer om persone tereg te wys wat dissipline nodig het nie (2 Tim. 4:2; Tit. 1:9). Wanneer hulle ’n persoon raad gee, probeer hulle om hulle woorde op ’n goeie en geduldige manier te gebruik om die persoon te help. Hulle is lief vir hulle broer, en hierdie liefde motiveer hulle om hom te help (Spr. 13:24). Maar wat vir hulle die belangrikste is, is om Jehovah te eer. Hulle doen dit deur seker te maak dat sy standaarde gehoorsaam word en deur die gemeente teen enige gevare te beskerm. – Hand. 20:28.

10 Sover het ons bespreek wanneer om te praat. Maar daar is tye wanneer dit beter is om niks te sê nie. Watter uitdagings sal daar dalk gedurende sulke tye wees?

WANNEER MOET ONS STILBLY?

11. Watter illustrasie het Jakobus gebruik, en hoe kan ons dit toepas?

11 Dit kan moeilik wees om te beheer wat ons sê. Die Bybelskrywer Jakobus het ’n goeie illustrasie gebruik om te wys hoe moeilik dit kan wees. Hy het gesê: “As iemand nie struikel in wat hy sê nie, is hy ’n volmaakte mens, wat ook sy hele liggaam in toom kan hou” (Jak. 3:2, 3). ’n Toom word op die kop en ’n stang word in die bek van ’n perd gesit. Deur aan die teuels te trek, kan die persoon wat op die perd sit die dier lei in die rigting wat hy moet gaan of hom kry om te stop. As die persoon nie die teuels styf vashou nie, kan hy beheer verloor oor die perd en kan dit hom en die perd in gevaar stel. Net so kan dit baie probleme veroorsaak as ons nie beheer wat ons sê nie. Kom ons kyk na ’n paar situasies wanneer ons “aan die teuels moet trek” en eerder stil moet bly.

12. Wanneer moet ons “aan die teuels trek” en eerder stilbly?

12 Wat doen jy wanneer ’n broer of ’n suster inligting het wat hulle nie vir ander mag vertel nie? As jy byvoorbeeld iemand ontmoet wat in ’n land woon waar ons werk verbied is, wil jy dalk die persoon vra oor hoe die werk in daardie land gedoen word. Jy het natuurlik goeie bedoelings. Ons is lief vir ons broers en ons wil graag weet wat met hulle gebeur. Ons wil ook spesifiek wees wanneer ons vir hulle bid. Maar in hierdie situasie moet ons eerder “aan die teuels trek” en stilbly. Dit is nie liefdevol om iemand te forseer om vir ons iets te sê wat hy nie mag sê nie. Dit is ook nie liefdevol teenoor die broers en susters wat op hom vertrou om stil te bly oor hoe die werk in hulle land gedoen word nie. Nie een van ons wil dit nog moeiliker vir ons broers en susters maak wat in lande woon waar die werk verbied is nie. Net so sal enige broer of suster wat in so ’n land bly nie enige details gee oor hoe die Getuies daar velddiens doen of oor ander Christelike aktiwiteite nie.

13. Wat moet ouermanne volgens Spreuke 11:13 doen, en hoekom?

13 Dit is veral belangrik vir ouermanne om die Bybelbeginsel in Spreuke 11:13 toe te pas. (Lees.) Hulle doen dit deur nie inligting te gee aan persone wat nie die reg het om dit te weet nie. Dit kan moeilik wees, veral as ’n ouerman getroud is. ’n Paartjie hou hulle verhouding sterk deur gereeld met mekaar te praat en deur hulle geheime, gevoelens en bekommernisse met mekaar te deel. Maar ’n ouerman besef dat hy nie oor “vertroulike dinge” moet praat nie. As hy dit sou doen, sal persone in die gemeente hom nie meer vertrou nie en sal dit sy reputasie beskadig. Persone wat verantwoordelikhede in die gemeente het, kan “nie bedrieglike dinge sê nie” (1 Tim. 3:8). Dit beteken dat hulle nie oor ander mag skinder of hulle mag bedrieg nie. As ’n ouerman lief is vir sy vrou, sal hy nie vir haar inligting gee wat sy nie hoef te weet nie.

14. Hoe kan ’n ouerman se vrou hom help om ’n goeie reputasie te behou?

14 ’n Vrou kan haar man help om ’n goeie reputasie te behou deur hom nie te forseer om oor dinge te praat wat hy vertroulik moet hou nie. Wanneer ’n vrou hierdie raad toepas, ondersteun sy nie net haar man nie, maar sy wys ook dat sy die persone respekteer wat vir hom vertroulike dinge vertel het. En die belangrikste is dat sy Jehovah bly maak omdat sy bydra tot die vrede en eenheid in die gemeente. – Rom. 14:19.

HOE VOEL JEHOVAH OOR WAT ONS SÊ?

15. Hoe het Jehovah oor drie van Job se vriende gevoel, en hoekom?

15 Ons kan baie uit die Bybelboek Job leer oor hoe en wanneer om te praat. Toe Job deur ’n baie moeilike tyd gegaan het, het vier manne gekom om hom te vertroos en raad te gee. Daardie manne het vir ’n lang tyd stilgebly. Drie van hierdie manne was Elifas, Bildad en Sofar. Wat hierdie manne later gesê het, wys duidelik dat hulle nie hierdie tyd gebruik het om te dink oor hoe hulle Job kon help nie. Hulle het eerder gedink aan hoe hulle kon wys dat Job iets verkeerds gedoen het. ’n Paar van die dinge wat hulle gesê het, was waar, maar die meeste van die dinge wat hulle oor Job en Jehovah gesê het, was of nie liefdevol nie of nie waar nie. Hulle het gesê dat Job ’n slegte persoon is (Job 32:1-3). Wat het Jehovah hieroor gedoen? Hy was baie kwaad vir hierdie drie manne. Hy het gesê dat hulle dwaas is en dat hulle vir Job moet vra om vir hulle te bid. – Job 42:7-9.

16. Wat kan ons uit die slegte voorbeelde van Elifas, Bildad en Sofar leer?

16 Ons kan ’n hele paar lesse uit die slegte voorbeelde van Elifas, Bildad en Sofar leer. Eerstens, ons moenie ons broers oordeel nie (Matt. 7:1-5). Ons moet eerder mooi na hulle luister voordat ons praat. Slegs dan sal ons hulle situasie kan verstaan (1 Pet. 3:8). Tweedens, wanneer ons praat, moet ons seker maak dat wat ons sê, liefdevol en waar is (Ef. 4:25). En derdens, Jehovah stel baie belang in wat ons vir mekaar sê.

17. Wat kan ons uit Elihu se voorbeeld leer?

17 Die vierde man wat Job besoek het, was Elihu, ’n familielid van Abraham. Hy het geluister terwyl Job en die ander drie manne gepraat het. Dit is duidelik dat hy mooi geluister het na wat hulle gesê het, want hy kon liefdevolle maar eerlike raad gee wat Job gehelp het om sy denke reg te stel (Job 33:1, 6, 17). Om Jehovah te eer was vir Elihu belangriker as om homself of enige ander mens te eer (Job 32:21, 22; 37:23, 24). Ons leer uit Elihu se voorbeeld dat daar ’n tyd is om stil te bly en te luister (Jak. 1:19). Ons leer ook dat wanneer ons wel raad gee, dit belangriker is om Jehovah te eer en nie onsself nie.

18. Hoe kan ons wys dat ons dankbaar is vir die geskenk om te praat?

18 Ons kan wys dat ons dankbaar is vir die geskenk om te praat deur die Bybel se raad te volg oor wanneer en hoe om te praat. Wyse koning Salomo was geïnspireer om te skryf: “’n Woord op die regte tyd is soos goue appels in silwerhouers” (Spr. 25:11). Wanneer ons mooi luister na wat ander sê en eers dink voordat ons praat, kan ons woorde soos daardie goue appels wees – waardevol en pragtig. Dan sal wat ons sê, ander opbou en Jehovah trots maak, maak nie saak of ons baie of min praat nie (Spr. 23:15; Ef. 4:29). Dit is die beste manier om te wys dat ons dankbaar is vir hierdie geskenk wat God ons gegee het!

LIED 82 ‘Laat julle lig skyn’

^ par. 5 In die Bybel is daar beginsels wat ons kan help om te weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Wanneer ons weet en toepas wat die Bybel sê, sal ons woorde Jehovah se hart bly maak.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster sien dat dit nodig is om ’n ander suster raad te gee.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer gee voorstelle oor hoe om skoon en netjies te wees.

^ par. 66 BESKRYWING VAN PRENT: Abigail het op die regte tyd met Dawid gepraat, en dit het goed uitgewerk.

^ par. 68 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Paartjie gee nie details aan ander oor hoe ons werk gedoen word in ’n land waar ons werk verbied is nie.

^ par. 70 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ouerman maak seker dat niemand kan hoor wat hy oor ’n vertroulike gemeentelike saak sê nie.