Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 11

Hoe die Bybel jou kan help om probleme te hanteer

Hoe die Bybel jou kan help om probleme te hanteer

‘God gee volharding.’ – ROM. 15:5.

LIED 94 Dankbaar vir God se Woord

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter probleme het Jehovah se knegte dalk?

GAAN jy deur ’n moeilike tyd? Dalk het iemand in die gemeente jou seergemaak (Jak. 3:2). Of miskien spot jou werksmaats of jou skoolmaats jou omdat jy Jehovah dien (1 Pet. 4:3, 4). Of dalk probeer jou familielede jou keer om vergaderinge by te woon of om met ander oor jou geloof te praat (Matt. 10:35, 36). As ’n probleem baie moeilik is, sal jy miskien wil opgee. Maar jy kan die vertroue hê dat Jehovah jou die wysheid sal gee om die probleem te hanteer en die krag sal gee om dit te verduur, maak nie saak wat die uitdaging is nie.

2. Hoe help dit ons volgens Romeine 15:4 as ons God se Woord lees?

2 In die Bybel het Jehovah seker gemaak dat daar voorbeelde is wat wys hoe onvolmaakte mense probleme hanteer het. Hoekom? Sodat ons uit hulle voorbeeld kan leer. Dit is wat Jehovah die apostel Paulus beweeg het om in Romeine 15:4 te skryf. (Lees.) Wanneer ons hierdie verhale lees, kan dit ons vertroos en hoop gee. Maar ons moet meer doen as om net die Bybel te lees. Ons moet toelaat dat die Bybel ons denke verander en ons hart raak. Wat kan ons doen as ons raad nodig het oor hoe om ’n spesifieke uitdaging te hanteer? Ons kan hierdie vier dinge doen: (1Bid, (2gebruik jou verbeelding, (3dink na oor wat jy lees en (4pas dit toe. Ons gaan bespreek hoe ons elkeen van hierdie dinge kan doen. * Dan sal ons hierdie studiemetode gebruik om te sien wat ons kan leer uit sekere dinge wat in koning Dawid en die apostel Paulus se lewe gebeur het.

1. BID

Voordat jy die Bybel lees, vra Jehovah om jou te help om te sien hoe wat jy lees, jou kan help (Sien paragraaf 3)

3. Wat moet jy doen voordat jy die Bybel lees, en hoekom?

3 (1Bid. Voordat jy die Bybel lees, vra Jehovah om jou te help om te sien hoe dit wat jy lees jou kan help. Byvoorbeeld, as jy raad soek oor hoe om ’n probleem te hanteer, vra Jehovah om jou te help om beginsels in sy Woord te kry wat jou kan help om te besluit wat om te doen. – Fil. 4:6, 7; Jak. 1:5.

2. GEBRUIK JOU VERBEELDING

Verbeel jou dat jy die hoofkarakter in die Bybelverhaal is (Sien paragraaf 4)

4. Wat kan jou help om jou in ’n Bybelverhaal in te leef?

4 (2Gebruik jou verbeelding. Jehovah het ons die wonderlike vermoë gegee om ons verbeelding te kan gebruik. Probeer om jou in ’n Bybelverhaal in te leef deur jou te verbeel dat jy die hoofkarakter is. Probeer om die dinge te sien wat hy of sy gesien het en om die emosies te voel wat hy of sy dalk gevoel het.

3. DINK NA OOR WAT JY LEES

Dink mooi na oor wat jy lees en oor hoe die inligting op jou van toepassing is (Sien paragraaf 5)

5. Waaroor moet jy nadink, en hoe kan jy dit doen?

5 (3Dink na oor wat jy lees. Wanneer jy nadink oor wat jy lees en oor hoe die inligting op jou van toepassing is, help dit jou om die gedagtes met mekaar te verbind en om ’n onderwerp beter te verstaan. Om die Bybel te lees sonder om daaroor na te dink, is soos om na stukkies van ’n legkaart te kyk sonder om dit bymekaar te sit. Wanneer jy nadink oor wat jy lees, is dit soos om daardie stukkies bymekaar te sit sodat jy die hele prentjie kan sien. Om jou te help om dit te doen, kan jy die volgende vrae beantwoord: ‘Wat het die hoofkarakter in die verhaal gedoen om homself te help? Hoe het Jehovah hom gehelp? Hoe kan ek die lesse wat ek geleer het, gebruik om my te help wanneer ek deur moeilike tye gaan?’

4. PAS DIE INLIGTING TOE

Gebruik wat jy leer om beter besluite te maak, om meer vrede te hê en om jou geloof te versterk (Sien paragraaf 6)

6. Hoekom moet ons die inligting wat ons leer, toepas?

6 (4Pas die inligting toe. Jesus het gesê dat iemand wat nie toepas wat hy leer nie, soos ’n man is wat sy huis op sand bou. Hy werk hard, maar dit is alles verniet. Hoekom? Want wanneer daar ’n storm en ’n vloed kom, sal die huis ineenstort (Matt. 7:24-27). Net so, as ons bid, ons verbeelding gebruik en nadink oor wat ons lees, maar nie die inligting toepas wat ons leer nie, sal dit alles verniet wees. Wanneer ons geloof deur probleme of vervolging getoets word, sal dit nie sterk genoeg wees nie. Maar wanneer ons die Bybel studeer en toepas wat ons leer, maak ons beter besluite, het ons meer vrede en word ons geloof sterker (Jes. 48:17, 18). Kom ons kyk wat ons kan leer uit iets wat in koning Dawid se lewe gebeur het, deur die vier stappe te volg wat ons nou net bespreek het.   

WAT KAN JY BY KONING DAWID LEER?

7. Watter Bybelverhaal gaan ons nou bespreek?

7 Het ’n vriend of ’n familielid jou al seergemaak? As dit met jou gebeur het, hoe kan die verhaal van koning Dawid se seun Absalom, wat sy pa seergemaak het en probeer het om die koninkryk van hom af weg te vat, jou help? – 2 Sam. 15:5-14, 31; 18:6-14.

8. Wat kan jy doen om Jehovah se hulp te kry?

8 (1Bid. Met die verhaal in gedagte, sê vir Jehovah hoe jy voel oor die slegte manier hoe jy behandel was (Ps. 6:6-9). Wees spesifiek. Vra dan vir Jehovah om jou te help om beginsels raak te sien wat jou kan help om te weet wat om in hierdie moeilike situasie te doen.

9. Wat het tussen Dawid en Absalom gebeur?

9 (2Gebruik jou verbeelding. Dink na oor wat in hierdie verhaal gebeur het en verbeel jou hoe koning Dawid moes gevoel het. Koning Dawid se seun Absalom probeer jare lank om die mense te kry om vir hom lief te wees (2 Sam. 15:7). Wanneer Absalom voel dat dit die regte tyd is, stuur hy spioene deur die hele Israel om die mense voor te berei om hom as hulle koning te aanvaar. Hy oortuig selfs een van Dawid se goeie vriende en raadgewers, Agitofel, om saam met hom teen Dawid in opstand te kom. Absalom maak homself koning, en dan probeer hy Dawid, wat dalk op daardie oomblik ernstig siek was, te vang en dood te maak (Ps. 41:1-9). Dawid vind uit van Absalom se plan en vlug uit Jerusalem. Uiteindelik veg Absalom se leërmag teen Dawid se leërmag. Absalom se leërmag verloor, en Dawid se seun Absalom word doodgemaak.

10. Wat kon koning Dawid gedoen het?

10 Volgende, dink hoe Dawid moes gevoel het toe hierdie dinge met hom gebeur het. Hy was lief vir Absalom en het Agitofel vertrou, maar hulle al twee het hom diep seergemaak en hulle het selfs probeer om hom dood te maak. Dawid kon gedink het dat sy ander vriende by Absalom aangesluit het, en hy kon sy vertroue in hulle verloor het. Hy kon dalk net aan homself gedink het en alleen gevlug het. Of hy kon dalk baie mismoedig geword het. Maar Dawid het nie een van hierdie dinge gedoen nie. Hy het eerder hierdie moeilike uitdaging oorkom. Hoekom kon hy dit doen?

11. Wat het Dawid in hierdie moeilike situasie gedoen?

11 (3Dink na oor wat jy lees. Watter beginsels kan jy uit die verhaal leer? Beantwoord die vraag: “Wat het Dawid gedoen om homself te help?” Dawid het nie angstig geword en vinnige, onwyse besluite gemaak nie. Hy het ook nie so bang geword dat hy nie kon besluit wat om te doen nie. Hy het eerder Jehovah gevra om hom te help. Hy het ook sy vriende gevra om hom te help. En hy het gou opgetree om te doen wat hy besluit het om te doen. Alhoewel Dawid baie seergemaak was, het hy nie opgehou om ander te vertrou nie en hy het ook nie bitter geword nie. Hy het aangehou om op Jehovah te vertrou en om sy vriende te vertrou.

12. Wat het Jehovah gedoen om Dawid te help?

12 Hoe het Jehovah Dawid gehelp? As jy ’n bietjie navorsing doen, sal jy leer dat Jehovah Dawid die krag gegee het wat hy nodig gehad het om deur hierdie moeilike tyd te kom (Ps. 3:1-8, opskrif). Jehovah het Dawid se besluite geseën. En hy het Dawid se lojale vriende gehelp toe hulle geveg het om hulle koning te beskerm.

13. Hoe kan jy Dawid navolg as iemand jou seergemaak het? (Matteus 18:15-17)

13 (4Pas die inligting toe. Vra jou af: ‘Hoe kan ek Dawid navolg?’ Jy moet onmiddellik iets doen om die probleem op te los. Afhangende van jou situasie, kan jy besluit om Jesus se raad in Matteus hoofstuk 18 stap vir stap te volg of om die beginsel daarin toe te pas. (Lees Matteus 18:15-17.) Maar jy moenie vinnige besluite maak wanneer jy kwaad is nie. Jy moet vir Jehovah vra om jou ’n kalm hart te gee en die wysheid wat jy nodig het om die probleem te hanteer. Moenie ophou om jou vriende te vertrou nie. Wees eerder bereid om hulle hulp te aanvaar (Spr. 17:17). Nog belangriker, volg die raad wat Jehovah jou in sy Woord gee. – Spr. 3:5, 6.

WAT KAN JY BY PAULUS LEER?

14. In watter situasies kan 2 Timoteus 1:12-16; 4:6-11, 17-22 jou dalk aanmoedig?

14 Maak familielede dit vir jou moeilik om Jehovah te dien? Of bly jy in ’n land waar die werk van Jehovah se knegte beperk is of selfs verbied is? As jy in so ’n situasie is, kan 2 Timoteus 1:12-16; 4:6-11, 17-22 jou dalk aanmoedig. * Paulus het hierdie verse geskryf toe hy in die tronk was.

15. Wat kan jy Jehovah vra?

15 (1Bid. Voordat jy hierdie verse lees, vertel Jehovah van jou probleem en hoe dit jou laat voel. Wees spesifiek. En wanneer jy hierdie verse lees oor wat met Paulus gebeur het, vra Jehovah om jou te help om beginsels raak te sien wat jou kan help om te weet wat om te doen.

16. Hoe sou jy Paulus se situasie beskryf?

16 (2Gebruik jou verbeelding. Verbeel jou jy is in Paulus se situasie. Hy is vasgeketting in ’n tronk in Rome. Hy was al voorheen in die tronk, maar hierdie keer is hy seker dat hy doodgemaak gaan word. Party van sy vriende het hom verlaat en hy voel uitgeput. – 2 Tim. 1:15.

17. Hoe kon Paulus gereageer het?

17 Paulus kon op die verlede gefokus het en gedink het dat hy dalk nie in die tronk sou gewees het as hy ander keuses gemaak het nie. Hy kon bitter geword het omdat die manne in die provinsie Asië hom verlaat het en hy kon dalk opgehou het om sy ander vriende te vertrou. Maar Paulus het nie enige van hierdie dinge gedoen nie. Hoekom was hy seker dat sy vriende lojaal aan hom sou bly en dat Jehovah hom sou beloon?

18. Wat het Paulus in hierdie moeilike situasie gedoen?

18 (3Dink na oor wat jy lees. Beantwoord die vraag: “Hoe het Paulus homself gehelp?” Selfs toe Paulus die dood in die gesig gestaar het, het hy nie vergeet dat dit baie belangrik is om eer op Jehovah se naam te bring nie. En hy het aangehou om te dink aan hoe hy ander kon aanmoedig. Hy het op Jehovah vertrou deur gereeld te bid (2 Tim. 1:3). Paulus het nie bly dink aan die broers wat hom verlaat het nie. Hy het eerder gesê dat hy baie dankbaar is vir sy vriende wat hom liefdevol ondersteun en gehelp het. En Paulus het aangehou om God se Woord te studeer (2 Tim. 3:16, 17; 4:13). Maar die belangrikste van alles is dat hy die volste vertroue gehad het dat Jehovah en Jesus hom liefhet. Hulle het hom nie verlaat nie en hulle sou hom beloon vir sy getroue diens.

19. Hoe het Jehovah Paulus gehelp?

19 Jehovah het Paulus gewaarsku dat hy vervolg sou word omdat hy ’n Christen is (Hand. 21:11-13). Hoe het Jehovah Paulus gehelp? Hy het Paulus se gebede beantwoord en hom krag gegee (2 Tim. 4:17). Paulus het die versekering gekry dat hy die beloning sou kry waarvoor hy so hard gewerk het. Jehovah het ook Paulus se lojale vriende gebruik om hom op praktiese maniere te help.

20. Met Romeine 8:38, 39 in gedagte, hoe kan jy Paulus navolg?

20 (4Pas die inligting toe. Vra jou af: ‘Hoe kan ek Paulus navolg?’ Net soos Paulus, moet ons verwag om vervolg te word omdat ons Jehovah dien (Mark. 10:29, 30). Om getrou aan Jehovah te bly wanneer ons probleme het, moet ons aanhou bid en ’n goeie studieroetine hê. En ons moet altyd onthou dat een van die belangrikste dinge wat ons kan doen, is om eer op Jehovah se naam te bring. Ons kan seker wees dat Jehovah ons nooit sal verlaat nie en dat daar niks is wat enige iemand kan doen wat sy liefde vir ons kan breek nie. – Lees Romeine 8:38, 39; Heb. 13:5, 6.

LEER BY ANDER BYBELKARAKTERS

21. Wat het Aya en Hector gehelp om hulle uitdagings te oorkom?

21 Maak nie saak wat ons omstandighede is nie, ons kan krag kry as ons Bybelvoorbeelde studeer. Byvoorbeeld, Aya, ’n pionier in Japan, sê dat die verhaal van Jona haar gehelp het om haar vrees vir openbare getuieniswerk te oorkom. Die voorbeeld van Rut het Hector, ’n jong man in Indonesië wie se ouers nie in die waarheid is nie, gemotiveer om meer oor Jehovah te leer en hom te dien.

22. Hoe kan jy die meeste baat vind by Bybeldramas of die reeks “Volg hulle geloof na”?

22 Waar kan jy Bybelvoorbeelde kry wat jou kan help? Ons video’s en oudio-dramas en die reeks “Volg hulle geloof na” sal jou help om jou in Bybelverhale in te leef. * Voordat jy die goed nagevorste verhale lees of daarna kyk of luister, vra Jehovah om jou te help om spesifieke punte te kry wat jy kan toepas. Verbeel jou dat jy die hoofkarakter is. Dink na oor wat hierdie getroue knegte van Jehovah gedoen het en hoe hy hulle gehelp het om hulle probleme te oorkom. Pas dan die lesse in jou eie lewe toe. Sê vir Jehovah dankie vir die hulp wat hy jou alreeds gee. En wys dat jy die hulp waardeer deur na geleenthede te soek om ander aan te moedig en te ondersteun.

23. Wat belowe Jehovah om vir ons te doen, volgens Jesaja 41:10, 13?

23 Die lewe in Satan se wêreld kan baie moeilik wees, en soms kan dit selfs oorweldigend wees (2 Tim. 3:1). Maar ons hoef nie angstig of bang te wees nie. Jehovah weet waardeur ons gaan. Wanneer ons hulp nodig het, belowe hy om ons met sy sterk regterhand styf vas te hou. (Lees Jesaja 41:10, 13.) Ons is seker dat Jehovah ons sal help, en die Bybel gee ons die krag wat ons nodig het om enige probleem te oorkom.

LIED 96 God se boek — ’n Ware skat

^ par. 5 Daar is baie verhale in die Bybel wat wys dat Jehovah sy knegte liefhet en dat hy hulle deur enige probleme sal help. Hierdie artikel bespreek hoe jy persoonlike Bybelstudie kan doen wat jou sal help om meer te leer uit die verhale wat jy lees.

^ par. 2 Die studiemetode wat hier bespreek word, is net een van die opsies wat jy kan gebruik. Ander voorstelle oor hoe om die Bybel te studeer, kan gevind word in die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies onder die onderwerp “Die Bybel” en die onderhofie “Hoe om die Bybel te lees en te verstaan”.

^ par. 14 Moenie hierdie verse gedurende die gemeentelike Wagtoring-studie lees nie.

^ par. 22 Sien “Volg hulle geloof na — Manne en vroue in die Bybel” op jw.org. (Gaan na BYBELLERINGE > GELOOF IN GOD.)