Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 13

Jehovah sal jou beskerm – Hoe?

Jehovah sal jou beskerm – Hoe?

“Die Here is getrou, en hy sal julle versterk en julle teen die Duiwel beskerm.” – 2 TESS. 3:3.

LIED 124 Bly lojaal

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom het Jesus Jehovah gevra om sy dissipels te beskerm?

OP DIE laaste aand voor Jesus se dood het hy gedink aan al die probleme wat sy dissipels sou hê. Omdat Jesus lief was vir sy dissipels het hy sy Vader gevra om “hulle teen die Duiwel [te] beskerm” (Joh. 17:14, 15). Jesus het geweet dat hy binnekort terug hemel toe sou gaan en dat Satan die Duiwel sou aanhou om teen enige een te veg wat Jehovah wil dien. Dit is duidelik dat Jehovah se knegte beskerming nodig sou hê.

2. Hoekom kan ons seker wees dat Jehovah ons gebede sal beantwoord?

2 Jehovah het Jesus se gebede beantwoord omdat Hy sy Seun liefhet. As ons ons bes doen om Jehovah se hart bly te maak, sal hy vir ons ook lief wees en sal hy ons gebede beantwoord wanneer ons hom vra om ons te help en te beskerm. Jehovah is ’n liefdevolle Gesinshoof, en daarom sal hy aanhou om liefdevol vir sy kinders te sorg. Sy naam, of reputasie, hang daarvan af!

3. Hoekom het ons Jehovah se beskerming vandag nodig?

3 Ons het Jehovah se beskerming nou meer as ooit tevore nodig. Satan is uit die hemel gegooi en “is woedend” (Op. 12:12). Hy het dit reggekry om party van ons teenstanders te oortuig dat hulle “’n heilige diens aan God verrig” wanneer hulle ons vervolg (Joh. 16:2). Ander wat nie in God glo nie, vervolg ons omdat ons nie soos die wêreld is nie. Maar dit maak nie saak hoekom mense ons vervolg nie, ons is nie bang nie. Hoekom nie? Want God se Woord sê: “Die Here is getrou, en hy sal julle versterk en julle teen die Duiwel beskerm” (2 Tess. 3:3). Hoe beskerm Jehovah ons? Kom ons bespreek twee maniere.

JEHOVAH GEE VIR ONS ’N WAPENRUSTING

4. Wat het Jehovah vir ons gegee om ons te beskerm, volgens Efesiërs 6:13-17?

4 Jehovah het vir ons ’n wapenrusting gegee wat ons teen Satan se aanvalle kan beskerm. (Lees Efesiërs 6:13-17.) Hierdie wapenrusting van God is sterk en werk baie goed! Maar dit sal ons net beskerm as ons elke deel van die wapenrusting aantrek – en dit aanhou. Wat word deur elke deel verteenwoordig? Kom ons bespreek hulle een vir een.

5. Wat is die lyfband van waarheid, en hoekom moet ons dit dra?

5 Die lyfband van waarheid verteenwoordig die waarhede wat in God se Woord, die Bybel, is. Hoekom moet ons hierdie lyfband dra? Omdat Satan “die vader van die leuen” is (Joh. 8:44). Hy lieg al duisende jare lank en hy mislei “die hele aarde”! (Op. 12:9). Maar die waarhede in die Bybel help ons om nie mislei te word nie. Hoe trek ons hierdie lyfband van waarheid aan? Ons doen dit deur die waarheid oor Jehovah te leer, deur hom “met gees en waarheid” te aanbid en deur in alles eerlik te wees. – Joh. 4:24; Ef. 4:25; Heb. 13:18.

Lyfband: Die waarhede in God se Woord

6. Wat is die borsplaat van regverdigheid, en hoekom moet ons dit dra?

6 Die borsplaat van regverdigheid verteenwoordig Jehovah se regverdige standaarde. Hoekom moet ons die borsplaat dra? Net soos ’n borsplaat ’n soldaat se hart beskerm, beskerm die borsplaat van regverdigheid ons figuurlike hart, of innerlike mens, sodat die slegte invloede van die wêreld ons nie kan beïnvloed nie (Spr. 4:23). Jehovah verwag dat ons hom met ons hele hart moet dien en lief hê (Matt. 22:36, 37). Daarom probeer Satan om ons hart te verdeel deur ons te kry om lief te wees vir die dinge in die wêreld – die dinge wat Jehovah haat (Jak. 4:4; 1 Joh. 2:15, 16). En as dit nie werk nie, probeer hy ons forseer om teen Jehovah se standaarde te gaan.

Borsplaat: Jehovah se regverdige standaarde

7. Hoe trek ons die borsplaat van regverdigheid aan?

7 Ons trek die borsplaat van regverdigheid aan deur Jehovah se standaarde van wat reg en verkeerd is, te aanvaar en daarvolgens te lewe (Ps. 97:10). Party voel dalk dat Jehovah se standaarde te beperkend is. Maar as ons ophou om Bybelbeginsels in ons lewe toe te pas, sal ons soos ’n soldaat wees wat sy borsplaat in die middel van ’n oorlog uittrek omdat hy voel dat dit te swaar is. Dit sal nie baie slim wees nie! Maar as ons Jehovah liefhet, sal ons nie dink dat sy gebooie swaar is nie. Ons sal dit eerder sien as iets wat ons lewe kan red. – 1 Joh. 5:3.

8. Wat beteken dit om die gewilligheid om die goeie nuus van vrede bekend te maak, aan ons voete te hê?

8 Paulus het ons ook aangemoedig om die gewilligheid om die goeie nuus van vrede bekend te maak, aan ons voete te hê. Dit beteken dat ons altyd gereed moet wees om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Wanneer ons die Bybel se boodskap met ander deel, versterk dit ons eie geloof. Dit moedig ons aan wanneer ons sien hoe Jehovah se knegte regoor die aarde elke geleentheid gebruik om te preek. Byvoorbeeld, hulle preek by die werk of by die skool, wanneer hulle van huis tot huis gaan of besigheidsgebied doen, wanneer hulle inkopies doen, vir familielede gaan kuier wat nie Getuies is nie of met mense praat wat hulle ken. En hulle preek selfs wanneer hulle nie die huis kan verlaat nie. As ons bang word en ophou preek, sal ons soos ’n soldaat wees wat sy sandale gedurende die oorlog uittrek; sy voete sal maklik seerkry. En daarom sal dit vir hom moeilik wees om homself te verdedig wanneer hy aangeval word, en hy sal nie die opdragte van sy bevelvoerder kan uitvoer nie.

Sandale: Gewilligheid om die goeie nuus bekend te maak

9. Hoekom moet ons die groot skild van geloof dra?

9 Die groot skild van geloof verteenwoordig die geloof wat ons in Jehovah het. Ons vertrou dat hy al sy beloftes sal nakom. Hierdie geloof sal ons help om “al die brandende pyle van die Duiwel [te] blus”. Hoekom moet ons die groot skild dra? Omdat dit ons beskerm sodat die leringe van afvalliges ons nie mislei nie en die lelike opmerkings wat mense maak, ons nie mismoedig maak nie. Sonder geloof sal ons nie die krag hê om gehoorsaam te wees aan Jehovah wanneer ander druk op ons plaas om ongehoorsaam te wees nie. Maar elke keer wanneer ons by die werk of by die skool weier om iets te doen waarvan Jehovah nie hou nie, word ons deur ons skild van geloof beskerm (1 Pet. 3:15). Elke keer wanneer ons nee sê vir ’n werk waar ons meer geld sal verdien, maar wat sal inmeng met ons geestelike roetine, word ons deur ons skild van geloof beskerm (Heb. 13:5, 6). En elke keer wanneer ons Jehovah dien, al word ons teëgestaan, word ons deur ons skild van geloof beskerm. – 1 Tess. 2:2.

Skild: Ons geloof in Jehovah en sy beloftes

10. Wat is die helm van redding, en hoekom moet ons dit dra?

10 Die helm van redding is die hoop wat Jehovah ons gee – die hoop dat hy ons van die dood sal red en dat hy almal sal beloon wat sy wil doen (1 Tess. 5:8; 1 Tim. 4:10; Tit. 1:1, 2). Net soos ’n letterlike helm ’n soldaat se kop beskerm, beskerm die hoop van redding ons denke. Hoe? Daardie hoop help ons om op God se beloftes gefokus te bly en om nie deur ons probleme oorweldig te word nie. Hoe kan ons hierdie helm dra? Ons doen dit deur ons denke in lyn te bring met God se gedagtes. Byvoorbeeld, ons vertrou nie op rykdom wat kan verdwyn nie, maar eerder op God. – Ps. 26:2; 104:34; 1 Tim. 6:17.

Helm: Die hoop om vir ewig te lewe

11. Wat is die swaard van die gees, en hoekom moet ons dit gebruik?

11 Die swaard van die gees is God se Woord, die Bybel. Daardie swaard het die krag om deur allerhande leuens te sny en om mense te bevry van valse leringe en skadelike gewoontes (2 Kor. 10:4, 5; 2 Tim. 3:16, 17; Heb. 4:12). Ons leer om daardie swaard reg te gebruik deur middel van persoonlike studie en deur middel van die opleiding wat ons van God se organisasie kry (2 Tim. 2:15). Behalwe vir die wapenrusting het Jehovah ons nog iets gegee om ons te beskerm. Wat is dit?

Swaard: God se Woord, die Bybel

ONS HOEF NIE ALLEEN TE VEG NIE

12. Wat het ons nog nodig, en hoekom?

12 ’n Ervare soldaat weet dat hy nie alleen teen ’n groot leërmag kan veg nie; hy het die hulp van die ander soldate nodig. Net so kan ons nie die geveg teen Satan en sy volgelinge op ons eie wen nie; ons het die ondersteuning van ons broers en susters nodig. Jehovah het ons ’n wêreldwye “gemeenskap van broers” gegee om ons te help. – 1 Pet. 2:17.

13. Hoe help die vergaderinge ons, volgens Hebreërs 10:24, 25?

13 Een manier hoe ons ondersteuning kry, is deur ons vergaderinge by te woon. (Lees Hebreërs 10:24, 25.) Ons almal voel soms mismoedig, en wanneer dit gebeur kan die vergaderinge ons aanmoedig. Ons word aangemoedig deur die kommentare wat ons broers en susters gee. Die Bybeltoesprake en demonstrasies motiveer ons om aan te hou om Jehovah te dien. En ons word ook opgebou wanneer ons voor en ná die vergaderinge met ons broers en susters praat (1 Tess. 5:14). Ons vergaderinge gee ons ook die geleentheid om ander te help, en dit maak ons baie gelukkig (Hand. 20:35; Rom. 1:11, 12). Ons vergaderinge help ons ook op ander maniere. Dit help ons om beter te kan “veg” deur ons op te lei om beter te preek en te onderrig. Byvoorbeeld, ons leer hoe om die gereedskap in ons Gereedskapskissie vir Onderrigting goed te kan gebruik. Daarom moet jy goed voorberei vir die gemeentelike vergaderinge. Luister mooi wanneer jy by die vergadering is. En ná die vergadering moet jy toepas wat jy geleer het. As jy hierdie dinge doen, sal jy “’n goeie soldaat van Christus Jesus” word. – 2 Tim. 2:3.

14. Watter ander hulp het ons?

14 Ons het ook die ondersteuning van miljoene magtige engele. Dink aan wat net een engel kan doen! (Jes. 37:36). So wat kan ’n magtige leërmag engele nie doen nie? Mense of demone is niks in vergelyking met Jehovah se magtige leërmag nie. Daar is al gesê dat een getroue Getuie die meerderheid is as hy Jehovah aan sy kant het (Rigt. 6:16). Hoe waar is dit tog nie! Hou dit in gedagte wanneer ’n werksmaat, ’n skoolmaat of ’n ongelowige familielid iets sê of doen wat jou mismoedig maak. Onthou dat jy nie alleen in hierdie geveg is nie. Jy volg Jehovah se leiding.

JEHOVAH SAL AANHOU OM ONS TE BESKERM

15. Hoekom kan niemand God se volk keer om te preek nie, volgens Jesaja 54:15, 17?

15 Die wêreld wat deur Satan beheer word, het baie redes om ons te haat. Ons bly heeltemal neutraal wanneer dit kom by die politiek en ons gaan nie oorlog toe nie. Ons verkondig God se naam, ons sê vir mense dat sy Koninkryk die enigste hoop is vir vrede en ons gehoorsaam sy regverdige standaarde. Ons wys vir mense dat die heerser van hierdie wêreld ’n wrede leuenaar en moordenaar is (Joh. 8:44). En ons vertel vir mense dat Satan se wêreld binnekort vernietig sal word. Maar Satan en sy volgelinge sal dit nooit regkry om ons te keer om te preek nie. Ons sal aanhou om ons bes te doen om Jehovah te loof! Alhoewel Satan baie magtig is, het hy dit nie reggekry om te keer dat die Koninkryksboodskap mense regoor die wêreld bereik nie. Dit is net moontlik omdat Jehovah ons beskerm. – Lees Jesaja 54:15, 17.   

16. Hoe gaan Jehovah sy volk gedurende die groot verdrukking red?

16 Wat gaan in die toekoms gebeur? Gedurende die groot verdrukking gaan Jehovah ons op twee ongelooflike maniere red. Eerstens gaan hy sy lojale knegte red wanneer hy die konings van die aarde gebruik om Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, te vernietig (Op. 17:16-18; 18:2, 4). Dan sal hy sy volk red wanneer hy die res van Satan se wêreld by Armageddon vernietig. – Op. 7:9, 10; 16:14, 16.

17. Hoe help dit ons wanneer ons na aan Jehovah bly?

17 Wanneer ons na aan Jehovah bly, sal hy ons teen Satan beskerm. En uiteindelik sal hy Satan vir ewig vernietig (Rom. 16:20). So trek die volle wapenrusting aan – en hou dit aan! Moenie probeer om alleen teen Satan en sy wêreld te veg nie. Ondersteun jou broers en susters. En volg Jehovah se leiding. As jy dit doen, kan jy seker wees dat jou liefdevolle hemelse Vader jou sal versterk en beskerm. – Jes. 41:10.

LIED 149 ’n Oorwinningslied

^ par. 5 Die Bybel belowe dat Jehovah ons sal versterk en ons sal beskerm teen enige iets wat ons verhouding met hom kan beskadig. In hierdie artikel gaan ons die volgende vrae beantwoord: Hoekom het ons beskerming nodig? Hoe beskerm Jehovah ons? En wat moet ons doen om deur Jehovah beskerm te word?