Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoekom moet Christene versigtig wees wanneer hulle boodskap-apps gebruik?

Party Christene gebruik moderne tegnologie om in kontak te bly met familielede en ander Getuies. ’n Volwasse Christen sal natuurlik die volgende raad in gedagte hou: “Die verstandige sien die gevaar en vermy dit, maar die onervarene gaan voort en moet die gevolge dra.” – Spr. 27:12.

Ons weet dat Jehovah ons wil beskerm. Daarom assosieer ons nie met persone wat verdeeldheid veroorsaak, uitgesit is of verkeerde idees bevorder nie (Rom. 16:17; 1 Kor. 5:11; 2 Joh. 10, 11). Party wat met die gemeente assosieer, is dalk nie gehoorsaam aan die wette in die Bybel nie (2 Tim. 2:20, 21). Ons hou dit in gedagte wanneer ons vriende kies. Maar dit is dalk nie maklik om goeie assosiasie te kies wanneer ons boodskap-apps gebruik nie.

Ons moet veral versigtig wees met wie ons assosieer wanneer dit kom by groot boodskapgroepe. Party Christene het betrokke geraak by groot boodskapgroepe, en soms het dit slegte gevolge gehad. Hoe kan ’n broer of ’n suster versigtig wees as daar honderde of duisende mense in ’n groep is? Dit sal onmoontlik wees om te weet wie hulle almal regtig is en of hulle geestelik sterk is. Psalm 26:4 sê: “Ek assosieer nie met bedrieglike mense nie, en ek vermy mense wat wegsteek wat hulle is.” Dit wys dat dit baie wyser is om net boodskappe te stuur aan mense wat jy ken.

Selfs al is die boodskapgroep klein, moet ’n Christen nog steeds versigtig wees oor hoeveel tyd hy daaraan spandeer om boodskappe te stuur. En hy moet seker maak dat die gesprekke hom nie negatief beïnvloed nie. Ons moenie voel dat ons altyd iets moet sê wanneer ander op die groep boodskappe stuur nie. Paulus het Timoteus gewaarsku oor persone wat ‘skinder en inmeng in ander mense se sake’ (1 Tim. 5:13). Vandag is dit moontlik om dieselfde op boodskap-apps te doen.

Volwasse Christene sal nie kritiese opmerkings oor ander Getuies maak of daarna luister nie. Hulle sal ook nie vertroulike inligting oor ander Getuies deel of daarna luister nie (Ps. 15:3; Spr. 20:19). En hulle sal stories vermy wat sensasie wek of wat nie bevestig kan word nie (Ef. 4:25). Ons ontvang oorgenoeg geestelike kos en betroubare verslae op ons webwerf, jw.org, en in die maandelikse programme op JW Broadcasting®.

Party Getuies gebruik boodskap-apps om produkte te koop, te verkoop en om dit te adverteer of om mense werk aan te bied. Dit is besigheidsake en het niks te doen met ons aanbidding nie. Christene wat “vry [wil] wees van die liefde vir geld,” sal nie hulle broers of susters gebruik om geld te probeer maak nie. – Heb. 13:5.

Kan ons boodskap-apps gebruik om geld te probeer insamel vir broers wat hulp nodig het of wat deur ’n ramp getref is? Ons is lief vir ons broers en ons stel in hulle belang, so ons help dié wat ondersteuning en aanmoediging nodig het (Jak. 2:15, 16). Maar om dit te probeer doen deur middel van ’n groot boodskapgroep, kan dalk inmeng met beter reëlings wat deur middel van die plaaslike takkantoor of gemeente gemaak is (1 Tim. 5:3, 4, 9, 10, 16). En nie een van ons wil die indruk skep dat ons ’n spesiale toewysing het om na God se skape om te sien nie.

Ons wil baie graag doen wat God eer (1 Kor. 10:31). So wanneer jy besluit om ’n boodskap-app of ander tegnologie te gebruik, dink aan die moontlike gevare en wees versigtig.