Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 14

Ouermanne – Hou aan om die apostel Paulus na te volg

Ouermanne – Hou aan om die apostel Paulus na te volg

“Word navolgers van my.” – 1 KOR. 11:1.

LIED 99 Duisende broers

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoe kan die apostel Paulus se voorbeeld ouermanne help?

DIE apostel Paulus was lief vir sy broers, en hy het baie hard gewerk om hulle te help (Hand. 20:31). Dit is hoekom sy broers en susters baie lief was vir hom. Eenkeer het die ouermanne van Efese “baie gehuil” toe hulle hoor dat hulle hom nooit weer sal sien nie (Hand. 20:37). Soos Paulus, is ons hardwerkende ouermanne baie lief vir hulle broers en susters, en hulle doen alles wat hulle kan om hulle te help (Fil. 2:16, 17). Maar soms ondervind die ouermanne uitdagings. Wat kan hulle help om dit te oorkom?

2 Paulus se voorbeeld kan ouermanne baie help (1 Kor. 11:1). Hy was nie ’n supermens nie. Paulus was ’n onvolmaakte man, wat soms gesukkel het om te doen wat reg is (Rom. 7:18-20). En sy lewe was nie maklik nie. Maar Paulus het nie opgegee of sy vreugde verloor nie. As ouermanne Paulus se voorbeeld navolg, kan hulle die uitdagings oorkom wat hulle ondervind en hulle vreugde behou terwyl hulle Jehovah dien. Kom ons kyk hoe.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek, en hoe sal hierdie inligting ons help?

3 In hierdie artikel sal ons vier algemene uitdagings bespreek wat ouermanne ondervind: (1) om hulle bediening met hulle ander verantwoordelikhede te balanseer, (2) om liefdevolle herders te wees, (3) om nie mismoedig te word as gevolg van hulle persoonlike swakhede nie en (4) om die onvolmaakthede van ander te verdra. Ons sal bespreek hoe Paulus elkeen van hierdie uitdagings oorkom het en hoe ouermanne sy voorbeeld kan navolg.

OM DIE BEDIENING MET ANDER VERANTWOORDELIKHEDE TE BALANSEER

4. Hoekom kan dit vir ouermanne ’n uitdaging wees om die leiding in die bediening te neem?

4Hoekom dit ’n uitdaging kan wees. Behalwe die feit dat ouermanne die leiding in die bediening moet neem, het hulle ook baie ander verantwoordelikhede. Byvoorbeeld, baie van hulle dien as voorsitters gedurende die Lewe en Bediening-vergadering, en hulle hou die Gemeentelike Bybelstudie. Hulle moet miskien ook toesprake gee. Hulle lei bedieningsknegte op, en hulle doen hulle bes om hulle broers en susters aan te moedig (1 Pet. 5:2). Party ouermanne help met die bouwerk en instandhouding van Koninkryksale en ander teokratiese fasiliteite. Maar net soos vir almal in die gemeente, is die bediening die belangrikste werk vir ouermanne. – Matt. 28:19, 20.

5. Watter voorbeeld het Paulus in die bediening gestel?

5Paulus se voorbeeld. In Filippense 1:10 het Paulus gesê: “Maak [seker] van die belangriker dinge.” En hy het daardie raad self toegepas. Dit is hoekom Paulus suksesvol in die bediening was. Hy het ’n bediening ontvang, en sy bediening was baie jare lank vir hom die belangrikste ding in sy lewe. Hy het “in die openbaar en van huis tot huis” gepreek (Hand. 20:20). Hy het nie sy bediening beperk tot ’n sekere tyd van die dag of ’n spesifieke dag van die week nie. Hy het van elke geleentheid gebruik gemaak om te preek! Byvoorbeeld, toe hy in Atene vir sy vriende gewag het, het hy met ’n groep belangrike mense oor die goeie nuus gepraat, en party van hulle het goed gereageer op sy boodskap (Hand. 17:16, 17, 34). Hy het selfs gepreek toe hy onder huisarres was. – Fil. 1:13, 14; Hand. 28:16-24.

6. Hoe het Paulus ander opgelei?

6 Paulus het goed gebruik gemaak van sy tyd. Hy het ander gereeld genooi om saam met hom in die bediening te werk. Byvoorbeeld, op sy eerste sendingreis het hy Johannes Markus saamgeneem, en op sy tweede sendingreis het hy Timoteus saamgeneem (Hand. 12:25; 16:1-4). Paulus het sy bes gedoen om hierdie manne te leer hoe om ’n gemeente te organiseer, hoe om herderswerk te doen en hoe om goeie onderrigters te wees. – 1 Kor. 4:17.

Volg Paulus na deur gereed te wees om ’n getuienis te gee (Sien paragraaf 7) *

7. Hoe kan ouermanne Paulus se raad in Efesiërs 6:14, 15 toepas?

7Wat is die les? Ouermanne kan Paulus navolg deur nie net van deur tot deur te preek nie, maar ook deur altyd gereed te wees om ’n getuienis te gee. (Lees Efesiërs 6:14, 15.) Hulle kan byvoorbeeld ’n getuienis gee wanneer hulle inkopies doen of wanneer hulle by die werk is. En wanneer hulle met teokratiese bouprojekte help, kan hulle oor die goeie nuus praat met die mense wat daar naby bly of wat by die winkels daar naby werk. Soos Paulus, kan ouermanne ander, insluitende bedieningsknegte, oplei wanneer hulle saam velddiens doen.

8. Wat sal ’n ouerman dalk soms moet doen?

8 Ouermanne moet nooit so besig wees met toewysings in die gemeente of in die kring dat hulle nie tyd het om velddiens te doen nie. As hulle gebalanseerd wil bly, sal hulle dalk soms vir party toewysings nee moet sê. Nadat ouermanne oor die saak gebid het, besef hulle dalk dat hulle nie na die belangriker dinge sal kan omsien as hulle ’n sekere toewysing aanvaar nie. Die belangriker dinge sluit natuurlik dinge in soos om gesinsaanbidding elke week te doen, om ywerig in die bediening te wees en om hulle kinders vir die bediening op te lei. Miskien vind jy dit dalk moeilik om vir ’n voorreg nee te sê, maar jy kan seker wees dat Jehovah verstaan dat jy net gebalanseerd wil wees.

OM ’N LIEFDEVOLLE HERDER TE WEES

9. Watter uitdaging ondervind besige ouermanne?

9Hoekom dit ’n uitdaging kan wees. Jehovah se knegte ondervind baie probleme. Gedurende hierdie laaste dae het ons almal aanmoediging, ondersteuning en vertroosting nodig. En soms het party hulp nodig om verkeerde gedrag te vermy (1 Tess. 5:14). Ouermanne kan natuurlik nie al die probleme wat Jehovah se knegte ondervind, wegneem nie. Maar Jehovah wil hê dat ouermanne moet doen wat hulle kan om sy skape aan te moedig en te beskerm. Hoe kan besige ouermanne tyd maak om hulle broers en susters te help?

Prys ander en moedig hulle aan (Sien paragraaf 10, 12) *

10. Volgens 1 Tessalonisense 2:7, hoe het Paulus vir Jehovah se knegte gesorg?

10Paulus se voorbeeld. Paulus het na geleenthede gesoek om sy broers te prys en om hulle aan te moedig. Dit sal goed wees as ouermanne sy liefdevolle voorbeeld navolg deur Jehovah se knegte met meegevoel en liefde te behandel. (Lees 1 Tessalonisense 2:7.) Paulus het sy broers en susters verseker dat hy hulle liefhet en dat Jehovah hulle liefhet (2 Kor. 2:4; Ef. 2:4, 5). Hy het hulle as sy vriende behandel, en hy het tyd met hulle gespandeer. Hy het gewys dat hy hulle vertrou deur openlik oor sy eie vrese en swakhede te praat (2 Kor. 7:5; 1 Tim. 1:15). Maar Paulus het nie op sy eie probleme gefokus nie. Hy wou sy broers eerder help.

11. Hoekom het Paulus vir sy broers en susters raad gegee?

11 Paulus moes soms vir sy broers en susters raad gee. Maar hy het dit nooit uit frustrasie gedoen nie. Hy het raad gegee omdat hy vir hulle omgegee het en omdat hy hulle teen verskillende gevare wou beskerm. Hy het probeer om raad te gee wat hulle maklik sou verstaan, en hy wou hê dat hulle die raad moes aanvaar. Byvoorbeeld, in sy brief aan die Korintiërs het Paulus vir hulle streng raad gegee. Nadat hy daardie brief geskryf het, het hy Titus na hulle toe gestuur. Paulus wou graag weet hoe hulle op sy brief gereageer het. En hy was baie bly toe hy uitvind dat hulle goed op sy raad gereageer het! – 2 Kor. 7:6, 7

12. Hoe kan ouermanne hulle broers en susters versterk?

12Wat is die les? Ouermanne kan Paulus navolg deur tyd met hulle broers en susters te spandeer. Een manier om dit te doen, is deur vroeg by die vergaderinge te wees sodat hulle aanmoedigende gesprekke met ander kan hê. Baie keer vat dit net ’n paar minute om vir ’n broer of suster die liefdevolle aanmoediging te gee wat hy of sy nodig het (Rom. 1:12; Ef. 5:16). ’n Ouerman wat Paulus se voorbeeld navolg, sal God se Woord gebruik om sy broers en susters aan te moedig en om hulle van God se liefde vir hulle te verseker. Hy maak ook seker dat hulle weet dat hy hulle liefhet. Hy bly in kontak met hulle, en hy soek na geleenthede om hulle te prys. Wanneer ’n ouerman raad moet gee, maak hy seker dat dit op God se Woord gebaseer is. Hy gee spesifieke maar liefdevolle raad omdat hy dit makliker vir sy broers en susters wil maak om die raad te aanvaar. – Gal. 6:1.

PERSOONLIKE SWAKHEDE

13. Watter uitwerking kan persoonlike swakhede op ’n ouerman hê?

13Hoekom dit ’n uitdaging kan wees. Ouermanne is nie volmaak nie. Hulle maak ook foute (Rom. 3:23). Hulle sukkel soms om ’n gebalanseerde beskouing van hulle swakhede te hê. Party van hulle fokus so baie op hulle onvolmaakthede dat hulle mismoedig word. Maar ander ouermanne maak miskien verskonings vir hulle eie tekortkominge en hulle maak nie die nodige veranderinge nie.

14. Volgens Filippense 4:13, hoe het nederigheid Paulus gehelp om die regte beskouing van sy swakhede te hê?

14Paulus se voorbeeld. Paulus het geweet dat hy nie sy swakhede op sy eie kon hanteer nie. Hy het die krag nodig gehad wat God voorsien. Paulus was voorheen ’n hardkoppige persoon wat Christene wreed vervolg het. Maar later het hy besef dat wat hy gedoen het, verkeerd was, en hy was bereid om sy gesindheid en sy persoonlikheid te verander (1 Tim. 1:12-16). Met Jehovah se hulp het Paulus ’n liefdevolle, nederige herder geword wat meegevoel vir ander gehad het. Hy was pynlik bewus van sy onvolmaakthede, maar hy het gekies om op Jehovah se vergifnis te vertrou eerder as om op sy eie foute te fokus (Rom. 7:21-25). Hy het nie volmaaktheid van homself verwag nie. Hy het eerder hard probeer om sy Christelike persoonlikheid te verbeter, en hy het nederig op Jehovah staatgemaak om sy bediening uit te voer. – 1 Kor. 9:27; lees Filippense 4:13.

Werk hard om persoonlike swakhede te oorkom (Sien paragraaf 14-15) *

15. Watter gebalanseerde beskouing moet ouermanne van hulle swakhede hê?

15Wat is die les? Ouermanne word nie aangestel omdat hulle volmaak is nie. Maar Jehovah verwag dat hulle hulle foute moet erken en dat hulle hulle Christelike persoonlikheid moet verbeter (Ef. 4:23, 24). ’n Ouerman moet God se Woord gebruik om hom te help om te sien waar hy moet verbeter. Dan sal Jehovah hom help om gelukkig en suksesvol te wees. – Jak. 1:25.

DIE ONVOLMAAKTHEDE VAN ANDER

16. Wat kan gebeur as ’n ouerman op die onvolmaakthede van ander fokus?

16Hoekom dit ’n uitdaging kan wees. Ouermanne kan die onvolmaakthede van hulle broers en susters in die gemeente maklik raaksien as hulle baie tyd saam spandeer. So as ouermanne nie versigtig is nie, kan hulle gefrustreerd raak en hulle broers oordeel en sonder liefde behandel. En soos Paulus Christene gewaarsku het, is dit presies wat Satan wil hê hulle moet doen. – 2 Kor. 2:10, 11.

17. Hoe het Paulus sy broers en susters beskou?

17Paulus se voorbeeld. Hy het altyd die goeie in sy broers en susters gesien. Hy het geweet dat hulle foute maak, en soms het hulle dinge gedoen wat hom persoonlik seergemaak het. Maar Paulus het geweet wat die verskil is tussen slegte gedrag en slegte mense. Hy was lief vir sy broers, en hy het op hulle goeie eienskappe gefokus. Wanneer sy broers en susters gesukkel het om die regte ding te doen, het hy nie aangeneem dat hulle slegte motiewe gehad het nie. Hy het geweet dat hulle net hulp nodig het.

18. Wat leer jy uit die manier hoe Paulus die situasie tussen Euodia en Sintige hanteer het? (Filippense 4:1-3)

18 Kyk byvoorbeeld na hoe Paulus ’n situasie tussen twee susters in die gemeente in Filippi hanteer het. (Lees Filippense 4:1-3.) Iets het tussen Euodia en Sintige gebeur wat veroorsaak het dat hulle nie meer vriende was nie. Paulus het hulle nie geoordeel nie, maar het eerder op hulle goeie eienskappe gefokus. Hulle was getroue susters wat al twee ’n uitstekende reputasie gehad het. Paulus het geweet dat Jehovah lief was vir hulle. Paulus het die goeie in hierdie twee susters gesien, en hy het hulle aangemoedig om vrede te maak. Sy positiewe beskouing van ander het hom gehelp om sy vreugde te behou en om sterk vriendskappe in daardie gemeente te hê.

Probeer om ander nie te oordeel nie (Sien paragraaf 19) *

19. (a) Hoe kan ouermanne ’n positiewe beskouing van hulle broers en susters behou? (b) Wat kan jy leer uit die prent van die ouerman wat die Koninkryksaal skoonmaak?

19Wat is die les? Ouermanne, julle moet na die goeie eienskappe in julle broers en susters soek. Hulle is almal onvolmaak, maar elkeen van hulle het pragtige eienskappe wat ons kan bewonder (Fil. 2:3). Ouermanne moet wel van tyd tot tyd vir ’n broer of suster raad gee. Maar net soos Paulus, moet ouermanne hard probeer om nie te fokus op die irriterende dinge wat hulle sê en doen nie. Hulle moet eerder probeer fokus op hulle liefde vir Jehovah, op hoe hulle in God se diens volhard en op hulle potensiaal om goeie dinge te doen. Ouermanne wat ’n positiewe beskouing van hulle broers en susters behou, dra by tot ’n warm en liefdevolle atmosfeer in die gemeente.

HOU AAN OM PAULUS NA TE VOLG

20. Hoe kan ouermanne aanhou om Paulus na te volg?

20 Ouermanne, dit sal vir julle goed wees om aan te hou om Paulus se voorbeeld te bestudeer. Julle kan byvoorbeeld onder “Paul” kyk in die Watch Tower Publications Index onder die onderhofie “example for elders”. Terwyl julle daardie inligting lees, kan julle julleself vra: ‘Hoe kan Paulus se voorbeeld my help om my vreugde te behou terwyl ek my werk as ’n ouerman doen?’

21. Waarvan kan ouermanne seker wees?

21 Ouermanne, onthou dat Jehovah julle nie vra om volmaak te wees nie. Hy vra dat julle getrou moet wees (1 Kor. 4:2). Jehovah het Paulus se harde werk en getrouheid waardeer. Julle kan seker wees dat hy alles wat julle in sy diens doen, ook waardeer. Jehovah sal nooit “vergeet van julle werk en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en bly dien nie”. – Heb. 6:10.

LIED 87 Kom! Word verkwik

^ par. 5 Ons is so dankbaar vir al die harde werk wat ons liefdevolle ouermanne vir ons doen! In hierdie artikel sal ons vier algemene uitdagings bespreek wat hulle ondervind. Ons sal ook bespreek hoe die apostel Paulus se voorbeeld ouermanne kan help om daardie uitdagings te oorkom. Hierdie artikel sal ons almal help om meegevoel vir ons ouermanne te hê, en dit sal ons beweeg om hulle te ondersteun en te wys dat ons hulle liefhet.

^ par. 61 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer getuig vir iemand by die werk.

^ par. 63 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Liefdevolle ouerman moedig ’n broer aan wat geneig is om homself af te sonder.

^ par. 65 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer gee raad vir iemand wat baie ontsteld is oor iets wat gebeur het.

^ par. 67 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Jong broer se aandag word afgelei terwyl hy ’n taak doen wat hy aangebied het om te doen, maar die ouerman oordeel hom nie daarvoor nie.