Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 13

Ware aanbidding sal jou gelukkiger maak

Ware aanbidding sal jou gelukkiger maak

“U is waardig, Jehovah ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang.” – OP. 4:11.

LIED 31 O, wandel met Jehovah God!

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Wat maak ons aanbidding vir God aanvaarbaar?

WAARAAN dink jy as jy die woord “aanbidding” hoor? Miskien dink jy aan ’n nederige broer wat langs sy bed kniel en sy hart voor Jehovah uitstort. Of miskien dink jy aan ’n gelukkige gesin wat hulle gesinstudie geniet.

2 As jy aan sulke voorbeelde gedink het, is jy heeltemal reg. Gebed en gesinstudie is beslis dade van aanbidding. Wat bepaal of Jehovah ons aanbidding sal aanvaar of nie? Hy sal dit aanvaar as ons probeer om sy wil te doen en as ons hom aanbid omdat ons hom liefhet en respekteer. Ons is baie lief vir Jehovah. Ons weet dat hy ons aanbidding verdien, en ons wil hom op die beste moontlike manier aanbid.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons die soort aanbidding bespreek wat Jehovah in Bybeltye aanvaar het, sowel as agt aspekte van aanvaarbare aanbidding van vandag. Terwyl ons dit doen, kan ons dink aan hoe ons die gehalte van ons aanbidding kan verbeter. Ons sal ook kyk na hoe ware aanbidding ons gelukkig maak.

AANBIDDING WAT JEHOVAH IN BYBELTYE AANVAAR HET

4. Hoe het Jehovah se aanbidders voor Jesus se tyd gewys dat hulle Jehovah liefhet en respekteer?

4 Voordat Jesus aarde toe gekom het, het getroue manne soos Abel, Noag, Abraham en Job gewys dat hulle Jehovah liefhet en respekteer. Hoe? Deur middel van hulle gehoorsaamheid, geloof en offerandes. Die Bybel sê nie vir ons presies hoe hulle Jehovah moes aanbid het nie. Maar dit is duidelik dat hulle hulle bes gedoen het om Jehovah te eer, en hulle aanbidding was aanvaarbaar vir hom. Later het Jehovah vir die Israeliete die Wet van Moses gegee, wat spesifieke instruksies ingesluit het oor hoe om Jehovah op ’n aanvaarbare manier te aanbid.

5. Hoe het ware aanbidding ná Jesus se dood en opstanding verander?

5 Ná Jesus se dood en opstanding het Jehovah nie meer verwag dat sy aanbidders gehoorsaam moet wees aan die Wet van Moses nie (Rom. 10:4). Christene moes gehoorsaam wees aan ’n nuwe wet, “die wet van die Christus” (Gal. 6:2). Hulle kon gehoorsaam wees aan hierdie “wet” deur Jesus se voorbeeld te volg en deur te lewe volgens die dinge wat hy ander geleer het. Dit was nie vir hulle nodig om ’n lang lys moets en moenies te memoriseer en daarvolgens te lewe nie. Vandag doen Christene ook hulle bes om Jesus se voorbeeld te volg sodat hulle Jehovah se hart bly kan maak en “nuwe krag [kan] kry”. – Matt. 11:29.

6. Hoe kan hierdie artikel ons help?

6 Terwyl ons elke aspek van ons aanbidding bespreek, kan ons onsself vra: ‘Watter vordering het ek in hierdie aspek van my aanbidding gemaak? Kan ek die gehalte van my aanbidding verbeter?’ Jy moet goed voel oor die vordering wat jy alreeds gemaak het, maar dit sal goed wees as jy Jehovah ook vra om jou te help om te sien hoe jy kan verbeter.

WAT SLUIT ONS AANBIDDING IN?

7. Hoe voel Jehovah wanneer ons uit die hart met hom praat?

7Ons aanbid Jehovah wanneer ons bid. Die Bybel vergelyk ons gebede met die goed voorbereide reukwerk wat by die tabernakel en later by die tempel geoffer is (Ps. 141:2). Die reuk van daardie reukwerk was vir Jehovah aangenaam. Net so is dit vir hom “aangenaam” wanneer ons uit die hart met hom praat, al gebruik ons baie eenvoudige woorde (Spr. 15:8; Deut. 33:10). Ons weet dat dit Jehovah se hart bly maak om te hoor hoeveel ons hom liefhet en waardeer. Hy wil hê dat ons hom moet vertel van die dinge wat ons bekommer, die dinge waarvoor ons hoop en die dinge wat ons graag wil hê. Miskien kan jy nadink oor wat jy vir hom wil sê voordat jy begin bid. As jy dit doen, sal jy die heel beste “reukwerk” vir jou hemelse Vader kan aanbied.

8. Watter geleenthede het ons om Jehovah te prys?

8Ons aanbid Jehovah wanneer ons hom prys (Ps. 34:1). Ons prys Jehovah wanneer ons met waardering praat oor sy pragtige eienskappe en oor al sy werke. ’n Dankbare hart sal ons beweeg om Jehovah te prys. As ons die tyd neem om na te dink oor Jehovah se goedheid – oor alles wat hy vir ons gedoen het – sal ons altyd baie redes hê om hom te prys. Die predikingswerk gee vir ons ’n uitstekende geleentheid om “aan God ’n lofoffer [te] bring, dit wil sê die vrug van ons lippe” (Heb. 13:15). Net soos ons mooi moet nadink oor wat ons wil sê voordat ons met Jehovah in gebed praat, moet ons ook mooi dink aan wat ons wil sê vir die mense met wie ons in die bediening praat. Ons wil vir Jehovah ons heel beste “lofoffer” gee. En daarom praat ons uit die hart wanneer ons velddiens doen.

9. Hoe help ons vergaderinge ons, net soos dit die Israeliete gehelp het? Gee ’n persoonlike ondervinding.

9Ons aanbid Jehovah wanneer ons vergaderinge bywoon. Die Israeliete het die volgende opdrag ontvang: “Drie keer per jaar moet al die mans voor Jehovah jou God verskyn op die plek wat hy uitkies” (Deut. 16:16). Gedurende daardie tye sou hulle nie hulle huise en landerye kon beskerm nie. Maar Jehovah het hulle belowe: “Niemand sal julle land begeer wanneer julle . . . opgaan om voor Jehovah julle God te verskyn nie” (Eks. 34:24). Omdat die Israeliete heeltemal op Jehovah vertrou het, het hulle daardie jaarlikse feeste bygewoon. En hulle is ryklik daarvoor beloon: Hulle het die geleentheid gekry om God se Wet beter te verstaan, om oor sy goedheid na te dink en om opbouende assosiasie met ander aanbidders van Jehovah te geniet (Deut. 16:15). Ons kry dieselfde seëninge wanneer ons opofferings maak om Christelike vergaderinge by te woon. En dink net hoe bly dit Jehovah maak wanneer ons voorbereid is om kort, betekenisvolle kommentare te gee.

10. Hoekom is dit belangrik om vir Jehovah te sing?

10Ons aanbid Jehovah wanneer ons saam met ons broers en susters sing (Ps. 28:7). Om vir Jehovah te sing, was vir die Israeliete ’n belangrike deel van hulle aanbidding. Koning Dawid het 288 Leviete aangestel om by die tempel te sing (1 Kron. 25:1, 6-8). Vandag kan ons wys hoe lief ons vir Jehovah is wanneer ons sing om hom te prys. Die gehalte van ons stem is nie die belangrikste ding nie. Dink hieraan: Wanneer ons praat, ‘struikel ons almal dikwels’, maar dit keer ons nie om in die gemeente en in die bediening te praat nie (Jak. 3:2). So selfs al dink ons dat ons nie goed klink wanneer ons sing nie, moet ons nog steeds sing om Jehovah te prys.

11. Met Psalm 48:13 in gedagte, hoekom moet ons tyd maak om die Bybel as ’n gesin te studeer?

11Ons aanbid Jehovah wanneer ons sy Woord studeer en ons kinders oor hom leer. Die Sabbat het vir die Israeliete die geleentheid gegee om op hulle verhouding met Jehovah te fokus, eerder as op hulle daaglikse aktiwiteite (Eks. 31:16, 17). Getroue Israeliete het hulle kinders oor Jehovah en sy goedheid geleer. Vandag moet ons ook tyd maak om God se Woord te lees en te studeer. Dit is deel van ons aanbidding aan Jehovah en dit help ons om nader aan hom te kom (Ps. 73:28). En wanneer ons saam as ’n gesin studeer, kan ons ’n nuwe generasie – ons kinders – help om ’n sterk persoonlike verhouding met ons liefdevolle hemelse Vader op te bou. – Lees Psalm 48:13.

12. Hoe het Jehovah al die werk in verband met die tabernakel beskou, en wat leer ons daaruit?

12Ons aanbid Jehovah wanneer ons plekke van aanbidding bou en in stand hou. Die Bybel sê dat al die werk wat die Israeliete gedoen het om die tabernakel te maak, “heilige werk” was (Eks. 36:1, 4). Vandag beskou Jehovah die bouwerk van Koninkryksale en ander teokratiese fasiliteite ook as heilige diens. Party broers en susters spandeer baie tyd aan hierdie werk. Ons waardeer beslis al die harde werk wat hulle doen om die Koninkryk te bevorder. Natuurlik neem hulle ook deel aan die predikingswerk. Party van hulle wil dalk selfs pioniers wees. Ouermanne kan wys dat hulle hierdie bouwerk ondersteun deur hierdie hardwerkende mans en vrouens as pioniers aan te stel wanneer hulle daarvoor kwalifiseer. Ons almal kan help om hierdie geboue skoon te maak en in stand te hou, of ons nou bouvaardighede het of nie.

13. Hoe moet ons ons bydraes vir die Koninkrykswerk beskou?

13Ons aanbid Jehovah wanneer ons die Koninkrykswerk deur middel van ons bydraes ondersteun. Die Israeliete mag nie met leë hande voor Jehovah verskyn het nie (Deut. 16:16). Hulle moes ’n materiële geskenk bring wat hulle kon bekostig. Op hierdie manier kon hulle wys dat hulle alles waardeer wat Jehovah vir hulle doen. Hoe kan ons wys dat ons Jehovah liefhet en dat ons alles waardeer wat hy vir ons doen? Een manier is deur bydraes aan ons gemeente en aan die wêreldwye werk te maak, volgens ons omstandighede. Die apostel Paulus het gesê: “As die gewilligheid daar is, word dit met graagte aanvaar – maar volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie” (2 Kor. 8:4, 12). Jehovah waardeer enige bydrae wat ons uit ons hart gee, maak nie saak hoe klein dit is nie. – Mark. 12:42-44; 2 Kor. 9:7.

14. Volgens Spreuke 19:17, hoe voel Jehovah wanneer ons ons broers help wat hulp nodig het?

14Ons aanbid Jehovah wanneer ons ons broers en susters help wat hulp nodig het. Jehovah het belowe om die Israeliete te seën as hulle aan die armes gee (Deut. 15:7, 10). Elke keer wanneer ons ’n broer of ’n suster help wat hulp nodig het, sien Jehovah dit as ’n geskenk aan Hom. (Lees Spreuke 19:17.) Byvoorbeeld, toe die Christene van Filippi vir Paulus ’n geskenk gestuur het toe hy in die tronk was, het hy dit “’n aangename geur, ’n aanvaarbare offerande, wat deur God goedgekeur word”, genoem (Fil. 4:18). Vra jouself: ‘Is daar iemand in my gemeente wat ek kan help?’ Dit maak Jehovah bly wanneer hy sien dat ons ons tyd, energie, vaardighede en materiële dinge gebruik om mense te help wat hulp nodig het. Hy sien dit as deel van ons aanbidding. – Jak. 1:27.

WARE AANBIDDING MAAK ONS GELUKKIG

15. Hoekom is ware aanbidding nie vir ons ’n las nie?

15 Ware aanbidding vat baie van ons tyd en energie. Maar dit is nie vir ons ’n las nie (1 Joh. 5:3). Hoekom nie? Omdat ons Jehovah uit liefde aanbid. Dink aan ’n kind wat vir sy pa ’n geskenk wil gee. Hy spandeer dalk baie ure om vir hom ’n prentjie te teken. Maar dit is nie vir die kind ’n las nie. Hy is lief vir sy pa, en dit maak hom bly om vir hom daardie geskenk te gee. Net so is ons bly om vir Jehovah van ons tyd en energie te gee omdat ons hom liefhet.

16. Volgens Hebreërs 6:10, hoe voel Jehovah oor alles wat ons doen om hom gelukkig te maak?

16 Liefdevolle ouers verwag nie dat elkeen van hulle kinders vir hulle dieselfde geskenk moet gee nie. Hulle besef dat hulle kinders van mekaar verskil, en hulle weet wat elke kind kan doen. Net so, weet ons hemelse Vader wat elkeen van ons kan doen. Miskien kan jy meer doen as baie van jou broers en susters. Of miskien, as gevolg van jou ouderdom, gesondheid of gesinsverantwoordelikhede kan jy nie so baie as ander doen nie. Moenie mismoedig word nie (Gal. 6:4). Jehovah sal nie jou werk vergeet nie. Solank as wat jy vir Jehovah jou beste gee en dit met die regte motivering doen, sal dit sy hart bly maak. (Lees Hebreërs 6:10.) Jehovah sien selfs wat jy graag wil doen. Hy wil hê dat jy gelukkig en tevrede moet wees met die aanbidding wat jy vir hom kan gee.

17. (a) Wat kan ons doen as sekere aspekte van ons aanbidding vir ons moeilik is? (b) Hoe het een van die aspekte van ons aanbidding wat in die venster “ Vind meer geluk” gesien kan word, jou gehelp?

17 Sê nou ons vind dit moeilik om aan ’n sekere aspek van ons aanbidding, soos persoonlike studie of die bediening, deel te neem? Ons sal heel moontlik agterkom dat ons hierdie aktiwiteite al hoe meer sal geniet en dat dit ons al hoe meer sal help, hoe meer ons daaraan deelneem. Ons kan ons aanbidding met ’n soort oefening of ’n musiekinstrument vergelyk. As ons nie daardie oefening gereeld doen of die musiekinstrument gereeld speel nie, sal ons seker nie baie vordering maak nie. Maar sê nou ons maak dit deel van ons daaglikse roetine? Miskien sal ons met kort oefensessies begin en die sessies geleidelik al hoe langer maak. Wanneer ons sien hoe ons verbeter, sal ons heel moontlik na daardie sessies begin uitsien en dit regtig begin geniet. Dieselfde kan van die verskillende aspekte van ons aanbidding gesê word.

18. Hoe kan ons ons doel in die lewe bereik, en hoe sal ons voel as ons dit doen?

18 Wanneer ons Jehovah heelhartig aanbid, bereik ons ons doel in die lewe. As gevolg daarvan geniet ons ’n gelukkige en betekenisvolle lewe en het ons die hoop om Jehovah vir ewig te aanbid (Spr. 10:22). Ons het alreeds innerlike vrede omdat ons weet dat Jehovah sy aanbidders help wanneer hulle probleme ondervind (Jes. 41:9, 10). Ons het beslis goeie redes om gelukkig te wees terwyl ons ons liefdevolle Vader aanbid, wat verdien “om die heerlikheid en die eer” van al sy skeppingswerke te ontvang! – Op. 4:11.

LIED 24 Kom na die berg van Jehovah

^ par. 5 Omdat Jehovah die Skepper van alles is, verdien hy om aanbid te word. Ons dade van aanbidding is vir hom aanvaarbaar wanneer ons sy gebooie gehoorsaam en in ooreenstemming met sy beginsels lewe. In hierdie artikel sal ons agt verskillende aspekte van ons aanbidding bespreek. Ons sal sien hoe ons hierdie aspekte van ons aanbidding kan verbeter en hoe dit ons help om gelukkig te wees.