Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoekom sê 2 Samuel 21:7-9 dat Dawid ‘genade aan Mefiboset betoon het’, maar dat hy hom later oorgelewer het om doodgemaak te word?

Party mense wat hierdie verslag vinnig deurgelees het, het al hieroor gewonder. Maar eintlik is twee verskillende manne met die naam Mefiboset hier betrokke, en ons kan iets uit hierdie verslag leer.

Koning Saul van Israel het sewe seuns en twee dogters gehad. Saul se oudste seun was Jonatan. Later het die koning ’n seun met die naam Mefiboset by Rispa, sy byvrou, gehad. Interessant genoeg het Jonatan ook ’n seun met die naam Mefiboset gehad. So koning Saul het ’n seun en ’n kleinseun met die naam Mefiboset gehad.

Op ’n sekere stadium het koning Saul die Gibeoniete begin haat en probeer om hulle almal uit te wis. En blykbaar is ’n hele paar van hulle doodgemaak. Dit was heeltemal verkeerd. Hoekom? Omdat die hoofmanne van Israel in Josua se dag ’n vredesverbond met die Gibeoniete gemaak het. – Jos. 9:3-27.

Daardie verbond was nog steeds geldig in koning Saul se dag. Maar ten spyte daarvan het die koning nog steeds probeer om die Gibeoniete uit te wis. Dit het veroorsaak dat “bloedskuld op Saul en op sy huis” kom (2 Sam. 21:1). Later, toe Dawid koning geword het, het die oorlewende Gibeoniete met Dawid gaan praat oor die verskriklike ding wat Saul gedoen het. Dawid het vir hulle gevra hoe versoening daarvoor gedoen kon word sodat Jehovah die land weer kon seën. Die Gibeoniete het nie vir geld gevra nie. Hulle het eerder gevra dat sewe seuns van die man wat “planne beraam” het om hulle uit te wis, aan hulle oorgelewer moet word en doodgemaak moet word (Num. 35:30, 31). Dawid het toe gedoen wat hulle gevra het. – 2 Sam. 21:2-6.

Teen daardie tyd was Saul en Jonatan al dood, maar Jonatan se seun Mefiboset het nog gelewe. Hy was gebreklik as gevolg van iets wat gebeur het toe hy ’n kind was. En hy was nie betrokke toe sy oupa die Gibeoniete aangeval het nie. Toe Jonatan nog gelewe het, het Dawid ’n verbond met hom gemaak, wat Jonatan se nageslag, insluitende sy seun Mefiboset, sou bevoordeel (1 Sam. 18:1; 20:42). Die verslag sê: “Die koning [Dawid] het genade betoon aan Mefiboset, die seun van Jonatan, die seun van Saul, as gevolg van die eed wat Dawid en Jonatan . . . voor Jehovah afgelê het.” – 2 Sam. 21:7.

Maar Dawid het nog steeds gedoen wat die Gibeoniete gevra het. Hy het Saul se seun Mefiboset en nog een van Saul se seuns, sowel as vyf van Saul se kleinseuns oorgelewer om doodgemaak te word (2 Sam. 21:8, 9). Wat Dawid gedoen het, het ’n einde gemaak aan die bloedskuld wat op die land was.

Ons kan iets uit hierdie verslag leer. God se wet het duidelik gesê: “Kinders mag nie doodgemaak word vir wat hulle vaders doen nie” (Deut. 24:16). Die feit dat Jehovah goedgekeur het dat Saul se twee seuns en vyf kleinseuns doodgemaak word, bewys dat hulle nie onskuldig was nie. Daardie wet het bygevoeg: “’n Persoon moet net vir sy eie sonde doodgemaak word.” Dit lyk asof Saul se sewe nakomelinge betrokke was by sy poging om die Gibeoniete uit te wis. En daarom is hulle daarvoor gestraf.

Hierdie verslag leer ons dat ’n persoon nie sy dade kan verskoon net omdat hy iemand anders se instruksies gevolg het nie. Die Bybel sê: “Verwyder die struikelblokke op jou pad, dan sal jy in veiligheid daarop kan loop.” – Spr. 4:24-27; Ef. 5:15.