Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 11

Doop – Hoe om daarvoor voor te berei

Doop – Hoe om daarvoor voor te berei

“Wat keer my om gedoop te word?” – HAND. 8:36.

LIED 50 My toewydingsgebed

IN HIERDIE ARTIKEL a

Regoor die wêreld maak jonk en oud vordering en word hulle gedoop (Sien paragraaf 1-2)

1-2. Hoekom moet jy nie mismoedig voel as jy nog nie gereed is om gedoop te word nie? (Sien prent op voorblad.)

 AS JY graag gedoop wil word, het jy ’n wonderlike doelwit vir jouself gestel. Is jy nou gereed om gedoop te word? As jy dink dat jy is en as die ouermanne saamstem, moet jy nie bang wees om by die volgende geleentheid gedoop te word nie. As jy dit doen, sal jy ’n wonderlike lewe in Jehovah se diens hê.

2 Maar sê nou iemand het vir jou gesê dat jy nog vordering moet maak voordat jy gedoop word? Of sê nou jy besef dit self? As dit die geval is, moet jy nie mismoedig voel nie. Jy kan vordering maak en daardie belangrike doelwit bereik, of jy nou jonk of oud is.

“WAT KEER MY?”

3. Wat het ’n Etiopiese hofbeampte vir Filippus gevra, en watter vraag ontstaan? (Handelinge 8:36, 38)

3 Lees Handelinge 8:36, 38. ’n Hofbeampte van Etiopië het vir Filippus die evangelieprediker gevra: “Wat keer my om gedoop te word?” Die Etiopiese man wou graag gedoop word, maar was hy regtig gereed vir daardie belangrike stap?

Die Etiopiese beampte was vasbeslote om aan te hou leer oor Jehovah (Sien paragraaf 4)

4. Hoe het die Etiopiër gewys dat hy vasbeslote was om aan te hou leer?

4 Die Etiopiese man “het na Jerusalem gegaan om te aanbid” (Hand. 8:27). So hy was heel moontlik ’n Joodse proseliet omdat hy die Joodse godsdiens aanvaar het. Hy het beslis oor Jehovah geleer uit die Hebreeuse Geskrifte. Maar hy was gretig om meer te leer. Toe Filippus die beampte langs die pad gekry het, waarmee was daardie man besig? Hy was besig om ’n boekrol te lees van die profeet Jesaja se geskrifte (Hand. 8:28). Dit was diep Bybelwaarhede. Die hofbeampte was nie daarmee tevrede om net ’n paar basiese Bybelleringe te leer nie; hy wou aanhou leer.

5. Wat het die Etiopiër gedoen omtrent dit wat hy geleer het?

5 Die Etiopiër was ’n belangrike amptenaar onder koningin Kandake van Etiopië; hy “was in beheer van al haar skatte” (Hand. 8:27). So hy was seker ’n besige man met baie verantwoordelikhede. Nogtans het hy tyd gemaak om Jehovah te aanbid. Hy was nie tevrede daarmee om die waarheid net te leer nie; hy het dit wat hy geleer het, toegepas. Daarom het hy al die pad van Etiopië gereis sodat hy Jehovah by die tempel in Jerusalem kon aanbid. Daardie reis het baie tyd en geld gekos, maar die man was bereid om enige iets te doen sodat hy Jehovah kon aanbid.

6-7. Hoe het die Etiopiër se liefde vir Jehovah aangehou groei?

6 Die Etiopiër het ’n paar belangrike nuwe waarhede by Filippus geleer, insluitende die identiteit van die Messias (Hand. 8:34, 35). Hierdie hofbeampte was sekerlik diep geraak toe hy geleer het wat Jesus vir hom gedoen het. Wat het hy gedoen nadat hy daardie dinge geleer het? Hy kon besluit het om ’n gerespekteerde Joodse proseliet te bly. Maar sy liefde vir Jehovah en Sy Seun het gegroei. Dit het hom gemotiveer om die belangrike besluit te maak om gedoop te word as ’n volgeling van Jesus Christus. Filippus het gesien dat die man gereed is, en daarom het hy hom gedoop.

7 As jy daardie Etiopiër se voorbeeld volg, kan jy jou voorberei om gedoop te word. Dan sal jy ook met volle vertroue kan sê: “Wat keer my om gedoop te word?” Kom ons kyk hoe jy dieselfde dinge kan doen as wat die Etiopiese man gedoen het: Hy het aangehou leer, hy het dit wat hy geleer het, toegepas en sy liefde vir God het aangehou groei.

HOU AAN LEER

8. Hoe is Johannes 17:3 op jou van toepassing?

8 Lees Johannes 17:3. Het hierdie woorde van Jesus jou gehelp besluit om die Bybel te studeer? Dit was die geval met baie van ons. Maar sê dieselfde woorde ook dat ons moet aanhou leer? Ja. Ons sal nooit ophou ‘om die enigste ware God te leer ken’ nie (Pred. 3:11). Ons sal vir ewig aanhou leer. Hoe meer ons leer, hoe nader sal ons aan Jehovah kom. – Ps. 73:28.

9. Wat moet ons doen nadat ons basiese Bybelleringe geleer het?

9 Wanneer ons begin om oor Jehovah te leer, leer ons net basiese Bybelleringe. In sy brief aan die Hebreërs het die apostel Paulus na basiese leringe verwys as “die basiese dinge”. Hy het nie bedoel dat “die basiese leringe” onbelangrik is nie. Hy het dit vergelyk met die melk wat ’n baba voed (Heb. 5:12; 6:1). Maar hy het ook alle Christene aangemoedig om aan te hou om meer as net daardie basiese leringe te leer en om die dieper waarhede van God se Woord te leer. Het jy ’n begeerte ontwikkel om die dieper leringe van die Bybel te leer? Is jy bereid om aan te hou groei – om aan te hou leer oor Jehovah en sy doel vir die mens?

10. Hoekom is dit vir party mense moeilik om te studeer?

10 Maar dit is vir baie van ons ’n uitdaging om te studeer. Wat van jou? Het jy op skool geleer hoe om goed te lees en te studeer? Het jy dit geniet om te studeer, en voel jy dat jy baie geleer het? Of voel jy nou dat jy nie goed uit boeke leer nie? As dit die geval is, is jy nie alleen nie. Jehovah kan jou help. Hy is volmaak en is die beste Onderrigter wat daar is.

11. Hoe wys Jehovah dat hy die “Groot Onderrigter” is?

11 Jehovah noem homself “jou Groot Onderrigter” (Jes. 30:20, 21). Hy is ’n geduldige en liefdevolle Onderrigter, wat ons verstaan. Hy soek na die goeie in sy studente (Ps. 130:3). En hy verwag nooit meer van ons as wat ons kan doen nie. Onthou, hy het jou brein, ’n wonderlike geskenk, ontwerp (Ps. 139:14). Ons het ’n natuurlike begeerte om te leer. Ons Skepper wil hê dat ons vir ewig moet aanhou leer – en dit moet geniet. So dit is wys om nou “’n verlange” na Bybelwaarhede te ontwikkel (1 Pet. 2:2). Stel doelwitte wat jy kan bereik, en lees en studeer die Bybel gereeld (Jos. 1:8). Met Jehovah se hulp sal jy dit meer en meer begin geniet om oor hom te lees en te leer.

12. Hoekom moet ons Jesus se lewe en bediening bestudeer?

12 Dink gereeld na oor Jesus se lewe en bediening. Dit is baie belangrik dat ons Jesus goed moet navolg as ons Jehovah wil dien, veral in hierdie moeilike tye (1 Pet. 2:21). Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle uitdagings sou hê (Luk. 14:27, 28). Maar hy het die vertroue gehad dat sy ware volgelinge suksesvol kon wees, net soos hy was (Joh. 16:33). Bestudeer details van Jesus se lewe, en stel doelwitte om hom in jou daaglikse lewe na te volg.

13. Waarvoor moet jy Jehovah bly vra, en hoekom?

13 Kennis alleen is nooit genoeg nie. Die rede hoekom jy kennis nodig het, is sodat jy meer kan leer oor Jehovah en eienskappe kan ontwikkel soos liefde vir hom en geloof in hom (1 Kor. 8:1-3). Terwyl jy aanhou leer, moet jy Jehovah bly vra om jou te help om meer geloof te kry (Luk. 17:5). Hy antwoord graag sulke gebede. Opregte geloof gebaseer op akkurate kennis van ons God sal jou help om vordering te maak. – Jak. 2:26.

HOU AAN OM DIT WAT JY LEER, TOE TE PAS

Voor die Vloed het Noag en sy gesin dit wat hulle geleer het, getrou toegepas (Sien paragraaf 14)

14. Hoe het die apostel Petrus beklemtoon hoe belangrik dit is om dit wat ons leer, toe te pas? (Sien ook prent.)

14 Die apostel Petrus het beklemtoon hoe belangrik dit vir volgelinge van Christus is om aan te hou om dit wat hulle leer, toe te pas. Hy het na die Bybelverslag oor Noag verwys. Jehovah het vir Noag gesê dat Hy deur middel van ’n vloed die goddelose mense van daardie tyd gaan vernietig. Om net te weet dat ’n vloed op pad was, was nie genoeg om Noag en sy gesin te red nie. Let op dat Petrus verwys het na die tydperk voor die Vloed “terwyl die ark gebou is” (1 Pet. 3:20). Ja, Noag en sy gesin het dit wat hulle by God geleer het, toegepas deur ’n ark, ’n baie groot boot, te bou (Heb. 11:7). Petrus het toe dit wat Noag gedoen het, vergelyk met doop en geskryf: “Doop, wat hiermee ooreenkom, red julle ook nou” (1 Pet. 3:21). So ons kan die werk wat jy nou doen om vir doop voor te berei, vergelyk met die werk wat Noag en sy gesin vir jare gedoen het om die ark te bou. Watter werk moet jy doen sodat jy gereed kan wees vir doop?

15. Hoe wys ons dat ons regtig berouvol is?

15 Een van die eerste dinge wat ons moet doen, is om opreg berou te toon oor ons sondes (Hand. 2:37, 38). Opregte berou lei tot opregte veranderinge. Het jy opgehou om dinge te doen wat Jehovah nie goedkeur nie, soos om ’n onsedelike lewe te lei, tabak te gebruik of om slegte of lelike taal te gebruik? (1 Kor. 6:9, 10; 2 Kor. 7:1; Ef. 4:29). As jy dit nog nie gedoen het nie, hou aan om veranderinge te probeer maak. Praat met die persoon wat die Bybel met jou studeer, of vra die gemeentelike ouermanne om jou te help en te lei. As jy jonk is en by die huis bly, hou aan om jou ouers te vra om jou te help om op te hou met enige slegte gewoontes wat jou dalk sal keer om gedoop te word.

16. Wat sluit ’n goeie geestelike roetine in?

16 Dit is ook belangrik om ’n goeie geestelike roetine te hê. Dit sluit in dat jy Christelike vergaderinge bywoon en daaraan deelneem (Heb. 10:24, 25). En wanneer jy kwalifiseer om te preek, moet jy dit gereeld doen. Hoe meer jy aan daardie lewensreddende werk deelneem, hoe meer sal jy dit geniet (2 Tim. 4:5). As jy jonk is en by die huis bly, vra jou af: ‘Moet my ouers my herinner om vergaderinge by te woon of om velddiens te doen? Of doen ek dit uit my eie uit?’ Deur sulke dinge uit jou eie te doen, wys jy jou geloof en wys jy jou liefde en dankbaarheid teenoor Jehovah God. Dit is “dade van toegewydheid aan God”, geskenke wat jy aan Jehovah gee (2 Pet. 3:11; Heb. 13:15). Alle geskenke wat ons gewillig en uit ons eie vir God gee, maak hom gelukkig. (Vergelyk 2 Korintiërs 9:7.) Ons doen sulke dinge omdat dit ons gelukkig maak wanneer ons Jehovah ons beste gee.

HOU AAN GROEI IN JOU LIEFDE VIR JEHOVAH

17-18. Watter belangrike eienskap sal jou help om tot doop te vorder, en hoekom? (Spreuke 3:3-6)

17 Terwyl jy aanhou om tot doop te vorder, sal jy uitdagings hê. Party mense sal jou dalk spot as gevolg van jou nuwe geloof; hulle sal jou dalk selfs teëstaan of vervolg (2 Tim. 3:12). Terwyl jy daaraan werk om op te hou met ’n slegte gewoonte, sal jy dalk soms nog steeds daardie verkeerde ding doen. Of jy word dalk ongeduldig en gefrustreerd omdat jy voel dat jy nie jou doelwit gou genoeg bereik nie. Wat sal jou help om te volhard? ’n Belangrike eienskap – liefde vir Jehovah.

18 Jou liefde vir Jehovah is ’n pragtige eienskap, die heel beste eienskap wat jy het. (Lees Spreuke 3:3-6.) ’n Sterk liefde vir God kan jou help om die lewe se uitdagings suksesvol te hanteer. Die Bybel verwys baie keer na Jehovah se lojale liefde vir sy knegte. Lojale liefde beteken dat hy nooit sy knegte sal verlaat of sal ophou om hulle lief te hê nie (Ps. 100:5). Jy is na God se beeld gemaak (Gen. 1:26). Hoe kan jy daardie soort liefde wys?

Jy kan elke dag vir Jehovah wys hoe dankbaar jy is (Sien paragraaf 19) b

19. Hoe kan jy jou dankbaarheid vergroot vir alles wat Jehovah vir jou gedoen het? (Galasiërs 2:20)

19 Begin met dankbaarheid (1 Tess. 5:18). Vra jou elke dag af: ‘Hoe het Jehovah gewys dat hy my liefhet?’ Maak dan seker dat jy in jou gebede vir Jehovah dankie sê, en noem spesifieke dinge wat hy vir jou gedoen het. Besef dat Jehovah goeie dinge vir jou persoonlik doen omdat hy jou liefhet, net soos die apostel Paulus dit oor Jehovah besef het. (Lees Galasiërs 2:20.) Vra jou af: ‘Wil ek ook my liefde vir hom wys?’ Liefde vir Jehovah sal jou help om aan te hou om versoekings te weerstaan en om uitdagings suksesvol te hanteer. Dit sal jou motiveer om te bly by jou geestelike roetine en om elke dag vir jou Vader te wys dat jy hom liefhet.

20. Wat moet jy doen om jou lewe aan Jehovah toe te wy, en hoe belangrik is hierdie besluit?

20 Later sal jou liefde vir Jehovah jou motiveer om ’n spesiale gebed te doen. Jy sal jouself aan God toewy. Onthou, wanneer jy aan Jehovah toegewy is, het jy hierdie wonderlike hoop: Jy kan vir ewig aan hom behoort. Wanneer jy jou lewe aan Jehovah toewy, belowe jy om hom in goeie tye en in slegte tye te dien. Jy sal nooit weer daardie belofte hoef te maak nie. Ja, wanneer ons ons toewy, maak ons ’n belangrike besluit. Maar dink hieraan: Jy sal baie besluite in jou lewe maak, party daarvan sal baie goed wees, maar jy sal nooit ’n beter besluit maak as om jou lewe aan Jehovah toe te wy nie (Ps. 50:14). Satan sal probeer om jou liefde vir jou Vader te verswak, met die hoop dat jy nie getrou aan hom sal bly nie. Moet nooit toelaat dat Satan wen nie! (Job 27:5). Jou sterk liefde vir Jehovah sal jou help om jou belofte om Jehovah vir ewig te dien, na te kom en om al hoe nader aan jou hemelse Vader te kom.

21. Hoekom kan ons sê dat doop nie die einde is nie, maar die begin?

21 Nadat jy jou aan Jehovah toegewy het, praat met die ouermanne in jou gemeente oor daardie volgende belangrike stap wat jy moet neem. Maar onthou altyd dat doop nie die einde is nie, maar die begin. Dit is die begin van diens aan Jehovah wat nooit sal ophou nie. So versterk nou jou liefde vir jou Vader. Stel doelwitte sodat jou liefde elke dag kan groei en sterker word. Hierdie dinge sal jou motiveer om gedoop te word. Dit sal ’n wonderlike dag wees. Maar dit is net die begin. Laat jou liefde vir Jehovah en sy Seun vir ewig aanhou groei!

LIED 135 God se liefdevolle versoek: “Wees wys, my seun”

a Ons moet die regte motief hê as ons tot doop wil vorder. Ons moet ook die regte dinge doen. In hierdie artikel sal ons die voorbeeld van ’n Etiopiese hofbeampte gebruik om te wys wat ’n Bybelstudent moet doen om vir doop te kwalifiseer.

b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Jong suster sê vir Jehovah in gebed hoe dankbaar sy is vir wat hy vir haar gegee het.