Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 13

Gebruik die skepping om jou kinders oor Jehovah te leer

Gebruik die skepping om jou kinders oor Jehovah te leer

“Wie het hierdie dinge geskep?” – JES. 40:26.

LIED 11 Die skepping loof God

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat wil ouers baie graag vir hulle kinders hê?

 OUERS, ons weet dat julle julle kinders wil help om Jehovah te leer ken en lief te kry. Maar God is onsigbaar. Hoe kan julle julle kinders help om hom as ’n werklike Persoon te sien en om nader aan hom te kom? – Jak. 4:8.

2. Hoe kan ouers hulle kinders oor Jehovah se eienskappe leer?

2 ’n Belangrike manier om kinders te help om nader aan Jehovah te kom, is deur die Bybel met hulle te studeer (2 Tim. 3:14-17). Maar die Bybel gee nog ’n manier hoe jongmense oor Jehovah kan leer. In die boek Spreuke sê ’n pa vir sy seun om Jehovah se eienskappe wat in die skepping geopenbaar word, altyd in gedagte te hou (Spr. 3:19-21). Ons sal na ’n paar maniere kyk hoe ouers die skepping kan gebruik om hulle kinders te help om oor Jehovah se persoonlikheid te leer.

GEBRUIK DIE SKEPPING OM JULLE KINDERS TE LEER – HOE?

3. Hoe moet ouers hulle kinders help?

3 Die Bybel sê dat God se “onsigbare eienskappe . . . van die wêreld se skepping af duidelik gesien [word] omdat dit waargeneem kan word in die dinge wat gemaak is” (Rom. 1:20). Ouers, julle geniet dit seker om tyd buite saam met julle kinders te spandeer. Gebruik daardie tyd om julle kinders te help om die verband te sien tussen “die dinge wat gemaak is” en Jehovah se wonderlike eienskappe. Kom ons kyk wat ouers uit Jesus se voorbeeld kan leer.

4. Hoe het Jesus die skepping gebruik om sy dissipels te leer? (Lukas 12:24, 27-30)

4 Let op hoe Jesus die skepping gebruik het om ander te leer. Eenkeer het hy vir sy dissipels gesê om na die kraaie en die lelies te kyk. (Lees Lukas 12:24, 27-30.) Jesus kon enige dier of plant gekies het, maar hy het ’n voël en ’n blom gekies wat sy dissipels goed geken het. Die dissipels het dalk gesien hoe kraaie in die lug vlieg en hoe blomme in die veld blom. Verbeel jou hoe Jesus met sy hand na hierdie dinge gewys het terwyl hy gepraat het. En wat het hy gedoen nadat hy hierdie voorbeelde genoem het? Hy het sy dissipels ’n kragtige les geleer oor hulle hemelse Vader se vrygewigheid en liefde: Jehovah sal vir sy getroue knegte sorg en seker maak dat hulle kos en klere het net soos hy vir die kraaie en die blomme in die veld sorg.

5. Watter voorbeelde in die skepping kan ouers gebruik om hulle kind oor Jehovah te leer?

5 Ouers, sal julle Jesus se manier van onderrigting navolg? Jy kan dalk vir jou kind van iets in die skepping vertel waarvan jy hou, soos wat jou gunstelingdier of -plant is. Wanneer jy dit doen, moet jy verduidelik wat daardie voorbeeld ons oor Jehovah leer. Dan kan jy vir jou kind vra wat sy gunstelingdier of -plant is. As jy oor iets praat waarin hy belangstel, sal hy heel moontlik mooier na jou luister wanneer jy hom iets oor Jehovah probeer leer.

6. Wat kan ons leer uit die voorbeeld van Christopher se ma?

6 Moet ouers baie navorsing doen oor ’n spesifieke dier of plant voordat hulle bespreek wat daardie skeppingswerk oor Jehovah openbaar? Nie noodwendig nie. Jesus het nie ’n lang verduideliking gegee oor hoe kraaie eet of oor hoe lelies groei nie. Al hou jou kind miskien daarvan om details te leer oor die dinge wat Jehovah gemaak het, is ’n eenvoudige kommentaar of vraag soms genoeg om jou kind te help om jou punt te verstaan. Let op wat ’n broer met die naam Christopher oor sy kinderjare onthou: “My ma het eenvoudige dinge gesê om ons te help om die skepping om ons te waardeer. Byvoorbeeld, wanneer ons naby berge was, het sy gesê: ‘Kyk hoe groot en hoe pragtig is daardie berge! Is Jehovah nie wonderlik nie?’ Of wanneer ons naby die see was, het sy gesê: ‘Kyk na daardie sterk branders! Is God nie kragtig nie?’” Christopher sê: “Daardie eenvoudige, maar betekenisvolle kommentare het ’n groot uitwerking op ons gehad.”

7. Hoe kan jy jou kinders leer om oor die skepping na te dink?

7 Terwyl jou kinders ouer word, kan jy hulle leer om meer oor die skepping te begin dink en om oor Jehovah te leer. Jy kan net een ding noem wat Jehovah gemaak het en vir jou kinders vra: “Wat leer dit jou oor Jehovah?” Hulle antwoorde sal jou dalk verbaas. – Matt. 21:16.

WANNEER KAN JULLE DIE SKEPPING GEBRUIK OM JULLE KINDERS TE LEER?

8. Watter geleentheid het Israelitiese ouers gehad terwyl hulle “op die pad” gereis het?

8 Israelitiese ouers was aangemoedig om hulle kinders Jehovah se bevele te leer wanneer hulle “op die pad” loop (Deut. 11:19). Daar was paaie regdeur die plattelandse deel van Israel. ’n Mens kon verskillende diere, voëls en blomme sien. Terwyl Israelitiese gesinne op die pad gereis het, het die ouers die geleentheid gehad om met hulle kinders oor Jehovah se skepping te praat. Ouers, julle het heel moontlik soortgelyke geleenthede om die skepping te gebruik om julle kinders te leer. Kyk hoe party ouers dit gedoen het.

9. Wat kan jy leer by Punitha en Katya?

9 ’n Ma met die naam Punitha, wat in ’n groot stad in Indië bly, sê: “Wanneer ons vir familie op die platteland gaan kuier, sien ons dit as ’n geleentheid om ons kinders te help om oor Jehovah se wonderlike skepping te leer. Ek voel dat my kinders die skepping beter verstaan wanneer hulle weg is van die vol strate en die besige stad.” Ouers, julle kinders sal heel moontlik nooit die tye vergeet wat hulle saam met julle in ’n pragtige omgewing spandeer het nie. Katya, ’n suster van Moldowa, sê: “Wat ek die meeste uit my kinderjare kan onthou, is die tye wat ek saam met my ouers op die platteland was. Ek is dankbaar dat hulle my van ’n jong ouderdom af geleer het om stil te staan en te kyk na die dinge wat Jehovah gemaak het en om hom deur sy skepping te sien.”

Jy kan selfs in ’n stad dinge vind wat Jehovah gemaak het wat jy kan gebruik om jou kinders oor Jehovah te leer (Sien paragraaf 10)

10. Wat kan ouers doen as dit vir hulle moeilik is om uit die stad uit te kom? (Sien die venster “ Hulp vir ouers”.)

10 Wat as dit nie vir julle moontlik is om na die platteland te reis nie? Amol, wat ook in Indië bly, sê: “Waar ek bly, moet ouers lang ure werk, en dit kan baie duur wees om na die platteland te reis. Maar ’n mens kan Jehovah se skepping sien en oor Jehovah se eienskappe praat wanneer jy in ’n klein park of wanneer jy op die balkon van ’n gebou is.” Wanneer jy mooi kyk, sal jy heel moontlik ook baie dinge in die natuur naby jou huis vind wat jy kan gebruik om jou kinders oor die skepping te leer (Ps. 104:24). Jy sal dalk voëls, insekte, plante en baie meer vind. Karina, van Duitsland, sê: “My ma is lief vir blomme, so toe ek ’n dogtertjie was, het sy vir my mooi blomme gewys wanneer ons saam gaan stap het.” Ouers, julle kan ook die baie video’s en publikasies oor die skepping gebruik wat ons organisasie vrygestel het om julle kinders te leer. Maak nie saak waar julle bly nie, julle kan julle kinders help om te kyk na die dinge wat God gemaak het. Kom ons kyk nou na party van Jehovah se eienskappe waarop julle julle kinders se aandag kan vestig.

JEHOVAH SE ‘ONSIGBARE EIENSKAPPE WORD DUIDELIK GESIEN’

11. Hoe kan ouers hulle kinders help om bewus te word van Jehovah se liefde?

11 Om jou kinders te help om Jehovah se liefde te verstaan, kan jy hulle aandag vestig op die liefdevolle manier hoe baie diere vir hulle kleintjies sorg (Matt. 23:37). Jy kan ook die wonderlike verskeidenheid wat ons in die skepping sien, beklemtoon. Karina, wat vroeër aangehaal is, sê: “Wanneer ons gaan stap het, het my ma my aangemoedig om stil te staan en mooi te kyk hoe elke blom uniek is en hoe die feit dat dit so mooi is, Jehovah se liefde weerspieël. Jare later kyk ek nog steeds mooi na blomme, en ek fokus op die kleur en die feit dat elkeen anders is. Dit herinner my nog steeds aan hoe baie Jehovah ons liefhet.”

Jy kan die wonderlike manier hoe ons liggame gemaak is, gebruik om jou kinders oor God se wysheid te leer (Sien paragraaf 12)

12. Hoe kan ouers hulle kinders help om God se wysheid te sien? (Psalm 139:14) (Sien ook prent.)

12 Help julle kinders om bewus te word van God se wysheid. Jehovah is beslis baie wyser as ons (Rom. 11:33). Byvoorbeeld, jy kan vir jou kind vertel hoe water styg om wolke te vorm en hoe daardie wolke dan die water maklik van een plek na ’n ander beweeg (Job 38:36, 37). Jy kan ook die wonderlike manier hoe die mens se liggaam gemaak is, beklemtoon. (Lees Psalm 139:14.) Kyk hoe ’n pa met die naam Vladimir dit gedoen het. Hy sê: “Eendag het my seun van sy fiets afgeval en seergekry. Ná ’n paar dae was die seerplek gesond. Ek en my vrou het verduidelik dat Jehovah ons selle gemaak het met die vermoë om hulleself te herstel. Ons het gesê dat ons nie iets soortgelyks sien in die dinge wat mense gemaak het nie. Byvoorbeeld, ’n kar herstel homself nie nadat dit in ’n ongeluk was nie. Hierdie ondervinding het ons seun gehelp om Jehovah se wysheid te verstaan.”

13. Hoe kan ouers hulle kinders help om bewus te word van God se krag? (Jesaja 40:26)

13 Jehovah nooi ons om op te kyk na die hemel en om te dink aan hoe sy wonderlike krag die heelal in plek hou. (Lees Jesaja 40:26.) Jy kan jou kinders aanmoedig om op te kyk na die hemel en om na te dink oor wat hulle sien. Let op wat Tingting, ’n suster van Taiwan, gesê het: “Eenkeer het ek saam met my ma gaan kamp, en ons kon baie sterre sien omdat daar nie stadsliggies daar naby was nie. Dit was ’n tyd toe ek bekommerd was oor groepsdruk, en ek het gewonder of ek getrou aan Jehovah sou kon bly. My ma het my aangemoedig om te dink aan die krag wat Jehovah gebruik het om al daardie sterre te maak en om te onthou dat hy beslis daardie krag kan gebruik om my te help om enige toets te hanteer. Omdat ek gedurende daardie kamp na die skepping gekyk het, het dit my gemotiveer om Jehovah beter te leer ken, en dit het my meer vasbeslote gemaak om hom te dien.”

14. Hoe kan ouers die skepping gebruik om hulle kinders te help om te sien dat Jehovah ’n gelukkige God is?

14 Jehovah se skepping wys dat hy gelukkig is en dat hy wil hê dat ons ook gelukkig moet wees. Wetenskaplikes het gesien dat die meeste diere speel, insluitende voëls en visse (Job 40:20). Het jou kinders al ooit gelag terwyl hulle gekyk het hoe ’n dier speel? Dalk het hulle gesien hoe ’n katjie met ’n balletjie wol speel of hoe hondjies met mekaar stoei. Wanneer jy weer sien hoe jou kinders lag terwyl hulle kyk hoe ’n dier speel, kan jy hulle daaraan herinner dat ons ’n gelukkige God dien. – 1 Tim. 1:11.

GENIET JEHOVAH SE SKEPPING AS ’N GESIN

Jou kinders sal dalk meer ontspanne voel en bereid wees om oor hulle gevoelens te praat wanneer hulle saam met jou in die natuur is (Sien paragraaf 15)

15. Wat kan ouers help om uit te vind wat hulle kinders dink? (Spreuke 20:5) (Sien ook prent.)

15 Soms is dit vir ouers moeilik om hulle kinders te kry om oor hulle probleme te praat. As jy in daardie situasie is, moet jy dalk probeer uitvind wat jou kinders dink. (Lees Spreuke 20:5.) Party ouers vind dit makliker om dit te doen wanneer hulle saam met hulle kinders buite in die natuur is. Hoekom? Een rede is omdat daar minder afleidings vir kinders en vir ouers is. ’n Pa in Taiwan met die naam Masahiko noem nog ’n rede: “Wanneer ons tyd in die natuur saam met ons kinders spandeer – of ons nou in die berge of langs die see gaan stap – voel hulle gewoonlik meer ontspanne. So dan is dit vir ons makliker om uit te vind wat hulle dink.” Katya, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ná skool het my ma my gewoonlik na ’n pragtige park toe geneem. In so ’n ontspanne atmosfeer was dit vir my makliker om vir haar te vertel wat by die skool gebeur het of waaroor ek bekommerd was.”

16. Hoe kan gesinne ontspan en dit geniet wanneer hulle tyd in Jehovah se skepping spandeer?

16 Wanneer gesinne die dinge geniet wat Jehovah gemaak het, kan hulle ontspan en hulle tyd saam geniet. Dit sal hulle help om as ’n gesin nader aan mekaar te kom. Die Bybel sê dat daar “’n tyd [is] om te lag” en “’n tyd [is] om rond te huppel” (Pred. 3:1, 4, vtn.). Jehovah het baie pragtige plekke op die aarde gemaak waar ons die dinge kan doen wat ons geniet. Baie gesinne hou daarvan om saam te wees by ’n natuurreservaat, op die platteland, in die berge of by die see. Party kinders hou daarvan om in ’n park te hardloop en te speel, om diere dop te hou of om in ’n rivier, in ’n meer of in die see te swem. Ons het uitstekende geleenthede om die natuur te geniet en die dinge wat Jehovah gemaak het!

17. Hoekom moet ouers hulle kinders help om God se skepping te geniet?

17 In God se nuwe wêreld sal ouers en kinders Jehovah se skepping meer as ooit tevore geniet. Dan sal ons nie vir diere hoef bang te wees nie, en hulle sal nie vir ons bang wees nie (Jes. 11:6-9). Ons sal die dinge wat Jehovah gemaak het vir ewig kan geniet (Ps. 22:26). Maar ouers, moenie tot dan wag om julle kinders te help om die skepping te begin geniet nie. Wanneer julle die skepping gebruik om julle kinders oor Jehovah te leer, sal hulle heel moontlik saamstem met wat koning Dawid gesê het: “O Jehovah, daar is geen werke soos u werke nie.” – Ps. 86:8.

LIED 134 Kinders is ’n erfdeel van God

a Baie broers en susters het goeie herinneringe van tye wat hulle saam met hulle Christenouers in die natuur spandeer het. Hulle het nie vergeet hoe hulle ouers daardie tye gebruik het om hulle oor Jehovah se persoonlikheid te leer nie. As jy kinders het, hoe kan jy die skepping gebruik om hulle oor God se eienskappe te leer? Hierdie artikel sal daardie vraag beantwoord.