Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 10

Hoekom moet jy gedoop word?

Hoekom moet jy gedoop word?

“Laat elkeen van julle . . . gedoop word.” – HAND. 2:38.

LIED 34 Ek sal lojaal bly

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. Wat gebeur baie keer wanneer mense gedoop word, en wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

 HET jy al ooit ’n groep doopkandidate dopgehou? Jy hoor die oortuiging in hulle stemme terwyl hulle die twee vrae beantwoord voordat hulle gedoop word. Jy sien hoe trots hulle familielede en vriende is. Wanneer die kandidate uit die water uit opkom, hoor jy die applous en sien jy die vreugde op hulle gesigte. Daar is gemiddeld duisende wat elke week daardie stap neem en toegewyde gedoopte Getuies van Jehovah God word.

2 Wat van jou? As jy daaraan dink om gedoop te word, is jy ’n helder lig in hierdie goddelose wêreld omdat jy “Jehovah se leiding soek” (Ps. 14:1, 2). Hierdie artikel is vir jou geskryf, of jy nou jonk of oud is. Maar dié van ons wat alreeds gedoop is, wil ook ons vasbeslotenheid versterk om Jehovah vir ewig te dien. So kom ons bespreek drie van die baie redes hoekom ons Jehovah wil dien.

JY IS LIEF VIR WAARHEID EN REGVERDIGHEID

Satan het Jehovah se goeie naam al duisende jare lank deur die modder gesleep, en hy hou aan om dit te doen (Sien paragraaf 3-4)

3. Hoekom is Jehovah se knegte lief vir waarheid en regverdigheid? (Psalm 119:128, 163)

3 Jehovah het sy volk beveel om ‘waarheid lief te hê’ (Sag. 8:19). Jesus het sy volgelinge aangemoedig om regverdigheid na te streef (Matt. 5:6). Dit beteken dat ’n persoon ’n sterk begeerte moet hê om te doen wat reg, goed en rein in God se oë is. Is jy lief vir waarheid en regverdigheid? Ons is seker dat jy is. Jy haat leuens en alles wat verkeerd en goddeloos is. (Lees Psalm 119:128, 163.) Iemand wat leuens vertel, volg Satan, die heerser van hierdie wêreld, na (Joh. 8:44; 12:31). Een van Satan se doelwitte is om die heilige naam van Jehovah God deur die modder te sleep. Satan versprei al vanaf die opstand in Eden leuens oor ons God. Hy het probeer om mense te laat dink dat Jehovah ’n selfsugtige en oneerlike Heerser is wat goeie dinge terughou van mense (Gen. 3:1, 4, 5). Satan se leuens oor Jehovah hou aan om ’n slegte uitwerking te hê op mense se verstande en harte. Wanneer mense kies om nie ‘waarheid lief te hê’ nie, kan Satan hulle beïnvloed om allerhande onregverdige en goddelose dinge te doen. – Rom. 1:25-31.

4. Hoe het Jehovah bewys dat hy “die God van waarheid” is? (Sien ook prent.)

4 Jehovah is “die God van waarheid”, en hy leer graag die waarheid aan dié wat hom liefhet (Ps. 31:5). Deur dit te doen, bevry hy hulle van Satan se leuens. Jehovah leer ook sy knegte om eerlik en regverdig te wees. Dit help hulle om meer selfrespek en innerlike vrede te hê (Spr. 13:5, 6). Het hy dit vir jou gedoen toe jy die Bybel studeer het? Jy het geleer dat Jehovah se standaarde die beste is vir alle mense en vir jou persoonlik (Ps. 77:13). Daarom wil jy God se regverdigheid ondersteun (Matt. 6:33). Jy wil die waarheid verdedig en bewys dat die dinge wat Satan oor ons God Jehovah gesê het, nie waar is nie. Hoe kan jy dit doen?

5. Hoe kan jy waarheid en regverdigheid ondersteun?

5 Jy kan op ’n manier lewe wat duidelik wys dat jy Satan se leuens verwerp en die waarheid ondersteun. Jy kan wys dat jy Jehovah as jou Heerser wil hê en dat jy wil doen wat hy sê reg is. Hoe kan jy dit doen? Bid tot Jehovah en wy jouself aan hom toe, en maak dan daardie toewyding in die openbaar bekend deur gedoop te word. Liefde vir wat waar en reg is, is ’n kragtige rede wat jou kan motiveer om gedoop te word.

JY IS LIEF VIR JESUS CHRISTUS

6. Watter redes gee Psalm 45:4 jou om lief te wees vir Jesus Christus?

6 Hoekom is jy lief vir Jesus Christus? Kyk na ’n paar goeie redes in Psalm 45:4. (Lees.) Jesus is lief vir waarheid, nederigheid en regverdigheid. As jy lief is vir waarheid en regverdigheid, is jy natuurlik ook lief vir Jesus Christus. Dink aan hoe moedig Jesus waarheid en regverdigheid verdedig het (Joh. 18:37). Maar hoe bevorder Jesus nederigheid?

7. Wat staan vir jou uit omtrent Jesus se nederigheid?

7 Jesus bevorder nederigheid deur sy voorbeeld. Byvoorbeeld, hy gee al die eer aan sy Vader, en hy soek nooit eer vir homself nie (Mark. 10:17, 18; Joh. 5:19). Hoe voel jy daaroor om sulke nederigheid te sien? Motiveer dit jou nie om lief te wees vir God se Seun en om hom te volg nie? Beslis. Hoekom is Jesus nederig? Omdat hy lief is vir sy Vader wat nederig is en hom navolg (Ps. 18:35; Heb. 1:3). Voel jy nie aangetrokke tot Jesus, wat Jehovah se eienskappe volmaak navolg nie?

8. Hoekom is ons lief vir Jesus as ons Koning?

8 Ons is lief vir Jesus as ons Koning omdat hy die ideale Heerser is. Jehovah het self sy Seun opgelei en hom aangestel om te regeer (Jes. 50:4, 5). Dink ook aan die selfopofferende liefde wat Jesus gewys het (Joh. 13:1). As jou Koning verdien Jesus beslis jou liefde. Hy het verduidelik dat dié wat regtig lief is vir hom – dié wat hy sy vriende noem – hulle liefde wys deur sy gebooie te gehoorsaam (Joh. 14:15; 15:14, 15). Dit is ’n groot voorreg om ’n vriend van Jehovah se Seun te wees!

9. Hoe is die doop van Christene soortgelyk aan die doop van Christus?

9 Een van Jesus se gebooie is dat sy volgelinge gedoop moet word (Matt. 28:19, 20). Hy het die voorbeeld gestel. Sy doop is op party maniere anders as dié van sy volgelinge. (Sien die venster “ Die doop van Jesus en die doop van sy volgelinge – Hoe dit verskil”.) Maar dit is op ander maniere soortgelyk. Toe Jesus gedoop was, het hy homself aangebied om sy Vader se wil te doen (Heb. 10:7). Net so word Christus se volgelinge gedoop om in die openbaar te wys dat hulle hulle aan Jehovah God toegewy het. Hulle lewe draai nou om sy wil, nie om hulle eie nie. So hulle volg hulle Meester se voorbeeld.

10. Hoekom moet liefde vir Jesus jou motiveer om gedoop te word?

10 Jy aanvaar Jesus as Jehovah se eniggebore Seun en as die Koning wat God aangestel het om oor ons te regeer. Jy weet dat Jesus nederig is en sy Vader volmaak navolg. Jy het geleer dat hy mense wat honger was, kos gegee het, mense wat mismoedig was, vertroos het en selfs die siekes genees het (Matt. 14:14-21). Jy het gesien hoe hy sy gemeente vandag lei (Matt. 23:10). En jy weet dat hy in die toekoms baie meer sal doen as Koning van God se Koninkryk. Hoe kan jy wys dat jy vir hom lief is? Deur sy voorbeeld te volg (Joh. 14:21). Jy kan begin om dit te doen deur jouself aan Jehovah toe te wy en gedoop te word.

JY IS LIEF VIR JEHOVAH GOD

11. Wat sou jy sê is die belangrikste rede om gedoop te word, en hoekom is dit so?

11 Wat is die belangrikste rede om gedoop te word? Jesus het gewys wat die grootste gebod is wat God gegee het toe hy gesê het: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (Mark. 12:30). Beskryf hierdie woorde jou liefde vir God?

Jehovah is die Bron van elke goeie geskenk wat jy al ooit geniet het en ooit sal geniet (Sien paragraaf 12-13)

12. Hoekom is jy lief vir Jehovah? (Sien ook prent.)

12 Daar is so baie redes om lief te wees vir Jehovah. Byvoorbeeld, jy het geleer dat hy “die bron van lewe” is en dat hy die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” is (Ps. 36:9; Jak. 1:17). Elke goeie ding wat jy geniet, kom van ons vrygewige, liefdevolle God.

13. Hoekom is die losprys so ’n wonderlike geskenk?

13 Die losprys is ’n wonderlike geskenk wat Jehovah vir ons gegee het. Hoekom kan ons dit sê? Dink aan die sterk vriendskap tussen Jehovah en sy Seun. Jesus het gesê: “Die Vader [het] my lief” en “ek [is] lief . . . vir die Vader” (Joh. 10:17; 14:31). Hulle vriendskap het baie sterk geword toe hulle vir miljarde jare saam was (Spr. 8:22, 23, 30). Dink aan hoe hartseer dit God gemaak het toe hy toegelaat het dat sy Seun ly en sterf. Jehovah is so lief vir alle mense – insluitende vir jou – dat hy bereid was om sy geliefde Seun as ’n offerande te gee om jou en ander die kans te gee om vir ewig te lewe (Joh. 3:16; Gal. 2:20). Dit is die grootste rede wat ons het om lief te wees vir God.

14. Wat is die beste doelwit in die lewe wat jy ooit kan kies?

14 Jou liefde vir Jehovah het gegroei omdat jy meer oor hom geleer het. Jy wil sekerlik nou en vir ewig nader aan hom kom. En jy kan. Hy moedig jou liefdevol aan om sy hart bly te maak (Spr. 23:15, 16). Jy kan dit doen, nie net deur jou woorde nie, maar ook deur jou dade. Die manier hoe jy lewe, sal wys dat jy regtig lief is vir Jehovah (1 Joh. 5:3). Dit is die beste doelwit in die lewe wat jy ooit kan kies.

15. Hoe kan jy jou liefde vir Jehovah wys?

15 Hoe kan jy jou liefde vir Jehovah wys? Eers doen jy ’n spesiale gebed waarin jy jouself aan die enigste ware God toewy (Ps. 40:8). Dan maak jy daardie toewyding in die openbaar bekend deur gedoop te word. Soos ons vroeër in hierdie artikel bespreek het, is jou doop ’n gelukkige en belangrike oomblik in jou lewe. Jy begin ’n nuwe lewe, nie vir jouself nie, maar vir Jehovah (Rom. 14:8; 1 Pet. 4:1, 2). Dit klink dalk soos ’n baie groot stap, en dit is. Maar dit maak dit vir jou moontlik om die beste lewe ooit te hê. Hoe so?

16. Hoe sal Jehovah dié wat hulle lewe gebruik om hom te dien, beloon volgens Psalm 41:12?

16 Jehovah is die vrygewigste Persoon. Maak nie saak wat jy hom gee nie, hy sal altyd vir jou baie meer teruggee (Mark. 10:29, 30). Hy sal vir jou die interessantste, beste en betekenisvolste lewe moontlik gee, selfs nou in hierdie goddelose ou wêreld. En dit is maar net die begin. Die lewe wat begin wanneer jy gedoop word, hoef nooit te eindig nie. Jy kan jou geliefde Vader vir ewig dien. Die liefde tussen jou en jou Vader sal aanhou groei, en jy sal net so lank soos hy lewe, vir ewig. – Lees Psalm 41:12.

17. Wat kan jy Jehovah gegee wat hy nie alreeds het nie?

17 Wanneer jy jou lewe aan God toewy en gedoop word, het jy die voorreg om jou Vader iets baie kosbaars te gee. Hy het vir jou elke goeie geskenk en elke gelukkige oomblik gegee wat jy al ooit geniet het. So jy kan vir die Eienaar van die hemel en aarde iets gee wat hy nie alreeds het nie – jou gewillige, toegewyde diens (Job 1:8; 41:11; Spr. 27:11). Dit is beslis die beste manier om jou lewe te lei. Jou liefde vir Jehovah is beslis die beste rede om gedoop te word.

IS JY GEREED OM GEDOOP TE WORD?

18. Watter vrae sal jy dalk vra?

18 So gaan jy gedoop word? Net jy kan dit antwoord. Maar dit sal dalk help as jy jou afvra: ‘Is ek gereed om gedoop te word?’ (Hand. 8:36). Onthou die drie redes wat ons bespreek het. Eerstens, jy is lief vir waarheid en regverdigheid. Vra jou af: ‘Wil ek graag daar wees wanneer almal die waarheid sal praat en sal doen wat reg is?’ Tweedens, jy is lief vir Jesus Christus. Vra jou af: ‘Wil ek God se Seun as my Koning hê, en wil ek sy voorbeeld volg?’ Derdens, die belangrikste van alles, jy is lief vir Jehovah. Vra jou af: ‘Wil ek Jehovah se hart bly maak deur hom as my God te dien?’ As jou antwoorde op daardie vrae ja is, watter rede het jy dan om nie onmiddellik gedoop te word nie? – Hand. 16:33.

19. Hoekom moet jy nie bang wees om gedoop te word nie? Illustreer. (Johannes 4:34)

19 As jy bang is om gedoop te word, dink aan ’n illustrasie wat Jesus gebruik het. (Lees Johannes 4:34.) Let op dat Jesus sy Vader se wil met kos vergelyk het. Hoekom? Kos is goed vir ons. Jesus het geweet dat alles wat Jehovah ons vra om te doen, goed is vir ons. Jehovah wil nie hê dat ons enige iets moet doen wat ons sal seermaak nie. Wil Jehovah hê dat jy gedoop moet word? Ja (Hand. 2:38). So jy kan seker wees dat om gehoorsaam te wees aan die opdrag om gedoop te word, goed sal wees vir jou. As jy nie bang is om die beste kos ooit te eet nie, hoekom is jy dan bang om gedoop te word?

20. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

20 Hoekom is party bang om gedoop te word? Baie sal dalk sê: “Ek is nog nie gereed nie.” Die feit is dat die besluit om jouself aan Jehovah toe te wy en gedoop te word, die belangrikste besluit is wat jy ooit sal maak. So dit sal tyd neem, jy sal mooi daaroor moet nadink en jy sal hard moet werk om daarvoor te kwalifiseer. Maar wat kan jy nou doen om jouself voor te berei as jy graag gedoop wil word? Ons sal die antwoord op daardie vraag in die volgende artikel bespreek.

LIED 28 Verkry Jehovah se vriendskap

a Doop is ’n baie belangrike stap wat elke Bybelstudent moet neem. Wat kan ’n student motiveer om daardie stap te neem? In een woord, liefde. Maar liefde vir wat en vir wie? In hierdie artikel sal ons die antwoorde kry en bespreek watter soort lewe ons as gedoopte Christene kan verwag.