Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 14

“So sal almal weet dat julle my dissipels is”

“So sal almal weet dat julle my dissipels is”

“So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het.” – JOH. 13:35.

LIED 106 Kweek liefde aan

IN HIERDIE ARTIKEL a

Wat dink baie wat nie Getuies is nie wanneer hulle die liefde onder Jehovah se volk sien? (Sien paragraaf 1)

1. Wat beïndruk baie belangstellendes wanneer hulle ons vergaderinge vir die eerste keer bywoon? (Sien ook prent.)

 STEL jou ’n paartjie voor wat die vergadering vir die eerste keer bywoon by ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies. Hulle is baie beïndruk wanneer hulle sien hoe vriendelik die broers en susters hulle verwelkom en hoe liefdevol hulle teenoor mekaar is. Op pad huis toe van die vergadering af sê die vrou vir haar man: ‘Daar is iets anders omtrent Jehovah se Getuies – maar op ’n goeie manier.’

2. Wat het party laat struikel?

2 Die liefde onder dié in die Christengemeente is baie spesiaal. Maar Jehovah se Getuies is onvolmaak (1 Joh. 1:8). So hoe beter ons dié in die gemeente leer ken, hoe makliker sal ons party van hulle foute raaksien (Rom. 3:23). Party het ongelukkig toegelaat dat die onvolmaakthede van ander hulle laat struikel.

3. Wat identifiseer Jesus se ware volgelinge? (Johannes 13:34, 35)

3 Kyk weer na die temateks van hierdie artikel. (Lees Johannes 13:34, 35.) Wat identifiseer Christus se ware volgelinge? Dit is liefde, nie volmaaktheid nie. Let ook op dat Jesus nie gesê het: ‘So sal julle weet dat julle my dissipels is’ nie. Hy het gesê: “So sal almal weet dat julle my dissipels is.” So Jesus het gewys dat nie net sy volgelinge nie, maar ook dié buite die Christengemeente sy ware volgelinge sou herken omdat hulle onselfsugtige liefde vir mekaar het.

4. Wat wil party dalk oor ware Christene weet?

4 Party wat nie Jehovah se Getuies is nie, wonder dalk: ‘Hoe identifiseer liefde Jesus se ware volgelinge? Hoe het Jesus gewys dat hy lief is vir sy apostels? En hoe is dit moontlik om Jesus se voorbeeld vandag na te volg?’ Dit sal goed wees as Getuies nadink oor die antwoorde op daardie vrae. As ons dit doen, kan dit ons help om meer liefde aan ander te betoon, veral wanneer ons te doen kry met die onvolmaakthede van ander. – Ef. 5:2.

HOEKOM IDENTIFISEER LIEFDE JESUS SE WARE VOLGELINGE OP ’N UNIEKE MANIER?

5. Verduidelik Jesus se woorde in Johannes 15:12, 13.

5 Jesus het dit duidelik gemaak dat ’n spesiale soort liefde sy volgelinge sou identifiseer. (Lees Johannes 15:12, 13.) Let op dat Jesus hulle beveel het: “Julle moet mekaar liefhê net soos ek julle liefgehad het.” Wat beteken dit? Jesus het verder verduidelik dat dit selfopofferende liefde is – liefde wat ’n Christen motiveer om selfs vir ’n broer of suster te sterf as dit nodig is. b

6. Hoe beklemtoon God se Woord die belangrikheid van liefde?

6 God se Woord leer ons dat liefde baie belangrik is. Die volgende is baie mense se gunstelingbybelverse: “God is liefde” (1 Joh. 4:8). “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt. 22:39). “Die liefde bedek baie sondes” (1 Pet. 4:8). “Liefde faal nooit nie” (1 Kor. 13:8). Hierdie en ander verse maak dit duidelik dat dit baie belangrik is om hierdie pragtige eienskap te ontwikkel en te openbaar.

7. Hoekom kan Satan mense nooit leer om mekaar lief te hê en verenig te wees nie?

7 Baie mense vra: ‘Hoe is dit moontlik om die ware godsdiens te identifiseer? Alle godsdienste sê dat hulle die waarheid leer, maar elkeen van hulle leer iets anders oor God.’ Satan het baie valse godsdienste gevorm, en dit maak dit vir mense moeilik om te weet watter godsdiens die ware godsdiens is. Maar hy kan nooit ’n wêreldwye broederskap van Christene vorm wat mekaar liefhet nie. Net Jehovah kan dit doen. Ons weet dit omdat liefde van Jehovah af kom. Net dié wat Jehovah se gees en sy seën het, kan ware liefde onder mekaar hê (1 Joh. 4:7). Dit is hoekom Jesus gesê het dat net sy volgelinge ware liefde vir mekaar sou hê.

8-9. Watter uitwerking het die liefde wat baie mense onder Jehovah se Getuies gesien het, op hulle gehad?

8 Net soos Jesus voorspel het, het baie mense sy ware volgelinge herken omdat hulle ware liefde aan mekaar betoon. Byvoorbeeld, ’n broer met die naam Ian onthou die eerste streekbyeenkoms wat hy bygewoon het, wat by ’n sportstadion naby sy huis gehou was. Ian het ’n paar maande vroeër by daardie stadion ’n sportwedstryd gekyk. Hy sê: “Hierdie byeenkoms het hemelsbreed [van daardie wedstryd] verskil. Die Getuies was beleefd en netjies geklee, en hulle kinders was goedgemanierd.” Hy sê verder: “Dit het bowenal gelyk of daar ’n gevoel van vergenoegdheid en vreedsaamheid onder hierdie mense was—iets waarna ek gesmag het. Ek onthou nie enige van die toesprake wat daardie dag gehou is nie, maar die gedrag van die Getuies het ’n blywende indruk by my gelaat.” c Sulke gedrag is natuurlik ’n resultaat van die ware liefde wat ons vir mekaar het. Omdat ons ons broers en susters liefhet, behandel ons hulle met liefde en respek.

9 ’n Broer met die naam John het dieselfde gevoel toe hy die vergaderinge begin bywoon het: “Ek was beïndruk deur almal se vriendelikheid . . . —hulle het almal so heilig gelyk. Hulle opregte liefde het my daarvan oortuig dat ek die ware godsdiens gevind het.” d Hierdie en baie ander ondervindinge wys dat Jehovah se volk ware Christene is.

10. Wanneer het ons veral die geleentheid om Christelike liefde te wys? (Sien ook voetnoot.)

10 Soos daar aan die begin genoem is, is al ons broers en susters onvolmaak. Soms sal hulle dinge sê of doen wat ons ontstel (Jak. 3:2). e Wanneer dit gebeur, het ons veral die geleentheid om Christelike liefde te wys deur die manier hoe ons daarop reageer. Wat kan ons uit Jesus se voorbeeld leer toe hy in so ’n situasie was? – Joh. 13:15.

HOE HET JESUS GEWYS DAT HY LIEF IS VIR SY APOSTELS?

Jesus het die apostels liefdevol behandel, al het hulle baie foute gemaak (Sien paragraaf 11-13)

11. Watter slegte eienskappe het Jakobus en Johannes geopenbaar? (Sien ook prent.)

11 Jesus het nie volmaaktheid van sy volgelinge verwag nie. Hy het hulle eerder liefdevol gehelp om aan hulle swakhede te werk en om veranderinge te maak sodat hulle Jehovah gelukkig kon maak. Op een geleentheid het twee van die apostels, Jakobus en Johannes, hulle ma gekry om Jesus te vra om vir hulle belangrike posisies in die Koninkryk te gee (Matt. 20:20, 21). Op hierdie manier het Jakobus en Johannes gewys dat hulle trots en ambisieus is. – Spr. 16:18.

12. Was Jakobus en Johannes die enigstes wat slegte eienskappe geopenbaar het? Verduidelik.

12 Jakobus en Johannes was nie die enigstes wat op daardie geleentheid slegte eienskappe geopenbaar het nie. Let op hoe die ander apostels gereageer het: “Toe die tien ander hiervan hoor, het hulle kwaad geword vir die twee broers” (Matt. 20:24). Ons kan ons net voorstel hoe erg Jakobus en Johannes en die ander apostels gestry het. Dalk het die ander iets gesê soos: ‘Wie dink julle is julle om vir belangrike posisies in die Koninkryk te vra? Julle is nie die enigstes wat hard saam met Jesus gewerk het nie. Ons verdien ook spesiale voorregte!’ Wat hulle ook al gesê het, die apostels het op daardie geleentheid vergeet dat hulle altyd liefdevol teenoor mekaar moet wees.

13. Hoe het Jesus op die swakhede van sy apostels gereageer? (Matteus 20:25-28)

13 Hoe het Jesus die situasie hanteer? Hy het nie kwaad geword nie. Hy het nie gesê dat hy na beter apostels, manne wat nederiger was en wat mekaar altyd liefdevol sou behandel, sou gaan soek nie. Jesus het eerder geduldig met hierdie opregte manne geredeneer. (Lees Matteus 20:25-28.) Hy het aangehou om hulle op ’n liefdevolle manier te behandel, selfs al was dit nie die eerste of die laaste keer dat die apostels probeer vasstel het wie die grootste onder hulle was nie. – Mark. 9:34; Luk. 22:24.

14. In watter soort omgewing het Jesus se apostels grootgeword?

14 Jesus het beslis sy apostels se agtergrond in gedagte gehou (Joh. 2:24, 25). Hulle het in ’n omgewing grootgeword waar die godsdiensleiers baie klem geplaas het op status en posisie. (Matt. 23:6; vergelyk die video The Front Seats in the Synagogue in die studienota vir Matteus 23:6 in die Engelse Studiebybel.) Die Joodse godsdiensleiers het ook gedink dat hulle beter as ander is (Luk. 18:9-12). f Jesus het verstaan dat so ’n omgewing ’n uitwerking kon hê op die apostels se beskouing van hulleself en van ander (Spr. 19:11). Hy het nie verwag dat sy dissipels nooit foute sal maak nie, en hy was geduldig met hulle wanneer dit wel gebeur het. Hy het geweet dat hulle goeie harte het, en daarom het hy hulle geduldig gehelp om hulle trots en ambisie te oorkom en om dit met liefde te vervang.

HOE KAN ONS JESUS SE VOORBEELD NAVOLG?

15. Wat kan ons leer uit wat gebeur het tussen Jakobus en Johannes en die ander apostels?

15 Ons kan baie leer uit wat gebeur het tussen Jakobus en Johannes en die ander apostels. Dit was verkeerd van Jakobus en Johannes om vir belangrike posisies in die Koninkryk te vra. Maar die ander apostels was ook verkeerd om toe te laat dat dit hulle eenheid versteur. Maar Jesus was liefdevol teenoor al twaalf apostels. Wat is die les vir ons? Wat saak maak, is nie net wat ander mense doen nie, maar ook hoe ons reageer op hulle foute en swakhede. Wat kan ons help? Wanneer ’n broer of suster ons ontstel het, kan ons ons afvra: ‘Hoekom ontstel dit wat hy gedoen het my so baie? Openbaar dit ’n negatiewe eienskap waaraan ek moet werk? Gaan daardie persoon wat my ontstel het dalk deur ’n moeilike tyd? Selfs al voel ek dat ek goeie rede het om ontsteld te wees, kan ek onselfsugtige liefde wys en daardie persoon vergewe?’ Hoe meer ons ander op ’n liefdevolle manier behandel, hoe meer bewys ons dat ons Jesus se ware volgelinge is.

16. Wat kan ons nog uit Jesus se voorbeeld leer?

16 Jesus se voorbeeld leer ons ook dat ons ons broers en susters moet probeer verstaan (Spr. 20:5). Ja, Jesus kon harte lees. Ons kan nie. Maar ons kan geduldig met ons broers en susters wees wanneer ons met hulle onvolmaakthede te doen het (Ef. 4:1, 2; 1 Pet. 3:8). Dit is makliker om dit te doen as ons meer oor hulle agtergrond leer. Kyk na ’n voorbeeld.

17. Hoe het dit een kringopsiener gehelp toe hy ’n broer beter leer ken het?

17 ’n Kringopsiener onthou ’n broer in een van die gemeentes waar hy in Oos-Afrika gedien het. Eers het die kringopsiener gedink dat hierdie broer onbeskof was. Hoe het die kringopsiener gereageer? Hy sê: “In plaas daarvan om die broer te vermy, het ek besluit om hom beter te leer ken.” Deur dit te doen, het die kringopsiener ’n paar dinge oor die broer se agtergrond geleer wat sy persoonlikheid beïnvloed het. Die kringopsiener sê verder: “Toe ek uitvind hoe moeilik dit vir hom was om die veranderinge te maak om met ander oor die weg te kom en hoe baie hy alreeds verander het, het ek hom bewonder. Ons het goeie vriende geword.” Ja, wanneer ons probeer om ons broers en susters te verstaan, is dit baie keer vir ons makliker om liefde aan hulle te betoon.

18. Watter vrae kan ons ons afvra as ’n broer of suster ons seergemaak het? (Spreuke 26:20)

18 Soms voel ons dalk dat ons met die broer of suster moet praat wat ons seergemaak het. Maar dit sal goed wees om onsself vrae te vra soos: ‘Het ek genoeg feite?’ (Spr. 18:13). ‘Het die persoon dalk nie bedoel om my seer te maak nie?’ (Pred. 7:20). ‘Het ek al ooit ’n soortgelyke fout gemaak?’ (Pred. 7:21, 22). ‘As ek met die persoon daaroor praat, sal dit die probleem selfs erger maak?’ (Lees Spreuke 26:20.) Wanneer ons tyd maak om oor sulke vrae te dink, sal ons dalk besef dat liefde ons kan motiveer om eenvoudig op te hou dink aan wat gebeur het.

19. Wat is jy vasbeslote om te doen?

19 As ’n groep bewys Jehovah se Getuies dat hulle Jesus se ware dissipels is. Elkeen van ons wys dat ons regtig Jesus se volgelinge is wanneer ons onselfsugtige liefde aan ons broers en susters betoon ten spyte van hulle swakhede. Deur dit te doen, sal ons ander dalk help om die ware godsdiens te herken en om Jehovah, die God van liefde, saam met ons te aanbid. Laat ons vasbeslote wees om aan te hou om die liefde te wys wat ware Christene identifiseer.

LIED 17 ‘Ek wil, ja’

a Baie mense is aangetrokke tot die waarheid as gevolg van die ware liefde wat hulle onder ons sien. Maar ons is onvolmaak, so soms sal dit vir ons moeilik wees om mekaar op ’n liefdevolle manier te behandel. Kom ons ondersoek hoekom liefde so belangrik is en hoe ons Jesus se voorbeeld kan navolg wanneer ons te doen kry met ander se onvolmaakthede.

c Sien die artikel “Uiteindelik het my lewe ’n doel”, in Die Wagtoring van 1 November 2012, bl. 13-14.

d Sien die artikel “Dit het gelyk of die lewe my goed behandel”, in Die Wagtoring van 1 Mei 2012, bl. 18-19.

e Hierdie artikel bespreek nie ernstige sondes wat deur die ouermanne hanteer moet word nie, soos dit wat in 1 Korintiërs 6:9, 10 genoem word.

f Daar word gesê dat ’n rabbi baie later gesê het: “In die wêreld is daar ten minste dertig manne so regverdig soos Abraham. As daar dertig is, is ek en my seun twee van hulle; as daar tien is, is ek en my seun twee van hulle; as daar vyf is, is ek en my seun twee van hulle; as daar twee is, is dit ek en my seun; as daar net een is, is dit ek.”