Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoekom het die man wat “So-en-so” genoem word, gesê dat dit sy eie erfdeel sou “benadeel” as hy met Rut getrou het? (Rut 4:1, 6)

As ’n getroude man in Bybeltye kinderloos gesterf het, was daar ’n paar vrae wat beantwoord moes word: Wat sou word van enige grond wat hy besit het? Sou sy familienaam vir ewig verlore wees? Die Wet van Moses het sulke vrae beantwoord.

Wat het geword van die grond van ’n man wat gesterf het of wat arm geword het en sy grond verkoop het? ’n Broer of ’n nabye familielid kon daardie grond terugkoop. Op hierdie manier kon die grond in die familie bly. – Lev. 25:23-28; Num. 27:8-11.

Hoe was die dooie man se familienaam beskerm? Deur middel van die swaershuwelik, wat in Rut se geval gebruik was. ’n Man sou met sy broer se weduwee trou om ’n erfgenaam voort te bring wat die dooie man se naam sou oorneem en sy eiendom sou erf. Hierdie liefdevolle reëling het ook na die weduwee omgesien. – Deut. 25:5-7; Matt. 22:23-28.

Dink aan Naomi se voorbeeld. Sy was getroud met ’n man met die naam Elimeleg. Toe hy en hulle twee seuns gesterf het, was daar nie meer ’n man in die familie om na haar om te sien nie (Rut 1:1-5). Nadat Naomi saam met Rut, haar skoondogter, na Juda teruggegaan het, het sy vir Rut gesê om vir Boas te vra om hulle grond terug te koop. Hy was ’n nabye familielid van Elimeleg (Rut 2:1, 19, 20; 3:1-4). Maar Boas het geweet dat ’n ander familielid wat die Bybel “So-en-so” noem, ’n nader familielid was. Daarom kon hy eerste kies of hy die grond wil terugkoop. – Rut 3:9, 12, 13.

“So-en-so” was eers bereid om te help (Rut 4:1-4). Hy het geweet dat hy geld sou moes uitgee om die grond te koop, maar hy het ook geweet dat Naomi te oud was om ’n kind te hê wat die grond by Elimeleg sou erf. So-en-so sou die grond kry, en dit sou deel word van sy erfdeel, so dit kon dalk ’n goeie belegging wees.

Maar So-en-so het besluit om die grond nie te koop nie toe hy uitvind dat hy met Rut sou moes trou. Hy het gesê: “Ek kan dit nie terugkoop nie, want ek sal dalk my eie erfdeel benadeel” (Rut 4:5, 6). Hoekom het hy van plan verander?

As So-en-so of iemand anders met Rut getrou het en sy ’n seun gehad het, sou daardie seun Elimeleg se grond erf. Hoe sou dit So-en-so se “erfdeel benadeel”? Die Bybel sê nie, maar hier is ’n paar moontlike maniere.

  • Eerstens sou hy die geld verloor wat hy uitgegee het om Elimeleg se grond te koop omdat die grond op die ou end nie aan hom sou behoort nie. Rut se seun sou dit kry.

  • Tweedens sou hy die verantwoordelikheid hê om vir Naomi en Rut te sorg.

  • Derdens sou enige ander kinders wat Rut by So-en-so gehad het die erfdeel met enige kinders wat hy gehad het, moes deel.

  • Vierdens sou Rut se seun die reg op Elimeleg en So-en-so se grond hê as So-en-so nie sy eie kinders gehad het nie. So wanneer hy sterf, sou sy grond aan ’n kind behoort wat Elimeleg se naam het en nie syne nie. So-en-so was nie bereid om sy erfdeel in gevaar te stel om Naomi te help nie. Hy het eerder toegelaat dat die volgende terugkoper, Boas, daardie verantwoordelikheid aanvaar. Boas het dit gedoen omdat hy “die naam van die oorlede man oor sy erfdeel [wou] herstel”. – Rut 4:10.

So-en-so het heel moontlik meer daarin belang gestel om sy eie naam te beskerm en sy erfdeel te behou. Hy was selfsugtig. Maar al het So-en-so baie hard probeer om sy naam te beskerm, weet ons nie eers vandag wat sy naam was nie. Hy het ook uitgemis op die spesiale voorreg wat Boas gekry het om een van die voorouers van die Messias, Jesus Christus, te wees. Dit was ’n hartseer uiteinde vir So-en-so omdat hy selfsugtig was en nie bereid was om iemand te help wat hulp nodig gehad het nie. – Matt. 1:5; Luk. 3:23, 32.