Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 10

LIED 13 Christus, ons Voorbeeld

Hou aan om Jesus te volg ná jou doop

Hou aan om Jesus te volg ná jou doop

“As iemand my volgeling wil word, moet hy ophou om vir homself te lewe en dag ná dag sy folterpaal optel en aanhou om my te volg.”LUK. 9:23.

DOEL

Hierdie artikel kan ons almal help om na te dink oor die betekenis van ons toewyding. Dit kan veral dié wat onlangs gedoop is, help om getrou te bly.

1-2. Hoe word die lewe beter ná jou doop?

 ONS is gelukkig wanneer ons gedoop word en deel van Jehovah se familie word. Dié wat in daardie bevoorregte posisie is, sal saamstem met die woorde van die psalmskrywer Dawid, wat gesê het: “Gelukkig is die een wat u [Jehovah] kies en laat nader kom om in u voorhowe te woon.” – Ps. 65:4.

2 Jehovah bring nie sommer net enige iemand in sy voorhowe in nie. Soos ons in die vorige artikel bespreek het, kies hy om nader aan dié te kom wat wys dat hulle ’n sterk verhouding met hom wil hê (Jak. 4:8). Wanneer jy jouself aan Jehovah toewy en gedoop word, kom jy op ’n spesiale manier nader aan Jehovah. Jy kan seker wees dat hy daarna “’n seën op [jou] sal uitstort totdat [jy] niks kortkom nie”. – Mal. 3:10; Jer. 17:​7, 8.

3. Watter ernstige verantwoordelikheid het Christene wat toegewyd en gedoop is? (Prediker 5:​4, 5)

3 Doop is natuurlik net die begin. Nadat jy daardie stap geneem het, sal jy jou bes wil doen om jou toewydingsgelofte na te kom, selfs wanneer jy in die versoeking kom om iets verkeerds te doen of wanneer jou geloof getoets word. (Lees Prediker 5:​4, 5.) As ’n dissipel van Jesus sal jy Jesus se voorbeeld en bevele so noukeurig as moontlik volg (Matt. 28:​19, 20; 1 Pet. 2:21). Hierdie artikel sal jou help om dit te doen.

HOU AAN OM JESUS TE VOLG TEN SPYTE VAN PROBLEME EN VERSOEKINGS

4. In watter sin dra Jesus se dissipels ’n “folterpaal”? (Lukas 9:23)

4 Ná jou doop sal jou lewe nie sonder probleme wees nie. Om die waarheid te sê, Jesus het dit duidelik gemaak dat sy dissipels ’n “folterpaal” sou dra. Eintlik sou hulle dit “dag ná dag” doen. (Lees Lukas 9:23.) Het Jesus bedoel dat sy volgelinge altyd sou ly? Glad nie. Hy het eenvoudig beklemtoon dat hulle seëninge sou ondervind, maar dat hulle ook probleme sou hê. Party van hierdie uitdagings sal dalk selfs baie moeilik wees. – 2 Tim. 3:12.

5. Watter seëninge het Jesus aan dié belowe wat opofferings maak?

5 Dalk het jy reeds teenstand van familielede ondervind of dalk het jy sekere materiële dinge opgeoffer om Koninkryksbelange eerste te stel (Matt. 6:33). As dit die geval is, kan jy seker wees dat Jehovah jou getroue werke raakgesien het (Heb. 6:10). Jy het heel moontlik gesien dat hierdie woorde van Jesus waar is: “Elkeen wat huis of broers of susters of ma of pa of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat het, [sal] nou in hierdie tyd 100 keer soveel . . . kry – huise, broers, susters, ma’s, kinders en landerye, met vervolginge – en in die wêreld wat kom, die ewige lewe” (Mark. 10:​29, 30). Die seëninge wat jy ontvang het, is werklik baie groter as enige opofferings wat jy gemaak het. – Ps. 37:4.

6. Hoekom sal jy moet aanhou om te veg teen “die begeerte van die vlees” ná jou doop?

6 Jy sal nog steeds moet veg teen “die begeerte van die vlees” ná jou doop (1 Joh. 2:16). Dit is omdat jy nog steeds ’n sondige nakomeling van Adam is. Partykeer sal jy dalk voel soos die apostel Paulus gevoel het. Hy het geskryf: “Die mens wat ek van binne is, vind werklik vreugde in die wet van God, maar ek sien in my liggaam ’n ander wet, wat veg teen die wet van my verstand en my ’n gevangene maak van die wet van die sonde wat in my liggaam is” (Rom. 7:​22, 23). Jy sal miskien mismoedig voel omdat jy teen verkeerde begeertes moet veg. Maar as jy dink aan die belofte wat jy aan Jehovah gemaak het toe jy jouself aan hom toegewy het, sal dit jou meer vasbeslote maak om teen versoeking te veg. Die feit is dat jou toewydingsgelofte jou sal help wanneer jy in die versoeking kom om iets verkeerds te doen. Hoe?

7. Hoe sal dit jou help om getrou aan Jehovah te bly as jy jou aan hom toegewy het?

7 Wanneer jy jou aan Jehovah toewy, hou jy op om vir jouself te lewe. Dit beteken dat jy nee sê vir persoonlike begeertes en doelwitte wat Jehovah ongelukkig sal maak (Matt. 16:24). So wanneer jy voor ’n toets te staan kom, sal jy nie hoef te wonder oor wat om te doen nie. Jy sal reeds besluit het wat jy gaan doen, dit wil sê om getrou aan Jehovah te bly. Jy sal vasbeslote bly om Jehovah gelukkig te maak. Jy sal soos Job wees. Al het hy deur verskriklik moeilike tye gegaan, het hy vol vertroue gesê: “Ek [sal] nie my integriteit prysgee nie!” – Job 27:5.

8. Hoe kan dit jou help om versoeking te weerstaan as jy nadink oor jou toewydingsgebed?

8 As jy nadink oor jou toewydingsgebed tot Jehovah sal jy die krag vind om enige versoeking te weerstaan. Byvoorbeeld, sou jy met ’n ander persoon se huweliksmaat begin flirt? Beslis nie! Jy het alreeds vir Jehovah belowe dat jy nooit so iets sou doen nie. As jy nie toelaat dat ongepaste gevoelens ontwikkel nie, sal jy nie daarmee hoef te sukkel nadat dit wortelgeskiet het nie. Jy sal ‘wegdraai’ van “die pad van die goddeloses”. – Spr. 4:​14, 15.

9. Hoe kan dit jou ook help om aan te hou om geestelike aktiwiteite eerste te stel as jy oor jou toewydingsgebed nadink?

9 Wat as jy ’n werk aangebied word wat sal inmeng met jou gereelde bywoning van Christelike vergaderinge? Jy sal weet wat om te doen. Lank voordat die aanbod gemaak is, het jy al klaar nee gesê vir so ’n werksaanbod. So jy sal nie hoef te kyk of jy ’n slegte besluit kan laat werk nie. As jy nadink oor Jesus se vasbeslotenheid om sy Vader tevrede te stel, sal jy enige iets vinnig en ferm verwerp wat jy weet die God aan wie jy toegewyd is, ontevrede sal maak. – Matt. 4:10; Joh. 8:29.

10. Hoe sal Jehovah jou ná jou doop help om aan te hou om Jesus te volg?

10 Die feit is dat moeilike tye en versoekings jou ’n geleentheid gee om te wys dat jy vasbeslote is om aan te hou om Jesus te volg. Terwyl jy dit doen, kan jy seker wees dat Jehovah jou sal help. Die Bybel sê: “God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle ’n versoeking deurmaak wat julle nie kan hanteer nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.” – 1 Kor. 10:13.

HOE OM AAN TE HOU OM JESUS TE VOLG

11. Wat is een van die beste maniere om aan te hou om Jesus te volg? (Sien ook prent.)

11 Jesus was ywerig, en hy het na aan Jehovah gebly deur te bid (Luk. 6:12). Om die waarheid te sê, een van die beste maniere hoe jy kan aanhou om Jesus te volg ná jou doop is om aan te hou om dinge te doen wat jou nader aan Jehovah sal bring. Die Bybel sê: “Net soos ons reeds vordering gemaak het, moet ons aanhou om ordelik op hierdie weg voort te gaan” (Fil. 3:16). Van tyd tot tyd sal jy ondervindinge hoor van broers en susters wat besluit het om meer in hulle diens aan Jehovah te doen. Miskien het hulle die Skool vir Koninkrykspredikers bygewoon of getrek na waar daar meer hulp nodig is. As jy so ’n doelwit kan stel, moet jy dit gerus doen. Jehovah se volk is gretig om hulle bediening uit te brei (Hand. 16:9). Maar wat as jy dit nie nou kan doen nie? Moenie dink dat jy minder werd is as dié wat dit wel kan doen nie. Wat belangrik is, is dat jy aanhou volhard (Matt. 10:22). Moenie vergeet dat jy Jehovah baie gelukkig maak wanneer jy doen wat jy kan volgens jou vermoëns en omstandighede nie. Dit is ’n belangrike manier hoe jy kan aanhou om Jesus te volg ná jou doop. – Ps. 26:1.

Stel die doelwit om ná jou doop dinge te doen wat jou nader aan Jehovah sal bring (Sien paragraaf 11)


12-13. Wat kan jy doen as jou ywer begin afneem? (1 Korintiërs 9:​16, 17) (Sien ook die venster “ Bly in die wedloop”.)

12 Wat moet jy doen as jy voel dat jy nie uit die hart uit bid nie of dat jy nie jou bediening so baie geniet soos voorheen nie? Wat as jy nie jou Bybellees so baie geniet soos wat jy dit in die verlede geniet het nie? As jy so voel ná jou doop, moenie dink dat jy Jehovah se gees verloor het nie. Jy is ’n onvolmaakte mens, en jou gevoelens kan van tyd tot tyd verander. As jou ywer begin afneem, dink na oor die voorbeeld van die apostel Paulus. Al het hy probeer om Jesus na te volg, het hy geweet dat hy soms nie so gemotiveerd sal voel soos ander tye nie. (Lees 1 Korintiërs 9:​16, 17.) Hy het gesê: “Selfs al doen ek dit teen my sin, het ek nog steeds ’n bestuurderskap wat aan my gegee is.” Met ander woorde, Paulus was vasbeslote om sy bediening uit te voer ondanks hoe hy dalk op die oomblik gevoel het.

13 Net so, moenie toelaat dat jou onvolmaakte gevoelens jou besluite vir jou maak nie. Wees vasbeslote om die regte ding te doen ondanks hoe jy voel. Jou dade behoort met verloop van tyd ’n goeie uitwerking op jou gevoelens te hê. Tot dan sal ’n goeie roetine van persoonlike studie, gebed, vergaderingbywoning en velddiens jou help om aan te hou om Jesus te volg ná jou doop. Wanneer jou broers en susters sien hoe jy in Jehovah se diens volhard, sal hulle aangemoedig word. – 1 Tess. 5:11.

“HOU AAN OM SEKER TE MAAK . . . HOU AAN OM . . . TE TOETS”

14. Wat moet jy gereeld ondersoek, en hoekom? (2 Korintiërs 13:5)

14 Dit sal jou ook help as jy ná jou doop jouself gereeld ondersoek. (Lees 2 Korintiërs 13:5.) Van tyd tot tyd sal dit goed wees om te kyk of jy elke dag bid, die Bybel lees en studeer, vergaderinge bywoon en aan die bediening deelneem. Probeer om maniere te vind om hierdie aspekte van jou aanbidding selfs betekenisvoller te maak. Byvoorbeeld, vra jouself vrae soos: ‘Kan ek basiese Bybelleringe aan ander verduidelik? Is daar maniere hoe ek my bediening meer kan geniet? Hoe spesifiek is my gebede, en wys dit dat ek heeltemal op Jehovah vertrou? Woon ek gereeld Christelike vergaderinge by? Hoe kan ek my konsentrasie en deelname by die vergaderinge verbeter?’

15-16. Wat leer jy uit een broer se ondervinding wanneer dit kom by versoeking?

15 Dit sal ook vir jou goed wees om jouself eerlik te ondersoek wanneer dit kom by jou swakhede. ’n Broer met die naam Robert vertel ’n ondervinding wat die punt illustreer: “Toe ek omtrent 20 jaar oud was, het ek ’n deeltydse werk gehad. Eendag ná werk het ’n kollega my na haar huis toe genooi. Sy het gesê dat ons alleen sou wees en dat ons ‘’n goeie tyd sou hê’. Eers het ek ’n paar flou verskonings gemaak, maar ek het uiteindelik nee gesê, en ek het verduidelik hoekom.” Robert het die versoeking weerstaan, en dit is baie goed. Maar later het hy teruggedink aan wat gebeur het en besef dat hy die situasie beter kon hanteer het. Hy erken: “Ek het nie die aanbod so ferm of so vinnig verwerp soos Josef Potifar se vrou weerstaan het nie (Gen. 39:​7-9). Ek was eintlik verbaas hoe moeilik dit vir my was om nee te sê. Hierdie situasie het my gehelp om te sien dat ek my vriendskap met Jehovah moet versterk.”

16 Dit sal jou dalk help om ’n selfondersoek te doen soortgelyk aan wat Robert gedoen het. Selfs wanneer jy dit regkry om versoeking te weerstaan, vra jouself: ‘Hoe lank het dit my gevat om nee te sê?’ As jy besef dat jy moet verbeter, moenie mismoedig voel nie. Wees bly dat jy nou bewus is van hierdie swakheid. Maak dit ’n saak van gebed, en neem stappe om jou vasbeslotenheid te versterk om volgens Jehovah se sedelike standaarde te lewe. – Ps. 139:​23, 24.

17. Volgens Robert se ondervinding, hoe raak ons optrede Jehovah se naam?

17 Daar is nog iets wat ons uit Robert se ondervinding leer. Hy vertel verder: “Nadat ek vir my kollega se uitnodiging nee gesê het, het sy gesê: ‘Jy het die toets geslaag!’ Ek het haar gevra wat sy bedoel. Sy het verduidelik dat haar vriend, wat ’n Getuie was, vir haar gesê het dat alle jong Getuies ’n dubbele lewe lei en dat hulle verkeerde dinge sal doen as hulle die geleentheid sou kry. So sy het vir haar vriend gesê dat sy sou toets of ek dit sal doen. Ek het toe besef hoe bly ek was dat ek Jehovah se naam geëer het.”

18. Wat is jy vasbeslote om te doen ná jou doop? (Sien ook die venster “ Twee artikels wat jy sal geniet”.)

18 Wanneer jy jouself aan Jehovah toewy en gedoop word, wys jy dat jy sy naam wil heilig, maak nie saak wat gebeur nie. En jy kan seker wees dat Jehovah weet watter probleme jy het en watter versoekings jy weerstaan. Hy sal jou seën vir wat jy doen om getrou te bly. Vertrou dat hy deur middel van sy heilige gees jou die krag kan gee om dit te doen (Luk. 11:​11-13). Met Jehovah se hulp sal jy kan aanhou om Jesus te volg ná jou doop.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • In watter sin dra Christene “dag ná dag [’n] folterpaal”?

  • Wat kan jy doen om aan te hou om Jesus te volg ná jou doop?

  • Hoe kan dit jou help om getrou te bly as jy nadink oor jou toewydingsgebed?

LIED 89 Luister en doen wat God sê