Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 9

LIED 75 “Hier is ek! Stuur my!”

Is jy gereed om jouself aan Jehovah toe te wy?

Is jy gereed om jouself aan Jehovah toe te wy?

“Waarmee sal ek Jehovah terugbetaal vir al die goeie dinge wat hy vir my gedoen het?”PS. 116:12.

DOEL

Hierdie artikel kan jou help om ’n sterk verhouding met Jehovah te ontwikkel sodat jy jou aan hom sal wil toewy en laat doop.

1-2. Wat moet ’n persoon doen voordat hy gedoop word?

 GEDURENDE die afgelope vyf jaar is meer as ’n miljoen mense as Jehovah se Getuies gedoop. Baie van hulle, soos die eerste-eeuse dissipel Timoteus, was “van jongs af” die waarheid geleer (2 Tim. 3:​14, 15). Ander het Jehovah as volwassenes leer ken, party laat in hulle lewe. ’n Rukkie gelede is ’n vrou wat die Bybel met Jehovah se Getuies gestudeer het, gedoop toe sy 97 was!

2 As jy ’n Bybelstudent is of as jy grootgemaak word deur ouers wat Getuies is, dink jy daaraan om gedoop te word? Dit is ’n baie goeie doelwit! Maar voordat jy gedoop word, sal jy jouself aan Jehovah moet toewy. Hierdie artikel sal verduidelik wat toewyding beteken. Dit sal jou ook help om te sien hoekom jy nie moet bang wees om jou lewe aan God toe te wy en gedoop te word wanneer jy gereed is om dit te doen nie.

WAT IS TOEWYDING?

3. Gee Bybelvoorbeelde van mense wat aan Jehovah toegewy was.

3 In die Bybel beteken toewyding ’n afsondering vir ’n heilige doel. Die Israeliete was ’n nasie wat aan Jehovah toegewy was. Maar party mense in die nasie was op ’n spesiale manier aan Jehovah toegewy. Byvoorbeeld, Aäron het ’n “heilige toewydingsteken” gedra – ’n blink goue plaat op die voorkant van sy tulband. Daardie goue plaat het gewys dat hy afgesonder was om op ’n spesiale manier te dien – as Israel se hoëpriester (Lev. 8:9). Die Nasireërs was ook op ’n spesiale manier aan Jehovah toegewy. Die woord “Nasireër” wat van die Hebreeuse woord nazirʹ kom, beteken “gewyde” of “iemand wat . . . afgeskeie is”. Nasireërs moes gehoorsaam wees aan die spesiale bevele wat vir hulle in die Wet van Moses opgeteken was. – Num. 6:​2-8.

4. (a) Hoe is dié wat aan Jehovah toegewy is, afgesonder vir ’n heilige doel? (b) Wat beteken dit om ‘op te hou om vir jouself te lewe’? (Sien ook prent.)

4 Wanneer jy jou aan Jehovah toewy, kies jy om ’n dissipel van Jesus Christus te word en om God se wil die belangrikste ding in jou lewe te maak. Wat sal Christelike toewyding van jou vereis? Jesus het gesê: “As iemand my volgeling wil word, moet hy ophou om vir homself te lewe” (Matt. 16:24). Die Griekse frase wat vertaal is as “ophou om vir homself te lewe” kan ook vertaal word as “hy moet nee sê vir homself”. As ’n toegewyde kneg van Jehovah sal jy moet nee sê vir enige iets wat teen sy wil is (2 Kor. 5:​14, 15). Dit sluit in dat jy moet nee sê vir “die werke van die vlees”, soos seksuele onsedelikheid (Gal. 5:​19-21; 1 Kor. 6:18). Sal sulke beperkings jou lewe moeilik maak? Nie as jy Jehovah liefhet en oortuig is dat sy wette vir jou eie beswil is nie (Ps. 119:97; Jes. 48:​17, 18). ’n Broer met die naam Nicholas stel dit so: “Jy kan Jehovah se standaarde beskou soos die tralies van ’n tronk wat jou keer om te doen wat jy wil doen of soos die tralies van ’n leeuhok wat jou teen gevaar beskerm.”

Beskou jy Jehovah se standaarde soos die tralies van ’n tronk wat jou keer om te doen wat jy wil doen of soos die tralies van ’n leeuhok wat jou teen gevaar beskerm? (Sien paragraaf 4)


5. (a) Hoe wy jy jou aan Jehovah toe? (b) Wat is die verskil tussen toewyding en doop? (Sien ook prent.)

5 Hoe wy jy jou aan Jehovah toe? Jy belowe hom in gebed dat jy hom alleen sal aanbid en dat jy sy wil eerste in jou lewe sal stel. Eintlik belowe jy Jehovah dat jy sal aanhou om hom lief te hê “met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (Mark. 12:30). Jy maak jou toewyding in privaat, tussen jou en Jehovah. In teenstelling daarmee word doop in die openbaar gedoen. Dit wys vir ander dat jy jou toegewy het. Jou toewyding is ’n heilige gelofte, en Jehovah verwag dat jy dit moet nakom, net soos jy dit van jouself verwag. – Pred. 5:​4, 5.

Om jou aan Jehovah toe te wy, beteken dat jy hom in privaat belowe dat jy hom alleen sal aanbid en sy wil eerste in jou lewe sal stel (Sien paragraaf 5)


HOEKOM WY JY JOU AAN JEHOVAH TOE?

6. Wat motiveer ’n persoon om hom aan Jehovah toe te wy?

6 Die hoofrede hoekom jy jou aan Jehovah toewy, is omdat jy hom liefhet. Jou liefde is nie net op emosie gebaseer nie. Dit is eerder gebaseer op “akkurate kennis” en “geestelike insig” – die dinge wat jy oor Jehovah geleer het en wat jou liefde vir hom laat groei het (Kol. 1:9). Jou studie van die Bybel het jou oortuig (1) dat Jehovah werklik bestaan, (2) dat die Bybel sy geïnspireerde Woord is en (3) dat hy sy organisasie gebruik om sy wil uit te voer.

7. Wat moet ons doen voordat ons ons aan God toewy?

7 Dié wat hulle aan Jehovah toewy, moet die basiese leringe in God se Woord ken en in ooreenstemming met die standaarde daarin lewe. Hulle doen hulle bes om vir ander te vertel van die dinge wat hulle geleer het (Matt. 28:​19, 20). Hulle liefde vir Jehovah het gegroei, en hulle opregte begeerte is om hom uitsluitlike toegewydheid te gee. Beskryf dit jou? As jy hierdie soort liefde het, sal jy nie toewyding en doop beskou as iets wat jy doen net omdat jy jou Bybelonderrigter of jou ouers tevrede wil stel nie. Jy sal dit ook nie beskou as iets wat jy moet doen om by jou vriende in te pas nie.

8. Hoe speel dankbaarheid ’n rol in jou besluit om jou aan Jehovah toe te wy? (Psalm 116:​12-14)

8 Wanneer jy dink aan al die dinge wat Jehovah vir jou gedoen het, sal jy dankbaar voel en jou lewe aan hom wil toewy. (Lees Psalm 116:​12-14.) Die Bybel noem Jehovah met goeie rede die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jak. 1:17). Die grootste van daardie geskenke is die offerande van sy Seun, Jesus. Dink net! Die losprys het dit vir jou moontlik gemaak om ’n sterk verhouding met Jehovah te hê. En hy het jou die vooruitsig gegee om vir ewig te lewe (1 Joh. 4:​9, 10, 19). Om jou aan Jehovah toe te wy, is ’n manier om te wys dat jy dankbaar is vir die grootste bewys van liefde wat daar is, asook vir al die ander seëninge wat Jehovah jou gegee het (Deut. 16:17; 2 Kor. 5:15). Sulke waardering word beklemtoon in les 46 punt 4 van die Geniet die lewe vir ewig!-boek, wat die drie minuut lange video insluit met die titel Bied jou gawes vir God aan.

IS JY GEREED VIR TOEWYDING EN DOOP?

9. Hoekom moet iemand nie onder druk voel om hom toe te wy nie?

9 Jy voel dalk dat jy nie gereed is vir toewyding en doop nie. Dalk moet jy nog veranderinge in jou lewe maak om volgens Jehovah se standaarde te lewe of dalk het jy nog tyd nodig om jou geloof te versterk (Kol. 2:​6, 7). Nie alle studente vorder teen dieselfde pas nie, en nie alle jonges is op dieselfde ouderdom gereed vir toewyding en doop nie. Probeer jou geestelike vordering evalueer volgens wat jy kan doen en nie in vergelyking met iemand anders nie. – Gal. 6:​4, 5.

10. Wat kan jy doen as jy dink dat jy nie gereed is vir toewyding en doop nie? (Sien ook die venster “ Vir dié wat in die waarheid grootgemaak word”.)

10 Al besef jy dat jy nie gereed is om jou aan Jehovah toe te wy nie, moet jy daardie stap as ’n doelwit hou. Vra Jehovah om jou te help om die nodige veranderinge in jou lewe te maak (Fil. 2:13; 3:16). Jy kan seker wees dat hy jou gebed sal hoor en jou sal help. – 1 Joh. 5:14.

HOEKOM PARTY BANG IS

11. Hoe sal Jehovah ons help om getrou aan hom te bly?

11 Party wat gereed is vir toewyding en doop, is nog steeds bang. Hulle wonder dalk: ‘Wat as ek daarna ernstig sondig en uitgesit word?’ As jy daardie vrees het, wees verseker dat Jehovah jou alles sal gee wat jy nodig het om te kan “lewe op ’n manier wat [hom] waardig is sodat [jy] hom in alles bly kan maak” (Kol. 1:10). Hy sal jou ook die krag gee om te doen wat reg is. Hy het alreeds bewys dat hy dit kan doen deur hoe hy baie ander gehelp het (1 Kor. 10:13). Dit is een rede hoekom daar eintlik min mense is wat uit die Christengemeente gesit word. Jehovah help sy volk om getrou te bly.

12. Hoe kan ons dit vermy om ernstig te sondig?

12 Elke onvolmaakte mens kom in die versoeking om verkeerde dinge te doen (Jak. 1:14). Maar om voor versoeking in te gee, is ’n keuse – jou keuse. Die feit is dat jy op die ou end die een is wat in beheer is van hoe jy sal lewe. Al sê party mense die teenoorgestelde, kan jy leer om jou verkeerde begeertes te beheer. En selfs wanneer jy versoek word, kan jy kies om dit te weerstaan. Om dit reg te kry, moet jy elke dag bid. Behou ’n goeie roetine van persoonlike studie van God se Woord. Woon Christelike vergaderinge by. Deel jou geloof met ander. As jy hierdie dinge gereeld doen, sal dit jou die krag gee om jou toewydingsgelofte na te kom. En moet nooit vergeet dat Jehovah jou sal help om dit te doen nie. – Gal. 5:16.

13. Watter goeie voorbeeld het Josef vir ons gestel?

13 Dit sal vir jou makliker wees om jou toewyding na te kom as jy vooraf besluit wat jy sal doen as jy versoek word. Die Bybel vertel ons van ’n hele paar mense wat dit waarskynlik gedoen het, al was hulle ook onvolmaakte mense. Byvoorbeeld, Potifar se vrou het Josef oor en oor probeer verlei. Maar hy het nie enigsins getwyfel oor wat hy sou doen nie. Die Bybel sê vir ons dat hy “geweier” het en gesê het: “Hoe kan ek dan so ’n slegte ding doen en in werklikheid teen God sondig?” (Gen. 39:​8-10). Dit is duidelik dat Josef geweet het hoe hy sou reageer selfs voordat sy hom probeer versoek het. Dit het dit vir hom makliker gemaak toe hy versoek was.

14. Hoe kan ons leer om versoekings te weerstaan?

14 Hoe kan jy Josef navolg en versoekings weerstaan? Jy kan nou besluit wat jy sal doen as jy versoek word. Leer om onmiddellik nee te sê vir dinge wat Jehovah haat en om selfs te weier om daaroor te dink (Ps. 97:10; 119:165). Op daardie manier sal jy nie ingee wanneer jy versoek word nie. Jy sal alreeds weet hoe jy gaan reageer. Jy sal alreeds besluit het wat jy gaan doen.

15. Hoe kan iemand wys dat hy of sy Jehovah “ernstig soek”? (Hebreërs 11:6)

15 Dalk weet jy dat jy die waarheid gevind het en dat jy Jehovah met jou hele hart wil dien maar jy is nog steeds bang om jou toe te wy en te laat doop. Jy kan doen wat koning Dawid gedoen het. Jy kan Jehovah smeek: “Deursoek my, o God, en ken my hart. Ondersoek my, en ken my angstige gedagtes. Kyk of daar in my enige skadelike weg is, en lei my op die weg van die ewigheid” (Ps. 139:​23, 24). Jehovah seën dié wat “hom ernstig soek”. Jy wys vir hom dat jy dit doen deur jou doelwit om jou toe te wy en te laat doop te probeer bereik. – Lees Hebreërs 11:6.

HOU AAN OM NADER AAN JEHOVAH TE KOM

16-17. Hoe kan dié wat in die waarheid grootgemaak word deur Jehovah getrek word? (Johannes 6:44)

16 Jesus het gesê dat sy dissipels deur Jehovah getrek word. (Lees Johannes 6:44.) Dink aan wat ’n wonderlike gedagte dit is en hoe dit op jou van toepassing is. Jehovah sien iets goeds in elke persoon wat hy na hom toe trek. Hy beskou die persoon as sy “spesiale eiendom,” of “kosbare besitting” (Deut. 7:6; vtn.). Dit is ook in jou geval waar.

17 Maar dalk is jy ’n jong persoon wat in die waarheid grootgemaak word. Jy voel dalk dat jy Jehovah net dien omdat jou ouers dit doen en nie omdat Jehovah jou na hom toe getrek het nie. Maar die Bybel sê: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jak. 4:8; 1 Kron. 28:9). Wanneer jy die inisiatief neem om nader aan Jehovah te kom, reageer hy deur nader aan jou te kom. Jehovah beskou jou nie net as deel van ’n groep nie. Hy trek elke individu – insluitende elke individu wat in die waarheid grootgemaak word. Wanneer so ’n persoon die inisiatief neem om nader aan Jehovah te kom, reageer Hy, soos ons gesien het in Jakobus 4:8. – Vergelyk 2 Tessalonisense 2:13.

18. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek? (Psalm 40:8)

18 Wanneer jy jou aan Jehovah toewy en gedoop word, wys jy dat jy dieselfde gesindheid as Jesus het. Hy het homself gewilliglik aangebied om te doen wat sy Vader hom ook al gevra het om te doen. (Lees Psalm 40:8; Heb. 10:7) In die volgende artikel sal ons bespreek wat jou sal help om Jehovah ná jou doop getrou te bly dien.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Wat beteken dit om jou aan Jehovah toe te wy?

  • Hoe sal dankbaarheid vir Jehovah jou help om jou toe te wy?

  • Wat sal jou help om ernstige sonde te vermy?

LIED 38 Hy maak jou sterk