Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 11

LIED 129 Ons sal volhard

Jy kan volhard ten spyte van teleurstellings

Jy kan volhard ten spyte van teleurstellings

“Jy het ter wille van my naam uitgehou.”OP. 2:3.

DOEL

Ons kan in Jehovah se diens volhard ten spyte van teleurstellings.

1. Wat is ’n paar seëninge wat ons geniet omdat ons deel is van Jehovah se organisasie?

 ONS is werklik geseënd om deel te wees van Jehovah se organisasie gedurende hierdie moeilike laaste dae. Terwyl wêreldtoestande agteruitgaan, gee Jehovah ons ’n verenigde, geestelike familie van broers en susters (Ps. 133:1). Hy help ons om ’n gelukkige gesinslewe te hê (Ef. 5:33–6:1). En hy gee ons die insig en wysheid wat ons nodig het om ware innerlike vrede te hê.

2. Wat moet ons doen, en hoekom?

2 Maar ons moet hard werk om Jehovah getrou te bly dien. Hoekom? Omdat ons dalk seergemaak sal voel as gevolg van wat ander sê of doen. Ons sal dalk ook mismoedig voel wanneer ons foute maak, veral wanneer ons dieselfde foute oor en oor maak. Ons moet in Jehovah se diens volhard (1) wanneer ’n broer of ’n suster ons seermaak, (2) wanneer ons huweliksmaat ons teleurstel en (3) wanneer ons teleurgesteld is in onsself. In hierdie artikel sal ons elkeen van hierdie situasies bespreek. Ons sal ook kyk wat ons kan leer by ’n getroue Bybelkarakter.

VOLHARD WANNEER ’N BROER OF ’N SUSTER JOU SEERMAAK

3. Watter uitdaging ondervind Jehovah se volk?

3 Die uitdaging. Party broers en susters het eienskappe wat ons irriteer. Ander sal ons dalk in die steek laat of ons op ’n manier behandel wat nie liefdevol is nie. Dié wat die leiding neem kan foute maak. Hierdie situasies kan veroorsaak dat party wonder of dit God se organisasie is. Eerder as om aan te hou om God “skouer aan skouer” saam met hulle broers en susters te dien, hou hulle dalk op om met dié te assosieer wat hulle seergemaak het of hou hulle dalk selfs op om vergaderinge by te woon (Sef. 3:9). Is dit wys? Kyk na wat ons kan leer by ’n Bybelkarakter wat soortgelyke probleme ondervind het.

4. Watter uitdagings het die apostel Paulus ondervind?

4 Die Bybelse voorbeeld. Die apostel Paulus het geweet dat sy Christenbroers en -susters onvolmaak is. Byvoorbeeld, hy was verkeerd geoordeel kort nadat hy met die gemeente begin assosieer het (Hand. 9:26). Later het party agter sy rug oor hom gepraat om sy reputasie te beskadig (2 Kor. 10:10). Paulus het gesien hoe ’n verantwoordelike broer ’n verkeerde besluit maak wat ander dalk laat struikel het (Gal. 2:​11, 12). En een van Paulus se goeie vriende, Markus, het hom diep teleurgestel (Hand. 15:​37, 38). Paulus kon toegelaat het dat enige een van hierdie situasies veroorsaak dat hy weier om met dié te assosieer wat hom seergemaak het. Maar hy het ’n positiewe beskouing van sy broers en susters behou en besig gebly in Jehovah se diens. Wat het Paulus gehelp om te volhard?

5. Wat het Paulus gehelp om na aan sy broers en susters te bly? (Kolossense 3:​13, 14) (Sien ook prent.)

5 Paulus was lief vir sy broers en susters. Paulus se liefde vir ander het hom gehelp om nie op hulle onvolmaakthede te fokus nie, maar op hulle goeie eienskappe. Liefde het Paulus ook gehelp om te doen wat hy self geskryf het, soos opgeteken is in Kolossense 3:​13, 14. (Lees.) Let op hoe Paulus Markus behandel het. Al het Markus Paulus gedurende sy eerste sendingreis verlaat, het Paulus nie ontsteld gebly nie. Later, toe Paulus ’n liefdevolle brief aan die gemeente in Kolosse geskryf het, het hy Markus geprys as ’n kosbare medewerker, “’n bron van groot vertroosting” (Kol. 4:​10, 11). Terwyl Paulus in die tronk in Rome was, het hy spesifiek gevra dat Markus hom moet kom help (2 Tim. 4:11). Dit is duidelik dat Paulus sy broers en susters vergewe en na aan hulle gebly het. Wat kan ons by Paulus leer?

Toe Paulus nie met Barnabas en Markus saamgestem het nie, het hy nie vir hulle kwaad gebly nie en het hy dit geniet om later met Markus te werk (Sien paragraaf 5)


6-7. Hoe kan ons daarin volhard om vir ons broers en susters te wys dat ons hulle liefhet ten spyte van hulle onvolmaakthede? (1 Johannes 4:7)

6 Die les. Jehovah wil hê dat ons moet aanhou om vir ons broers en susters te wys dat ons hulle liefhet. (Lees 1 Johannes 4:7.) As iemand nie ’n Christelike eienskap openbaar nie, kan ons vertrou dat hy nie bedoel het om ons seer te maak nie en dat hy probeer doen wat Jehovah sê reg is (Spr. 12:18). God is lief vir sy getroue knegte ten spyte van hulle foute. Hy skryf ons nie af wanneer ons foute maak nie, en hy hou dit nie teen ons nie (Ps. 103:9). Dit is belangrik dat ons ons vergewensgesinde Vader navolg! – Ef. 4:32–5:1.

7 Onthou ook dat ons na aan ons broers en susters moet bly soos die einde nader kom. Ons kan verwag dat vervolging al hoe erger sal word. Ons sal dalk selfs in die tronk beland vir ons geloof. As dit gebeur sal ons ons broers en susters meer as ooit nodig hê (Spr. 17:17). Kyk wat met Josep, a ’n ouerman in Spanje, gebeur het. Hy en ander broers was saam in die tronk as gevolg van hulle neutraliteit. Hy sê: “In die tronk was daar ’n groot kans dat ’n broer of ’n suster ons sou irriteer omdat ons geen privaatheid gehad het nie. Ons moes mekaar verdra en mekaar vryelik vergewe. Dit het ons gehelp om verenig te bly en mekaar te beskerm. Ons was omring deur gevangenes wat Jehovah nie gedien het nie. By een geleentheid was ek beseer en was my arm in ’n gips, so ek kon nie dinge vir myself doen nie. Maar een van my broers het my klere gewas en het op ander praktiese maniere vir my gesorg. Ek het opregte liefde ondervind toe ek dit die nodigste gehad het.” Ons het goeie redes om nou probleme op te los wat ons met mekaar het!

VOLHARD WANNEER JOU HUWELIKSMAAT JOU TELEURSTEL

8. Watter uitdaging ondervind getroude paartjies?

8 Die uitdaging. Alle huwelike het probleme. Die Bybel sê reguit dat getroude paartjies “probleme [sal] ondervind” (1 Kor. 7:28). Hoekom? Omdat die huwelik twee onvolmaakte mense saambring, elkeen met verskillende eienskappe en dinge waarvan hulle hou en nie hou nie. Huweliksmaats kom dalk uit verskillende kulture of agtergronde. Hulle sal dalk, met verloop van tyd, eienskappe openbaar wat nie voor die troue gesien kon word nie. Enige een van hierdie dinge kan probleme veroorsaak. In plaas daarvan om te erken dat elkeen ’n aandeel aan die probleem het en dat hulle daaraan moet werk om dit te probeer oplos, blameer hulle dalk hulle maat. Hulle begin dalk selfs dink dat om uitmekaar te gaan of om te skei die oplossing is. Maar sal hulle gelukkiger wees as hulle uitmekaargaan of skei? b Kom ons leer by ’n Bybelkarakter wat volhard het in ’n verskriklik moeilike huwelik.

9. Watter uitdaging het Abigail ondervind?

9 Die Bybelse voorbeeld. Abigail was getroud met Nabal, wat die Bybel sê wreed en onbeskof was (1 Sam. 25:3). Dit moes seker vir Abigail moeilik gewees het om met so ’n man te lewe. Het Abigail ’n geleentheid gehad om ’n einde te maak aan haar huwelik? Ja. Sy is daardie geleentheid gegee toe Dawid, Israel se toekomstige koning, gekom het om haar man dood te maak omdat hy hom en sy manne beledig het (1 Sam. 25:​9-13). Abigail kon gevlug het en Dawid toegelaat het om sy plan uit te voer. Maar sy het nie. Sy het eerder Dawid oortuig om Nabal se lewe te spaar (1 Sam. 25:​23-27). Wat kon haar gemotiveer het?

10. Wat het Abigail heel moontlik gemotiveer om te volhard in ’n moeilike huwelik?

10 Abigail was lief vir Jehovah en het sy standaarde oor die huwelik gerespekteer. Sy was heel moontlik bewus van wat God vir Adam en Eva gesê het toe Hy die eerste huwelik ingestel het (Gen. 2:24). Abigail het geweet dat Jehovah die huwelik as ’n heilige reëling beskou het. Sy wou God gelukkig maak, en dit sou haar gemotiveer het om te doen wat sy ook al kon om haar huisgesin, insluitende haar man, te red. Sy het vinnig opgetree om te keer dat Dawid Nabal doodmaak. Sy was ook bereid om verskoning te vra vir iets verkeerds wat sy nie gedoen het nie. Dit is duidelik dat Jehovah lief was vir hierdie dapper, onselfsugtige vrou. Wat kan mans en vrouens leer uit Abigail se voorbeeld?

11. (a) Wat verwag Jehovah van getroude paartjies? (Efesiërs 5:33) (b) Wat het jy geleer uit wat Carmen gedoen het om haar huwelik te red? (Sien ook prent.)

11 Die les. Jehovah wil hê dat getroude paartjies die huweliksreëling moet respekteer, al is dit vir hulle moeilik om met hulle huweliksmaat te lewe. Dit maak God gelukkig wanneer hy getroude paartjies sien wat hard werk om probleme op te los en om onselfsugtige liefde en respek vir mekaar te wys. (Lees Efesiërs 5:33.) Kyk na die voorbeeld van Carmen. Omtrent ses jaar nadat Carmen getrou het, het sy met Jehovah se Getuies begin studeer en haar later laat doop. “My man het nie van my besluit gehou nie,” sê Carmen. “Hy het jaloers op Jehovah begin word. Hy het my beledig en gedreig om my te los.” Ten spyte daarvan het Carmen volhard in haar huwelik. Sy het 50 jaar lank hard daaraan gewerk om ’n huwelik te hê wat op liefde en respek gebaseer is. “Soos die jare verbygegaan het, het ek geleer om my man se gevoelens beter te verstaan en om op ’n liefdevolle manier met hom te praat. Omdat ek weet dat die huwelik heilig in Jehovah se oë is, het ek alles gedoen wat ek kon om dit te beskerm. Omdat ek Jehovah liefhet, het ek nooit probeer om my man te los nie.” c As probleme in jou huwelik ontstaan, kan jy die vertroue hê dat Jehovah jou sal ondersteun en jou sal help om te volhard.

Watter les leer jy uit Abigail se bereidwilligheid om te doen wat sy kon om haar huisgesin te red? (Sien paragraaf 11)


VOLHARD WANNEER JY TELEURGESTELD IS IN JOUSELF

12. Watter uitdaging sal ons dalk ondervind as ons ernstig sondig?

12 Die uitdaging. Ons sal dalk verskriklik mismoedig voel wanneer ons ernstig sondig. Die Bybel erken dat ons sondes ons ‘gebroke en verpletterd’ kan laat voel (Ps. 51:17). ’n Broer met die naam Robert het jare lank hard gewerk om as ’n bedieningskneg te kwalifiseer. Maar hy het ernstig gesondig, en dit het hom laat besef dat hy Jehovah in die steek gelaat het. “My gewete het soos ’n ton bakstene op my geval,” sê hy. “Daarna het ek aaklig gevoel. Ek het my hart uitgehuil en tot Jehovah gebid. Ek onthou dat ek gedink het dat God nooit weer na my sou luister nie. Hoekom sou hy? Ek het hom teleurgestel.” As ons sondig sal ons dalk baie mismoedig voel omdat ons verpletterde hart glo dat Jehovah ons verlaat het (Ps. 38:4). As jy al so gevoel het, kyk na ’n getroue Bybelkarakter wat in sy diens aan Jehovah volhard het ten spyte van ’n ernstige sonde.

13. Watter ernstige sonde het die apostel Petrus gepleeg, en wat het daartoe gelei?

13 Die Bybelse voorbeeld. Die aand voordat Jesus doodgemaak is, het die apostel Petrus ’n hele paar foute gemaak wat tot die ergste mislukking van sy lewe gelei het. Eerstens het Petrus te veel selfvertroue gehad en het hy gespog dat hy getrou sou wees, al verlaat die ander apostels Jesus (Mark. 14:​27-29). Daarna, in die tuin van Getsemane, het Petrus herhaaldelik daarin misluk om aan te hou waak (Mark. 14:​32, 37-41). Toe het Petrus Jesus verlaat en hom aan ’n skare oorgelaat (Mark. 14:50). Uiteindelik het Petrus drie keer gesê dat hy Jesus nie ken nie, en hy het hierdie leuen selfs met ’n eed gesweer (Mark. 14:​66-71). Hoe het Petrus gereageer toe hy besef hoe ernstig sy sonde was? Hy het in trane uitgebars, dalk platgeslaan deur skuldgevoelens (Mark. 14:72). Dink net hoe angstig Petrus was toe sy vriend Jesus ure later doodgemaak is. Petrus het waardeloos gevoel!

14. Wat het Petrus gehelp om in Jehovah se diens te volhard? (Sien op voorblad.)

14 Petrus kon vir ’n hele paar redes in Jehovah se diens volhard. Hy het homself nie afgesonder nie; hy het na sy geestelike broers gegaan en was deur hulle vertroos (Luk. 24:33). En nadat Jesus opgewek was, het hy aan Petrus verskyn, heel moontlik om hom aan te moedig (Luk. 24:34; 1 Kor. 15:5). Later, in plaas daarvan om Petrus streng raad te gee vir sy foute, het Jesus vir sy vriend gesê dat hy groter verantwoordelikhede sou ontvang (Joh. 21:​15-17). Petrus het geweet dat hy ernstig gesondig het, maar hy het aanhou probeer doen wat reg is. Hoekom? Omdat hy oortuig was dat sy Meester, Jesus, hom nog steeds liefgehad het. En Petrus se geestelike broers het aangehou om hom te ondersteun. Wat kan ons uit Petrus se voorbeeld leer?

Johannes 21:​15-17 wys dat Jesus aangehou het om Petrus lief te hê, en dit het Petrus aangemoedig om te volhard (Sien paragraaf 14)


15. Waarvan wil Jehovah hê moet ons oortuig wees? (Psalm 86:5; Romeine 8:​38, 39) (Sien ook prent.)

15 Die les. Jehovah wil hê dat ons daarvan oortuig moet wees dat hy ons liefhet en dat hy ons vryelik sal vergewe. (Lees Psalm 86:5; Romeine 8:​38, 39.) Wanneer ons sondig, voel ons skuldig. Dit is normaal en gepas. Maar ons moenie dink dat Jehovah ons nie meer liefhet of ons nie kan vergewe nie. Ons moet eerder onmiddellik hulp kry. Robert, wat vroeër genoem is, sê: “Ek het gesondig omdat ek op my eie krag staatgemaak het om ’n versoeking te weerstaan.” Hy het besef dat hy met die ouermanne moet praat. Hy sê: “Toe ek met die ouermanne gepraat het, het hulle my gehelp om Jehovah se liefde vir my te voel. En ek het gevoel dat die ouermanne my ook liefhet. Hulle het my gehelp glo dat Jehovah my nie verlaat het nie.” Ons kan ook daarvan oortuig wees dat Jehovah ons baie liefhet en ons vergewe as ons berou toon oor ons sondes, die nodige hulp soek en hard probeer om nie ons foute te herhaal nie (1 Joh. 1:​8, 9). Hierdie oortuiging keer dat ons Jehovah ophou dien wanneer ons struikel of val.

Hoe voel jy of hoe sal jy voel wanneer hardwerkende ouermanne jou help? (Sien paragraaf 15)


16. Hoekom is jy vasbeslote om in Jehovah se diens te volhard?

16 Jehovah waardeer werklik die moeite wat ons doen om hom gedurende hierdie moeilike laaste dae te dien. Met Jehovah se hulp kan ons volhard ten spyte van teleurstellings. Ons kan liefde vir ons broers en susters ontwikkel en hulle vergewe, al maak hulle ons seer. Ons kan wys hoe lief ons God het en dat ons sy reëlings respekteer deur te doen wat ons ook al kan om probleme op te los wat dalk in ons huwelik sal ontstaan. En as ons sondig kan ons Jehovah vra om ons te help, sy liefde en vergifnis aanvaar en aanhou om hom te dien. Ons kan seker wees dat ons ryklik geseën sal word as ons “nie ophou om te doen wat goed is nie”. – Gal. 6:9.

HOE KAN ONS IN JEHOVAH SE DIENS VOLHARD WANNEER . . .

  • ’n broer of ’n suster ons seermaak?

  • ons huweliksmaat ons teleurstel?

  • ons teleurgesteld is in onsself?

LIED 139 Sien jouself wanneer alles nuut is

a Party name is verander.

b Die Bybel sê vir mans en vrouens om nie uitmekaar uit te gaan nie en maak dit duidelik dat nie die man of die vrou die reg het om weer te trou as hulle uitmekaar uit gaan nie. Maar daar is ernstige situasies waar party Christene dit al oorweeg het om uitmekaar uit te gaan. Sien eindnota 4 “Skeiding van huweliksmaats” in die Geniet die lewe vir ewig!-boek.

c Vir nog ’n voorbeeld sien op jw.org die video Moenie deur valse vrede mislei word nie! – Darrel en Deborah Freisinger.