Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 13

LIED 127 Die soort mens wat ek moet wees

Vind vertroosting in Jehovah se goedkeuring

Vind vertroosting in Jehovah se goedkeuring

“Ek het jou goedgekeur.”LUK. 3:22.

DOEL

Hoe jy seker kan wees dat jy Jehovah se goedkeuring het.

1. Waaroor wonder party getroue knegte van Jehovah dalk?

 DIT is baie gerusstellend om te weet dat Jehovah sy volk as ’n groep goedkeur! Die Bybel sê: “Jehovah vind vreugde in sy volk” (Ps. 149:4). Maar partykeer word party so mismoedig dat hulle dalk wonder: ‘Keur Jehovah my persoonlik goed?’ ’n Hele paar van Jehovah se getroue aanbidders in Bybeltye het soms met sulke gevoelens gesukkel. – 1 Sam. 1:​6-10; Job 29:​2, 4; Ps. 51:11.

2. Wie het Jehovah se goedkeuring?

2 Die Bybel wys duidelik dat onvolmaakte mense Jehovah se goedkeuring kan verkry. Hoe? Ons moet geloof in Jesus Christus beoefen en gedoop word (Joh. 3:16). Op hierdie manier wys ons vir ander dat ons berou het oor ons sondes en ’n belofte aan God gemaak het om sy wil te doen (Hand. 2:38; 3:19). Jehovah is baie gelukkig wanneer ons hierdie stappe neem om ’n verhouding met hom te ontwikkel. Jehovah keur ons goed en beskou ons as sy hegte vriende as ons aanhou om ons bes te doen om ons toewydingsgelofte na te kom. – Ps. 25:14.

3. Wat sal ons nou bespreek?

3 Maar hoekom voel party dalk soms dat God hulle nie goedkeur nie? Hoe wys Jehovah dat hy ons goedkeur? En hoe kan ’n Christen sy vertroue versterk dat hy God se goedkeuring het?

HOEKOM PARTY DALK VOEL DAT JEHOVAH HULLE NIE GOEDKEUR NIE

4-5. Waarvan kan ons seker wees, al sukkel ons met ’n lae selfbeeld?

4 Baie van ons het van jongs af gesukkel met ’n lae selfbeeld (Ps. 88:15). ’n Broer met die naam Adrián sê: “Ek het nog altyd waardeloos gevoel. As ’n seuntjie kan ek onthou dat ek gebid het dat my familie in die Paradys sou bly, al was ek seker dat ek self nie goed genoeg was om daar te wees nie.” Tony, wat nie in ’n Getuie-familie grootgeword het nie, sê: “My ouers het nooit vir my gesê dat hulle my liefhet of dat hulle trots was op my nie. Dit het my laat voel dat ek niks kon doen wat hulle gelukkig sou maak nie.”

5 As ons soms sukkel met gevoelens van waardeloosheid kan ons onthou dat Jehovah ons na hom toe getrek het (Joh. 6:44). Hy sien die goeie in ons wat ons dalk nie in onsself sien nie, en hy ken ons hart (1 Sam. 16:7; 2 Kron. 6:30). So ons kan hom vertrou wanneer hy sê dat ons kosbaar is. – 1 Joh. 3:​19, 20.

6. Hoe het die apostel Paulus gevoel oor sy vorige sondes?

6 Voordat ons die waarheid geleer het, het party van ons dinge gedoen wat ons dalk nog steeds skuldig laat voel (1 Pet. 4:3). Selfs getroue Christene sukkel dalk nog steeds met swakhede. Veroordeel jou hart jou? As dit die geval is, kan dit vertroostend wees om te weet dat ander getroue knegte van Jehovah gesukkel het met soortgelyke gevoelens. Byvoorbeeld, die apostel Paulus het mismoedig gevoel toe hy nagedink het oor sy onvolmaakthede (Rom. 7:24). Paulus het natuurlik berou gehad oor sy sondes en hom laat doop. Maar hy het na homself verwys as “die minste van die apostels” en die “ergste” sondaar. – 1 Kor. 15:9; 1 Tim. 1:15.

7. Wat moet ons in gedagte hou oor ons vorige sondes?

7 Ons hemelse Vader belowe om ons te vergewe as ons berouvol is (Ps. 86:5). So as ons werklik jammer is oor die sondes wat ons gepleeg het, kan ons vertrou dat wat Jehovah gesê het waar is – dat hy ons vergewe het. – Kol. 2:13.

8-9. Hoe kan ons die gevoel oorkom dat ons nooit genoeg kan doen om Jehovah gelukkig te maak nie?

8 Ons almal wil alles doen wat ons kan om Jehovah te dien. Maar party voel dalk dat hulle nooit genoeg kan doen om sy goedkeuring te verkry nie. ’n Suster met die naam Amanda sê: “Ek dink gewoonlik dat ek altyd meer moet doen as ek Jehovah my bes wil gee. Ek verwag baie keer meer van myself as wat ek kan gee. Wanneer ek ‘misluk’, neem ek aan dat Jehovah net so teleurgesteld is in my soos wat ek in myself is.”

9 Hoe kan ons die gevoel oorkom dat ons nooit genoeg kan doen om Jehovah gelukkig te maak nie? Onthou dat Jehovah nie streng, of onbuigsaam, is nie. Hy verwag nooit meer van ons as wat ons kan doen nie. Hy waardeer wat ook al ons vir hom doen solank ons ons bes doen. Dink ook aan Bybelvoorbeelde van dié wat Jehovah heelhartig gedien het. Byvoorbeeld, dink aan Paulus. Hy het vir jare baie hard gewerk en duisende kilometers gereis en baie gemeentes begin. Maar het hy God se goedkeuring verloor toe omstandighede sy deelname aan die predikingswerk beperk het? Nee. Hy het aangehou om te doen wat hy kon, en Jehovah het hom geseën (Hand. 28:​30, 31). Net so kan dit wat ons vir Jehovah gee dalk van tyd tot tyd verander. Maar wat vir hom belangrik is, is hoekom ons dit doen. Kom ons bespreek nou ’n paar maniere hoe Jehovah wys dat hy ons goedkeur.

HOE WYS JEHOVAH DAT HY ONS GOEDKEUR?

10. Hoe kan ons “hoor” dat Jehovah ons goedkeur? (Johannes 16:27)

10 Deur die Bybel. Jehovah soek na maniere om vir sy volk te wys dat hy hulle liefhet en dat hy gelukkig is met hulle. Die Bybel praat van twee geleenthede waar Hy vir Jesus gesê het dat hy Sy geliefde, goedgekeurde Seun is (Matt. 3:17; 17:5). Wil jy graag hoor hoe Jehovah jou verseker van sy goedkeuring? Jehovah praat nie met ons vanuit die hemel nie, maar hy praat met ons deur die bladsye van sy Woord. Wanneer ons Jesus se woorde in die Evangelieverslae lees, is dit asof ons kan “hoor” hoe Jehovah daardie woorde vir ons sê. (Lees Johannes 16:27.) Jesus het sy Vader se persoonlikheid volmaak weerspieël. So wanneer ons lees hoe Jesus vir sy onvolmaakte maar getroue volgelinge sê dat hulle sy goedkeuring het, kan ons ons voorstel hoe Jehovah daardie woorde vir ons sê. – Joh. 15:​9, 15.

Jehovah wys op baie maniere dat hy ons goedkeur (Sien paragraaf 10)


11. Hoekom kan ons sê dat wanneer ons deur moeilike tye gaan dit nie beteken dat ons Jehovah se goedkeuring verloor het nie? (Jakobus 1:12)

11 Deur sy dade. Jehovah wil ons baie graag help, soos om in ons materiële behoeftes te voorsien. Partykeer sal Jehovah dalk toelaat dat ons, net soos regverdige Job, moeilike tye deurmaak (Job 1:​8-11). Wanneer ons moeilike tye deurmaak beteken dit nie dat ons God se goedkeuring verloor het nie. Dit gee ons eerder geleenthede om te wys hoe baie ons ons God liefhet en hom vertrou. (Lees Jakobus 1:12.) Ons sal sy liefdevolle sorg en ondersteuning ondervind terwyl hy ons help om te volhard.

12. Wat kan ons uit Dmitrii se ondervinding leer?

12 Dink aan wat gebeur het met ’n broer in Asië met die naam Dmitrii. Hy het sy werk verloor en kon vir maande nie ’n ander werk kry nie. Daarom het hy besluit om meer in die bediening te doen, en so het hy gewys dat hy op Jehovah vertrou. Maande het verbygegaan, en hy kon nog steeds nie werk kry nie. Hy het toe ernstig siek geword en bedlêend geword. Hy het begin dink dat hy nie meer ’n goeie man en pa is nie, en hy het gewonder of hy Jehovah se goedkeuring verloor het. Toe het sy dogter een aand vir hom ’n stukkie papier gegee met die woorde in Jesaja 30:15 daarop: “Julle krag sal daarin lê dat julle kalm bly en vertroue het.” Sy het dit na hom toe gebring en gesê: “Pa, wanneer Pa sleg voel, kan Pa hierdie teks onthou.” Dmitrii het besef dat Jehovah nog steeds gesorg het dat sy gesin genoeg kos gehad het om te eet, klere gehad het om aan te trek en ’n plek gehad het om te bly. Hy sê: “Wat ek moes doen, was om kalm te bly en aan te hou om op my God te vertrou.” As jy ’n soortgelyke probleem ondervind, kan jy die vertroue hê dat Jehovah vir jou omgee en jou sal help om te volhard.

Jehovah wys op baie maniere dat hy ons goedkeur (Sien paragraaf 12) a


13. Wie gebruik Jehovah dalk om te wys dat hy ons goedkeur, en hoe?

13 Deur ons broers en susters. Jehovah gebruik ons broers en susters om te wys dat hy ons goedkeur. Byvoorbeeld, hy gebruik dalk ander om ons op die regte tyd aan te moedig. ’n Suster in Asië het dit ondervind gedurende ’n baie moeilike tyd. Sy het haar werk verloor en het ernstig siek geword. Toe het haar man ernstig gesondig en was hy afgehaal as ’n ouerman. “Ek het nie verstaan hoekom dit besig was om te gebeur nie,” het sy gesê. “Ek het gedink dat ek dalk iets verkeerds gedoen het en Jehovah se goedkeuring verloor het.” Ons suster het Jehovah gesmeek om haar van sy goedkeuring te verseker. Hoe het hy dit gedoen? Sy sê: “Die ouermanne in die gemeente het met my gepraat en my van Jehovah se liefde verseker.” Later het sy weer Jehovah vir hulp gevra. “Daardie selfde dag het ek ’n brief van ’n groep broers en susters in die gemeente ontvang,” sê sy. “Terwyl ek hulle vertroostende woorde gelees het, het ek gevoel dat Jehovah my gehoor het.” Ja, Jehovah wys dikwels dat hy ons goedkeur deur ander se liefdevolle woorde. – Ps. 10:17.

Jehovah wys op baie maniere dat hy ons goedkeur (Sien paragraaf 13) b


14. Wat is nog ’n manier hoe Jehovah wys dat ons sy goedkeuring het?

14 Jehovah wys ook dat hy ons goedkeur deur ons broers en susters te gebruik om ons raad te gee wanneer ons dit nodig het. Byvoorbeeld, in die eerste eeu het Jehovah die apostel Paulus gebruik om 14 geïnspireerde briewe aan sy broers en susters te skryf. In daardie briewe het Paulus reguit maar liefdevolle raad gegee. Hoekom het Jehovah Paulus geïnspireer om sulke raad in te sluit? Jehovah is ’n goeie Vader, en hy dissiplineer sy “geliefde” kinders (Spr. 3:​11, 12). So as ons raad uit die Bybel ontvang, kan ons dit sien as bewyse dat ons God se goedkeuring het en nie dat ons dit verloor het nie (Heb. 12:6). Watter ander bewyse is daar dat ons Jehovah se goedkeuring het?

ANDER MANIERE HOE JEHOVAH WYS DAT HY ONS GOEDKEUR

15. Aan wie gee Jehovah sy heilige gees, en waarvan kan dit ons oortuig?

15 Jehovah gee sy heilige gees aan dié wat hy goedkeur (Matt. 12:18). Ons kan onsself vra: ‘Kon ek al party aspekte van die vrug van God se gees in my lewe openbaar?’ Is jy geduldiger as wat jy was voordat jy Jehovah leer ken het? Eintlik, hoe meer jy leer om die vrug van God se gees te openbaar, hoe meer sal jy kan sien dat jy Jehovah se goedkeuring het! – Sien die venster “ Die vrug van die gees is . . .

Watter bewyse is daar dat Jehovah jou goedkeur? (Sien paragraaf 15-17)


16. Wie gebruik Jehovah om die goeie nuus te verkondig, en hoe laat dit jou voel? (1 Tessalonisense 2:4)

16 Dit maak Jehovah gelukkig om aan dié wat hy goedkeur die goeie nuus te gee om bekend te maak. (Lees 1 Tessalonisense 2:4.) Kyk hoe ’n suster met die naam Jocelyn gehelp is toe sy die goeie nuus met ander gedeel het. Eendag het Jocelyn wakker geword en depressief gevoel. “Ek het gevoel asof ek niks het om te gee nie,” sê sy. “Maar ek het pionier, en dit was my velddiensdag. So ek het gebid en uitgegaan in velddiens.” Daardie oggend het Jocelyn Mary ontmoet, ’n vriendelike vrou wat ’n Bybelstudie aanvaar het. ’n Paar maande later het Mary genoem dat sy tot God vir hulp gebid het toe Jocelyn aan haar deur geklop het. Wat het Jocelyn uit hierdie ondervinding geleer? Sy sê: “Ek het gevoel asof Jehovah vir my sê: ‘Ek keur jou goed.’” Almal sal natuurlik nie positief reageer op ons predikingswerk nie. Maar ons kan seker wees dat Jehovah gelukkig is wanneer ons ons bes probeer om die goeie nuus met ander te deel.

Watter bewyse is daar dat Jehovah jou goedkeur? (Sien paragraaf 16) c


17. Wat leer jy uit Vicky se woorde oor die losprys? (Psalm 5:12)

17 Jehovah pas die waarde van die losprys toe op dié wat hy goedkeur (1 Tim. 2:​5, 6). Maar wat as ons hart die idee verwerp dat Jehovah ons goedkeur, al het ons geloof in die losprys en is ons gedoop? Onthou, ons kan nie altyd ons eie gevoelens vertrou nie maar ons kan Jehovah vertrou. Hy beskou dié wat geloof in die losprys het as regverdig en belowe om hulle te seën. (Lees Psalm 5:12; Rom. 3:26). Dit het Vicky gehelp om oor die losprys na te dink. Eendag, nadat sy diep nagedink het oor die losprys, het sy besef: “Jehovah [was] baie lank met my geduldig. . . . Maar ek het in werklikheid vir hom gesê: ‘U liefde is nie groot genoeg om my in te sluit nie. U seun se offerande is nie genoeg om my sondes te dek nie.’” Toe sy nagedink het oor hierdie geskenk van die losprys, het sy begin voel dat Jehovah haar liefhet. Ons sal ook voel dat Jehovah ons liefhet en weet dat ons sy goedkeuring het as ons nadink oor die losprys.

Watter bewyse is daar dat Jehovah jou goedkeur? (Sien paragraaf 17)


18. Waarvan kan ons seker wees as ons aanhou om ons hemelse Vader lief te hê?

18 Al probeer ons dalk hard om dit wat ons in hierdie artikel geleer het, toe te pas, word ons dalk partykeer mismoedig en wonder ons dalk of ons Jehovah se goedkeuring het. As dit gebeur, onthou dat hy “dié wat Hom altyd liefhet” goedkeur (Jak. 1:12). So hou aan om nader aan Jehovah te kom en te soek na al die maniere hoe hy wys dat hy jou goedkeur. En moet nooit vergeet dat Jehovah “eintlik nie ver van elkeen van ons af [is] nie”. – Hand. 17:27.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoekom voel party dalk dat Jehovah hulle nie goedkeur nie?

  • Wat is ’n paar maniere hoe Jehovah wys dat hy ons goedkeur?

  • Hoekom kan ons seker wees dat ons God se goedkeuring het?

LIED 88 Maak u weë aan my bekend

a BESKRYWING VAN PRENT: Dramatisering

b BESKRYWING VAN PRENT: Dramatisering

c BESKRYWING VAN PRENT: Dramatisering