Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Help die “inwonende vreemdelinge” om Jehovah met blydskap te dien

Help die “inwonende vreemdelinge” om Jehovah met blydskap te dien

“Jehovah bewaar die inwonende vreemdelinge.”—PS. 146:9.

LIEDERE: 84, 73

1, 2. (a) Watter beproewinge verduur party van ons broers en susters? (b) Watter vrae gaan ons bespreek?

“TOE die burgeroorlog in Burundi uitgebreek het, was ons by ’n byeenkoms”, vertel ’n broer met die naam Lije. “Ons kon sien hoe mense weghardloop en hoor hoe daar geskiet word. My ouers en ons 11 kinders moes vir ons lewe vlug met net die klere aan ons lyf. Party van ons het uiteindelik by ’n vlugtelingkamp in Malawi aangekom, ’n afstand van meer as 1 600 kilometer. Die ander was in alle rigtings verstrooi.”

2 Daar is wêreldwyd meer as 65 000 000 vlugtelinge wat as gevolg van oorlog of vervolging moes vlug. Dit is die hoogste aantal vlugtelinge in die geskiedenis. * Daar is duisende Getuies van Jehovah onder hulle. Baie van hulle het geliefdes en byna al hulle besittings verloor. Watter ander beproewinge moes hulle deurmaak? Hoe kan ons hierdie broers en susters help om “Jehovah met blydskap” te dien ten spyte van hulle beproewinge? (Ps. 100:2). En hoe kan ons die goeie nuus op die beste manier aan hulle verkondig?

DIE LEWE VAN ’N VLUGTELING

3. Hoe het Jesus en baie van sy dissipels vlugtelinge geword?

3 Nadat die engel van Jehovah Josef gewaarsku het dat Koning Herodes Jesus wou doodmaak, het Jesus en sy ouers na Egipte gevlug. Daar het hulle as vlugtelinge gebly totdat Herodes dood is (Matt. 2:13, 14, 19-21). Jare later is Jesus se dissipels vervolg en “in al die streke van Judea en Samaria verstrooi” (Hand. 8:1). Jesus het voorspel dat baie van sy volgelinge uit hulle huise verdryf sou word. Hy het gesê: “Wanneer hulle julle in een stad vervolg, vlug na ’n ander” (Matt. 10:23). Dit is nooit maklik om te vlug nie.

4, 5. In watter gevaar verkeer vlugtelinge wanneer hulle (a) vlug? (b) in ’n vlugtelingkamp is?

4 Vlugtelinge moet baie gevare in die gesig staar terwyl hulle vlug en wanneer hulle in ’n vlugtelingkamp is. “Ons het weke lank geloop en honderde dooie mense gesien”, het Gad, Lije se jonger broer, gesê. “Ek was 12 jaar oud. Omdat my voete so erg opgeswel was, het ek gesê dat ek nie verder kon loop nie. My pa het geweier om my vir die rebelle te los en het my gedra. Ons het van dag tot dag oorleef. Ons het gebid en op Jehovah vertrou. Party dae het ons net mango’s geëet wat langs die pad gegroei het.”—Fil. 4:12, 13.

5 Die meeste van Lije se familie het jare lank in vlugtelingkampe van die Verenigde Nasies gewoon. Maar hulle was daar ook nie veilig nie. Lije, wat nou as ’n kringopsiener dien, sê: “Die meeste mense het nie werk gehad nie. Hulle het net geskinder, gedrink, gedobbel en gesteel. En dan was hulle nog onsedelik ook.” Om hierdie slegte dinge te vermy, moes die Getuies in hulle gemeentes bedrywig bly (Heb. 6:11, 12; 10:24, 25). Hulle het nie hulle tyd gemors nie. Baie het gepionier en het op hierdie manier geestelik sterk gebly. Hulle het positief gebly en, soos die Israeliete in die wildernis, besef dat hulle verblyf in die kamp eendag tot ’n einde sou kom.—2 Kor. 4:18.

BETOON LIEFDE

6, 7. (a) Watter uitwerking het “die liefde vir God” op ons wanneer ons sien dat ons broers swaarkry? (b) Gee ’n voorbeeld.

6 “Die liefde vir God” dwing ons om ons broers lief te hê, veral as hulle swaarkry. (Lees 1 Johannes 3:17, 18.) Toe daar in die eerste eeu ’n hongersnood was, het die gemeente kos aan die Christene in Judea voorsien (Hand. 11:28, 29). Paulus en Petrus het die Christene aangespoor om gasvry te wees (Rom. 12:13; 1 Pet. 4:9). As Christene besoekers moes verwelkom, hoeveel te meer dan nie mede-Christene wie se lewe in gevaar is of wat vir hulle geloof vervolg is nie!—Lees Spreuke 3:27. *

7 Duisende Getuies van Jehovah, mans, vrouens en kinders, moes onlangs vlug weens die oorlog en vervolging in oostelike Oekraïne. Party van hulle is ongelukkig in die oorlog dood. Maar die meeste is deur broers in ander dele van Oekraïne versorg en ander het in Rusland by broers gaan bly. In albei lande bly die broers neutraal en is hulle “geen deel van die wêreld” nie en hulle hou aan om ywerig “die goeie nuus van die woord bekend” te maak.—Joh. 15:19; Hand. 8:4.

HELP VLUGTELINGE OM HULLE GELOOF TE VERSTERK

8, 9. (a) Watter probleme het vlugtelinge in ’n vreemde land? (b) Waarom moet ons hulle geduldig help?

8 Party mense word vlugtelinge in hulle eie land, maar baie ander word gedwing om in ’n vreemde land te gaan bly. Die regering voorsien dalk kos, klere en behuising, maar die kos waaraan die vlugtelinge gewoond is, is dalk nie beskikbaar nie. Vlugtelinge uit warm lande ervaar miskien vir die eerste keer koue weer en dalk weet hulle nie wat om aan te trek nie. Party moet dalk leer hoe om huishoudelike toestelle te gebruik.

9 In party lande word vlugtelinge gehelp om aan te pas. Maar gewoonlik moet hulle binne ’n paar maande vir hulleself begin sorg. Dit kan baie moeilik wees. Dink net aan al die dinge wat hulle op een slag moet leer: ’n nuwe taal, nuwe maniere om dinge te doen, stiptelikheid en hoe om rekeninge te betaal. Hulle moet weet wat die wette oor belasting en skoolbywoning sê, en daar is selfs wette oor hoe jy jou kinders mag dissiplineer! Kan jy broers en susters geduldig en met respek hiermee help?—Fil. 2:3, 4.

10. Hoe kan ons die geloof van nuwe vlugtelinge versterk? (Sien prent aan begin van artikel.)

10 Die owerheid maak dit soms vir die broers wat vlugtelinge is moeilik om die gemeente te kontak. Agentskappe help die broers om werk te kry, maar soms veroorsaak die werk dat hulle nie die vergaderinge kan bywoon nie. As die broers nie hierdie werk wil aanvaar nie, sê die agentskappe dat hulle nie in die land kan bly nie of dat hulle nie hulp sal ontvang nie. Die broers voel dalk bang en hulpeloos en party het die werk aanvaar. Daarom is dit belangrik om die broers so gou as moontlik te kontak sodat hulle kan sien dat ons vir hulle omgee. Ons besorgdheid en praktiese hulp kan hulle geloof versterk.—Spr. 12:25; 17:17.

PRAKTIESE HULP

11. (a) Wat het vlugtelinge nodig? (b) Hoe kan vlugtelinge wys dat hulle dankbaar is?

11 Aanvanklik het ons broers dalk kos, klere en ander dinge nodig. * Selfs iets kleins, soos ’n das vir ’n broer, kan baie vir hulle beteken. En wanneer die vlugtelinge dankbaar is en nie ontevrede is nie, is die broers bly om hulle te help. Maar vlugtelinge moet vroeër of later vir hulle self sorg. Dit sal hulle help om hulle selfrespek te behou en om goed met die broers oor die weg te kom (2 Tess. 3:7-10). Maar hulle het praktiese hulp nodig.

Hoe kan ons ons broers en susters help wat vlugtelinge is? (Sien paragraaf 11-13)

12, 13. (a) Hoe kan ons vlugtelinge help? (b) Gee ’n voorbeeld.

12 ’n Mens hoef nie baie geld te hê om vlugtelinge te help nie. Hulle het ons tyd en liefde die meeste nodig. Byvoorbeeld, jy kan hulle wys hoe om van openbare vervoer gebruik te maak of waar om gesonde kos te koop wat nie te duur is nie. Of jy kan hulle wys waar hulle ’n naaimasjien of ’n grassnyer kan kry waarmee hulle geld kan verdien. Maar die belangrikste is om hulle te help om deel van hulle nuwe gemeente te word. Miskien kan hulle saam met jou na die vergaderinge ry. Wys ook vir hulle wat die beste manier is om met mense in jou gebied oor die Koninkryk te praat. Doen saam met hulle velddiens.

13 Toe vier jong vlugtelinge in ’n gemeente aangekom het, het die ouer manne hulle geleer hoe om te bestuur, ’n rekenaar te gebruik en vir werk aansoek te doen. Hulle het hulle ook gehelp om Jehovah se diens eerste te stel (Gal. 6:10). Kort daarna het al vier begin pionier. Omdat die ouer manne hulle gehelp het en hulle bereid was om geestelike doelwitte te stel, het hulle vordering gemaak en nie deel van Satan se wêreld geword nie.

14. (a) Watter versoeking moet vlugtelinge weerstaan? (b) Gee ’n voorbeeld.

14 Net soos alle Christene moet vlugtelinge nie hulle vriendskap met Jehovah vir materiële dinge verruil nie. * Lije en sy broers en susters onthou nog die lesse wat sy pa hulle oor geloof geleer het terwyl hulle gevlug het. “Hy het onbelangrike items een vir een weggegooi. Uiteindelik was die sak leeg en toe het hy met ’n breë glimlag gesê: ‘Sien jy? Dis al wat jy nodig het!’”—Lees 1 Timoteus 6:8.

WAT VLUGTELINGE DIE NODIGSTE HET

15, 16. Hoe kan ons vlugtelinge (a) geestelik help? (b) emosioneel help?

15 Vlugtelinge het geestelike en emosionele hulp nodiger as materiële hulp (Matt. 4:4). Ouer manne kan hulle help om lektuur in hulle taal te kry en om in aanraking te kom met broers wat hulle taal praat. Baie vlugtelinge mis hulle familie, vriende en gemeente. Wanneer hulle saam met hulle mede-Christene is, moet hulle Jehovah se liefde en sorg kan voel. Anders sal hulle by mense van hulle eie land wat Jehovah nie dien nie om hulp gaan vra (1 Kor. 15:33). As ons hulle laat voel dat hulle deel van die gemeente is, sal ons die voorreg hê om saam met Jehovah ‘die inwonende vreemdelinge te bewaar’.—Ps. 146:9.

16 Jesus en sy ouers kon nie na hulle tuisland terugkeer vir so lank as wat dié wat hulle vervolg het, nog regeer het nie. Vlugtelinge kan dalk ook nie na hulle tuisland terugkeer nie. Lije sê: “Baie ouers wat gesien het hoe familielede verkrag en vermoor is, wil nie met hulle kinders teruggaan na waar die dinge gebeur het nie.” Om ons broers te help, moet ons “meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê, nederig van verstand wees” (1 Pet. 3:8). Party vlugtelinge wil nie oor hulle vervolging praat nie, veral nie voor hulle kinders nie. Vra jou af: ‘As ek in hulle situasie was, hoe sou ek behandel wou word?’Matt. 7:12.

WANNEER JY VIR VLUGTELINGE PREEK

17. Hoe help die goeie nuus vlugtelinge?

17 Baie vlugtelinge kom van lande waar daar beperkings op ons werk is. Ywerige Getuies in lande waarheen vlugtelinge stroom, het duisende vlugtelinge gehelp om die “woord van die koninkryk” vir die eerste keer te hoor (Matt. 13:19, 23). Baie van hulle wat “swaar belaai” is, word geestelik by ons vergaderinge verkwik. Hulle sê: “God is werklik onder julle.”Matt. 11:28-30; 1 Kor. 14:25.

18, 19. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons vir vlugtelinge preek?

18 As ons vir vlugtelinge preek, moet ons “versigtig” en “skerpsinnig” wees (Matt. 10:16; Spr. 22:3). Luister geduldig na hulle probleme, maar moenie oor politiek praat nie. Volg die riglyne van die takkantoor en die plaaslike owerheid. Moet nooit julle lewe in gevaar stel nie. Respekteer die godsdiens en gebruike van die vlugtelinge. Party kulture het streng reëls oor hoe vrouens moet aantrek. As ons vir vlugtelinge preek, moet ons klere hulle nie aanstoot gee nie.

19 Net soos die barmhartige Samaritaan in Jesus se illustrasie, wil ons mense help wat swaarkry, al is hulle nie Getuies nie (Luk. 10:33-37). Die heel beste manier waarop ons hulle kan help, is om hulle van die goeie nuus te vertel. “Dit is belangrik om vir hulle te sê dat ons Jehovah se Getuies is, en ons doelwit is om mense geestelik te help, nie materieel nie”, het ’n ouer man gesê wat baie vlugtelinge al gehelp het. “Anders luister party dalk net na ons omdat hulle iets van ons wil hê.”

GOEIE RESULTATE

20, 21. (a) Watter goeie resultate kan ons verwag as ons Christelike liefde aan vlugtelinge betoon? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

20 As ons Christelike liefde aan “inwonende vreemdelinge” betoon, sal dit goeie resultate oplewer. ’n Christensuster het vertel hoe haar familie uit Eritrea gevlug het omdat hulle vervolg is. Na ’n uitputtende tog van agt dae deur die woestyn het vier van haar kinders in Soedan aangekom. Sy het gesê: “Die broers het hulle soos hulle eie familie behandel en kos, klere, slaapplek en vervoer gereël. Wie sal vreemdelinge in hulle huise verwelkom net omdat hulle dieselfde God aanbid? Net Jehovah se Getuies!”Lees Johannes 13:35.

21 Maar wat van die kinders van vlugtelinge? In die volgende artikel sal ons bespreek hoe ons hulle kan help om Jehovah met vreugde te dien.

^ par. 2 In hierdie artikel verwys “vlugtelinge” na mense wat gedwing is om hulle huise te verlaat as gevolg van oorlog, vervolging of ’n ramp. Volgens die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge is “1 uit elke 113 mense” in die wêreld “gedwing om te vlug”.

^ par. 6 Sien die artikel “Moenie goedhartigheid teenoor vreemdelinge vergeet nie” in Die Wagtoring van Oktober 2016, bl. 8-12.

^ par. 11 Sodra ’n vlugteling aankom, moet die ouer manne die instruksies volg in Georganiseer om Jehovah se wil te doen, hoofstuk 8, paragraaf 30. Ouer manne kan deur die plaaslike takkantoor op jw.org ’n brief aan gemeentes in ander lande stuur. Intussen kan hulle uitvind hoe geestelik sterk die vlugteling is deur hom vriendelik oor sy gemeente en velddiens uit te vra.

^ par. 14 Sien die artikel “Niemand kan twee here dien nie” en “Hou goeie moed—Jehovah is jou helper!” in Die Wagtoring van 15 April 2014, bl. 17-26.