Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense — Veg teen die Duiwel

Jongmense — Veg teen die Duiwel

“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle kan vasstaan teen die sette van die Duiwel.” — EF. 6:11.

LIED: 79, 140

1, 2. (a) Wat maak dit vir jong Christene moontlik om die geveg teen Satan en die demone te wen? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

DIE apostel Paulus het ons lewe as Christene met dié van ’n soldaat vergelyk wat in ’n oorlog veg. Ons geveg is natuurlik nie letterlik nie, maar geestelik. Nogtans veg ons teen ’n werklike vyand — Satan en sy demone. Hulle kan goed veg en het baie ondervinding. Dit lyk dalk of ons nie hierdie geveg kan wen nie, veral as ons nog jonk is. Kan jongmense teen sulke magtige vyande veg en wen? Ja, hulle kan, en hulle is alreeds besig om te wen! Hoe kry hulle dit reg? Hulle “hou aan om krag te verkry in die Here”. Maar hulle doen meer as om net op God se krag te vertrou. Hulle is ook reg aangetrek vir die geveg. Net soos goed opgeleide soldate, het hulle “die volle wapenrusting van God aan”. — Lees Efesiërs 6:10-12.

2 Toe Paulus hierdie illustrasie gebruik het, het hy dalk aan die wapenrusting van ’n Romeinse soldaat gedink (Hand. 28:16). In hierdie artikel gaan ons kyk hoekom dit so ’n goeie illustrasie is. Ons gaan ook kyk na wat party jongmense te sê het oor die uitdagings en die voordele daarvan om elke deel van die geestelike wapenrusting aan te hê.

Het jy die volle wapenrusting aan?

“LENDENE OMGORD MET WAARHEID”

3, 4. Hoe is die waarheid in die Bybel soos die gordel van ’n Romeinse soldaat?

3 Lees Efesiërs 6:14. Die gordel, of lyfband, van ’n Romeinse soldaat het metaalplate gehad wat sy middellyf beskerm het. Dit is ontwerp om die gewig van sy borsplaat te dra. Party gordels het ook sterk hakies gehad waaraan ’n kort, skerp mes of swaard gehang kon word. As ’n soldaat se gordel styf vasgemaak was, kon hy met volle vertroue gaan veg.

4 Net so beskerm die waarhede wat ons in God se Woord leer ons teen valse leringe (Joh. 8:31, 32; 1 Joh. 4:1). Hoe liewer ons vir hierdie waarhede word, hoe makliker sal dit vir ons wees om ons “borsplaat” te dra. Met ander woorde, dit sal vir ons makliker wees om volgens God se regverdige standaarde te lewe (Ps. 111:7, 8; 1 Joh. 5:3). En as ons die waarhede in God se Woord goed verstaan, sal ons met volle vertroue die waarheid kan verdedig. — 1 Pet. 3:15.

5. Waarom moet ons die waarheid praat?

5 As Bybelwaarheid soos ’n gordel styf om ons vasgemaak is, sal dit deel van ons lewe wees, en ons sal ons bes doen om altyd die waarheid te praat. Hoekom wil ons nooit leuens vertel nie? Omdat leuens een van Satan se beste wapens is. Wanneer iemand ’n leuen vertel, maak hy homself seer sowel as die persoon wat hom glo (Joh. 8:44). Daarom doen ons ons bes om nie leuens te vertel nie, al is ons onvolmaak (Ef. 4:25). Maar dit kan ’n uitdaging wees. Abigail, wat 18 is, sê: “Dit lyk nie altyd of dit die moeite werd is om die waarheid te praat nie, veral as ’n leuen jou kan help om uit ’n moeilike situasie te kom.” Hoekom probeer sy dan om altyd die waarheid te praat? Sy sê: “Wanneer ek die waarheid praat, het ek ’n skoon gewete voor Jehovah. En my ouers en vriende weet dat hulle my kan vertrou.” Victoria, wat 23 is, sê: “Jy sal dalk geboelie word wanneer jy die waarheid praat en wanneer jy jou geloof verdedig. Maar die voordele maak dit die moeite werd: jy kry meer selfvertroue, jy voel nader aan Jehovah en jy kry die respek van diegene wat jou liefhet.” Dit is beslis die moeite werd om altyd jou ‘lendene met waarheid te omgord’.

Gordel van waarheid (Sien paragraaf 3-5)

“DIE BORSPLAAT VAN REGVERDIGHEID”

6, 7. Hoekom word regverdigheid met ’n borsplaat vergelyk?

6 Een tipe borsplaat wat in die eerste eeu deur ’n Romeinse soldaat gedra is, het uit horisontale ysterplate bestaan wat oor mekaar gepas het. Hierdie ysterplate is gebuig om oor sy bors te pas en is met leerbandjies, metaalhakies en gespes aan mekaar vasgemaak. Die soldaat se skouers was met nog ysterplate bedek wat ook met leer vasgemaak was. Hierdie tipe borsplaat het veroorsaak dat ’n soldaat nie vryelik kon beweeg nie, en hy moes ook kort-kort kyk of die ysterplate nie losgekom het nie. Maar die borsplaat het die soldaat se hart en ander belangrike organe beskerm teen die lem van ’n swaard of die punt van ’n pyl.

7 Dit kan vergelyk word met hoe Jehovah se regverdige standaarde ons figuurlike hart kan beskerm (Spr. 4:23). Net soos ’n soldaat nie sy borsplaat van yster sou verruil vir een wat van ’n swakker metaal gemaak is nie, sal ons ook nooit Jehovah se standaarde van wat reg is, wil verruil vir ons eie standaarde nie. Ons is eenvoudig nie wys genoeg om ons eie hart te beskerm nie (Spr. 3:5, 6). Daarom kyk ons gereeld of die ‘ysterplate’ wat Jehovah ons gegee het, stewig oor ons hart vasgemaak is.

8. Hoekom is dit die moeite werd om volgens Jehovah se standaarde te lewe?

8 Voel jy partykeer dat Jehovah se regverdige standaarde ’n swaar las is of jou vryheid beperk? Daniel, wat 21 is, sê: “Party van my onderwysers en klasmaats het my gespot omdat ek volgens die Bybel se standaarde lewe. Ek het ’n ruk lank nie selfvertroue gehad nie en ek het depressief gevoel.” Wat het hom gehelp? Hy sê: “Ek het gesien hoe dit my help om volgens Jehovah se standaarde te lewe. Party van my ‘vriende’ het dwelms begin gebruik, en ander het ophou skoolgaan. Dit was baie hartseer om te sien hoe hulle lewe uitgedraai het. Jehovah beskerm ons regtig.” Madison, wat 15 is, sê: “Dis vir my moeilik om by Jehovah se standaarde te bly en nie die dinge te doen wat ander jongmense dink cool of pret is nie.” Hoe hanteer sy die situasie? “Ek herinner myself daaraan dat ek Jehovah se naam dra en dat versoekings net Satan se manier is om my aan te val. Wanneer ek dit regkry om nie in te gee nie, voel ek beter oor myself.”

Die borsplaat van regverdigheid (Sien paragraaf 6-8)

“VOETE GESKOEI MET DIE TOERUSTING VAN DIE GOEIE NUUS VAN VREDE”

9-11. (a) Watter simboliese skoene word deur Christene gedra? (b) Wat kan ons help om meer op ons gemak te wees wanneer ons die goeie nuus verkondig?

9 Lees Efesiërs 6:15. ’n Romeinse soldaat wat nie sy skoene aangehad het nie, was nie gereed om te gaan veg nie. Sy skoene, wat soos sandale lyk, was van drie stukke leer gemaak wat aan mekaar vasgewerk is. Hierdie ontwerp het die skoene baie duursaam en gemaklik gemaak en ’n soldaat kon behoorlik daarmee vastrap.

10 Die letterlike skoene van ’n Romeinse soldaat het hom in ’n geveg gehelp, maar die simboliese skoene van Christene help hulle om ’n boodskap van vrede bekend te maak (Jes. 52:7; Rom. 10:15). Nogtans het ons moed nodig om vir ander te preek wanneer ons die geleentheid kry om dit te doen. Bo, wat 20 is, sê: “Ek was bang om vir my klasmaats te preek. Ek dink ek was net skaam. Maar as ek nou terugdink, weet ek nie hoekom ek so gevoel het nie. Nou preek ek graag vir ander jongmense.”

11 Baie jongmense voel meer op hulle gemak om die goeie nuus te verkondig as hulle goed voorbereid is. Wat kan jy doen om gereed te wees om ander van die goeie nuus te vertel? “Ek hou lektuur in my skooltas”, sê Julia, wat 16 is, “en ek luister na die opinies van my klasmaats en hoe hulle praat oor die dinge waarin hulle glo. Dan dink ek oor wat hulle sal help. Wanneer ek voorbereid is, kan ek met hulle praat oor spesifieke punte wat hulle kan help.” Makenzie, wat 23 is, sê: “As jy vriendelik is en mooi luister, sal jy weet met watter probleme jongmense van jou ouderdom sukkel. Ek maak seker dat ek al die artikels vir jongmense gelees het. Op hierdie manier kan ek vir jongmense wys wat in die Bybel staan of hulle van iets op jw.org vertel wat hulle kan help.” Hierdie kommentare wys dat as jy goed voorbereid is om te preek, dit soos “skoene” is wat jou goed pas.

Voete gereed om die goeie nuus te verkondig (Sien paragraaf 9-11)

“DIE GROOT SKILD VAN GELOOF”

12, 13. Wat is party van Satan se “brandende pyle”?

12 Lees Efesiërs 6:16. “Die groot skild” van ’n Romeinse soldaat was reghoekig en het hom van sy skouers tot by sy knieë bedek. Dit het hom teen swaarde, spiese en pyle beskerm.

13 Party van die “brandende pyle” waarmee Satan jou dalk kan skiet, is leuens oor Jehovah — dat Hy nie vir jou omgee nie en dat Hy nie vir jou lief kan wees nie. Dit is hoe Ida, wat 19 is, soms voel. Sy sê: “Ek het al dikwels gevoel dat Jehovah nie na aan my is nie en dat hy nie my Vriend wil wees nie.” Hoe beskerm sy haarself teen hierdie aanval? “Die vergaderinge versterk my geloof baie”, sê Ida. “Ek het gewoonlik net daar gesit en nooit geantwoord nie, want ek het gedink dat niemand sou wou hoor wat ek te sê het nie. Maar nou berei ek vir die vergaderinge voor en probeer ek om twee of drie keer te antwoord. Dis moeilik, maar ek voel baie beter wanneer ek dit doen. En die broers en susters moedig my regtig aan. Ná elke vergadering kan ek voel dat Jehovah my liefhet.”

14. Watter feit word deur Ida se ondervinding beklemtoon?

14 Ida se ondervinding beklemtoon ’n belangrike feit: Die grootte van ’n soldaat se skild kon nie verander nie, maar ons skild van geloof is anders. Dit kan groter of kleiner word. Met ander woorde, ons geloof kan sterker of swakker word. Dit hang van ons af (Matt. 14:31; 2 Tess. 1:3). Dit is baie belangrik dat ons aanhou om ons geloof te versterk!

Die groot skild van geloof (Sien paragraaf 12-14)

“DIE HELM VAN REDDING”

15, 16. Hoe is ons hoop soos ’n helm?

15 Lees Efesiërs 6:17. Die helm van ’n Romeinse soldaat is ontwerp om sy kop, nek en gesig te beskerm. Party helms het ’n handvatsel gehad sodat die soldaat dit in sy hand kon dra.

16 Net soos ’n helm ’n soldaat se brein beskerm, so beskerm ons “hoop op redding” ons verstand, of denkvermoë (1 Tess. 5:8; Spr. 3:21). Hoop help ons om op God se beloftes te fokus en om die regte beskouing van ons probleme te hê (Ps. 27:1, 14; Hand. 24:15). Maar as ons wil hê dat ons “helm” ons moet beskerm, moet ons dit op ons kop dra, nie in ons hand nie.

17, 18. (a) Hoe kan Satan ons oorreed om ons helm af te haal? (b) Hoe kan ons wys dat Satan ons nie mislei het nie?

17 Hoe kan Satan ons oorreed om ons helm af te haal? Dink aan wat hy met Jesus probeer doen het. Satan het sekerlik geweet dat Jesus die hoop gehad het om uiteindelik oor die mensdom te regeer. Maar Jesus moes wag totdat dit Jehovah se tyd was om hom Koning te maak. En hy sou eers baie pyn en lyding moes verduur en dan sterf. Daarom het Satan Jesus die kans aangebied om vroeër te begin regeer. Satan het belowe dat as Jesus een daad van aanbidding sou doen, Jesus onmiddellik die heerser van die wêreld kon word (Luk. 4:5-7). Satan weet ook dat Jehovah belowe het om vir ons wonderlike dinge in die nuwe wêreld te gee. Maar ons moet daarvoor wag, en intussen moet ons dalk swaar tye deurmaak. Daarom bied Satan ons die kans om nou al ’n gemaklike lewe te lei. Hy wil hê dat ons eers materiële dinge moet soek — om alles wat ons graag wil hê, nou te kry. Satan wil hê dat ons die Koninkryk tweede in ons lewe moet stel. — Matt. 6:31-33.

18 Net soos baie ander jong Christene, is die 20-jarige Kiana nie deur Satan mislei nie. Sy sê: “Ek weet dat God se Koninkryk ons enigste hoop is. Dit is die enigste manier hoe al ons probleme opgelos gaan word.” Watter uitwerking het haar vaste hoop op die manier waarop sy nou dink en haar lewe lei? Sy sê verder: “Die hoop op ’n paradys help my om die regte beskouing van sekulêre doelwitte te hê. Ek probeer nie om my talente nou te gebruik om myself te bevoordeel of om ’n hoë posisie in die sakewêreld te kry nie. Ek gebruik eerder my tyd en energie om geestelike doelwitte te bereik.”

Die helm van redding (Sien paragraaf 15-18)

“DIE SWAARD VAN DIE GEES”, GOD SE WOORD

19, 20. Hoe kan ons verbeter in die manier waarop ons God se Woord gebruik?

19 In Paulus se dag was die swaard van ’n Romeinse soldaat omtrent 50 cm lank en ontwerp om in gevegte gebruik te word. Een rede hoekom Romeinse soldate hulle swaarde so goed kon gebruik, was omdat hulle elke dag daarmee geoefen het.

20 Paulus vergelyk God se Woord met ’n swaard. Jehovah het hierdie swaard vir ons gegee. Maar ons moet leer om dit goed te gebruik wanneer ons ons geloof verdedig of wanneer ons ons denke moet verander (2 Kor. 10:4, 5; 2 Tim. 2:15). Hoe kan ons verbeter in die manier waarop ons God se Woord gebruik? Sebastian, wat 21 is, sê: “Wanneer ek my Bybellees doen, skryf ek een vers neer uit elke hoofstuk wat ek lees. Ek is besig om ’n lys van my gunsteling-verse te maak. Dit help my om meer soos Jehovah te dink.” Daniel, wat vroeër aangehaal is, sê: “Terwyl ek my Bybellees doen, soek ek na verse wat ek kan gebruik om mense in die veld te help. Mense reageer goed wanneer hulle sien dat jy entoesiasties oor die Bybel is en dat jy jou bes doen om hulle te help.”

Die swaard van die gees (Sien paragraaf 19-20)

21. Hoekom hoef ons nie bang te wees vir Satan en die demone nie?

21 Die kommentare van die jongmense in hierdie artikel wys dat ons nie bang hoef te wees vir Satan en die demone nie. Hulle is magtig, maar ons kan ons stryd teen hulle wen. En hulle sal nie vir ewig lewe nie. Hulle sal binnekort gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus opgesluit word, waar hulle niemand sal kan seermaak nie. Daarna sal hulle vernietig word (Op. 20:1-3, 7-10). Ons ken ons vyand, ons ken sy slinkse planne, en ons weet wat hy probeer doen. Met Jehovah se hulp kan ons vasstaan teen hom en die geveg wen!