Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Streekbyeenkoms in Niznja Apsja, Oekraïne, 2012

’n Oorvloedige oes!

’n Oorvloedige oes!

JESUS het voorspel dat sy volgelinge in hierdie tyd van die einde ’n oorvloedige oes sou geniet (Matt. 9:37; 24:14). Sy woorde word op ’n unieke manier vervul in die gebied van Transkarpatië, Oekraïne. In hierdie gebied is daar drie dorpies naby mekaar. En net in hierdie dorpies alleen is daar altesaam 50 gemeentes en meer as 5 400 verkondigers. * Dit beteken dat 1 uit elke 4 mense van die totale bevolking van hierdie drie dorpies een van Jehovah se Getuies is!

Hoe reageer mense in hierdie gebied op ons predikingswerk? ’n Plaaslike broer met die naam Vasile sê: “Die mense hier respekteer die Bybel en het ’n sterk sin vir wat reg is. Hulle het ook sterk familiebande en wil mekaar graag help.” Hy sê verder: “Hulle stem nie altyd saam met wat ons glo nie, maar wanneer ons hulle iets uit die Bybel wys, luister hulle aandagtig na ons.”

Ons broers en susters het natuurlik unieke uitdagings omdat hulle in ’n gebied moet preek waar daar so baie verkondigers is. Een gemeente het byvoorbeeld 134 verkondigers, maar daar is net 50 huise in hulle gebied! Hoe het die verkondigers by hierdie situasie aangepas?

Baie broers en susters besluit om te gaan dien in gebiede waar daar hulp nodig is. “In ons gemeente se gebied is daar twee verkondigers vir elke huis”, sê ’n 90-jarige broer met die naam Jonasj. “Ek preek in my dorpie, maar tot onlangs, voordat my gesondheid versleg het, het ek ook omtrent 160 km gereis om in ’n ontoegekende gebied te gaan preek vir mense wat Hongaars praat.” Verkondigers moet opofferings maak om in ander gebiede uit te help. Jonasj sê: “Ek het vieruur die oggend opgestaan om betyds te wees vir die trein, en ek het tot sesuur die middag gepreek wanneer die trein weer vertrek het. Ek het dit twee of drie keer ’n week gedoen.” Was dit vir hom die moeite werd? Hy sê: “Ek het hierdie tipe velddiens baie geniet. Ek het die voorreg gehad om ’n familie in ’n afgesonderde gebied die waarheid te leer.”

Dit is natuurlik nie vir almal in die gemeentes in hierdie gebied moontlik om so ver te reis nie. Maar almal, insluitende ouer verkondigers, doen alles wat hulle kan om die plaaslike gebied deeglik te werk. Daarom was die aantal mense wat die Gedenkmaal in hierdie drie dorpies in 2017 bygewoon het, twee keer soveel as die aantal verkondigers. Met ander woorde, die helfte van die hele bevolking het die Gedenkmaal bygewoon. Ons kan sonder twyfel sê dat ons nog “baie het om in die werk van die Here te doen”, maak nie saak waar ons dien nie. — 1 Kor. 15:58.

^ par. 2 Die name van hierdie dorpies is Hlibokji Potik, Serednje Vodjane en Niznja Apsja.