Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 21

Moenie deur “die wysheid van hierdie wêreld” mislei word nie

Moenie deur “die wysheid van hierdie wêreld” mislei word nie

“Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God.” – 1 KOR. 3:19.

LIED 98 Die Skrif – Deur God geïnspireer

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat leer God se Woord ons?

ONS kan enige uitdaging oorkom omdat Jehovah ons Grootse Onderrigter is (Jes. 30:20, 21). Sy Woord gee ons alles wat ons nodig het sodat ons “volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Tim. 3:17). Wanneer ons Bybelleringe in ons lewe toepas, word ons wyser as dié wat “die wysheid van hierdie wêreld” bevorder. – 1 Kor. 3:19; Ps. 119:97-100.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Ons sal sien dat die wysheid van hierdie wêreld dikwels ons vleeslike begeertes aanwakker. Daarom kan dit soms moeilik wees om nie soos dié wat deel van hierdie wêreld is, te dink en op te tree nie. Die Bybel sê met goeie rede: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense” (Kol. 2:8). In hierdie artikel sal ons die geskiedenis van twee leuens ondersoek en hoe dit gewild geword het. In elke geval sal ons sien hoekom die wysheid van die wêreld dwaasheid is en hoe die wysheid van God se Woord ver verhewe is bo enigiets wat die wêreld aanbied.

HOE MENSE SE BESKOUING VAN SEKSUELE STANDAARDE VERANDER HET

3-4. Hoe het mense in die Verenigde State se beskouing van seksuele standaarde vroeg in die 20ste eeu verander?

3 Vroeg in die 20ste eeu het mense in die Verenigde State se beskouing van seksuele standaarde baie verander. In die verlede het baie geglo dat net mense wat met mekaar getroud is, seks mag hê en dat dit nie iets was waaroor mense in die openbaar kon praat nie. Maar hierdie standaarde het verander, en onsedelike gedrag het iets algemeens geword.

4 Die derde dekade in die 20ste eeu het bekend geword as die Jolige Twintigerjare (Roaring Twenties), en dit is gekenmerk deur groot veranderinge in die samelewing. ’n Navorser het gesê: “Films, toneelstukke, liedjies, boeke en advertensies het getoon dat daar ’n groot aanvraag is na vermaak met ’n seksuele tema.” Gedurende daardie dekade het die manier waarop party gedans het, mense aan seks laat dink, en mense het minder beskeie begin aantrek. Net soos die Bybel oor die laaste dae voorspel het, het mense in groot mate “liefhebbers van genot” geword. – 2 Tim. 3:4.

Jehovah se knegte word nie mislei deur die wêreld se lae sedelike standaarde nie (Sien paragraaf 5) *

5. Wat het sedert die 1960’s met die wêreld se beskouing van sedelike standaarde gebeur?

5 In die 1960’s het dit iets algemeens vir mense geword om saam te bly sonder om te trou, om homoseksuele gedrag te openbaar en om sommer net te skei. Baie vorme van vermaak het seks al hoe openliker begin uitbeeld. In die laaste paar dekades kan die slegte gevolge van lae sedelike standaarde op baie maniere gesien word. Volgens een skrywer is “die agteruitgang van seksuele standaarde wat ons samelewing nou vorm”, in groot mate verantwoordelik vir gebroke gesinne, enkelouergesinne, emosionele letsels, verslawing aan pornografie en ander slegte dinge. Die feit dat seksueel oordraagbare siektes, soos vigs, so algemeen voorkom, is net een bewys dat die wysheid van die wêreld dwaasheid is. – 2 Pet. 2:19.

6. Hoe bevorder die wêreld se beskouing van seks Satan se planne?

6 Die wêreld se beskouing van seks bevorder Satan se planne. Dit maak hom beslis baie bly wanneer mense God se gawe van seks en die huwelik misbruik en geen respek daarvoor het nie (Ef. 2:2). As mense onsedelik is, wys hulle dat hulle geen waardering het vir Jehovah se pragtige gawe van voortplanting nie, en dit kan daartoe lei dat hulle nie die ewige lewe kry nie. – 1 Kor. 6:9, 10.

DIE BYBEL SE BESKOUING VAN SEKSUELE STANDAARDE

7-8. Hoekom is die Bybel se beskouing van seksuele gedrag baie beter as die wêreld s’n?

7 Mense wat die wysheid van die wêreld volg, bespot die Bybel se sedelike standaarde en sê dat dit onrealisties is. Sulke mense vra dalk: ‘Hoekom sou God ons met seksuele begeertes skep en dan vir ons sê om nie daarop te reageer nie?’ Hulle vra hierdie vraag omdat hulle verkeerdelik dink dat mense op elke drang moet reageer. Maar die Bybel sê iets anders. Dit sê dat ons nie elke begeerte hoef te bevredig nie en dat ons die vermoë het om verkeerde begeertes te weerstaan (Kol. 3:5). En Jehovah het ons die gawe van die huwelik gegee, ’n reëling waarin gepaste seksuele begeertes op ’n eerbare manier bevredig kan word (1 Kor. 7:8, 9). Binne-in hierdie reëling kan ’n man en vrou seks geniet sonder om spyt en onseker te voel, gevoelens wat dikwels die gevolg van onsedelikheid is.

8 In teenstelling met die wysheid van hierdie wêreld, leer die Bybel ons wat die regte beskouing van seks is. Dit erken dat mense seks kan geniet (Spr. 5:18, 19). Maar die Bybel sê: “Elkeen van julle moet weet hoe om in heiliging en eer sy eie vat in besit te kry, nie in hebsugtige geslagsdrif soos ook dié nasies het wat God nie ken nie.” – 1 Tess. 4:4, 5.

9. (a) Hoe is Jehovah se knegte vroeg in die 20ste eeu aangespoor om die verhewe wysheid van God se Woord te volg? (b) Watter wyse raad word in 1 Johannes 2:15, 16 gevind? (c) Watter onsedelike gebruike moet ons volgens Romeine 1:24-27 vermy?

9 Vroeg in die 20ste eeu het Jehovah se knegte nie toegelaat dat hulle mislei word deur die leuens van dié wat “alle sedelikheidsgevoel verloor het” nie (Ef. 4:19). Hulle het hard probeer om Jehovah se standaarde getrou te volg. Die Watch Tower van 15 Mei 1926 het gesê dat “’n man of ’n vrou se denke en dade kuis en rein moet wees, veral teenoor die ander geslag”. Ten spyte van wat in die wêreld rondom hulle gebeur het, het Jehovah se knegte die verhewe wysheid van God se Woord gevolg. (Lees 1 Johannes 2:15, 16.) Hoe dankbaar is ons tog vir God se Woord! Ons is ook dankbaar dat Jehovah geestelike voedsel op die regte tyd gee, wat ons help om nie deur die wêreld se beskouing van seks mislei te word nie. * – Lees Romeine 1:24-27.

HOE MENSE SE BESKOUING VAN LIEFDE VIR SELF VERANDER HET

10-11. Wat het die Bybel gewaarsku sal in die laaste dae gebeur?

10 Die Bybel het gewaarsku dat mense in hierdie laaste dae “liefhebbers van hulleself” sou word (2 Tim. 3:1, 2). Dit verbaas ons nie dat die wêreld hierdie selfsugtige gesindheid bevorder nie. Een naslaanwerk sê dat “selfhelpboeke vinnig vermeerder het” gedurende die 1970’s. Party boeke het “lesers aangespoor om hulleself te ken en te aanvaar en om trots te wees op wie en wat hulle is”. Een van hierdie boeke het byvoorbeeld die volgende stelling gemaak: “Wees verlief op die mooiste, opwindendste en belangrikste persoon wat al ooit bestaan het – jy.” Die boek bevorder “selfaanbidding waarin ’n persoon sy eie gedrag vasstel op grond van sy eie gewete en op grond van die wette van sy kultuur wat vir hom werk.”

11 Klink dit bekend? Satan het Eva aangespoor om iets soortgelyks te doen. Hy het gesê dat sy ‘soos God kan wees deur goed en kwaad te ken’ (Gen. 3:5). Vandag dink baie mense so baie van hulleself dat niemand volgens hulle vir hulle kan sê wat reg en verkeerd is nie – nie eers God nie. Hierdie gesindheid kan veral gesien word in mense se beskouing van die huwelik.

’n Christen stel ander se behoeftes eerste – veral dié van sy huweliksmaat (Sien paragraaf 12) *

12. Watter beskouing van die huwelik bevorder die wêreld?

12 Die Bybel sê dat mans en vrouens mekaar en hulle huweliksgeloftes moet eer. Dit spoor huweliksmaats aan om vasbeslote te wees om bymekaar te bly en sê: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word” (Gen. 2:24). In teenstelling hiermee bevorder dié wat deur die wysheid van die wêreld beïnvloed word, ’n ander beskouing en sê hulle dat elke huweliksmaat op sy of haar eie behoeftes moet fokus. ’n Boek oor egskeiding sê: “Die tradisionele belofte om getroud te bly ‘solank as wat ons lewe’, is in party seremonies vervang met die meer beperkte belofte om getroud te bly ‘solank as wat ons mekaar liefhet’.” Hierdie soort beskouing van die huwelik het tot tallose gebroke gesinne gelei en het baie emosionele pyn veroorsaak. Dit is baie duidelik dat die wêreld se disrespekvolle beskouing van die huwelik dwaas is.

13. Wat is een rede hoekom Jehovah trotse mense haat?

13 Die Bybel sê: “Elkeen wat trots van hart is, is vir Jehovah verfoeilik” (Spr. 16:5). Hoekom haat Jehovah trotse mense? Een rede is dat dié wat ’n ongebalanseerde liefde vir self ontwikkel en bevorder, Satan se arrogante houding weerspieël. Dink net, Satan het geglo dat Jesus – dié een wat God gebruik het om alles te skep – voor hom moes neerbuig en hom moes aanbid! (Matt. 4:8, 9; Kol. 1:15, 16). Dié wat so ’n ongebalanseerde beskouing van hulle eie belangrikheid het, bevestig dat die wysheid van die wêreld dwaasheid by God is.

DIE BYBEL SE BESKOUING VAN LIEFDE VIR SELF

14. Hoe help Romeine 12:3 ons om ’n gebalanseerde beskouing van onsself te hê?

14 Die Bybel help ons om ’n gebalanseerde beskouing van onsself te hê. Dit erken dat dit nie verkeerd is om ’n mate van liefde vir jouself te hê nie. Jesus het gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, wat wys dat ons ’n redelike hoeveelheid aandag aan ons behoeftes moet skenk (Matt. 19:19). Maar die Bybel leer nie dat ons moet dink dat ons belangriker as ander is nie. Dit sê eerder dat ons “niks uit twisgierigheid of uit egotisme [moet] doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as [onsself moet] ag.” – Fil. 2:3; lees Romeine 12:3.

15. Hoekom dink jy dat die Bybel se raad oor hoe ons onsself moet beskou, prakties is?

15 Mense wat vandag as wys beskou word, bespot dalk die Bybel se raad oor hoe ons onsself moet beskou. Hulle sê dalk dat jy maklik sal seerkry en dat ander jou sal misbruik as jy hulle belangriker as jouself beskou. Maar tot watter gevolge het die selfsugtige gesindheid wat Satan se wêreld bevorder, gelei? Wat het jy gesien? Is selfsugtige mense gelukkig? Het hulle ’n gelukkige gesinslewe? Het hulle ware vriende? Het hulle ’n goeie vriendskap met God? Wat lei tot die beste resultate – om die wysheid van die wêreld te volg of om die wysheid te volg wat in God se Woord gevind word?

16-17. Waarvoor kan ons dankbaar wees, en hoekom?

16 Mense wat die raad volg van dié wat deur die wêreld as wys beskou word, is soos ’n toeris wat ’n ander toeris vir aanwysings vra terwyl albei nie eintlik weet waar hulle is nie. Jesus het van die “wyse” mense in sy dag gesê: “Hulle is blinde gidse. As ’n blinde dan ’n blinde lei, sal albei in ’n gat val” (Matt. 15:14). Die wysheid van hierdie wêreld is beslis dwaasheid by God.

God se knegte dink terug aan die wonderlike tye wat hulle in Jehovah se diens gehad het (Sien paragraaf 17) *

17 Die Bybel se wyse raad was nog altyd “nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Tim. 3:16). Ons is so dankbaar dat Jehovah, deur middel van sy organisasie, ons teen die wysheid van die wêreld beskerm! (Ef. 4:14). Die geestelike voedsel wat hy voorsien, gee ons die krag wat ons nodig het om die standaarde van sy Woord getrou te volg. Dit is ’n groot voorreg om gelei te word deur die betroubare wysheid wat in die Bybel gevind word!

LIED 54 “Dit is die weg”

^ par. 5 Hierdie artikel sal ons help om vas oortuig te wees dat Jehovah die enigste betroubare Bron van leiding is. Dit sal ons ook help om te sien dat dit slegte gevolge inhou om die wêreld se wysheid te volg, maar dat dit voordele inhou as ons die wysheid van God se Woord toepas.

^ par. 9 Sien byvoorbeeld Vrae wat jongmense vra – Antwoorde wat werk, Deel 1, hfst. 24-26 en Deel 2, hfst. 4-5.

^ par. 50 BESKRYWING VAN PRENT: Ons sien ’n paar oomblikke in die lewe van ’n getroude Getuie-paartjie. Die broer en suster neem gedurende die laat 1960’s aan die predikingswerk deel.

^ par. 52 BESKRYWING VAN PRENT: In die 1980’s sorg die man vir sy vrou terwyl sy siek is, en hulle jong dogter is by hulle.

^ par. 54 BESKRYWING VAN PRENT:Vandag dink die paartjie terug aan die wonderlike tye wat hulle in Jehovah se diens gehad het. Hulle volwasse dogter en haar gesin is saam met hulle bly.