Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 22

Verbeter jou studiegewoontes!

Verbeter jou studiegewoontes!

‘Maak seker van die belangriker dinge.’ – FIL. 1:10.

LIED 35 ‘Maak seker van die belangriker dinge’

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom wil party mense dalk nie studeer nie?

VANDAG is dit baie moeilik om ’n bestaan te maak. Baie van ons broers werk lang ure om net in die basiese behoeftes van hulle gesinne te voorsien. Ander spandeer elke dag baie ure om by die werk en weer by die huis te kom. En party doen harde fisiese werk om hulleself te onderhou. Aan die einde van die dag is hierdie hardwerkende broers en susters doodmoeg! Die laaste ding waarvoor hulle kans sien, is ’n studiesessie.

2. Wanneer maak jy tyd om te studeer?

2 Die feit is: Ons moet tyd maak om God se Woord en ons Christelike publikasies te studeer – regtig te studeer. Ons verhouding met Jehovah en ons ewige lewe hang daarvan af! (1 Tim. 4:15). Party staan elke dag vroeg op en studeer wanneer hulle huis stil is en hulle helder kan dink omdat hulle uitgerus is. Ander sit ’n paar minute aan die einde van die dag opsy om geestelike voedsel in te neem en daaroor na te dink.

3-4. Watter aanpassings is gemaak in die hoeveelheid inligting wat voorsien word, en hoekom?

3 Jy stem ongetwyfeld saam dat dit belangrik is om tyd te maak om te studeer. Maar wat moet ons studeer? ‘Daar is so baie om te lees,’ sê jy dalk. ‘Ek kan nie byhou nie.’ Party kry dit reg om al die geestelike voorsienings te lees of te kyk, maar baie van ons broers sukkel om tyd te maak om dit te doen. Die Bestuursliggaam is bewus hiervan. Daarom is riglyne onlangs gegee om die hoeveelheid inligting te verminder wat gedruk en elektronies beskikbaar gestel word.

4 Byvoorbeeld, ons publiseer nie meer die Jaarboek van Jehovah se Getuies nie omdat daar so baie aanmoedigende ondervindinge beskikbaar is op jw.org® en op die maandelikse program van JW Broadcasting®. Die publieke uitgawe van Die Wagtoring en die Ontwaak! word nou net drie keer ’n jaar gepubliseer. Hierdie aanpassings is nie gemaak sodat ons meer tyd kan hê om ander dinge te doen nie. Dit is gemaak sodat ons meer aandag kan skenk aan “die belangriker dinge” (Fil. 1:10). Kom ons bespreek hoe jy prioriteite kan stel en hoe jy die meeste uit jou persoonlike Bybelstudie kan kry.

STEL PRIORITEITE

5-6. Watter publikasies moet ons goed studeer?

5 Watter publikasies moet deel van ons prioriteite wees? Ons moet beslis elke dag tyd maak om God se Woord te studeer. Die hoeveelheid hoofstukke wat nou op die gemeente se weeklikse Bybelleesrooster is, is verminder sodat ons meer tyd kan hê om na te dink oor wat ons gelees het en om navorsing te doen. Ons wil nie net die hoofstukke vir die week lees nie, maar ons wil hê dat die Bybel se boodskap ons harte moet raak en ons nader aan Jehovah moet bring. – Ps. 19:14.

6 Watter ander publikasies moet ons goed studeer? Ons wil natuurlik goed voorberei vir die Wagtoring-studie en die Gemeentelike Bybelstudie, sowel as vir die res van die vergadering in die week. Ons moet ook elke uitgawe van Die Wagtoring en Ontwaak! lees.

7. Moet ons mismoedig voel as ons nie kan byhou met alles wat op ons webwerf en op JW Broadcasting verskyn nie?

7 ‘Ja,’ sê jy dalk ‘maar wat van alles wat op ons webwerf, jw.org, sowel as op JW Broadcasting verskyn? Daar is so baie!’ Dink aan hierdie illustrasie: ’n Restaurant het ’n groot verskeidenheid kos by ’n buffetete. Die mense daar sal nooit van alles kan eet nie. Daarom kies hulle net ’n paar disse. Net so moet jy nie mismoedig voel as jy nie kan byhou met alles wat elektronies beskikbaar is nie. Lees of kyk wat jy kan. Kom ons bespreek nou wat dit behels om te studeer en hoe om die meeste uit jou studie te kry.

OM TE STUDEER IS WERK!

8. Wat kan ons doen wanneer ons Die Wagtoring studeer, en hoe kan dit jou help?

8 Om te studeer beteken dat ons iets met volgehoue en doelgerigte konsentrasie lees. Dit beteken nie dat ons die inligting net vinnig deurlees en die antwoorde onderstreep nie. Wanneer jy byvoorbeeld vir die Wagtoring-studie voorberei, moet jy eerstens die gedeelte “In hierdie artikel” lees. Kyk dan na die titel van die artikel, asook na die onderhofies en die hersieningsvrae. Daarna moet jy die artikel stadig en goed deurlees. Kyk na die hoofsin, wat gewoonlik die eerste sin van elke paragraaf is. Dit sal jou dikwels help om te sien watter punt in die paragraaf bespreek word. Terwyl jy die artikel lees, moet jy dink aan hoe elke paragraaf verband hou met die onderhofie en hoe dit inpas by die algemene tema van die artikel. Skryf enige onbekende woorde en punte neer waaroor jy verdere navorsing wil doen.

9. (a) Hoekom en hoe moet ons veral aandag skenk aan die tekste wanneer ons Die Wagtoring studeer? (b) Wat moet ons volgens Josua 1:8 nog doen behalwe om tekste te lees?

9 Die Wagtoring-studie is ’n studie van die Bybel. Daarom moet jy aandag skenk aan die tekste, veral aan dié wat gelees sal word wanneer die gemeente die artikel bespreek. Kyk of jy kan sien hoe die sleutelwoorde of -frases in die tekste die punt ondersteun wat in die paragraaf bespreek word. En dink na oor die tekste wat jy gelees het en hoe jy dit persoonlik in jou lewe kan toepas. – Lees Josua 1:8.

Ouers, leer julle kinders hoe om te studeer (Sien paragraaf 10) *

10. Hoekom moet ouers volgens Hebreërs 5:14 gedurende gesinsaanbidding tyd maak om hulle kinders te leer hoe om te studeer en navorsing te doen?

10 Ouers wil graag hê dat hulle kinders die weeklikse Gesinsaanbidding moet geniet. Hulle moet natuurlik altyd iets spesifieks in gedagte hê vir gesinsaanbidding, maar hulle hoef nie te voel dat hulle elke week spesiale aktiwiteite of opwindende projekte moet doen nie. Soms kan die tyd vir gesinsaanbidding gebruik word om na ’n maandelikse program op JW Broadcasting te kyk of om nou en dan ’n spesiale projek te doen, soos om ’n model van Noag se ark te maak, maar dit is ook belangrik dat kinders geleer word hoe om te studeer. Hulle moet byvoorbeeld leer hoe om vir die gemeentelike vergaderinge voor te berei of hoe om navorsing te doen oor ’n probleem wat by die skool ontstaan het. (Lees Hebreërs 5:14.) As hulle tyd maak om by die huis aan studieprojekte te werk, sal dit vir hulle makliker wees om by gemeentelike vergaderinge en byeenkomste te konsentreer wanneer daar dele is wat dalk nie ’n video insluit nie. Die kinders se ouderdom en persoonlikheid sal natuurlik bepaal hoe lank elke studiesessie is.

11. Hoekom is dit belangrik dat ons ons Bybelstudente leer hoe om betekenisvolle studie op hulle eie te doen?

11 Ons Bybelstudente moet ook leer hoe om te studeer. Wanneer hulle die Bybel begin studeer, maak dit ons baie bly as hulle selfs net die antwoorde onderstreep wanneer hulle vir hulle Bybelstudie of die vergaderinge voorberei. Maar ons moet ons Bybelstudente leer hoe om navorsing te doen en hoe om betekenisvolle studie op hulle eie te doen. Op hierdie manier sal hulle nie onmiddellik ander in die gemeente se hulp vra wanneer hulle probleme het nie; hulle sal eerder weet hoe om self navorsing in ons publikasies te doen om praktiese raad te kry.

STUDEER MET ’N DOEL

12. Watter doelwitte kan ons stel wanneer ons studeer?

12 As jy nie daarvan hou om te studeer nie, dink jy dalk dat dit nie moontlik is vir iemand om te leer om dit te geniet nie. Maar jy kan. Begin eers met kort studiesessies en maak dan die sessies geleidelik langer. Stel vir jou ’n doelwit. Ons hoofdoel is natuurlik om al hoe nader aan Jehovah te kom. ’n Doelwit wat ons onmiddellik kan bereik, is om navorsing te doen oor ’n vraag wat iemand gevra het of oor ’n probleem wat ons het.

13. (a) Verduidelik wat ’n jongmens kan doen om sy oortuigings by die skool te verdedig. (b) Hoe kan jy die raad in Kolossense 4:6 toepas?

13 Is jy byvoorbeeld ’n jongmens wat op skool is? Al jou klasmaats glo dalk in evolusie. Jy sal graag die Bybel se lering wil verdedig, maar miskien weet jy nie hoe om dit te doen nie. Nou is dalk ’n goeie tyd vir ’n studieprojek! Jou doelwit kan twee dinge insluit: (1) om jou eie geloof te versterk dat God alles geskep het en (2) om te leer hoe om die waarheid beter te verdedig (Rom. 1:20; 1 Pet. 3:15). Jy kan jou eers afvra: ‘Hoekom sê my klasmaats dat hulle in evolusie glo?’ Doen dan goeie navorsing hieroor in ons publikasies. Dit is dalk makliker as wat jy dink om jou oortuigings te verdedig. Baie mense glo net in evolusie omdat iemand vir wie hulle respek het, vir hulle gesê het dat dit waar is. As jy net een of twee punte kry wat jy kan deel, kan jy ’n bevredigende antwoord gee vir iemand wat opreg belangstel. – Lees Kolossense 4:6.

ONTWIKKEL JOU BELANGSTELLING

14-16. (a) Hoe kan jy meer leer oor ’n Bybelboek waarmee jy nie so bekend is nie? (b) Gebruik die teksverwysings om te verduidelik hoe jy die boek Amos beter kan verstaan. (Sien ook die venster “ Laat die Bybel lewe!”)

14 Sê nou dat ’n boek wat deur een van die sogenaamde klein profete geskryf is, by een van ons volgende vergaderinge studeer sal word, dalk een waarmee jy nie so bekend is nie. Die eerste stap is dalk om ’n belangstelling te ontwikkel in wat daardie profeet geskryf het. Hoe kan jy dit regkry?

15 Vra jou eers af: ‘Wat weet ek omtrent die skrywer van die boek? Wie was hy, waar het hy gebly, watter werk het hy gedoen?’ Die agtergrond van die skrywer kan jou ook help om te verstaan hoekom hy sekere woorde of illustrasies gebruik het. Terwyl jy die Bybel lees, moet jy op die uitkyk wees vir frases wat jou sal help om die persoonlikheid van die skrywer te verstaan.

16 Daarna sal dit goed wees om uit te vind wanneer die boek geskryf is. Jy kan dit maklik opsoek in die “Tabel van die Bybelboeke” agter in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif. Jy kan ook na die tabel van profete en konings kyk in ’n Studiegids vir God se Woord, Deel 3, bladsy 14-17. As jy ’n profetiese Bybelboek studeer, sal dit goed wees as jy uitvind hoe toestande was toe die boek geskryf is. Watter slegte gesindhede of gebruike moes die profeet mense help om te vermy? Wie was sy tydgenote? Jy sal dalk ook in ander Bybelboeke moet kyk om die omstandighede beter te verstaan. Byvoorbeeld, om ten volle te verstaan wat gebeur het toe die profeet Amos gelewe het, sal dit goed wees as jy verse lees in 2 Konings en 2 Kronieke, wat in die kruisverwysings in Amos 1:1 verskyn. En jy kan die boek lees wat Hosea geskryf het, wat dalk ’n tydgenoot van Amos was. Al hierdie ander Bybelboeke kan jou help om te verstaan hoe die lewe in Amos se tyd was. – 2 Kon. 14:25-28; 2 Kron. 26:1-15; Hos. 1:1-11; Amos 1:1.

LET OP DIE FYNER BESONDERHEDE

17-18. Gebruik die voorbeelde in die paragrawe of jou eie voorbeeld om te wys hoe dit ons kan help om persoonlike Bybelstudie meer te geniet as ons let op besonderhede wat dalk onbelangrik lyk.

17 Dit is goed om die Bybel te lees met die begeerte om meer te leer. Stel jou voor dat jy die 12de hoofstuk lees van Sagaria se profesie, wat die dood van die Messias voorspel (Sag. 12:10). In vers 12 lees jy dat “die familie van die huis van Natan” bitterlik sou huil oor die dood van die Messias. In plaas daarvan om dit net vinnig te lees, stop jy en vra: ‘Wat is die verband tussen die huis van Natan en die Messias? Waar kan ’n mens nog inligting kry?’ Dan doen jy ’n bietjie “speurwerk”. ’n Kruisverwysing lei jou na 2 Samuel 5:13, 14, waar jy leer dat Natan een van koning Dawid se seuns was. ’n Ander kruisverwysing, Lukas 3:23, 31, wys dat Jesus ’n direkte nakomeling van Natan is, wat ’n voorouer van Maria is. (Sien die publieke uitgawe van Die Wagtoring, nr. 3 2016, bl. 9, “Het jy geweet?”) Skielik maak dit jou nuuskierig! Jy weet dat daar voorspel is dat Jesus ’n nakomeling van Dawid sou wees (Matt. 22:42). Maar Dawid het meer as 20 seuns gehad. Beïndruk dit jou nie dat Sagaria spesifiek gesê het dat die huis van Natan sou treur oor die dood van Jesus nie?

18 Kyk na nog ’n voorbeeld. Ons lees in die eerste hoofstuk van Lukas dat die engel Gabriël Maria besoek het en die volgende gesê het oor die seun wat sy sou hê: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers” (Luk. 1:32, 33). Ons is dalk geneig om te fokus op die eerste deel van Gabriël se boodskap, naamlik dat Jesus die “Seun van die Allerhoogste” genoem sou word. Maar Gabriël het ook voorspel dat Jesus ‘as koning sou heers’. Daarom wonder ons dalk wat Maria gedink het toe Gabriël dit sê. Het sy gedink dat Gabriël bedoel dat Jesus koning Herodes, of een van sy opvolgers, as heerser van Israel sou vervang? As Jesus wel koning geword het, sou Maria die koningin-moeder wees, en haar gesin sou in die koninklike paleis bly. Maar dit sê nêrens dat Maria enige van hierdie dinge vir Gabriël genoem het nie, en ons lees ook nêrens dat Maria vir ’n spesiale plek in die Koninkryk gevra het, soos twee van Jesus se dissipels gedoen het nie (Matt. 20:20-23). Hierdie fyn besonderhede oortuig ons selfs meer dat Maria ’n baie nederige vrou was!

19-20. Wat is volgens Jakobus 1:22-25 en 4:8 ons doelwitte wanneer ons studeer?

19 Onthou, ons hoofdoelwit wanneer ons God se Woord en ons Christelike publikasies studeer, is om nader aan Jehovah te kom. Ons wil ook sien “watter soort mens” ons is en watter veranderinge ons moet maak om God se hart bly te maak. (Lees Jakobus 1:22-25; 4:8.) Daarom moet ons Jehovah vir sy gees vra aan die begin van elke studiesessie. Ons moet hom smeek om ons te help om ten volle by die inligting baat te vind en om onsself te sien soos hy ons sien.

20 Laat elkeen van ons soos die man van God wees wat deur die psalmis beskryf is: “Sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon. . . . Alles wat hy doen, sal suksesvol wees.” – Ps. 1:2, 3.

LIED 88 Maak u weë aan my bekend

^ par. 5 Jehovah gee ons ’n oorvloed inligting om te kyk, te lees en te studeer. Hierdie artikel sal jou help besluit wat om te studeer, en dit gee praktiese voorstelle oor hoe om die meeste uit jou studiesessies te kry.

^ par. 61 BESKRYWING VAN PRENT: Ouers wys hulle kinders hoe om vir die weeklikse Wagtoring-studie voor te berei.

^ par. 63 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer doen navorsing oor die Bybelskrywer Amos. Die prente in die agtergrond is ’n voorstelling van wat die broer in sy verbeelding sien terwyl hy die Bybelverslae lees en daaroor nadink.