Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 20

Vertroosting vir dié wat mishandel is

Vertroosting vir dié wat mishandel is

“Die God van alle vertroosting [vertroos] ons in al ons verdrukking.” – 2 KOR. 1:3, 4.

LIED 134 Kinders is ’n erfdeel van God

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Watter voorbeelde wys dat mense ’n natuurlike behoefte aan vertroosting het en dat hulle die vermoë het om ander te vertroos? (b) Hoe word party kinders seergemaak?

MENSE het ’n natuurlike behoefte aan vertroosting en het die wonderlike vermoë om ander te vertroos. Wanneer ’n kind byvoorbeeld sy knie nerfaf val terwyl hy speel, huil hy dalk en hardloop hy na Mamma of Pappa. Die ouers kan nie die seerplek gesond maak nie, maar hulle kan die kind vertroos. Hulle vra miskien wat gebeur het, vee sy trane af, troos hom, soen die seerplekkie en smeer miskien salf aan of sit ’n pleister op. Nie lank daarna nie hou die kind op huil en speel hy dalk weer verder. Later sal die seerplek gesond word.

2 Maar partykeer kry kinders op baie erger maniere seer. Party word seksueel gemolesteer. Dit gebeur dalk net een keer of dit hou dalk jare lank aan. In albei gevalle kan die molestering diep emosionele letsels veroorsaak. In party gevalle word die molesteerder gevang en gestraf. In ander gevalle lyk dit of die molesteerder daarmee wegkom. Maar al word hy dadelik gestraf, kan die skadelike gevolge van die molestering nog gesien word selfs wanneer die kind ’n volwassene is.

3. Wat is Jehovah se wil volgens 2 Korintiërs 1:3, 4, en watter vrae gaan ons bespreek?

3 Watter hulp is beskikbaar vir ’n Christen wat as kind gemolesteer is en nog steeds emosionele pyn ervaar? (Lees 2 Korintiërs 1:3, 4.) Ons kan duidelik sien dat dit Jehovah se wil is dat sy skape die liefde en vertroosting ontvang wat hulle nodig het. Kom ons bespreek die volgende drie vrae: (1) Hoekom het iemand wat as kind gemolesteer is, vertroosting nodig? (2) Wie kan hulle vertroos? (3) Op watter praktiese maniere kan ons hulle vertroos?

HOEKOM HET PARTY VERTROOSTING NODIG?

4-5. (a) Hoekom is dit belangrik om te besef dat kinders anders is as volwassenes? (b) Watter uitwerking kan molestering op ’n kind se vertroue in ander hê?

4 Party volwassenes wat as kind gemolesteer is, het dalk nog steeds vertroosting nodig selfs jare nadat dit gebeur het. Hoekom? Om dit te verstaan moet ons eers besef dat kinders baie anders is as volwassenes. Die uitwerking wat mishandeling op kinders het, is dikwels baie anders as die uitwerking wat dit dalk op volwassenes het. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

5 Kinders moet hegte bande hê met dié wat hulle grootmaak en vir hulle sorg en moet hierdie persone kan vertrou. Sulke bande laat kinders veilig voel en leer hulle om dié te vertrou wat vir hulle lief is (Ps. 22:9). Ongelukkig vind molestering meestal plaas in die huis waar die kind bly, en dit is dikwels familielede en familievriende wat kinders molesteer. Om ’n kind se vertroue op hierdie manier te verbreek, kan veroorsaak dat hy selfs jare later sukkel om ander te vertrou.

6. Hoekom is seksuele molestering wreed en skadelik?

6 Kinders kan nie hulleself beskerm nie, en seksuele molestering is wreed en skadelik. Dit kan groot skade doen as kinders blootgestel word aan seksuele dade voordat hulle fisies, emosioneel of verstandelik gereed is vir seks in die huwelik. Molestering kan hulle die verkeerde beskouing gee van seks, van hulleself en van enigeen wat na aan hulle wil wees.

7. (a) Hoekom is dit dalk maklik vir ’n molesteerder om ’n kind om die bos te lei, en hoe doen hy dit dalk? (b) Wat kan die gevolge wees van sulke leuens?

7 Kinders het nog nie heeltemal geleer hoe om dinge te ontleed, besluite te neem of om gevare te sien en te vermy nie (1 Kor. 13:11). Daarom is dit baie maklik vir molesteerders om kinders om die bos te lei. Hulle vertel kinders gevaarlike leuens, soos dat die molestering die kind se skuld is, dat dit geheim gehou moet word, dat niemand sal luister of omgee as die kind hulle daarvan vertel nie of dat dit normaal is vir grootmense en kinders om op hierdie manier te wys dat hulle vir mekaar lief is. Dit kan ’n slegte uitwerking hê op hoe die kind dink, en dit kan kinders jare neem om te besef dat hierdie dinge leuens is. Die kind word dalk groot met die idee dat hy of sy emosioneel gebroke en vuil is en nie ander se liefde en vertroosting verdien nie.

8. Hoekom kan ons daarvan seker wees dat Jehovah dié kan vertroos wat seergemaak is?

8 Dit verbaas ons dus nie dat dié wat seksueel gemolesteer is, jare later nog emosionele pyn kan ervaar nie. Dit is beslis ’n wrede misdaad! Hierdie wêreldwye probleem is ’n duidelike bewys dat ons in die laaste dae lewe, ’n tyd wanneer baie “sonder natuurlike geneentheid” is en “goddelose mense en bedrieërs . . . voortgaan van kwaad tot erger” (2 Tim. 3:1-5, 13). Satan se metodes is werklik goddeloos, en dit is baie hartseer wanneer mense dinge doen wat die Duiwel gelukkig maak. Maar Jehovah is baie sterker as Satan en sy knegte. Hy sien alles wat Satan doen. Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah heeltemal bewus is van die pyn wat ons ervaar en dat hy ons kan vertroos. Ons is so bly om Jehovah te dien, “die God van alle vertroosting . . . wat ons in al ons verdrukking vertroos, sodat ons dié wat in enige soort verdrukking is, kan vertroos deur die vertroosting waarmee ons self deur God vertroos word” (2 Kor. 1:3, 4). Maar wie gebruik Jehovah om ander te vertroos?

WIE KAN ANDER VERTROOS?

9. Wat sal Jehovah volgens koning Dawid se woorde in Psalm 27:10 doen vir dié wat deur hulle gesin verwaarloos is?

9 Kinders wat deur hulle ouers verwaarloos is of wat gemolesteer is deur iemand na aan hulle, het veral vertroosting nodig. Koning Dawid het geweet dat ons die vertroue kan hê dat Jehovah ons altyd sal vertroos. (Lees Psalm 27:10.) Dawid het geweet dat Jehovah dié sal inneem wat deur hulle geliefdes mishandel is. Hoe doen Jehovah dit? Hy gebruik sy getroue knegte. Ons mede-aanbidders van Jehovah is ons geestelike familie. Jesus het byvoorbeeld gesê dat dié wat Jehovah saam met hom aanbid het, sy broers, susters en ma is. – Matt. 12:48-50.

10. Hoe het die apostel Paulus sy werk as ’n ouer man beskryf?

10 Kom ons kyk na ’n voorbeeld van hoe die Christengemeente soos ’n familie is. Die apostel Paulus was ’n hardwerkende en getroue ouer man. Hy het ’n goeie voorbeeld gestel en is selfs geïnspireer om vir ander te sê om hom na te volg soos hy Christus nagevolg het (1 Kor. 11:1). Let op hoe Paulus sy werk as ’n ouer man beskryf het: “Ons het teergevoelig geword in julle midde, soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester” (1 Tess. 2:7). Vandag kan getroue ouer manne ook tere en liefdevolle woorde gebruik wanneer hulle ander uit die Bybel vertroos.

Volwasse Christensusters kan dikwels goeie vertroosting bied (Sien paragraaf 11) *

11. Hoe weet ons dat dit nie net die ouer manne is wat ander kan vertroos nie?

11 Is dit net ouer manne wat slagoffers van molestering kan vertroos? Nee. Dit is almal se verantwoordelikheid om aan te hou “om mekaar . . . te vertroos” (1 Tess. 4:18). Volwasse Christensusters kan baie doen om susters wat vertroosting nodig het, aan te moedig. Dit is gepas dat Jehovah homself vergelyk het met ’n ma wat haar seun vertroos (Jes. 66:13). Die Bybel gee voorbeelde van vrouens wat ander in moeilike tye vertroos het (Job 42:11). Dit maak Jehovah baie bly wanneer Christenvrouens vandag ander susters vertroos wat emosionele pyn ervaar. In party gevalle kan een of twee ouer manne, sonder dat ander daarvan weet, ’n volwasse suster vra of sy ’n suster kan help wat deur ’n moeilike tyd gaan. *

HOE KAN ONS ANDER VERTROOS?

12. Wat wil ons nie doen nie?

12 Ons wil mede-Christene natuurlik nie uitvra oor dinge wat hulle eerder privaat wil hou nie (1 Tess. 4:11). Maar wat kan ons doen vir dié wat hulp en vertroosting nodig het en wat dit wil hê? Kom ons kyk na vyf skriftuurlike maniere waarop ons ander kan vertroos.

13. Wat het Jehovah se engel volgens 1 Konings 19:5-8 vir Elia gedoen, en hoe kan ons die engel se voorbeeld navolg?

13 Bied praktiese hulp. Toe die profeet Elia vir sy lewe gevlug het, was hy so mismoedig dat hy wou sterf. Jehovah het ’n magtige engel gestuur om hierdie mismoedige man te besoek. Die engel het Elia op praktiese maniere gehelp. Hy het Elia ’n warm ete gegee en vir hom gesê om te eet. (Lees 1 Konings 19:5-8.) Hierdie verslag leer ons iets waardevols: Partykeer kan ’n eenvoudige liefdevolle daad iemand baie help. Dalk sal ’n ete, ’n geskenkie of ’n mooi kaartjie ’n mismoedige broer of suster daarvan verseker dat ons hulle liefhet en vir hulle omgee. As dit nie vir ons maklik is om met mense oor hulle gevoelens te praat nie, kan ons hulle nog steeds op praktiese maniere help.

14. Watter les kan ons leer uit die verslag oor Elia?

14 Laat die slagoffer veilig en op sy gemak voel. Ons kan nog iets leer uit die verslag oor Elia. Jehovah het die profeet deur middel van ’n wonderwerk die krag gegee om al die pad na die berg Horeb te gaan. Dalk het Elia veilig gevoel op hierdie verafgeleë plek waar Jehovah jare tevore ’n verbond met sy volk gemaak het. Dalk het hy gevoel dat hy uiteindelik ver weg is van dié wat hom wou doodmaak. Watter les kan ons hieruit leer? As ons slagoffers van molestering wil vertroos, moet ons hulle dalk eers help om veilig te voel. Ouer manne moet byvoorbeeld in gedagte hou dat ’n mismoedige suster dalk veiliger en gemakliker sal voel met ’n koppie tee in ’n ontspanne atmosfeer by die huis as in die tweede skool by die Koninkryksaal. Iemand anders sal dalk die teenoorgestelde voel.

Ons kan genesing voorsien deur geduldig te luister, uit die hart saam met die persoon te bid en vertroostende woorde te gebruik (Sien paragraaf 15-20) *

15-16. Wat beteken dit om ’n goeie luisteraar te wees?

15 Wees ’n goeie luisteraar. Die Bybel gee die volgende duidelike raad: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat” (Jak. 1:19). Is ons goeie luisteraars? Dalk dink ons dat ’n goeie luisteraar maar net na die ander persoon moet kyk sonder om enigiets te sê. Maar om ’n goeie luisteraar te wees behels meer as dit. Elia het byvoorbeeld uiteindelik vir Jehovah gesê hoe ontsteld hy is, en Jehovah het werklik geluister. Jehovah het verstaan dat Elia bang en alleen gevoel het en dat hy gedink het dat al sy werk niks beteken nie. Jehovah het hom liefdevol gehelp om daardie gevoelens te oorkom. Hy het gewys dat hy regtig na Elia geluister het. – 1 Kon. 19:9-11, 15-18.

16 Hoe kan ons wys dat ons simpatie en tere medelye het terwyl ons luister? Partykeer kan ’n paar taktvolle en liefdevolle woorde wys hoe ons voel. Jy kan dalk sê: “Ek is so jammer dat dit met jou gebeur het! Geen kind moet so behandel word nie!” Dalk kan jy ’n paar vrae vra om seker te maak dat jy verstaan wat die persoon bedoel. Miskien kan jy vra: “Kan jy my asseblief help om te verstaan wat jy bedoel?” of “Toe jy dit gesê het, het ek gedink dat . . . Het ek reg verstaan?” Sulke liefdevolle vrae kan die persoon daarvan verseker dat jy regtig luister en wil seker maak dat jy verstaan. – 1 Kor. 13:4, 7.

17. Hoekom moet ons geduldig wees en ‘stadig wees om te praat’?

17 Ons moet altyd ‘stadig wees om te praat’. Moenie die persoon in die rede val om hom raad te gee of om sy beskouing reg te stel nie. Wees geduldig! Toe Elia uiteindelik sy hart voor Jehovah uitgestort het, het hy homself sterk uitgedruk en gesê hoe ontsteld hy is. Later, nadat Jehovah Elia se geloof versterk het, het hy weer gesê hoe hy voel en presies dieselfde woorde gebruik (1 Kon. 19:9, 10, 13, 14). Wat is die les? Soms moet die slagoffer meer as een keer oor sy of haar gevoelens praat. Net soos Jehovah, wil ons geduldig luister. In plaas daarvan om vir hulle te sê hoe om die probleem op te los, betoon ons eerder simpatie en tere medelye. – 1 Pet. 3:8.

18. Hoe kan ons gebede dié vertroos wat emosionele pyn ervaar?

18 Bid uit die hart saam met die persoon wat emosionele pyn ervaar. Dié wat baie mismoedig is, voel dalk dat hulle nie kan bid nie. Die persoon voel dalk onwaardig, dat hy nie met Jehovah kan praat nie. As ons so iemand wil vertroos, kan ons dalk saam met die persoon bid en sy of haar naam gebruik. Ons kan vir Jehovah sê hoe lief ons en die gemeente vir hierdie persoon is. Ons kan Jehovah vra om hierdie kosbare skaap van hom te vertroos. Sulke gebede kan baie vertroostend wees. – Jak. 5:16.

19. Wat kan ons help om voorbereid te wees om iemand te vertroos?

19 Kies genesende en vertroostende woorde. Dink voordat jy praat. Jou woorde kan iemand seermaak as jy praat sonder om te dink. Liefdevolle woorde kan genees (Spr. 12:18). Vra Jehovah om jou te help om liefdevolle en vertroostende woorde te gebruik. Hou in gedagte dat geen woorde kragtiger is as Jehovah se woorde wat in die Bybel opgeteken is nie. – Heb. 4:12.

20. Wat glo party dalk as gevolg van slegte ondervindinge, en waarvan wil ons hulle verseker?

20 Party wat in die verlede gemolesteer is, glo dalk dat hulle vuil en niks werd is of dat niemand vir hulle lief is of selfs lief kan wees nie. Wat ’n verskriklike leuen! Gebruik die Bybel om hulle te herinner aan hoe kosbaar hulle werklik in Jehovah se oë is. (Sien die venster “ Vertroosting uit die Bybel”.) Onthou hoe ’n engel die profeet Daniël liefdevol versterk het toe hy swak en mismoedig gevoel het. Jehovah wou hê dat hierdie dierbare man moes weet dat hy kosbaar is (Dan. 10:2, 11, 19). Ons broers en susters wat emosionele pyn ervaar, is net so kosbaar vir Jehovah!

21. Wat sal in die toekoms met alle onberouvolle oortreders gebeur, maar wat moet ons almal intussen doen?

21 Wanneer ons ander vertroos, herinner ons hulle aan Jehovah se liefde. En ons moet nooit vergeet dat Jehovah ook ’n God van geregtigheid is nie. Jehovah weet van elke persoon wat mishandel is, selfs al weet niemand anders daarvan nie. Jehovah sien alles, en hy sal sorg dat onberouvolle oortreders gestraf word (Num. 14:18). Maar intussen moet ons alles doen wat ons kan om te wys dat ons lief is vir dié wat mishandel is. En hoe vertroostend is dit om te weet dat Jehovah dié wat deur Satan en sy wêreld mishandel is, heeltemal sal genees! Binnekort sal daar nooit weer aan hierdie dinge wat soveel pyn veroorsaak, gedink word nie. – Jes. 65:17.

LIED 109 Toon intense liefde uit die hart

^ par. 5 Persone wat as kind seksueel gemolesteer is, ondervind dalk selfs jare later baie uitdagings. Hierdie artikel sal ons help om te verstaan hoekom dit die geval is. Ons sal ook bespreek wie hierdie persone kan vertroos. Laastens sal ons kyk op watter praktiese maniere ons hulle kan vertroos.

^ par. 11 Iemand wat gemolesteer is, moet self besluit of hy of sy professionele hulp nodig het.

^ par. 76 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Volwasse suster vertroos ’n suster wat emosionele pyn ervaar.

^ par. 78 BESKRYWING VAN PRENT: Twee ouer manne besoek die suster wat deur ’n moeilike tyd gaan. Sy het die volwasse suster gevra om ook daar te wees.