Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 19

“Die koning van die noorde” in die tyd van die einde

“Die koning van die noorde” in die tyd van die einde

“In die tyd van die einde sal die koning van die suide in ’n stotery met hom [die koning van die noorde] betrokke raak.” – DAN. 11:40.

LIED 150 Soek God, van wie jou redding kom

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat help Bybelprofesieë ons om te weet?

 WAT gaan binnekort met Jehovah se volk gebeur? Ons hoef nie te raai nie. Die Bybel sê watter belangrike dinge binnekort sal gebeur wat ons almal sal raak. Een spesifieke profesie help ons om te sien wat party van die magtigste regerings op aarde sal doen. Hierdie profesie is in Daniël hoofstuk 11. Dit beskryf twee konings wat teen mekaar baklei, en hierdie konings word die koning van die noorde en die koning van die suide genoem. ’n Groot deel van hierdie profesie is alreeds vervul, so ons kan daarvan seker wees dat die res van hierdie profesie ook vervul sal word.

2. Watter feite moet ons in gedagte hou volgens Genesis 3:15 en Openbaring 11:7 en 12:17 wanneer ons Daniël se profesie studeer?

2 Om die profesie in Daniël hoofstuk 11 te verstaan, moet ons in gedagte hou dat dit net na heersers en regerings verwys wat ’n direkte invloed op God se volk gehad het. En alhoewel daar min Getuies in vergelyking met al die mense in die wêreld is, word God se volk dikwels deur hierdie regerings vervolg. Hoekom? Want Satan en sy hele stelsel se hoofdoel is om dié wat Jehovah en Jesus dien, te vernietig. (Lees Genesis 3:15 en Openbaring 11:7; 12:17.) Daniël se profesie moet ook ooreenstem met ander profesieë in God se Woord. Om die waarheid te sê, ons kan net Daniël se profesie reg verstaan as ons dit vergelyk met ander dele in die Bybel.

3. Wat sal ons in hierdie en in die volgende artikel bespreek?

3 Met hierdie punte in gedagte sal ons nou Daniël 11:25-39 bespreek. Ons sal sien wie die koning van die noorde en die koning van die suide was vanaf 1870 tot 1991. En ons sal sien hoekom ons goeie rede het om die manier aan te pas hoe ons ’n deel van hierdie profesie verstaan. In die volgende artikel sal ons Daniël 11:40–12:1 bespreek, en ons sal dit duidelik maak wat hierdie deel van die profesie vir ons sê oor die tydperk van 1991 tot die oorlog van Armageddon. Terwyl jy hierdie twee artikels studeer, sal dit jou help om na die tabel te kyk “Konings wat met mekaar kompeteer in die tyd van die einde”. Maar eers moet ons weet wie die twee konings in hierdie profesie is.

HOE KAN ONS WEET WIE DIE KONING VAN DIE NOORDE EN DIE KONING VAN DIE SUIDE IS?

4. Watter drie dinge sal ons help om te weet wie die koning van die noorde en die koning van die suide is?

4 Die titels “koning van die noorde” en “koning van die suide” is oorspronklik gegee aan die politieke magte wat noord en suid van die letterlike land van Israel was. Hoekom sê ons so? Let op wat die engel wat die boodskap aan Daniël gegee het, gesê het: “Ek het gekom om jou te laat verstaan wat aan die einde van die dae met jou volk sal gebeur” (Dan. 10:14). Tot op Pinkster 33 HJ was die letterlike nasie Israel God se volk. Maar van toe af het Jehovah dit duidelik gemaak dat Jesus se getroue dissipels Sy volk is. So die grootste deel van die profesie in Daniël hoofstuk 11 gaan oor Christus se dissipels, en nie oor die nasie Israel nie (Hand. 2:1-4; Rom. 9:6-8; Gal. 6:15, 16). En verskillende heersers of regerings het op verskillende tye die koning van die noorde en die koning van die suide geword. Maar al is dit die geval, is daar sekere dinge oor hierdie konings wat dieselfde gebly het. Eerstens, die konings het of oor ’n land regeer waar baie van God se volk gebly het, of hulle het God se volk aangeval. Tweedens, hoe hulle God se volk behandel het, het gewys dat hulle die ware God, Jehovah, haat. En derdens, die twee konings het met mekaar gekompeteer vir mag.

5. Was daar ’n koning van die noorde en ’n koning van die suide tussen die jaar 100 en die jaar 1870? Verduidelik.

5 Die een of ander tyd ná die jaar 100 het meer en meer valse Christene in die ware Christengemeente ingekom. Hulle het valse godsdiensidees vir die mense geleer en die waarhede in God se Woord weggesteek. Van daardie tyd af tot die laat 1800’s was daar geen georganiseerde groep van God se volk op die aarde nie. Valse Christene het soos onkruid in ’n veld vermeerder. As gevolg hiervan was dit baie moeilik om te weet wie die ware Christene was (Matt. 13:36-43). Hoekom is dit ’n belangrike feit? Dit wys dat wat ons oor die koning van die noorde en die koning van die suide lees, nie na konings of regerings kan verwys wat tussen die jaar 100 en die jaar 1870 regeer het nie. Daar was geen georganiseerde groep van God se volk wat deur hierdie konings aangeval kon word nie. * Maar kort ná die jaar 1870 was dit weer moontlik om te sien wie die koning van die noorde en die koning van die suide is. Maar hoekom sê ons so?

6. Wanneer het God se volk weer begin om ’n georganiseerde groep te word? Verduidelik.

6 Vanaf 1870 het God se volk weer begin om ’n georganiseerde groep te word. In daardie jaar het Charles T. Russell en ander saam met hom ’n Bybelstudiegroep begin. Broer Russell en sy vriende het as die voorspelde boodskapper opgetree wat ‘’n weg voorberei’ het voordat die Messiaanse Koninkryk opgerig is (Mal. 3:1). Daar was weer ’n georganiseerde groep wat Jehovah op die regte manier dien! Was daar enige regerings gedurende daardie tyd wat ’n groot invloed op God se volk sou hê? Kom ons kyk na die volgende feite.

WIE IS DIE KONING VAN DIE SUIDE?

7. Wie was die koning van die suide tot diep in die Eerste Wêreldoorlog?

7 Teen 1870 het Brittanje oor meer plekke as enige ander land regeer en dit het die sterkste leërmag in die hele wêreld gehad. Brittanje word beskryf as ’n klein horing wat drie ander horings oorwin het – Frankryk, Spanje en Nederland (Dan. 7:7, 8). En dit was die koning van die suide tot diep in die Eerste Wêreldoorlog. Gedurende hierdie tyd het die Verenigde State van Amerika die rykste land in die wêreld geword en het hulle saam met Brittanje begin werk.

8. Wie is die koning van die suide gedurende die laaste dae?

8 Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Brittanje en die Verenigde State saam geveg en baie magtig geword. In daardie tyd het Brittanje en die Verenigde State sterk bande gevorm en saam het hulle die magtigste nasies in die wêreld geword. Soos Daniël voorspel het, het hierdie koning “’n uiters groot en magtige leërmag” bymekaargemaak (Dan. 11:25). Brittanje en die Verenigde State was nog altyd die koning van die suide gedurende die laaste dae. * Maar wie het die koning van die noorde geword?

WIE IS DIE KONING VAN DIE NOORDE?

9. Wanneer het die koning van die noorde weer verskyn, en hoe is Daniël 11:25 vervul?

9 In 1871, die jaar nadat Russell en sy vriende hulle Bybelstudiegroep begin het, het die koning van die noorde weer verskyn. In daardie jaar het Otto von Bismarck ’n hele paar gebiede verenig, en saam het hulle ’n magtige nasie geword wat Duitsland genoem is. Wilhelm I het die koning van hierdie nasie geword en het Bismarck gekies om die leier van hierdie regering te wees. * Later het Duitsland oor party lande in Afrika en die Stille Oseaan begin regeer en Duitsland het probeer om magtiger as Brittanje te word. (Lees Daniël 11:25.) Duitsland het ’n groot leërmag bymekaargemaak en die tweede grootste vloot in die wêreld opgebou. Duitsland het hierdie leërmag gedurende die Eerste Wêreldoorlog gebruik om teen sy vyande te veg.

10. Hoe is Daniël 11:25b, 26 vervul?

10 Daniël het toe voorspel wat met Duitsland en sy leërmag sal gebeur. Die profesie sê dat die koning van die noorde ‘nie sal bly staan nie’. Hoekom nie? “Want hulle sal planne teen hom beraam. En dié wat sy kos eet, sal sy ondergang veroorsaak” (Dan. 11:25b, 26a). In Daniël se tyd het dié wat “die koning se kos” geëet het, koninklike beamptes ingesluit wat “in die diens van die koning” was (Dan 1:5). Na wie verwys die profesie hier? Dit verwys na magtige mense in die Duitse regering, generaals en militêre amptenare wat baie na aan die koning gewerk het. As gevolg van wat hierdie magtige mense gedoen het, het die koning sy mag verloor en het ’n nuwe vorm van regering in Duitsland begin. * Die profesie het nie net die val van hierdie ryk voorspel nie, maar het ook gesê wat die uiteinde sal wees van die oorlog met die koning van die suide. Dit praat van die koning van die noorde wanneer dit sê: “Sy leërmag sal weggevee word, en baie sal doodgemaak word” (Dan. 11:26b). In die Eerste Wêreldoorlog, net soos voorspel is, is Duitsland se leërmag “weggevee” en baie is “doodgemaak”. Meer mense is in daardie oorlog doodgemaak as in enige ander oorlog voor dit.

11. Wat het die koning van die noorde en die koning van die suide gedoen?

11 Daniël 11:27, 28 beskryf die tyd net voor die Eerste Wêreldoorlog. Dit sê dat die koning van die noorde en die koning van die suide “by een tafel [sal] sit en vir mekaar leuens [sal] vertel”. Dit sê ook dat die koning van die noorde “baie goedere” bymekaar sal maak. Weer eens is dit wat gebeur het. Duitsland en Brittanje het vir mekaar gesê dat hulle vrede wil hê, maar toe hulle in 1914 teen mekaar begin veg het, was dit duidelik dat hulle vir mekaar gelieg het. En teen 1914 het Duitsland die tweede rykste land in die wêreld geword. Toe Duitsland teen die koning van die suide geveg het, het hy verloor, net soos Daniël 11:29 en die eerste deel van vers 30 voorspel het.

DIE KONINGS VEG TEEN GOD SE VOLK

12. Wat het die koning van die noorde en die koning van die suide in die Eerste Wêreldoorlog gedoen?

12 Vanaf 1914 het die twee konings se aanvalle teen mekaar en teen God se volk al hoe erger geword. Byvoorbeeld, in die Eerste Wêreldoorlog het die Duitse regering en die Britse regering God se knegte vervolg wat geweier het om in die oorlog te veg. En die Amerikaanse regering het die broers wat die leiding in die predikingswerk geneem het, in die tronk gegooi. Hierdie vervolging het die profesie in Openbaring 11:7-10 vervul.

13. Wat het die koning van die noorde in die 1930’s en in die Tweede Wêreldoorlog gedoen?

13 Toe, in die 1930’s en veral in die Tweede Wêreldoorlog, het die koning van die noorde God se volk wreed aangeval. Toe die Nazi-party beheer oor Duitsland geneem het, het Hitler en sy volgelinge die werk van God se volk verbied. Die koning van die noorde het honderde van Jehovah se Getuies doodgemaak en het duisende ander na konsentrasiekampe gestuur. Daniël het hierdie gebeure voorspel. Die koning van die noorde het dit reggekry om ‘die heiligdom te ontheilig en die gereelde offerande te verwyder’ deur die predikingswerk van Jehovah se Getuies te verbied (Dan. 11:30b, 31a). Sy leier, Hitler, het selfs belowe dat hy al Jehovah se Getuies in Duitsland sou doodmaak.

’N NUWE KONING VAN DIE NOORDE

14. Wie het die koning van die noorde ná die Tweede Wêreldoorlog geword? Verduidelik.

14 Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Sowjetunie die koning van die noorde geword. Die Sowjetunie het oor groot areas begin regeer wat voorheen aan Duitsland behoort het. Net soos die wrede Nazi-regering, het die Sowjetunie almal vervolg wat die aanbidding van die ware God eerste in hulle lewe gestel het.

15. Wat het die koning van die noorde gedoen nadat die Tweede Wêreldoorlog geëindig het?

15 Kort ná die Tweede Wêreldoorlog het die nuwe koning van die noorde, die Sowjetunie en die lande wat hom ondersteun het, ook God se volk begin aanval. Openbaring 12:15-17 het die vervolging van God se volk met ’n rivier vergelyk. In ooreenstemming met hierdie profesie het die koning van die noorde die predikingswerk verbied en duisende van God se volk geforseer om na Siberië te trek. So vandat die laaste dae begin het, het die koning van die noorde God se volk al hoe meer vervolg, maar hulle het dit nog nooit reggekry om hulle werk te stop nie. *

16. Hoe het die Sowjetunie Daniël 11:37-39 vervul?

16 Lees Daniël 11:37-39. Hoe het die koning van die noorde “geen respek . . . vir die God van sy vaders” gehad nie? Die Sowjetunie wou van godsdienste ontslae raak, en daarom het hy probeer om hulle mag weg te neem. Om dit reg te kry, het die Sowjetregering alreeds in 1918 ’n bevel gegee wat die grondslag gelê het vir ateïsme om in skole geleer te word. Hoe het die koning van die noorde “eer [gegee] aan die god van vestings”? Die Sowjetunie het ’n ontsaglike hoeveelheid geld gespandeer om sy leërmag bymekaar te maak en het duisende kernwapens gebou om homself magtiger te maak. Die koning van die noorde en die koning van die suide het uiteindelik genoeg kragtige wapens bymekaargemaak om miljarde mense dood te maak!

TWEE VYANDE WERK SAAM

17. Wat is “die walglike ding wat verwoesting veroorsaak”?

17 Die koning van die noorde het saam met die koning van die suide gewerk om een belangrike ding te doen. Hulle het “die walglike ding wat verwoesting veroorsaak” opgerig (Dan. 11:31). Hierdie “walglike ding” is die Verenigde Nasies.

18. Hoekom word die Verenigde Nasies as ’n “walglike ding” beskryf?

18 Die Verenigde Nasies word as ’n “walglike ding” beskryf omdat dit sê dat dit wêreldvrede kan bring – iets wat net God se Koninkryk kan doen. En die profesie sê dat die walglike ding “verwoesting veroorsaak” omdat die Verenigde Nasies valse godsdiens sal aanval en vernietig. – Sien die tabel “Konings wat met mekaar kompeteer in die tyd van die einde”.

HOEKOM MOET ONS HIERDIE DINGE WEET?

19-20. (a) Hoekom moet ons hierdie dinge weet? (b) Watter vraag sal ons in die volgende artikel beantwoord?

19 Ons moet hierdie dinge weet omdat dit bewys dat Daniël se profesie oor die koning van die noorde en die koning van die suide vanaf 1870 tot 1991 vervul is. So ons kan die vertroue hê dat die res van die profesie ook vervul sal word.

20 In 1991 het die Sowjetunie ineengestort. So wie is nou die koning van die noorde? Die volgende artikel sal hierdie vraag beantwoord.

LIED 128 Volhard tot die einde toe

^ par. 5 Ons sien bewyse dat Daniël se profesie oor “die koning van die noorde” en “die koning van die suide” nog steeds vervul word. Hoe kan ons hiervan seker wees? En hoekom moet ons die details van hierdie profesie verstaan?

^ par. 5 Vir die redes wat hier genoem word, sal ons nie meer sê dat die Romeinse keiser Aurelianus (270-275 HJ) ’n “koning van die noorde” was nie of dat koningin Zenobia (267-272 HJ) ’n “koning van die suide” was nie. Dit verander wat ons gesê het in hoofstuk 13 en 14 van die boek Gee ag op Daniël se profesie!

^ par. 9 In 1890 het keiser Wilhelm II vir Bismarck gedwing om te bedank.

^ par. 10 Hulle het baie dinge gedoen wat veroorsaak het dat die regering gou sy mag verloor. Hulle het byvoorbeeld opgehou om die koning te help, hulle het geheime inligting oor die oorlog aan ander vertel en hulle het die koning geforseer om op te hou regeer.

^ par. 15 Soos Daniël 11:34 wys, het die koning van die noorde vir ’n kort rukkie opgehou om Christene te vervolg. Dit het byvoorbeeld gebeur toe die Sowjetunie in 1991 ineengestort het.