Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 22

Wys dat jy waardering het vir geskenke wat jy nie kan sien nie

Wys dat jy waardering het vir geskenke wat jy nie kan sien nie

“Hou [jou] oë . . . op die dinge wat nie gesien word nie. Want die dinge wat gesien word, is tydelik, maar die dinge wat nie gesien word nie, is ewig.” – 2 KOR. 4:18.

LIED 45 Die bepeinsing van my hart

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat het Jesus oor hemelse skatte gesê?

 NIE alle skatte, of kosbare dinge, kan gesien word nie. Om die waarheid te sê, die kosbaarste dinge kan nie gesien word nie. In Jesus se Bergpredikasie het hy gepraat van hemelse skatte wat baie beter as materiële besittings is. Toe het hy gesê: “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” (Matt. 6:19-21). Wanneer iets vir ons kosbaar is, sal ons hart ons beweeg om dit te probeer kry. Ons maak “skatte in die hemel” bymekaar deur ’n goeie naam by God te maak. Jesus het verduidelik dat sulke skatte nooit vernietig of gesteel kan word nie.

2. (a) Waarop moet ons fokus volgens Paulus se woorde in 2 Korintiërs 4:17, 18? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Die apostel Paulus moedig ons aan om ons ‘oë op die dinge te hou wat nie gesien word nie’. (Lees 2 Korintiërs 4:17, 18.) Hierdie dinge wat ons nie kan sien nie, sluit al die kosbare dinge in wat ons in God se nuwe wêreld sal hê. In hierdie artikel sal ons vier kosbare dinge bespreek wat ons nie kan sien nie wat ons nou al kan hê – ’n vriendskap met God, die geskenk van gebed, die hulp van God se heilige gees en die ondersteuning wat Jehovah, Jesus en die engele ons in die bediening gee. Ons sal ook bespreek hoe ons kan wys dat ons hierdie kosbare dinge wat ons nie kan sien nie, waardeer.

VRIENDSKAP MET JEHOVAH

3. Wat is die kosbaarste geskenk wat ons nie kan sien nie, en wat maak dit vir ons moontlik om dit te hê?

3 Die kosbaarste geskenk wat ons nie kan sien nie, is vriendskap met Jehovah God (Ps. 25:14). Hoe is dit vir God moontlik om vriende te maak met onvolmaakte mense en om nog steeds heeltemal heilig te bly? Hy kan dit doen omdat die losprysoffer van Jesus “die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29). Selfs voordat Jesus gesterf het, het Jehovah geweet dat Jesus tot die dood getrou sou bly sodat hy die mensdom kon red. Dit is hoekom God vriende kon word met mense wat gelewe het voordat Christus gesterf het. – Rom. 3:25.

4. Gee ’n paar voorbeelde van manne wat voor Jesus gelewe het en wat vriende van God geword het.

4 Kyk na ’n paar manne wat voor Jesus gelewe het en wat vriende van God geword het. Abraham was ’n man wat baie sterk geloof gehad het. Meer as 1 000 jaar nadat Abraham gesterf het, het Jehovah hom “my vriend” genoem (Jes. 41:8). Dit beteken dat selfs nadat iemand gesterf het, sien Jehovah hom nog steeds as sy vriend. Abraham lewe nog steeds in Jehovah se geheue (Luk. 20:37, 38). Job is nog ’n voorbeeld. Toe al die engele in die hemel bymekaargekom het, het Jehovah met vertroue oor Job gepraat. Jehovah het gesê: “Hy lei ’n rein lewe en is ’n man van integriteit. Hy vrees God en vermy wat sleg is” (Job 1:6-8). En hoe het Jehovah oor Daniël gevoel, wat hom 80 jaar lank getrou gedien het in ’n land waar mense nie Jehovah aanbid het nie? Drie keer het engele hierdie bejaarde man verseker dat hy “’n baie geliefde man” in God se oë is (Dan. 9:23; 10:11, 19). Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah uitsien na die dag wanneer hy sy geliefde vriende wat gesterf het, sal opwek. – Job 14:15.

Wat is ’n paar maniere hoe ons ons waardering kan wys vir geskenke wat ons nie kan sien nie? (Sien paragraaf 5) *

5. Wat moet ons doen as ons goeie vriende van Jehovah wil word?

5 Hoeveel onvolmaakte mense is vandag goeie vriende van Jehovah? Daar is miljoene. Ons weet dit, want so baie manne, vroue en kinders regoor die wêreld wys deur dit wat hulle doen dat hulle vriende van God wil wees. Jehovah “is ’n goeie vriend van die wat reg lewe” (Spr. 3:32). Hierdie vriendskap is moontlik omdat hulle geloof het in Jesus se losprysoffer. As gevolg van die losprysoffer kan ons Jehovah se vriende word en ons aan hom toewy en gedoop word. Wanneer ons hierdie belangrike stappe neem, word ons deel van die miljoene toegewyde gedoopte Christene wat “goeie vriende” is van die belangrikste Persoon in die heelal!

6. Hoe kan ons wys dat ons ons vriendskap met God waardeer?

6 Hoe kan ons wys dat ons ons vriendskap met God waardeer? Net soos Abraham en Job wat meer as honderd jaar lank getrou aan God gebly het, moet ons getrou bly – maak nie saak hoe lank ons Jehovah al in hierdie ou wêreld dien nie. Net soos Daniël moet ons wys dat ons vriendskap met God belangriker is as ons eie lewe (Dan. 6:7, 10, 16, 22). Met Jehovah se hulp kan ons enige probleme hanteer en so ons vriendskap met hom behou. – Fil. 4:13.

DIE GESKENK VAN GEBED

7. (a) Hoe voel Jehovah oor ons gebede volgens Spreuke 15:8? (b) Hoe beantwoord Jehovah ons gebede?

7 Nog ’n geskenk wat ons nie kan sien nie, is gebed. Goeie vriende hou daarvan om hulle gedagtes en gevoelens met mekaar te deel. Is dit hoe ons vriendskap met Jehovah is? Ja! Jehovah praat met ons deur middel van sy Woord, en in sy Woord wys hy vir ons hoe hy voel en wat hy dink. Ons praat met hom in gebed, en wanneer ons bid, kan ons vir hom sê wat ons diepste gedagtes en gevoelens is. Jehovah geniet dit om na ons gebede te luister. (Lees Spreuke 15:8.) As ’n liefdevolle Vriend luister Jehovah nie net na ons gebede nie, maar hy beantwoord dit ook. Soms word ons gebede vinnig beantwoord. En ander kere moet ons miskien aanhou om oor ’n saak te bid. Maar ons kan nog steeds die vertroue hê dat die antwoord op die regte tyd en op die beste manier sal kom. God se antwoord sal dalk nie wees wat ons verwag het nie. Byvoorbeeld, eerder as om die probleem weg te neem, sal hy dalk vir ons die wysheid en krag gee om dit te “verduur”. – 1 Kor. 10:13.

(Sien paragraaf 8) *

8. Hoe kan ons wys dat ons die geskenk van gebed waardeer?

8 Hoe kan ons wys dat ons hierdie kosbare geskenk van gebed waardeer? Ons wys dit deur gehoorsaam te wees aan Jehovah se raad om ‘sonder ophou te bid’ (1 Tess. 5:17). Jehovah forseer ons nie om te bid nie. Hy respekteer eerder ons vrye wil en moedig ons aan om ‘vol te hou met gebed’ (Rom. 12:12). So ons kan wys dat ons die geskenk van gebed waardeer deur gereeld deur die dag te bid. Wanneer ons bid, moet ons natuurlik ook vir Jehovah dankie sê en hom loof. – Ps. 145:2, 3.

9. Hoe voel een broer oor gebed, en hoe voel jy daaroor?

9 Hoe langer ons Jehovah dien en sien hoe hy ons gebede beantwoord, hoe groter moet ons waardering vir gebed word. Kyk byvoorbeeld na ’n broer met die naam Chris, wat al 47 jaar lank in voltydse diens is. Hy sê: “Ek geniet dit om vroeg in die oggend op te staan sodat ek kan bid. Dit is ’n wonderlike gevoel om met Jehovah te praat terwyl die son opkom en alles pragtig is. Dit beweeg my om vir hom dankie te sê vir al die geskenke wat hy vir ons gee, insluitende die voorreg om te bid. Dan nadat ek aan die einde van die dag gebid het, is dit ’n wonderlike gevoel om met ’n skoon gewete te gaan slaap.”

DIE GESKENK VAN HEILIGE GEES

10. Hoekom moet God se heilige gees vir ons kosbaar wees?

10 God se heilige gees is nog ’n geskenk wat ons nie kan sien nie wat vir ons kosbaar moet wees. Jesus het ons aangemoedig om aan te hou om vir heilige gees te bid (Luk. 11:9, 13). Jehovah gebruik sy heilige gees om vir ons “krag [te gee] wat bo die normale is” (2 Kor. 4:7; Hand. 1:8). Met die hulp van God se gees kan ons enige probleme hanteer.

(Sien paragraaf 11) *

11. Hoe kan heilige gees ons help?

11 Heilige gees kan ons help om die toewysings wat ons in God se diens het, te doen. God se gees kan die vermoëns wat ons alreeds het, verbeter. Dit help ons om ons Christelike verantwoordelikhede na te kom. Ons weet dat die goeie resultate wat ons in God se diens het, net moontlik is omdat sy gees ons help.

12. Ons kan vir heilige gees bid om ons te help om wat te doen, volgens Psalm 139:23, 24?

12 Nog ’n manier hoe ons kan wys dat ons God se heilige gees waardeer, is om Jehovah te vra om ons te help om te sien of daar enige verkeerde gedagtes of begeertes in ons hart is. (Lees Psalm 139:23, 24.) As ons dit doen, kan Jehovah sy gees gebruik om ons te help sien of ons enige verkeerde gedagtes of begeertes het. En as ons sien dat ons ’n verkeerde gedagte of begeerte het, moet ons vra vir God se gees om ons die krag te gee om teen dit te stry. As ons dit doen, sal Jehovah sien dat ons niks wil doen wat sal veroorsaak dat hy nie meer sy heilige gees sal gebruik om ons te help nie. – Ef. 4:30.

13. Hoe kan ons meer waardering hê vir heilige gees?

13 Ons kan meer waardering vir heilige gees kry wanneer ons nadink oor wat dit in ons dag doen. Voordat Jesus hemel toe gegaan het, het hy vir sy dissipels gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Hierdie woorde word op ’n wonderlike manier vervul. Met die hulp van die heilige gees het omtrent agt en ’n half miljoen mense regoor die wêreld aanbidders van Jehovah geword. Ons geniet ook ’n geestelike paradys omdat God se gees ons help om pragtige eienskappe te hê soos liefde, vreugde, vrede, geduld, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing. Saam vorm hierdie eienskappe “die vrug van die gees” (Gal. 5:22, 23). Heilige gees is ’n baie kosbare geskenk!

DIE ONDERSTEUNING WAT JEHOVAH, JESUS EN DIE ENGELE ONS IN DIE BEDIENING GEE

14. Watter ondersteuning het ons wat ons nie kan sien nie wanneer ons velddiens doen?

14 Ons het die kosbare geskenk om saam met Jehovah, Jesus en die engele te werk (2 Kor. 6:1). Ons werk saam met hulle wanneer ons velddiens doen. Paulus het van homself en van dié wat hierdie werk doen, gesê: “Ons is God se medewerkers” (1 Kor. 3:9). Wanneer ons aan die Christelike bediening deelneem, is ons ook Jesus se medewerkers. Onthou, nadat Jesus vir sy volgelinge gesê het om “dissipels van mense van al die nasies” te maak, het hy gesê: “Ek is met julle” (Matt. 28:19, 20). En wat van die engele? Ons is baie dankbaar dat die engele ons lei wanneer ons “ewige goeie nuus [bekend maak] aan dié wat op die aarde woon”! – Op. 14:6.

15. Noem ’n voorbeeld in die Bybel wat wys watter belangrike rol Jehovah in ons bediening speel.

15 Die ondersteuning wat ons uit die hemel kry, help ons om wat te doen? Terwyl ons die Koninkryksboodskap saai, val party saadjies op harte wat op die goeie nuus reageer en begin dit groei (Matt. 13:18, 23). Wie laat hierdie saadjies van waarheid groei en vrug dra? Jesus verduidelik dat niemand sy volgeling kan word tensy “die Vader . . . hom trek nie” (Joh. 6:44). Die Bybel gee ’n spesifieke voorbeeld hiervan. Dink aan die tyd toe Paulus vir ’n groep vrouens buite die stap Filippi getuig het. Kyk wat die Bybel oor een van hulle sê, ’n vrou met die naam Lidia: “Jehovah het haar hart wyd oopgemaak om aandag te skenk aan die dinge wat Paulus gesê het” (Hand. 16:13-15). Net soos Lidia is miljoene ander deur Jehovah getrek.

16. Wie moet die eer kry vir enige sukses wat ons in die bediening het?

16 Wie is regtig verantwoordelik vir enige sukses wat ons in die bediening het? Paulus het hierdie vraag beantwoord toe hy die volgende woorde oor die gemeente in Korinte geskryf het: “Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God laat dit groei. Die een wat plant en die een wat natgooi, verdien dus nie die eer nie, maar eerder God wat dit laat groei” (1 Kor. 3:6, 7). Net soos Paulus moet ons altyd die eer aan Jehovah gee vir enige sukses wat ons in die bediening het.

17. Hoe kan ons wys dat ons dit waardeer om saam met God, Christus en die engele te werk?

17 Hoe kan ons wys dat ons die voorreg waardeer om saam met God, Christus en die engele te werk? Ons doen dit deur alles te doen wat ons kan om die goeie nuus met ander te deel. Daar is baie maniere om dit te doen, soos om “in die openbaar en van huis tot huis” te preek (Hand. 20:20). Baie geniet dit ook om informeel te getuig. Wanneer hulle ’n vreemdeling ontmoet, groet hulle hom vriendelik en probeer hulle om ’n gesprek te begin. As die persoon met hulle wil gesels, probeer hulle ’n geleentheid skep om oor die goeie nuus van die Koninkryk te praat.

(Sien paragraaf 18) *

18-19. (a) Hoe gooi ons saadjies van waarheid nat? (b) Gee ’n voorbeeld wat wys hoe Jehovah ’n Bybelstudent gehelp het.

18 As “God se medewerkers” moet ons nie net saadjies van waarheid plant nie, maar ons moet dit ook natgooi. Wanneer ’n persoon wys dat hy belangstel, wil ons ons bes doen om na daardie persoon terug te gaan om met hom te praat of om te reël dat iemand anders daardie persoon kontak met die doel om ’n Bybelstudie te begin. Dit maak ons bly wanneer ons sien hoe Jehovah die Bybelstudent help om die manier hoe hy dink en voel te verander.

19 Kyk na die voorbeeld van Raphalalani, ’n toordokter in Suid-Afrika. Hy het baie gehou van wat hy geleer het uit sy studie van die Bybel. Maar dit was vir hom baie moeilik om te aanvaar wat God se Woord sê oor kommunikasie met dooie voorouers (Deut. 18:10-12). Hy het toegelaat dat God sy denke geleidelik verander. En later het hy besluit om nie meer ’n toordokter te wees nie, selfs al was dit sy enigste werk. Raphalalani, wat nou 60 jaar oud is, sê: “Ek is baie dankbaar vir Jehovah se Getuies wat my op so baie maniere gehelp het, soos om my te help om ’n werk te kry. Maar ek is veral dankbaar teenoor Jehovah omdat hy my gehelp het om my lewe te verander sodat ek nou aan die bediening kan deelneem as een van sy gedoopte Getuies.”

20. Wat is jy vasbeslote om te doen?

20 In hierdie artikel het ons vier geskenke bespreek wat ons nie kan sien nie. Die kosbaarste geskenk is die voorreg om Jehovah as ons beste Vriend te hê. Wanneer ons goeie vriende van Jehovah word, kan ons die voordele geniet van die ander geskenke wat ons nie kan sien nie – ons kan met hom in gebed praat, ons kan die hulp van sy heilige gees ondervind en ons kan die ondersteuning van Jehovah, Jesus en die engele in ons bediening ontvang. Mag ons vasbeslote wees om ons waardering te vergroot vir hierdie geskenke wat ons nie kan sien nie. En mag ons nooit vir Jehovah ophou dankie sê dat hy so ’n wonderlike Vriend is nie.

LIED 145 God se belofte van die Paradys

^ par. 5 In die vorige artikel het ons na ’n paar geskenke gekyk wat God ons gegee het wat ons kan sien. Hierdie artikel gaan fokus op geskenke wat ons nie kan sien nie en hoe ons kan wys dat ons dit waardeer. Dit sal ons ook help om meer waardering vir Jehovah te hê, die Een wat hierdie kosbare dinge vir ons gee.

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENT: (1) Terwyl ’n suster na Jehovah se skepping kyk, dink sy na oor haar vriendskap met hom.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: (2) Dieselfde suster vra Jehovah om haar die krag te gee om vir iemand te getuig.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENT: (3) Heilige gees help die suster om die moed te hê om informeel te getuig.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENT: (4) Die suster hou ’n Bybelstudie met die persoon vir wie sy informeel getuig het. Die suster preek en maak dissipels met die ondersteuning van die engele.