Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 20

Bly positief oor jou bediening

Bly positief oor jou bediening

Saai jou saad en moenie jou hand laat rus nie.’ – PRED. 11:6.

LIED 70 Soek dié wat dit waardig is

IN HIERDIE ARTIKEL *

Nadat Jesus hemel toe gegaan het, preek sy dissipels ywerig in Jerusalem en op baie ander plekke (Sien paragraaf 1)

1. Watter voorbeeld het Jesus vir sy volgelinge gestel, en wat het hulle gedoen? (Sien prent op voorblad.)

REGDEUR Jesus se bediening het hy positief oor sy bediening gebly, en hy wil hê dat sy volgelinge ook positief oor hulle bediening moet bly (Joh. 4:35, 36). Terwyl Jesus saam met sy dissipels was, het hulle ywerig gepreek (Luk. 10:1, 5-11, 17). Maar toe Jesus gearresteer en doodgemaak is, het die dissipels ’n ruk lank hulle begeerte verloor om te preek (Joh. 16:32). Ná Jesus se opstanding het hy hulle aangemoedig om op die predikingswerk te fokus. En nadat hy hemel toe gegaan het, het hulle met soveel ywer gepreek dat hulle vyande gekla het: “Kyk! julle het julle leringe deur die hele Jerusalem versprei.” – Hand. 5:28.

2. Hoe het Jehovah die predikingswerk geseën?

2 Jesus het die vroeë Christene uit die hemel met die predikingswerk gehelp, en Jehovah het hulle geseën. Daarom het baie mense hulle boodskap aanvaar. Byvoorbeeld, op Pinkster 33 HJ is omtrent 3 000 mense gedoop (Hand. 2:41). En die aantal dissipels het verskriklik vinnig gegroei (Hand. 6:7). Maar Jesus het gesê dat daar in die laaste dae selfs meer mense sou wees wat die goeie nuus aanvaar. – Joh. 14:12; Hand. 1:8.

3-4. Hoekom is die predikingswerk vir party moeilik, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Ons almal probeer om positief oor die bediening te wees. In party lande is dit maklik. Hoekom? Omdat daar so baie mense is wat die Bybel wil studeer dat party van hulle op ’n waglys gesit moet word totdat ’n Getuie beskikbaar is om met hulle te studeer. Maar in ander dele van die wêreld is die predikingswerk nie so maklik nie. Mense is min by die huis, en dié wat wel by die huis is, stel miskien nie belang in die Bybel nie.

4 As jy in ’n gebied bly waar die predikingswerk moeilik is, kan die voorstelle in hierdie artikel jou moontlik help. Ons sal kyk na wat party gedoen het om met meer mense in die bediening in kontak te kom. En ons sal ook kyk na redes hoekom ons positief kan bly, al stel mense nie in ons boodskap belang nie.

BLY POSITIEF WANNEER DIT MOEILIK IS OM MENSE TE VIND

5. Watter uitdagings het baie Getuies?

5 Vir baie Getuies word dit al hoe moeiliker om mense by die huis te kry. Party verkondigers het baie sekuriteitskomplekse in hulle gebied. Daar is dalk ’n sekuriteitswag wat niemand inlaat wat nie toestemming het nie. Ander verkondigers kan maklik van huis tot huis stap, maar hulle kry min mense by die huis. En ander verkondigers preek in die platteland of in afgeleë gebiede waar daar min mense is. Die verkondigers moet miskien ver reis om net met een persoon te probeer praat – en dalk is daardie persoon nie eers by die huis nie! As ons sulke uitdagings het, moet ons nie opgee nie. Wat kan ons doen om hierdie uitdagings te oorkom en met meer mense in kontak te kom?

6. Hoe is verkondigers soos vissermanne?

6 Jesus het die predikingswerk vergelyk met die werk van ’n visserman (Mark. 1:17). Party vissermanne werk dalk dae lank sonder om enige vis te vang. Maar hulle gee nie op nie – hulle verander die manier waarop hulle visvang. Hulle probeer om vis te vang op ander tye, op ander plekke of met ander metodes. Ons kan dieselfde in ons bediening doen. Kom ons kyk na die volgende voorstelle.

Wanneer jy in gebiede preek waar jy sukkel om mense in die hande te kry, moet jy ander tye, ander plekke of ander metodes probeer (Sien paragraaf 7-10) *

7. Wat sal dalk gebeur as ons op verskillende tye preek?

7 Probeer om op ’n ander tyd te preek. Ons sal meer mense by die huis kry as ons preek wanneer hulle heel moontlik by die huis sal wees. Almal moet mos die een of ander tyd huis toe kom! Baie broers en susters het gevind dat hulle meer mense in die middae en in die aande by die huis kry. En mense is dalk meer ontspanne en gesels makliker met ons op daardie tye. Of miskien kan jy doen wat ’n ouerman met die naam David doen. Nadat hy en sy velddiensmaat ’n ruk lank in die gebied gewerk het, gaan hulle terug na die huise waar hulle die eerste keer niemand by die huis gekry het nie. Hy sê: “Ek is verbaas om te sien hoe baie mense by die huis is wanneer ons die tweede keer teruggaan.” *

Wanneer jy in gebiede preek waar jy sukkel om mense in die hande te kry, moet jy ander tye probeer (Sien paragraaf 7-8)

8. Hoe kan ons Prediker 11:6 in ons bediening toepas?

8 Ons moenie opgee nie. Ons temateks herinner ons aan die gesindheid wat ons moet hê. (Lees Prediker 11:6.) David, wat vroeër genoem is, het nie opgegee nie. By een huis het hy uiteindelik iemand gekry nadat hy ’n paar keer niemand by die huis gekry het nie. Die man het na David geluister en het gesê: “Ek bly al omtrent agt jaar lank hier en dit is die eerste keer dat ’n Getuie na my huis toe kom.” David sê: “Ek het gevind dat mense baie keer na ons boodskap luister wanneer ons hulle uiteindelik by die huis kry.”

Wanneer jy in gebiede preek waar jy sukkel om mense in die hande te kry, moet jy ander plekke probeer (Sien paragraaf 9)

9. Hoe het party Getuies in kontak gekom met mense wat moeilik is om in die hande te kry?

9 Probeer om op ’n ander plek te preek. Party verkondigers het op ’n ander plek begin preek sodat hulle mense kon bereik wat moeilik is om in die hande te kry. Straatwerk en die gebruik van lektuurtrollies is byvoorbeeld goeie maniere om mense in die hande te kry wat in groot woonstelblokke bly waar die Getuies nie toegelaat word nie. Hierdie metodes maak dit vir die Getuies moontlik om met mense te praat wat in sulke woonstelblokke bly. En baie verkondigers het gevind dat mense makliker gesels of lektuur aanvaar wanneer hulle in parke, by markte en in besigheidsgebiede is. Floiran, ’n kringopsiener in Bolivia, sê: “Ons gaan gewoonlik tussen eenuur en drieuur in die middag na die markies en besighede toe, wanneer dit nie so besig is nie. Ons het gewoonlik lekker gesprekke en begin selfs Bybelstudies.”

Wanneer jy in gebiede preek waar jy sukkel om mense in die hande te kry, moet jy ander metodes probeer (Sien paragraaf 10)

10. Watter metodes kan jy gebruik om met mense in kontak te kom?

10 Probeer ’n ander metode. Sê nou jy het ’n hele paar keer probeer om iemand in die hande te kry. Jy het op verskillende tye na hulle huis toe gegaan, maar niemand by die huis gekry nie. Is daar ander maniere om in kontak te kom met so ’n persoon? Katarína sê: “Ek skryf briewe vir mense wat ek nooit by die huis kry nie. Ek skryf neer wat ek persoonlik vir hulle sou gesê het.” Wat leer ons uit haar ondervinding? Probeer om op die een of ander manier in kontak te kom met almal in jou gebied.

BLY POSITIEF WANNEER MENSE NIE BELANGSTEL NIE

11. Hoekom stel party mense nie in ons boodskap belang nie?

11 Party mense stel nie in ons boodskap belang nie. Hulle dink nie dat hulle God of die Bybel nodig het nie. Hulle glo nie in God nie omdat daar so baie probleme in die wêreld is. Hulle stel nie in die Bybel belang nie, want hulle sien hoe skynheilig die godsdiensleiers is wat sê dat hulle volgens daardie boek lewe. Ander se lewe draai om hulle werk, familie of persoonlike probleme, en hulle dink nie dat die Bybel hulle kan help nie. Hoe kan ons ons vreugde behou wanneer mense nie in ons boodskap belangstel nie?

12. Hoe kan Filippense 2:4 ons in die bediening help?

12 Wys dat jy in mense belangstel. Baie mense wat eers nie belanggestel het nie, het later na ons boodskap geluister toe hulle sien dat ons regtig in hulle belangstel. (Lees Filippense 2:4.) Byvoorbeeld, David, wat vroeër genoem is, sê: “As iemand sê dat hulle nie belangstel nie, sit ons ons Bybel en lektuur weg en sê ons: ‘Ek wil graag weet hoekom jy so voel.’” Mense weet wanneer iemand vir hulle omgee. Hulle vergeet dalk wat ons vir hulle gesê het, maar hulle sal heel moontlik onthou hoe ons hulle laat voel het. Selfs al laat mense ons nie toe om met hulle te praat nie, kan ons deur ons gesindheid en gesigsuitdrukking wys dat ons vir hulle omgee.

13. Hoe kan ons ons boodskap aanpas volgens elke persoon se omstandighede?

13 Ons wys dat ons in mense belangstel wanneer ons ons boodskap aanpas volgens hulle omstandighede. Byvoorbeeld, sien ons enige tekens dat daar kinders in die huis is? Die ouers sal miskien belangstel in die Bybel se raad oor hoe om kinders groot te maak of hoe om ’n gelukkige gesinslewe te hê. Het hulle baie slotte op hulle deur? Dan sal ons miskien besluit om te praat oor misdaad en hoe dit baie mense bang maak. Die huisbewoner sal dalk bly wees om te hoor dat misdaad permanent opgelos sal word. Probeer om altyd vir die persoon te wys hoe die Bybel se raad hulle persoonlik kan help. Katarína, wat vroeër genoem is, sê: “Ek dink aan hoe die waarheid my lewe al verbeter het.” En daarom praat Katarína met oortuiging, en die mense met wie sy praat kan dit natuurlik aanvoel.

14. Volgens die beginsel in Spreuke 27:17, hoe kan velddiensmaats mekaar help?

14 Laat ander jou help. In die eerste eeu het Paulus vir Timoteus sy onderrigmetodes geleer en hy het Timoteus aangemoedig om daardie metodes te gebruik om ander te help (1 Kor. 4:17). Soos Timoteus, kan ons by ervare verkondigers in ons gemeente leer. (Lees Spreuke 27:17.) Kyk na die voorbeeld van ’n broer met die naam Shawn. Hy het ’n ruk lank in ’n gebied in die platteland gepionier waar die meeste mense tevrede was met hulle godsdiens. Hoe het hy sy vreugde behou? Hy sê: “Ek het altyd probeer om saam met ’n velddiensmaat te werk. Terwyl ons van huis tot huis gestap het, het ons mekaar probeer help om te verbeter as onderrigters. Ons het byvoorbeeld gepraat oor wat die huisbewoner gesê het en hoe ons gereageer het. Dan het ons bespreek wat ons die volgende keer kan sê as ons weer in so ’n situasie is.”

15. Hoekom moet ons Jehovah vra om ons te help in die bediening?

15 Vra Jehovah om jou te help. Elke keer wanneer jy velddiens doen, moet jy Jehovah vra om jou te help. Ons het sy kragtige heilige gees nodig in alles wat ons doen (Ps. 127:1; Luk. 11:13). Wees spesifiek wanneer jy Jehovah vra om jou te help. Jy kan hom byvoorbeeld vra om jou te help om iemand te vind wat graag oor hom wil leer en bereid is om te luister. Dan moet jy in ooreenstemming met jou gebed optree deur te preek vir almal wat jy ontmoet.

16. Hoekom moet ons persoonlike studie doen as ons suksesvol wil wees in ons bediening?

16 Maak tyd vir persoonlike studie. God se Woord sê: “Bewys [aan julleself] wat die goeie en aanvaarbare en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:2). Hoe meer oortuig ons is dat ons die waarheid oor God het, hoe duideliker sal dit wees dat ons regtig glo wat ons sê. Katarína, wat vroeër genoem is, sê: “Ek het ’n tydjie terug besef dat ek my geloof in ’n paar basiese Bybelleringe moet versterk. Daarom het ek gekyk na die bewyse dat daar ’n Skepper is, dat die Bybel regtig God se Woord is en dat God vandag ’n organisasie het wat hom verteenwoordig. En ek het hierdie bewyse in diepte gestudeer.” Katarína sê dat haar persoonlike studie haar geloof versterk het en haar gehelp het om meer vreugde in die bediening te hê.

HOEKOM ONS POSITIEF BLY IN ONS BEDIENING

17. Hoekom het Jesus positief gebly in sy bediening?

17 Jesus het positief gebly en het aanhou preek, al het party mense nie in sy boodskap belanggestel nie. Hoekom? Hy het geweet hoe dringend mense die waarheid nodig gehad het, en hy wou soveel mense as moontlik die geleentheid gee om die Koninkryksboodskap te aanvaar. Hy het geweet dat party wat eers nie belanggestel het nie, later wel sou luister. Kyk na wat in sy eie familie gebeur het. Gedurende Jesus se drie en ’n half jaar lange bediening het nie een van sy broers sy dissipels geword nie (Joh. 7:5). Maar ná sy opstanding het hulle Christene geword. – Hand. 1:14.

18. Hoekom hou ons aan om te preek?

18 Ons weet nie wie uiteindelik een van Jehovah se knegte sal word nie. Party vat langer as ander om die waarheid te leer. Selfs mense wat nie na ons boodskap wil luister nie, sien ons goeie gedrag en positiewe gesindheid, en hulle sal dalk uiteindelik God begin verheerlik. – 1 Pet. 2:12.

19. Wat leer 1 Korintiërs 3:6, 7 ons oor ons bediening?

19 Terwyl ons plant en natgooi, moet ons onthou dat dit God is wat dit laat groei. (Lees 1 Korintiërs 3:6, 7.) Getahun, ’n broer wat in Etiopië dien, sê: “Vir meer as 20 jaar was ek die enigste Getuie in ’n gebied wat nie baie gedek word nie. Maar nou is daar 14 verkondigers hier. Dertien van hulle is al gedoop, insluitende my vrou en drie kinders. Daar is gewoonlik omtrent 30 mense wat die vergaderinge bywoon.” Getahun is bly dat hy aanhou preek het terwyl hy geduldig op Jehovah gewag het om opregte mense na Sy organisasie toe te trek. – Joh. 6:44.

20. Hoekom kan die predikingswerk met ’n reddingswerk vergelyk word?

20 Vir Jehovah is elke mens se lewe kosbaar. Hy gee ons die voorreg om saam met sy Seun te werk om mense van al die nasies in te samel voordat die einde kom (Hag. 2:7). Ons predikingswerk kan met ’n reddingswerk vergelyk word. En ons is soos ’n reddingspan wat gestuur is om mense te red wat in ’n myn vasgevang is. Al word net ’n paar mynwerkers gered, is die werk van almal op die reddingspan waardevol. Dieselfde kan van ons bediening gesê word. Ons weet nie hoeveel mense nog uit Satan se wêreld gered sal word nie, maar Jehovah kan enige een van ons gebruik om hulle te help. Andreas, wat in Bolivia bly, sê: “Ek sien elke persoon wat Bybelwaarheid aanvaar en gedoop word as die resultaat van ’n spanpoging.” Mag ons ook net so positief bly oor ons bediening. As ons dit doen, sal Jehovah ons seën en sal ons bediening vir ons vreugde gee.

LIED 66 Verkondig die goeie nuus

^ par. 5 Hoe kan ons positief bly oor ons bediening, al kry ons nie baie mense by die huis nie of al stel baie mense nie belang in ons boodskap nie? Hierdie artikel sal ons voorstelle gee wat ons kan help om positief te bly.

^ par. 7 Wanneer verkondigers aan enige vorm van die bediening deelneem wat in hierdie artikel bespreek word, moet hulle dit op ’n manier doen wat in ooreenstemming is met wette oor databeskerming.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: (van bo na onder): ’n Getroude paartjie preek in ’n gebied waar dit moeilik is om mense by die huis te kry. Die eerste huisbewoner is by die werk, die tweede een is by ’n kliniek en die derde een is by ’n winkel. Hulle kry die eerste huisbewoner later in die dag by die huis. Hulle ontmoet die tweede een terwyl hulle openbare getuieniswerk naby die kliniek doen. En hulle maak kontak met die derde huisbewoner deur vir haar te bel.