Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 21

Jehovah sal jou krag gee

Jehovah sal jou krag gee

“Wanneer ek swak is, dan is ek sterk.” – 2 KOR. 12:10.

LIED 73 Gee ons vrymoedigheid, Heer

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Watter uitdagings het baie Getuies?

DIE apostel Paulus het Timoteus aangemoedig om sy bes in die predikingswerk te doen (2 Tim. 4:5). En ons almal volg Paulus se raad en doen ons bes in God se diens. Maar dit is nie altyd maklik nie. Baie van ons broers en susters het moed nodig om velddiens te doen (2 Tim. 4:2). Dink byvoorbeeld aan ons broers wat in lande bly waar ons werk beperk of selfs verbied is. Hulle doen velddiens, al weet hulle dat hulle dalk hulle vryheid kan verloor!

2 Daar is baie probleme wat Jehovah se volk mismoedig kan maak. Byvoorbeeld, baie van hulle moet lang ure werk net om kos op die tafel te sit. Hulle wil graag meer in die bediening doen, maar teen die einde van die week voel hulle uitgeput. Ander kan baie min in Jehovah se diens doen as gevolg van ernstige siekte of die ouderdom. Party van hulle kan nie eers die huis verlaat nie. En ander moet heeltyd stry teen gevoelens van waardeloosheid. Mary, * ’n suster wat in die Midde-Ooste bly, sê: “Ek moet so hard stry teen negatiewe gevoelens dat ek uiteindelik emosioneel uitgeput voel. En dan voel ek skuldig omdat ek as gevolg daarvan nie so baie in die bediening kan doen nie.”

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Maak nie saak wat ons omstandighede is nie, Jehovah kan ons die krag gee om ons persoonlike probleme te hanteer en om soveel as moontlik in sy diens te kan doen as wat ons omstandighede toelaat. Voordat ons bespreek hoe Jehovah ons kan help, gaan ons bespreek hoe Jehovah Paulus en Timoteus die krag gegee het om hulle bediening uit te voer, al het hulle uitdagings gehad.

KRAG OM DIE PREDIKINGSWERK TE DOEN

4. Watter probleme het Paulus gehad?

4 Paulus het baie probleme gehad. Hy het veral krag nodig gehad toe hy geslaan is, toe hy met klippe gegooi is en toe hy in die tronk gegooi is (2 Kor. 11:23-25). Paulus was nie skaam om te erken dat hy soms teen negatiewe gevoelens gestry het nie (Rom. 7:18, 19, 24). Hy het ook die een of ander “doring in die vlees” gehad, en hy wou baie graag hê dat God dit moes wegneem. – 2 Kor. 12:7, 8.

Wat het dit vir Paulus moontlik gemaak om sy bediening uit te voer? (Sien paragraaf 5-6) *

5. Wat het Paulus alles gedoen, al het hy probleme gehad?

5 Jehovah het Paulus die krag gegee om sy bediening uit te voer, al het hy probleme gehad. Kyk na wat Paulus alles gedoen het. Toe hy in Rome as ’n gevangene onder huisarres was, het hy ywerig vir Joodse leiers en moontlik ook vir regeringsamptenare gepreek (Hand. 28:17; Fil. 4:21, 22). Hy het ook vir baie in die pretoriaanse wag gepreek, en hy het vir almal getuig wat hom besoek het (Hand. 28:30, 31; Fil. 1:13). Gedurende daardie tyd, het God Paulus gebruik om briewe te skryf wat ware Christene tot vandag toe nog help. En Paulus se voorbeeld het die gemeente in Rome versterk, en daarom het sy broers “al hoe meer moed [gehad] om die woord van God sonder vrees te verkondig” (Fil. 1:14). Paulus kon nie altyd soveel doen as wat hy wou nie, maar hy het die beste gemaak van sy situasie, en dit het “bygedra . . . tot die verspreiding van die goeie nuus”. – Fil. 1:12.

6. Wat het dit vir Paulus moontlik gemaak om sy bediening uit te voer, volgens 2 Korintiërs 12:9, 10?

6 Paulus het besef dat hy niks in Jehovah se diens in sy eie krag kon doen nie, maar dat Jehovah vir hom die krag gegee het daarvoor. Hy het erken dat God se krag ‘in swakheid volmaak word’. (Lees 2 Korintiërs 12:9, 10.) Jehovah het Paulus deur middel van sy heilige gees gehelp om sy bediening ten volle uit te voer – al was hy vervolg, in die tronk gegooi en al het hy ander probleme ondervind.

Wat het dit vir Timoteus moontlik gemaak om sy bediening uit te voer? (Sien paragraaf 7) *

7. Watter probleme het Timoteus dalk gehad wat dit vir hom moeilik gemaak het om sy bediening uit te voer?

7 Timoteus, Paulus se jonger vriend, moes ook op God se krag staatmaak om sy bediening uit te voer. Timoteus het saam met Paulus op lang sendingreise gegaan. En Paulus het hom ook op ander reise gestuur om die gemeentes te besoek en aan te moedig (1 Kor. 4:17). Timoteus het dalk gevoel dat hy onbekwaam was. Dit is miskien hoekom Paulus vir hom gesê het: “Laat niemand ooit op jou neersien omdat jy jonk is nie” (1 Tim. 4:12). En op daardie stadium het Timoteus sy eie doring in die vlees gehad – hy het “dikwels siek” geword (1 Tim. 5:23). Maar Timoteus het geweet dat Jehovah se heilige gees hom die krag sou gee wat hy nodig het om die goeie nuus te verkondig en om sy broers te dien. – 2 Tim. 1:7.

KRAG OM GETROU TE BLY

8. Hoe gee Jehovah vandag vir sy knegte krag?

8 Vandag gee Jehovah vir sy knegte “krag wat bo die normale is” sodat hulle hom getrou kan bly dien (2 Kor. 4:7). Kom ons kyk na vier dinge wat Jehovah vir ons gee om ons te versterk en om ons te help om getrou aan hom te bly: gebed, die Bybel, assosiasie met ons broers en susters en ons bediening.

Jehovah gee ons krag deur middel van gebed (Sien paragraaf 9)

9. Hoe kan gebed ons help?

9 Krag deur middel van gebed. In Efesiërs 6:18 het Paulus ons aangemoedig om “by elke geleentheid” te bid. Dan sal God ons krag gee. Jonnie, wat in Bolivia bly, het gesien hoe God hom krag gee toe hy deur ’n baie moeilike tyd gegaan het. Sy vrou en al twee sy ouers het op dieselfde tyd baie siek geword. Dit was vir Jonnie baie moeilik om vir hulle al drie te sorg. Sy ma het gesterf, en sy pa en sy vrou het lank gevat om gesond te word. Jonnie sê: “Wat my altyd gehelp het wanneer ek onder verskriklike druk was, was om spesifiek in my gebede te wees.” Jehovah het Jonnie die krag gegee om te volhard. Ronald, ’n ouerman in Bolivia, het uitgevind dat sy ma kanker gehad het, en sy het ’n maand later gesterf. Wat het hom gehelp? Hy sê: “Gebed gee my die geleentheid om my hart uit te stort en om vir Jehovah presies te sê hoe ek voel. Ek weet dat hy my beter as enige iemand anders verstaan, selfs beter as wat ek myself verstaan.” Soms weet ons nie watter kant toe nie en weet ons nie waarvoor om te bid nie. Maar Jehovah wil graag hê dat ons met hom moet praat, selfs wanneer dit moeilik is om vir hom te sê hoe ons voel. – Rom. 8:26, 27.

Jehovah gee ons krag deur middel van die Bybel (Sien paragraaf 10)

10. Volgens Hebreërs 4:12, hoekom is dit belangrik om die Bybel te lees en daaroor na te dink?

10 Krag deur middel van die Bybel. Net soos Paulus, kan ons op die Skrif vertrou vir krag en vertroosting (Rom. 15:4). Wanneer ons God se Woord lees en daaroor nadink, kan Jehovah sy heilige gees gebruik om ons te help om te sien hoe die Skrif ons in ons situasie kan help. (Lees Hebreërs 4:12.) Ronald, wat vroeër genoem is, sê: “Ek is bly dat ek die gewoonte ontwikkel het om ’n gedeelte van die Bybel elke aand te lees. Ek dink baie na oor Jehovah se eienskappe en oor hoeveel hy vir sy knegte omgee. Dit help my om nuwe krag te kry.”

11. Hoe het die Bybel ’n suster krag gegee nadat haar man gesterf het?

11 Wanneer ons nadink oor God se Woord, kan dit ons help om positief te wees. Kyk na hoe die Bybel ’n suster gehelp het nadat haar man gesterf het. ’n Ouerman het vir haar gesê dat sy goeie raad in die boek Job kan kry. Sy het eers vir Job gekritiseer oor sy verkeerde denke. Terwyl sy gelees het, het sy in haar verbeelding gesê: “Job! Moenie so negatief wees nie!” Maar toe het sy besef dat sy net so negatief is. Dit het haar gehelp om meer positief te wees en om die pyn te hanteer nadat haar man gesterf het.

Jehovah gee ons krag deur middel van ons broers en susters (Sien paragraaf 12)

12. Hoe gebruik Jehovah ons broers en susters om vir ons krag te gee?

12 Krag deur middel van ons broers en susters. Nog ’n manier hoe Jehovah ons krag gee, is deur middel van ons broers en susters. Paulus het geskryf dat hy sy broers en susters baie graag wou sien sodat hulle “mekaar kan aanmoedig” (Rom. 1:11, 12). Mary, wat vroeër genoem is, waardeer sulke assosiasie. Sy sê: “Jehovah het broers en susters gebruik wat nie eers van my situasie geweet het nie. Hulle het iets aanmoedigends gesê en ’n kaartjie gestuur, en dit was presies wat ek nodig gehad het. Dit help ook om met ander susters te gaan praat wat dieselfde soort probleme gehad het en om uit hulle ondervindinge te leer. En die ouermanne laat my altyd voel dat ek waardeer word in die gemeente.”

13. Hoe kan ons mekaar by die vergaderinge versterk?

13 Een van die beste plekke om mekaar aan te moedig, is by die vergaderinge. By die vergaderinge kan ons die inisiatief neem om ander te versterk deur hulle te verseker dat ons hulle liefhet en hulle waardeer. Byvoorbeeld, voor ’n vergadering het ’n ouerman met die naam Peter vir ’n suster wie se man nie ’n Getuie is nie, gesê: “Ek kan nie vir jou sê hoe aanmoedigend dit is om jou hier te sien nie. Jy is altyd hier met jou ses kinders, en julle is altyd gereed om kommentare te gee.” Sy het trane in haar oë gekry en gesê: “Jy het geen idee hoeveel ek daardie woorde vandag nodig gehad het nie.”

Jehovah gee ons krag deur middel van die bediening (Sien paragraaf 14)

14. Hoe gee die bediening ons krag?

14 Krag deur middel van die bediening. Wanneer ons met mense oor Bybelwaarhede praat, voel ons verfris en kry ons nuwe krag, of mense nou na ons boodskap luister of nie (Spr. 11:25). ’n Suster met die naam Stacy het gesien hoe die bediening ’n mens krag kan gee. Toe iemand in haar familie uitgesit is, was sy verskriklik hartseer en het sy die heeltyd vir haarself gevra: ‘Kon ek dalk meer gedoen het om te help?’ Dit was al waaraan sy kon dink. Wat het haar gehelp om daardie situasie te hanteer? Die bediening! Terwyl sy velddiens gedoen het, het sy begin fokus op die mense in haar gebied wat haar hulp nodig gehad het. Sy sê: “Gedurende daardie tyd het Jehovah my ’n Bybelstudent gegee wat vinnig vordering gemaak het. Dit het my baie aangemoedig. Wat my die meeste help, is om velddiens te gaan doen.”

15. Wat leer jy uit Mary se ondervinding?

15 Party voel dalk dat hulle nie so baie in die bediening kan doen nie as gevolg van hulle omstandighede. As jy so voel, moet jy onthou dat dit Jehovah gelukkig maak as jy jou beste gee. Kyk weer na die voorbeeld van Mary. Toe sy na ’n gemeente getrek het wat ’n ander taal praat, het sy gevoel dat sy nie baie kan doen nie. Sy sê: “Vir ’n hele rukkie kon ek net ’n eenvoudige kommentaar gee, ’n Bybelvers lees of vir mense in die bediening ’n pamflet gee.” Sy het sleg gevoel omdat sy nie so baie kon doen soos ander wat die taal vlot gepraat het nie. Maar later het sy besef dat Jehovah haar nog steeds kan gebruik. Sy sê: “Die waarhede in die Bybel is baie eenvoudig, en dit is daardie waarhede wat mense se lewens verander.”

16. As jy nie die huis kan verlaat nie, wat kan jou help om krag te kry?

16 Jehovah sien en waardeer selfs ons begeerte om deel te neem aan die bediening, al kan ons nie die huis verlaat nie. Hy kan vir jou geleenthede skep om te preek vir mediese personeel en ander wat jou versorg. As ons vergelyk wat ons nou kan doen met wat ons in die verlede gedoen het, kan ons dalk mismoedig voel. Maar as ons besef hoe Jehovah ons nou help, sal dit ons die krag gee om enige probleem met vreugde te verduur.

17. Volgens Prediker 11:6, hoekom moet ons aanhou velddiens doen, al sien ons nie onmiddellik resultate nie?

17 Ons weet nie watter saadjies van waarheid wat ons geplant het dalk sal groei nie. (Lees Prediker 11:6.) Byvoorbeeld, Barbara, ’n suster in haar 80’s, skryf gereeld briewe en doen telefoongetuieniswerk. In een van haar briewe het sy Die Wagtoring van 1 Maart 2014 met die artikel “Wat God vir jou gedoen het” saamgestuur. Sonder dat sy dit weet, het sy die brief aan ’n paartjie gestuur wat nie meer Jehovah se Getuies was nie. Hulle het die tydskrif oor en oor gelees. Die man het gevoel asof Jehovah direk met hom praat. Die paartjie het vergaderinge begin bywoon en uiteindelik – na meer as 27 jaar – het hulle weer aktiewe Getuies geword. Dink net hoe aanmoedigend dit vir Barbara moes gewees het om sulke positiewe resultate te sien as gevolg van daardie een brief!

Jehovah gee ons krag deur middel van (1) gebed, (2) die Bybel, (3) ons broers en susters en (4) die bediening (Sien paragraaf 9-10, 12, 14)

18. Wat moet ons doen as ons wil hê dat God ons krag moet gee?

18 Jehovah gee ons oorgenoeg geleenthede om deur hom versterk te word. Jehovah gee ons krag deur middel van dinge soos gebed, die Bybel, assosiasie met ons broers en susters en die bediening. Wanneer ons gebruik maak van hierdie dinge, wys ons dat ons glo dat Jehovah ons kan en wil help. Laat ons altyd op ons hemelse Vader vertrou, wat daarin vreugde vind “om dié te ondersteun wat met hulle hele hart op hom vertrou”. – 2 Kron. 16:9.

LIED 61 Voorwaarts, Getuies!

^ par. 5 Ons lewe in moeilike tye, maar Jehovah gee ons die hulp wat ons nodig het. In hierdie artikel sal ons leer hoe Jehovah die apostel Paulus en Timoteus gehelp het om aan te hou om hom te dien, al het hulle probleme gehad. Ons sal vier dinge bespreek wat Jehovah ons gee om ons te help om aan te hou om hom te dien.

^ par. 2 Naam is verander.

^ par. 53 BESKRYWING VAN PRENT: Terwyl Paulus in Rome onder huisarres is, skryf hy briewe aan verskillende gemeentes en verkondig hy die goeie nuus aan dié wat hom besoek.

^ par. 55 BESKRYWING VAN PRENT: Timoteus moedig die broers aan terwyl hy gemeentes besoek.