Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 19

Niks kan die regverdiges laat struikel nie

Niks kan die regverdiges laat struikel nie

“Oorvloedige vrede behoort aan dié wat u wet liefhet. Niks kan hulle laat struikel nie.” – PS. 119:165.

LIED 122 Wees standvastig, onbeweeglik!

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Wat het een skrywer gesê, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

VANDAG sê miljoene mense dat hulle in Jesus glo, maar hulle aanvaar nie die dinge wat hy ander geleer het nie (2 Tim. 4:3, 4). ’n Skrywer het eenkeer gesê: “Sê nou daar was vandag ’n ander ‘Jesus’ wat dieselfde dinge gesê het wat die oorspronklike Jesus gesê het. . . . Sou ons hom vandag verwerp, soos ons hom twee duisend jaar gelede verwerp het? . . . Die antwoord is basies: Ja, ons sou.”

2 In die eerste eeu het baie mense die dinge gehoor wat Jesus ander geleer het, en hulle het sy wonderwerke gesien, maar hulle het geweier om geloof in hom te stel. Hoekom? In die vorige artikel het ons vier redes bespreek hoekom mense gestruikel het as gevolg van wat Jesus gesê en gedoen het. Kom ons kyk na nog vier redes. Dit sal ons help om te verstaan hoekom mense vandag nie die boodskap van Jesus se volgelinge aanvaar nie, en dit sal ons help om te sien hoe ons kan keer dat ons gestruikel word.

(1) JESUS WAS ONPARTYDIG

Baie mense het gestruikel omdat Jesus met verskillende soorte mense tyd gespandeer het. Hoe kan dieselfde soort ding party vandag laat struikel? (Sien paragraaf 3) *

3. Wat het Jesus gedoen wat veroorsaak het dat party nie sy boodskap aanvaar nie?

3 Toe Jesus op die aarde was, het hy tyd gespandeer met alle soorte mense. Hy het saam met ryk en magtige mense geëet, maar hy het ook baie tyd gespandeer saam met arm mense en mense wat sleg behandel was. En hy het meegevoel gehad met mense wat oor die algemeen as “sondaars” beskou was. As gevolg hiervan het party trotse mense Jesus nie aanvaar nie. Hulle het sy dissipels gevra: “Hoekom eet en drink julle saam met belastinggaarders en sondaars?” Jesus het toe gesê: “Mense wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar mense wat siek is, het wel. Ek het nie gekom om regverdige mense tot berou te roep nie, maar sondaars.” – Luk. 5:29-32.

4. Wat moes die Jode omtrent die Messias verwag het, volgens die profeet Jesaja?

4 Wat sê die Bybel? Lank voordat die Messias gekom het, het die profeet Jesaja gesê dat die wêreld die Messias nie sou aanvaar nie. Die profesie het voorspel: “Mense het op hom neergesien en hom vermy. . . . Dit was asof ons sy gesig nie kon sien nie. Daar is op hom neergesien, en ons het hom as onbelangrik beskou” (Jes. 53:3). Die Messias sou deur “mense” vermy word, en daarom moes die Jode in die eerste eeu verwag het dat Jesus nie aanvaar sou word nie.

5. Wat dink baie mense vandag van Jesus se volgelinge?

5 Sien ons dieselfde probleem vandag? Ja. Baie godsdiensleiers is bly wanneer mense by hulle gemeentes aansluit wat ryk is en wat in die wêreld se oë wys en belangrik is. Dit maak nie vir sulke godsdiensleiers saak dat baie van hierdie mense ’n onsedelike lewe lei en nie volgens God se standaarde lewe nie. Dieselfde godsdiensleiers sien neer op Jehovah se ywerige knegte wat volgens sy standaarde lewe omdat hulle nie in die wêreld se oë belangrik is nie. Soos Paulus gesê het, het God mense gekies “waarop daar neergekyk word” (1 Kor. 1:26-29). Maar vir Jehovah is al sy getroue knegte kosbaar.

6. Wat het Jesus in Matteus 11:25, 26 gesê, en hoe kan ons hom navolg?

6 Hoe kan ons keer dat ons gestruikel word? (Lees Matteus 11:25, 26.) Moenie toelaat dat die wêreld se beskouing van God se volk jou beïnvloed nie. Hou in gedagte dat Jehovah net nederige mense gebruik om sy wil te doen (Ps. 138:6). En dink aan hoe baie Jehovah al bereik het deur mense te gebruik wat nie in die wêreld se oë wys of slim is nie.

(2) JESUS HET OPGESTAAN VIR DIE WAARHEID

7. Hoekom het Jesus gesê dat die Fariseërs skynheilig is, en hoe het hulle gereageer?

7 Jesus was moedig en het die godsdiensleiers van sy dag veroordeel omdat hulle mense nie geleer het hoe om Jehovah op die regte manier te aanbid nie. Byvoorbeeld, hy het gesê dat die Fariseërs skynheilig is. Hoe hulle hulle hande gewas het, was vir hulle belangriker as hoe hulle vir hulle ouers gesorg het (Matt. 15:1-11). Jesus se dissipels was miskien verbaas oor wat hy gesê het. Hulle het hom gevra: “Weet u dat die Fariseërs gestruikel het toe hulle hoor wat u sê?” Jesus het geantwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal met wortel en al uitgeruk word. Los hulle. Hulle is blinde gidse. As een blinde man ’n ander blinde man lei, sal hulle albei in ’n gat val” (Matt. 15:12-14). Al was die godsdiensleiers kwaad as gevolg van wat Jesus gesê het, het Jesus opgestaan vir die waarheid.

8. Hoe het Jesus gewys dat God nie alle godsdiensleringe aanvaar nie?

8 Jesus het ook gewys dat party godsdiensleringe vals is. Hy het nie gesê dat God alle godsdiensleringe aanvaar nie. Hy het eerder gesê dat baie mense op die breë pad sou wees wat na vernietiging lei, maar dat net ’n paar op die nou pad sou wees wat na die lewe lei (Matt. 7:13, 14). Hy het gesê dat dit sou lyk asof party mense God dien, alhoewel hulle hom nie eintlik dien nie. Hy het gewaarsku: “Pasop vir die valse profete wat in skaapsklere na julle toe kom maar wat in werklikheid wolwe is wat julle wil verskeur. Julle sal hulle aan hulle vrugte herken.” – Matt. 7:15-20.

Baie mense het gestruikel omdat Jesus gewys het dat sekere leringe en gebruike verkeerd is. Hoe kan dieselfde soort ding party vandag laat struikel? (Sien paragraaf 9) *

9. Wat is party van die godsdiensleringe wat Jesus gewys het vals is?

9 Wat sê die Bybel? Bybelprofesieë het voorspel dat die Messias baie ywerig sou wees vir Jehovah se huis (Ps. 69:9; Joh. 2:14-17). Jesus se ywer het hom beweeg om mense te help besef dat sekere godsdiensleringe vals is. Die Fariseërs het byvoorbeeld geglo dat die siel onsterflik is, maar Jesus het mense geleer dat die dooies slaap (Joh. 11:11). Die Sadduseërs het gesê dat daar nie ’n opstanding is nie, maar Jesus het sy vriend Lasarus opgewek (Joh. 11:43, 44; Hand. 23:8). Die Fariseërs het geglo dat alles in die lewe vooruitbeplan is en dat alles God se wil is, maar Jesus het mense geleer dat almal kan kies of hulle God wil dien of nie. – Matt. 11:28.

10. Hoekom aanvaar baie mense vandag nie ons leringe nie?

10 Sien ons dieselfde probleem vandag? Ja. Baie mense wil nie na ons luister nie omdat ons vir mense wys dat sekere godsdiensleringe vals is. Godsdiensleiers leer hulle volgelinge dat God die goddeloses in ’n hel brand. Hulle gebruik daardie valse lering om mense te probeer beheer. As Jehovah se knegte, wat ’n God van liefde aanbid, leer ons ander dat daardie lering vals is. Godsdiensleiers leer mense ook dat die siel onsterflik is. Ons leer vir mense dat daardie lering ’n heidense oorsprong het. En as daardie lering waar was, sou die opstanding nie nodig wees nie. En baie godsdienste leer dat alles in die lewe vooruitbeplan is, maar ons leer mense dat almal vrye wil het en dat almal kan kies of hulle God wil dien of nie. Hoe reageer godsdiensleiers? Baie keer is hulle woedend!

11. Wat verwag God van sy knegte, volgens Jesus se woorde in Johannes 8:45-47?

11 Hoe kan ons keer dat ons gestruikel word? As ons lief is vir die waarheid, moet ons glo wat God sê en gehoorsaam wees daaraan. (Lees Johannes 8:45-47.) Ons is nie soos Satan die Duiwel nie, want ons staan vas in die waarheid. Ons sal nooit valse leringe aanvaar nie (Joh. 8:44). God verwag dat sy knegte, net soos Jesus, “haat wat goddeloos is [en vashou] aan wat goed is”. – Rom. 12:9; Heb. 1:9.

(3) JESUS WAS VERVOLG

Baie mense het gestruikel omdat Jesus aan ’n paal gesterf het. Hoe kan dieselfde soort ding party vandag laat struikel? (Sien paragraaf 12) *

12. Hoekom het baie Jode gestruikel as gevolg van hoe Jesus doodgemaak is?

12 Wat is nog ’n rede hoekom party Jode in Jesus se dag gestruikel het? Paulus het gesê: “Ons verkondig Christus, wat aan die paal gehang is. Vir die Jode is dit ’n struikelblok” (1 Kor. 1:23). Hoekom het baie Jode gestruikel as gevolg van hoe Jesus doodgemaak is? Omdat Jesus aan ’n paal gehang is, het dit gelyk asof hy ’n misdadiger en ’n sondaar was – nie die Messias nie. – Deut. 21:22, 23.

13. Wat het die Jode wat as gevolg van Jesus gestruikel het, nie besef nie?

13 Die Jode wat as gevolg van Jesus gestruikel het, het nie besef dat hy onskuldig is, dat hy valslik beskuldig is en dat hy onregverdig behandel is nie. Jesus se verhoor is nie op ’n wettige manier gehou nie. Die Joodse Hoë Raad is vinnig bymekaargeroep, en alles wat gebeur het was heeltemal teen die wet (Luk. 22:54; Joh. 18:24). Hulle het nie na die aantygings teen Jesus geluister nie, en hulle het nie na die bewyse gekyk nie. Hulle het eerder “valse getuienis teen Jesus gesoek om hom dood te maak”. Toe dit nie gewerk het nie, het die hoëpriester Jesus probeer kry om iets te sê wat hulle teen hom kon gebruik. Dit was alles heeltemal teen die wet (Matt. 26:59; Mark. 14:55-64). En nadat Jesus opgewek is, het daardie onregverdige regters die Romeinse soldate wat by die graf waggehou het, “baie silwerstukke” betaal om ’n valse storie te versprei om te verduidelik hoekom die graf leeg was. – Matt. 28:11-15.

14. Wat het die Skrif oor die Messias se dood voorspel?

14 Wat sê die Bybel? Baie Jode in Jesus se dag het nie verwag dat die Messias sou moet sterf nie, maar kyk wat die Skrif voorspel het: “Hy [het] sy lewe gegee . . . en [is] as ’n oortreder beskou . . . Hy het die sonde van baie mense gedra, en hy het vir die oortreders tussenbeide getree” (Jes. 53:12). So die Jode het geen rede gehad om te struikel omdat Jesus as ’n sondaar doodgemaak is nie.

15. Hoekom aanvaar party mense nie die boodskap van Jehovah se Getuies nie?

15 Sien ons dieselfde probleem vandag? Beslis! Net soos Jesus valslik beskuldig en skuldig bevind is, word Jehovah se Getuies vandag ook onregverdig behandel. Kyk na ’n paar voorbeelde. Gedurende die 1930’s en 1940’s moes Jehovah se Getuies in die Verenigde State baie keer hulle vryheid om God te aanbid, in die hof verdedig. Dit was duidelik dat party regters teen ons was. In Quebec, Kanada, het die Kerk en die Staat saamgewerk om ons werk teë te staan. Baie verkondigers is in die tronk gegooi net omdat hulle met ander oor God se Koninkryk gepraat het. In Duitsland het die Nazi-regering baie van ons getroue jong broers doodgemaak. En in onlangse jare is baie van ons broers in Rusland in die tronk gegooi omdat hulle die Bybel met ander bespreek het – iets wat die regering as “ekstremistiese bedrywigheid” klassifiseer. Hulle het selfs gesê dat die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in Russies “ekstremisties” is omdat dit die naam Jehovah gebruik, en daarom het hulle dit verban.

16. Hoekom moet ons volgens 1 Johannes 4:1 nie mislei word deur valse stories oor Jehovah se volk nie?

16 Hoe kan ons keer dat ons gestruikel word? Kry die feite. In die Bergpredikasie het Jesus vir die mense wat na hom geluister het, gesê dat party hulle “valslik [sou] beskuldig van allerhande slegte dinge” (Matt. 5:11). Hierdie leuens kom van Satan af. Hy beïnvloed ons teenstanders om leuens te versprei oor almal wat lief is vir die waarheid (Op. 12:9, 10). Ons moenie mislei word deur die leuens wat ons teenstanders versprei nie. Ons moenie toelaat dat hierdie leuens ons intimideer of ons geloof verswak nie. – Lees 1 Johannes 4:1.

(4) JESUS WAS VERRAAI EN IN DIE STEEK GELAAT

Baie mense het gestruikel omdat Judas Jesus verraai het. Hoe kan dieselfde soort ding party vandag laat struikel? (Sien paragraaf 17-18) *

17. Hoe kon die dinge wat voor Jesus se dood gebeur het, party laat struikel het?

17 Net voor Jesus se dood het een van sy 12 apostels hom verraai. ’n Ander apostel het drie keer gesê dat hy Jesus nie ken nie, en al sy apostels het hom op die aand voor sy dood verlaat (Matt. 26:14-16, 47, 56, 75). Dit het Jesus nie verbaas nie. Hy het selfs voorspel dat dit sou gebeur (Joh. 6:64; 13:21, 26, 38; 16:32). Hierdie dinge kon party laat struikel het. Hulle kon gedink het: ‘As Jesus se apostels so optree, wil ek nie deel wees van daardie groep nie!’

18. Watter profesieë is vervul deur die dinge wat net voor Jesus se dood gebeur het?

18 Wat sê die Bybel? Honderde jare voordat die Messias aarde toe gekom het, het Jehovah in sy Woord verduidelik dat die Messias vir 30 silwerstukke verraai sou word (Sag. 11:12, 13). Die verraaier sou een van Jesus se goeie vriende wees (Ps. 41:9). Die profeet Sagaria het ook geskryf: “Slaan die herder, en laat die kudde verstrooi word” (Sag. 13:7). Opregte mense moes nie deur hierdie dinge gestruikel word nie. Dit moes eerder hulle geloof versterk het om te sien hoe hierdie profesieë deur Jesus vervul word.

19. Wat besef opregte mense?

19 Sien ons dieselfde probleem vandag? Ja. In ons tyd het ’n paar bekende Getuies die waarheid verlaat, afvalliges geword en toe probeer om ander te kry om die waarheid te verlaat. Hulle het deur middel van die media en die Internet negatiewe stories, halwe waarhede en leuens oor Jehovah se Getuies versprei. Maar opregte mense word nie hierdeur gestruikel nie. Hulle besef dat die Bybel voorspel het dat sulke dinge sou gebeur. – Matt. 24:24; 2 Pet. 2:18-22.

20. Hoe kan ons keer dat ons gestruikel word deur mense wat opgehou het om Jehovah te dien? (2 Timoteus 4:4, 5)

20 Hoe kan ons keer dat ons gestruikel word? Ons moet ons geloof sterk hou deur gereeld te studeer, aanhoudend te bid en deur besig te bly in die werk wat Jehovah vir ons gegee het om te doen. (Lees 2 Timoteus 4:4, 5.) As ons geloof het, sal ons nie bekommerd raak as ons negatiewe stories oor Jehovah se Getuies hoor nie (Jes. 28:16). Ons liefde vir Jehovah, vir sy Woord en vir ons broers, sal ons help om nie gestruikel te word deur mense wat opgehou het om Jehovah te dien nie.

21. Waarvan kan ons seker wees, al aanvaar die meeste mense vandag nie ons boodskap nie?

21 In die eerste eeu het baie mense gestruikel, en hulle het Jesus nie aanvaar nie. Maar baie mense het hom wel aanvaar. Ten minste een lid van die Joodse Sanhedrin en selfs “’n groot groep priesters” het hom aanvaar (Hand. 6:7; Matt. 27:57-60; Mark. 15:43). En vandag is daar ook miljoene mense wat nie gestruikel het nie. Hoekom nie? Omdat hulle Bybelwaarhede ken en liefhet. God se Woord sê: “Oorvloedige vrede behoort aan dié wat u wet liefhet. Niks kan hulle laat struikel nie.” – Ps. 119:165.

LIED 124 Bly lojaal

^ par. 5 In die vorige artikel het ons vier redes bespreek hoekom mense in die verlede nie Jesus se boodskap aanvaar het nie en hoekom mense vandag nie die boodskap van sy volgelinge aanvaar nie. In hierdie artikel gaan ons nog vier redes bespreek. Ons gaan ook sien hoekom mense wat Jehovah liefhet, nie toelaat dat enige iets hulle laat struikel nie.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: Jesus eet saam met Matteus en belastinggaarders.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENT: Jesus jaag die handelaars uit die tempel uit.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENT: Jesus dra sy folterpaal.

^ par. 66 BESKRYWING VAN PRENT: Judas verraai Jesus met ’n soen.