Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 18

Sal jy struikel as gevolg van Jesus?

Sal jy struikel as gevolg van Jesus?

“Gelukkig is die een wat geen rede vind om te struikel as gevolg van my nie.” – MATT. 11:6.

LIED 54 “Dit is die weg”

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat het jou dalk verbaas toe jy begin het om vir ander van die Bybel se boodskap te vertel?

ONTHOU jy toe jy vir die eerste keer besef het dat jy die waarheid gevind het? Die waarhede wat jy uit die Bybel geleer het, was so duidelik soos daglig! Jy het gedink dat almal die dinge sou aanvaar wat jy geleer het. Jy was oortuig dat die Bybel se boodskap hulle kon help om ’n gelukkige lewe en ’n wonderlike hoop vir die toekoms te hê (Ps. 119:105). En daarom het jy vir al jou vriende en familielede vertel van die dinge wat jy geleer het. Maar hoe het hulle gereageer? Tot jou verbasing het baie van hulle nie die waarheid aanvaar nie.

2-3. Wat het die meeste mense van Jesus en sy boodskap gedink?

2 Ons moenie verbaas wees as ander nie ons boodskap aanvaar nie. In Jesus se dag het die meeste mense hom nie as die Messias aanvaar nie, al het hy wonderwerke gedoen wat bewys het dat hy God se ondersteuning gehad het. Byvoorbeeld, selfs toe Jesus Lasarus uit die dood opgewek het, het die Joodse leiers hom nie as die Messias aanvaar nie. Hulle wou eerder vir Jesus en Lasarus doodmaak! – Joh. 11:47, 48, 53; 12:9-11.

3 Jesus het geweet dat die meeste mense hom nie as die Messias sou aanvaar nie (Joh. 5:39-44). Hy het vir ’n groep van Johannes die Doper se dissipels gesê: “Gelukkig is die een wat geen rede vind om te struikel as gevolg van my nie” (Matt. 11:2, 3, 6). Hoekom het so baie mense Jesus nie aanvaar nie?

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 In hierdie artikel en in die volgende een sal ons ’n paar redes bespreek hoekom baie mense in die eerste eeu nie geloof in Jesus gestel het nie. Ons gaan ook bespreek hoekom baie mense vandag nie ons boodskap aanvaar nie. En nog belangriker, ons gaan uitvind hoekom ons sterk geloof in Jesus kan hê en hoe daardie geloof ons kan help om nie gestruikel te word nie.

(1) JESUS SE AGTERGROND

Baie het gestruikel as gevolg van Jesus se agtergrond. Hoe kan dieselfde ding party vandag laat struikel? (Sien paragraaf 5) *

5. Hoekom het party dalk gevoel dat Jesus nie die voorspelde Messias kon wees nie?

5 Baie mense het Jesus nie aanvaar nie as gevolg van waar hy vandaan gekom het. Hulle het erken dat Jesus ’n uitstekende onderrigter is en dat hy wonderwerke gedoen het. Maar in hulle oë was hy maar net die seun van ’n arm timmerman. En hy was van Nasaret, ’n stad wat baie mense gedink het onbelangrik is. Selfs Natanael, wat later een van Jesus se dissipels geword het, het eers gesê: “Kan enigiets goeds uit Nasaret kom?” (Joh. 1:46). Natanael het dalk nie gehou van die stad waar Jesus gebly het nie. Of miskien het hy aan die profesie in Miga 5:2 gedink, wat voorspel het dat die Messias in Betlehem gebore sou word, nie in Nasaret nie.

6. Wat moes mense in Jesus se dag gedoen het om uit te vind of Jesus die Messias was?

6 Wat sê die Bybel? Die profeet Jesaja het voorspel dat Jesus se vyande nie “aandag [sou] skenk aan die besonderhede van [die Messias se] geslag” nie (Jes. 53:8). Baie van hierdie besonderhede was voorspel. As daardie mense die tyd geneem het om al die feite te ondersoek, sou hulle uitgevind het dat Jesus in Betlehem gebore was en dat hy ’n nakomeling van koning Dawid was (Luk. 2:4-7). So Jesus was wel in Betlehem gebore, net soos Miga 5:2 voorspel het. Wat was dan die probleem? Mense het ’n gevolgtrekking gemaak voordat hulle al die feite gehad het. Daarom het hulle Jesus nie aanvaar nie.

7. Hoekom aanvaar baie mense vandag nie die boodskap van Jehovah se volk nie?

7 Sien ons dieselfde probleem vandag? Ja. Jehovah se volk bestaan meestal uit eenvoudige mense wat deur baie beskou word as “ongeleerde en gewone mense” (Hand. 4:13). Party voel dat God se volk mense nie oor die Bybel kan leer nie omdat hulle nie by ’n godsdiensskool of universiteit gestudeer het nie. Ander sê dat Jehovah se Getuies ’n “Amerikaanse godsdiens” is, alhoewel die oorgrote meerderheid van hulle nie eers in die Verenigde State bly nie. En ander het stories gehoor dat die Getuies nie in Jesus glo nie. Oor die jare het mense ons al “Kommuniste”, “Amerikaanse spioene” en “ekstremiste” genoem. Omdat sulke mense nie al die feite het nie, aanvaar hulle nie ons boodskap nie.

8. Volgens Handelinge 17:11, wat moet mense doen as hulle God se volk vandag wil identifiseer?

8 Hoe kan mense keer dat hulle gestruikel word? Mense moet die feite ondersoek. Dit is wat die Evangelieskrywer Lukas hard probeer het om te doen. Hy het ’n punt daarvan gemaak om “alles van die begin af noukeurig” na te gaan. Hy wou hê dat sy lesers “ten volle [moes] weet hoe betroubaar die dinge is” wat hulle oor Jesus geleer het (Luk. 1:1-4). Die Jode in Berea was net soos Lukas. Toe hulle vir die eerste keer van die goeie nuus oor Jesus gehoor het, het hulle die Hebreeuse Geskrifte ondersoek om seker te maak dat wat hulle gehoor het, die waarheid is. (Lees Handelinge 17:11.) Net so moet mense vandag die feite ondersoek. Hulle moet die dinge wat God se volk aan ander leer, vergelyk met wat die Bybel sê. Hulle moet ook die geskiedenis van Jehovah se volk in ons tyd studeer. As hulle die feite behoorlik ondersoek, sal hulle nie toelaat dat valse stories hulle beïnvloed nie.

(2) JESUS HET GEWEIER OM INDRUKWEKKENDE TEKENS TE GEE

Baie het gestruikel omdat Jesus geweier het om ’n indrukwekkende teken uit die hemel te gee. Hoe kan dieselfde ding party vandag laat struikel? (Sien paragraaf 9-10) *

9. Wat het gebeur toe Jesus geweier het om ’n teken uit die hemel te gee?

9 Party in Jesus se dag was nie tevrede met sy leringe nie. Hulle wou meer gehad het. Hulle het aangedring dat hy “’n teken uit die hemel” moet gee om te bewys dat hy die Messias is (Matt. 16:1). Miskien wou hulle ’n teken hê as gevolg van wat hulle in Daniël 7:13, 14 gelees het. Maar dit was nog nie Jehovah se tyd om daardie profesie te vervul nie. Jesus se leringe moes vir hulle genoeg gewees het om hulle te oortuig dat hy die Messias is. Maar toe hy weier om vir hulle ’n teken te gee, het hulle gestruikel. – Matt. 16:4.

10. Hoe het Jesus Jesaja se profesie oor die Messias vervul?

10 Wat sê die Bybel? Die profeet Jesaja het die volgende oor die Messias geskryf: “Hy sal nie uitroep of skree nie, en hy sal nie sy stem in die straat laat hoor nie” (Jes. 42:1, 2). Toe Jesus sy bediening uitgevoer het, het hy nie die aandag op homself gevestig nie. Hy het nie indrukwekkende tempels gebou, spesiale godsdienstige klere gedra of daarop aangedring dat mense vir hom spesiale godsdienstitels moet gee nie. Gedurende Jesus se verhoor het hy geweier om koning Herodes te probeer beïndruk deur ’n wonderwerk te doen (Luk. 23:8-11). Jesus het wel gedurende sy bediening ’n paar wonderwerke gedoen, maar wat vir hom die belangrikste was, was om die goeie nuus te verkondig. Hy het vir sy dissipels gesê: “Dit is hoekom ek gekom het.” – Mark. 1:38.

11. Wat is nog ’n rede hoekom baie mense vandag nie ons boodskap aanvaar nie?

11 Sien ons dieselfde probleem vandag? Ja. Vandag word baie mense beïndruk deur groot katedrale met baie duur kunswerke, deur godsdiensleiers met spesiale titels en deur godsdiensseremonies, al weet die meeste mense nie meer waar hierdie seremonies vandaan kom nie. Maar wat leer mense in sulke godsdienste oor God en oor sy wil? Almal wat ons Christelike vergaderinge bywoon, leer wat Jehovah van ons verwag en hoe ons op ’n manier kan lewe wat Jehovah gelukkig sal maak. Ons Koninkryksale is skoon en prakties, maar hulle is nie uitspattig nie. Die persone wat die leiding neem, dra nie spesiale klere nie en hulle het nie spesiale titels nie. Die dinge wat ons glo en wat ons aan ander leer, kom uit die Bybel. Maar baie mense aanvaar nie ons boodskap nie omdat hulle dink dat ons manier van aanbidding te eenvoudig is en omdat hulle dink dat die dinge wat ons mense leer, nie ooreenstem met wat hulle wil hoor nie.

12. Hoe moet ons sterk geloof opbou, volgens Hebreërs 11:1, 6?

12 Hoe kan ons keer dat ons gestruikel word? Die apostel Paulus het vir die Christene in Rome gesê: “Geloof volg . . . op wat gehoor word. En wat gehoor word, is deur die woord oor Christus” (Rom. 10:17). So ons bou sterk geloof op deur die Bybel te studeer, nie deur deel te neem aan onskriftuurlike godsdiensseremonies nie, maak nie saak hoe indrukwekkend dit dalk lyk nie. Ons moet sterk geloof opbou wat gebaseer is op akkurate kennis, want “sonder geloof is dit onmoontlik om God se goedkeuring te verkry”. (Lees Hebreërs 11:1, 6.) So ons het nie ’n indrukwekkende teken uit die hemel nodig om te bewys dat ons die waarheid gevind het nie. ’n Deeglike studie van die Bybel is genoeg om ons te oortuig dat ons die waarheid het en om ontslae te raak van enige twyfelgedagtes.

(3) JESUS HET BAIE VAN DIE JOODSE TRADISIES NIE GEVOLG NIE

Baie het gestruikel omdat Jesus van hulle tradisies nie gevolg het nie. Hoe kan dieselfde ding party vandag laat struikel? (Sien paragraaf 3) *

13. Hoekom het baie mense nie Jesus se boodskap aanvaar nie?

13 In Jesus se dag was baie van Johannes die Doper se dissipels verbaas dat Jesus se dissipels nie gevas het nie. Jesus het verduidelik dat hulle nie enige rede gehad het om te vas terwyl hy nog gelewe het nie (Matt. 9:14-17). Maar ten spyte daarvan het die Fariseërs en ander wat Jesus teëgestaan het, gevoel dat hy verkeerd was omdat hy nie hulle tradisies gevolg het nie. Hulle het kwaad geword toe hy mense op die Sabbat genees het (Mark. 3:1-6; Joh. 9:16). Aan die een kant was hulle trots om te sê dat hulle die Sabbat hou, maar aan die ander kant het hulle geen probleem daarmee gehad om besigheid in die tempel te doen nie. Hulle was woedend toe Jesus vir hulle gesê het dat wat hulle doen, verkeerd is (Matt. 21:12, 13, 15). En die mense vir wie Jesus in die sinagoge in Nasaret gepreek het, het baie kwaad geword toe Jesus voorbeelde uit Israel se geskiedenis gebruik het om te wys dat hulle selfsugtig is en nie geloof het nie (Luk. 4:16, 25-30). Baie mense het gestruikel omdat Jesus dinge gedoen het wat hulle nie verwag het nie. – Matt. 11:16-19.

14. Hoekom het Jesus tradisies veroordeel wat nie met die Skrif ooreengestem het nie?

14 Wat sê die Bybel? Deur middel van die profeet Jesaja, het Jehovah gesê: “Hierdie volk sê dat hulle na aan my is, en hulle eer my met hulle lippe, maar hulle hart is ver van my af. En hulle vrees vir my is gebaseer op gebooie van mense, gebooie wat hulle geleer is” (Jes. 29:13). Jesus was reg toe hy tradisies veroordeel het wat nie met die Skrif ooreengestem het nie. Almal wat mensgemaakte reëls en tradisies gevolg het eerder as om die Skrif te volg, het Jehovah en die een wat hy as die Messias gestuur het, verwerp.

15. Hoekom hou baie mense nie van Jehovah se Getuies nie?

15 Sien ons dieselfde probleem vandag? Ja. Baie mense raak kwaad wanneer Jehovah se Getuies nie onskriftuurlike tradisies volg nie, soos wanneer hulle nie verjaarsdae en Kersfees vier nie. Ander raak kwaad wanneer Jehovah se Getuies nie aan nasionalistiese vierings deelneem of begrafnisgebruike volg wat teen God se Woord is nie. Sulke mense glo dalk dat hulle God op ’n aanvaarbare manier aanbid. Maar hulle kan God nie gelukkig maak as hulle die wêreld se tradisies bo die Bybel se duidelike leringe verkies nie. – Mark. 7:7-9.

16. Volgens Psalm 119:97, 113, 163-165, wat moet ons doen en wat moet ons nie doen nie?

16 Hoe kan ons keer dat ons gestruikel word? Ons moet ’n sterk liefde vir Jehovah se wette en beginsels opbou. (Lees Psalm 119:97, 113, 163-165.) As ons Jehovah liefhet, sal ons nie tradisies volg waarvan hy nie hou nie. Ons sal nie toelaat dat enige iets vir ons belangriker word as ons liefde vir Jehovah nie.

(4) JESUS HET NIE POLITIEKE PROBLEME OPGELOS NIE

Baie het gestruikel omdat Jesus nie in die politiek belanggestel het nie. Hoe kan dieselfde ding party vandag laat struikel? (Sien paragraaf 17) *

17. Wat het baie mense van die Messias verwag?

17 Party mense in Jesus se dag wou hê dat die politieke situasie moes verander. Hulle het verwag dat die Messias hulle sou bevry van die Romeinse onderdrukkers. Maar toe hulle probeer het om Jesus hulle koning te maak, het hy geweier (Joh. 6:14, 15). Ander, insluitende die priesters, was bang dat Jesus die politieke stelsel sou probeer verander. Hulle was bang dat so ’n politieke verandering die Romeine sou kwaad maak, want die Romeine het vir hulle ’n mate van gesag gegee. So, baie Jode het nie Jesus se boodskap aanvaar nie omdat hulle bekommerd was oor die politieke situasie.

18. Watter Bybelprofesieë oor die Messias het baie mense geïgnoreer?

18 Wat sê die Bybel? Al het baie profesieë voorspel dat die Messias uiteindelik ’n magtige Vegter sou wees, het ander profesieë gewys dat hy eers vir ons sondes sou moes sterf (Jes. 53:9, 12). So hoekom het die Jode verkeerde idees oor die Messias gehad? Baie mense in Jesus se dag het enige profesieë geïgnoreer wat nie belowe het dat die Messias hulle probleme onmiddellik sou oplos nie. – Joh. 6:26, 27.

19. Watter verkeerde idees het veroorsaak dat baie mense nie ons boodskap aanvaar nie?

19 Sien ons dieselfde probleem vandag? Ja. Vandag aanvaar baie mense nie ons boodskap nie omdat ons nie by die politiek betrokke raak nie. Hulle verwag dat ons tydens verkiesings moet stem. Maar as ons ’n menslike leier kies om oor ons te regeer, dan verwerp ons Jehovah (1 Sam. 8:4-7). Mense verwag miskien ook dat ons skole en hospitale moet bou en ander liefdadigheidswerk moet doen. Hulle aanvaar nie ons boodskap nie omdat ons op die predikingswerk fokus in plaas daarvan om die wêreld se probleme nou te probeer oplos.

20. Wat moet die belangrikste ding in ons lewe wees, volgens Matteus 7:21-23?

20 Hoe kan ons keer dat ons gestruikel word? (Lees Matteus 7:21-23.) Die werk wat Jesus ons gegee het om te doen, moet die belangrikste ding in ons lewe wees (Matt. 28:19, 20). Ons moenie toelaat dat ons ons fokus verloor deur die wêreld se probleme nou te probeer oplos nie. Ons is lief vir mense en ons is besorg oor hulle, maar ons besef dat die beste manier om hulle te help, is deur vir hulle te leer oor God se Koninkryk en deur vir hulle te help om ’n vriendskap met Jehovah op te bou.

21. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

21 In hierdie artikel het ons vier dinge bespreek wat veroorsaak het dat baie mense in die eerste eeu Jesus nie aanvaar het nie en wat kan veroorsaak dat party mense vandag nie die boodskap van Jesus se volgelinge aanvaar nie. Maar is dit die enigste dinge wat ons kan laat struikel? Nee. In die volgende artikel sal ons nog vier dinge bespreek wat ’n mens kan laat struikel. Laat ons vasbeslote bly om nie gestruikel te word nie en om ons geloof sterk te hou!

LIED 56 Leef die waarheid uit

^ par. 5 Al was Jesus die grootste Onderrigter wat al ooit op die aarde was, het die meeste mense van sy dag gestruikel as gevolg van hom. Hoekom? In hierdie artikel gaan ons vier redes bespreek. Ons gaan ook bespreek hoekom baie mense vandag struikel as gevolg van wat Jesus se ware volgelinge sê en doen. En nog belangriker, ons gaan uitvind hoekom ons sterk geloof in Jesus kan hê en hoe daardie geloof ons kan help om nie gestruikel te word nie.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: Filippus moedig Natanael aan om Jesus te gaan ontmoet.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENT: Jesus verkondig die goeie nuus.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENT: Jesus genees ’n man met ’n misvormde hand terwyl sy teenstanders hom dophou.

^ par. 66 BESKRYWING VAN PRENT: Jesus gaan alleen na die berg toe.