Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 20

Openbaring – Wat dit vir God se vyande beteken

Openbaring – Wat dit vir God se vyande beteken

“Hulle het hulle bymekaargebring by die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.” – OP. 16:16.

LIED 150 Soek God, van wie jou redding kom

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat leer ons in die boek Openbaring oor God se knegte?

 VOLGENS die boek Openbaring is God se hemelse Koninkryk al opgerig en is Satan uit die hemel uitgegooi (Op. 12:1-9). As gevolg daarvan is daar vrede in die hemel, maar baie probleme vir ons hier op die aarde. Hoekom? Want Satan is woedend, en hy is daarop uit om Jehovah se getroue aanbidders op die aarde aan te val. – Op. 12:12, 15, 17.

2. Wat sal ons help om getrou aan Jehovah te bly?

2 Hoe kan ons getrou aan Jehovah bly al val Satan ons aan? (Op. 13:10). Een ding wat ons sal help, is om te weet wat in die toekoms sal gebeur. Byvoorbeeld, in die boek Openbaring beskryf die apostel Johannes party van die seëninge wat ons binnekort gaan geniet. Een van daardie seëninge is die vernietiging van God se vyande. Kom ons bespreek nou hoe Openbaring hierdie vyande beskryf en wat met hulle sal gebeur.

“TEKENS” WAT GOD SE VYANDE BESKRYF

3. Wat is party van die tekens in die boek Openbaring?

3 Die heel eerste vers van die boek Openbaring sê dat die inligting wat ons gaan lees, “in tekens”, dit wil sê in simboliese taal, aan Johannes oorgedra is (Op. 1:1). Ons lees van ’n hele paar wilde diere wat God se vyande verteenwoordig. Daar is byvoorbeeld “’n wilde dier [wat] uit die see . . . opkom”. Dit het “tien horings en sewe koppe” (Op. 13:1). Daarna kom “’n ander wilde dier uit die aarde” op. Daardie dier praat soos ’n draak en “laat . . . vuur uit die hemel na die aarde neerkom” (Op. 13:11-13). Dan sien ons ’n ander wilde dier, “’n helderrooi wilde dier”, en ’n prostituut wat daarop sit. Hierdie drie wilde diere verteenwoordig vyande wat al lank teen Jehovah en sy Koninkryk veg. Daarom is dit belangrik dat ons hulle identifiseer. – Op. 17:1, 3.

VIER YSLIKE DIERE

Hulle kom “uit die see” op (Dan. 7:1-8, 15-17). Hulle verteenwoordig wêreldmagte wat vanaf Daniël se tyd ’n groot invloed op God se volk gehad het. (Sien paragraaf 4, 7)

4-5. Hoe help Daniël 7:15-17 ons om uit te vind wat hierdie tekens beteken?

4 Om uit te vind wie hierdie vyande is, moet ons eers uitvind wat hierdie simboliese taal beteken. Die beste manier om dit te doen, is deur toe te laat dat die Bybel homself verduidelik. Baie van die tekens in Openbaring word in ander boeke van die Bybel verduidelik. Byvoorbeeld, die profeet Daniël het ’n droom gehad waarin “vier yslike diere . . . uit die see opgekom” het (Dan. 7:1-3). Daniël sê vir ons wat hulle verteenwoordig. Hierdie yslike diere verteenwoordig vier “konings”, of regerings. (Lees Daniël 7:15-17.) Uit daardie verduideliking weet ons dat die diere in Openbaring ook na politieke magte moet verwys.

5 Kom ons bespreek nou ’n paar van die tekens wat in die boek Openbaring beskryf word. Terwyl ons dit doen, sal ons sien hoe die Bybel ons help om uit te vind wat hierdie tekens beteken. Kom ons bespreek eers die wilde diere. Eerstens sal ons kyk na wie hulle verteenwoordig. Dan sal ons sien wat met hierdie diere gebeur. En laastens sal ons kyk na wat hierdie dinge vir ons beteken.

DIE IDENTITEIT VAN GOD SE VYANDE WORD GEOPENBAAR

DIE WILDE DIER MET DIE SEWE KOPPE

Dit kom “uit die see” op en het sewe koppe, tien horings en tien krone (Op. 13:1-4). Dit verteenwoordig alle politieke magte wat dwarsdeur die geskiedenis regeer het. Die sewe koppe verteenwoordig sewe wêreldmagte wat ’n groot invloed op God se volk gehad het. (Sien paragraaf 6-8)

6. Wat is die wilde dier met die sewe koppe wat in Openbaring 13:1-4 genoem word?

6 Wat is die wilde dier met die sewe koppe? (Lees Openbaring 13:1-4.) Die dier lyk soos ’n luiperd, maar dit het die pote van ’n beer en die bek van ’n leeu, en dit het tien horings. Hierdie wilde dier laat ons baie dink aan die vier diere wat in Daniël hoofstuk 7 genoem word. Maar hier in die boek Openbaring word dele van die vier diere gekombineer om een dier te vorm. Hierdie wilde dier verteenwoordig nie net een regering, of wêreldmag nie. Johannes het gesê dat dit “oor elke stam en volk en taal en nasie” regeer. So dit moet groter wees as een enkele regering (Op. 13:7). Hierdie wilde dier moet dan al die politieke magte verteenwoordig wat dwarsdeur die geskiedenis regeer het. * – Pred. 8:9.

7. Wat word deur elkeen van die sewe koppe van die wilde dier voorgestel?

7 Wat word deur elkeen van die sewe koppe voorgestel? Openbaring hoofstuk 17 help ons om die antwoord te kry. Dit praat van ’n beeld van die dier wat in Openbaring hoofstuk 13 genoem word. Openbaring 17:10 sê: “Daar is sewe konings: Vyf het geval, een is, en die ander een het nog nie gekom nie, maar wanneer hy wel kom, moet hy ’n kort tydjie bly.” Uit al die politieke magte wat Satan al gebruik het, word net sewe van hulle met “koppe” vergelyk omdat hulle baie mag gehad het. Hierdie wêreldmagte het ’n groot invloed op God se volk gehad. Teen die apostel Johannes se tyd het vyf van daardie wêreldmagte al gekom en gegaan: Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië en Griekeland. Die sesde wêreldmag, Rome, het nog regeer toe Johannes die openbaring ontvang het. Watter regering sou die sewende en finale wêreldmag, of kop wees?

8. Wat word verteenwoordig deur die sewende kop van die wilde dier?

8 Die profesieë in die boek Daniël help ons om die sewende en finale kop van die wilde dier te identifiseer. Watter wêreldmag regeer gedurende hierdie tyd van die einde, gedurende “die dag van die Here”? (Op. 1:10). Dit is die Anglo-Amerikaanse wêreldmag, dit wil sê die kombinasie van die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika. Daarom kan ons tot die slotsom kom dat dit die sewende kop van die wilde dier is wat in Openbaring 13:1-4 genoem word.

’N WILDE DIER MET TWEE HORINGS WAT SOOS ’N LAM S’N IS

Dit kom “uit die aarde” op en praat “soos ’n draak”. Dit laat “vuur uit die hemel na die aarde neerkom”. Dit word ook “die valse profeet” genoem en dit doen tekens (Op. 13:11-15; 16:13; 19:20). Die Anglo-Amerikaanse wêreldmag, wat as ’n dier met twee horings en as ’n valse profeet beskryf word, mislei die mense op die aarde en sê vir hulle “om ’n beeld te maak” van “die wilde dier” met die sewe koppe en tien horings. (Sien paragraaf 9)

9. Wat word verteenwoordig deur die wilde dier met die ‘twee horings wat soos ’n lam s’n is’?

9 Openbaring hoofstuk 13 beskryf hierdie sewende kop, die Anglo-Amerikaanse wêreldmag, ook as ’n wilde dier met ‘twee horings wat soos ’n lam s’n is, maar wat soos ’n draak begin praat het’. Hierdie dier “doen groot tekens en laat selfs vuur uit die hemel na die aarde neerkom voor die oë van mense” (Op. 13:11-15). Openbaring hoofstuk 16 en 19 beskryf hierdie wilde dier as “die valse profeet” (Op. 16:13; 19:20). Daniël noem iets soortgelyks, naamlik dat die Anglo-Amerikaanse wêreldmag “verskriklike verwoesting [sou] aanrig” (Dan. 8:19, 23, 24). En dit is presies wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog gebeur het. Britse en Amerikaanse wetenskaplikes het byvoorbeeld saamgewerk om die bomme te maak wat gebruik is vir die twee atomiese bomaanvalle wat tot die einde van daardie oorlog in die Stille Oseaan gelei het. So dit was asof die Anglo-Amerikaanse wêreldmag “vuur uit die hemel na die aarde [laat] neerkom” het.

’N HELDERROOI WILDE DIER

’n Prostituut, Babilon die Grote, sit daarop. Die dier word beskryf as ’n agtste koning (Op. 17:3-6, 8, 11). Eers beheer sy die wilde dier, maar later word sy deur die dier doodgemaak. Die prostituut verteenwoordig die wêreldryk van valse godsdiens. Vandag verteenwoordig die dier die Verenigde Nasies, wat die belange van die wêreldwye politieke stelsel bevorder. (Sien paragraaf 10, 14-17)

10. Wat word verteenwoordig deur “die beeld van die wilde dier”? (Openbaring 13:14, 15; 17:3, 8, 11)

10 Daarna sien ons ’n ander wilde dier wat net soos die wilde dier met die sewe koppe lyk, maar wat helderrooi is. Dit word “die beeld van die wilde dier” genoem en as “’n agtste koning” beskryf. * (Lees Openbaring 13:14, 15; 17:3, 8, 11.) Daar word gesê dat hierdie “koning” verskyn, en dan verdwyn en dan later weer verskyn. Wat ’n goeie beskrywing van die Verenigde Nasies, wat die belange van die wêreldwye politieke stelsel bevorder! Dit het eers as die Volkebond bekend gestaan. Toe, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, het dit ophou bestaan. Daarna het hierdie “koning” weer verskyn, as die Verenigde Nasies.

11. Wat doen die politieke diere, en hoekom hoef ons nie vir hulle bang te wees nie?

11 Deur middel van propaganda, hits die politieke diere mense aan om Jehovah en sy volk teë te staan. Hulle bring “die konings van die hele aarde” in ’n simboliese sin bymekaar vir die oorlog van Armageddon, “die groot dag van God die Almagtige” (Op. 16:13, 14, 16). Maar ons sal nie vir hulle bang hoef te wees nie. Ons groot God Jehovah sal vinnig reageer om almal te red wat sy heerskappy ondersteun. – Eseg. 38:21-23.

12. Wat sal met al die diere gebeur?

12 Wat sal met al die diere gebeur? Openbaring 19:20 sê: “Die wilde dier is gevang, en saam met hom die valse profeet wat voor hom die tekens gedoen het waarmee hy dié mislei het wat die merk van die wilde dier ontvang het asook dié wat sy beeld aanbid. Hulle is albei lewend in die poel van vuur gegooi wat met swael brand.” So hierdie politieke vyande van God sal vir ewig vernietig word.

13. Watter druk plaas party regerings op Christene?

13 Wat beteken dit vir ons? As Christene moet ons lojaal aan God en aan sy Koninkryk wees (Joh. 18:36). Daarom moet ons neutraal bly wanneer dit kom by die wêreld se politieke sake. En dit kan baie moeilik wees, want party regerings dring daarop aan dat ons vir hulle ons volle ondersteuning gee deur wat ons sê en doen. Almal wat ingee en dit doen, kry die merk van die wilde dier (Op. 13:16, 17). Maar almal wat die merk kry, sal nie Jehovah se goedkeuring hê of die ewige lewe kry nie (Op. 14:9, 10; 20:4). So dit is baie belangrik dat elkeen van ons heeltemal neutraal bly, maak nie saak hoeveel druk op ons geplaas word nie!

DIE GROOT PROSTITUUT WORD VERNEDER EN VERNIETIG

14. Volgens Openbaring 17:3-5, wat sien die apostel Johannes volgende?

14 Die apostel Johannes sê dat hy “baie verbaas” was deur wat hy volgende gesien het. Wat het hy gesien? ’n Vrou wat op een van hierdie gevaarlike wilde diere sit (Op. 17:1, 2, 6). Sy word as ’n “groot prostituut” beskryf, en sy word “Babilon die Grote” genoem. En sy pleeg “seksuele onsedelikheid” met “die konings van die aarde”. – Lees Openbaring 17:3-5.

15-16. Wie is “Babilon die Grote,” en hoe weet ons dit?

15 Wie is “Babilon die Grote”? Hierdie vrou kan nie ’n politieke organisasie verteenwoordig nie, want daar word gesê dat sy seksuele onsedelikheid met die wêreld se politieke leiers pleeg (Op. 18:9). En die feit dat sy op die wilde dier sit, wys dat sy hierdie leiers probeer beheer. En sy kan ook nie die geldgierige kommersiële elemente van Satan se wêreld verteenwoordig nie, want hierdie elemente wat in Openbaring “die handelaars van die aarde” genoem word, word as ’n aparte groep uitgebeeld. – Op. 18:11, 15, 16.

16 In die Bybel kan die term “prostituut” na mense verwys wat sê dat hulle God dien, maar wat afgodediens beoefen of wat op die een of ander manier wys dat hulle vriende van die wêreld is (1 Kron. 5:25; Jak. 4:4). Maar die Bybel sê dat almal wat God getrou aanbid, “rein” of “maagde” is (2 Kor. 11:2; Op. 14:4). Eertydse Babilon was ’n sentrum van valse aanbidding. So Babilon die Grote moet alle vorme van valse aanbidding verteenwoordig. Sy is die wêreldryk van valse godsdiens. – Op. 17:5, 18; sien die artikel “Wat is Babilon die Grote?” op jw.org.

17. Wat sal met Babilon die Grote gebeur?

17 Wat sal met Babilon die Grote gebeur? Openbaring 17:16, 17 sê: “Die tien horings wat jy gesien het en die wilde dier, sal die prostituut haat en sal haar verwoes en kaal maak, en hulle sal haar vlees opvreet en haar heeltemal met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gesit om sy gedagte uit te voer.” So Jehovah sal veroorsaak dat die nasies die helderrooi wilde dier, dit wil sê die Verenigde Nasies, gebruik om die wêreldryk van valse godsdiens aan te val en heeltemal te vernietig. – Op. 18:21-24.

18. Hoe kan ons seker maak dat ons niks met Babilon die Grote te doen het nie?

18 Wat beteken dit vir ons? Ons moet seker maak dat ons aanbidding “in die oë van ons God en Vader rein en onbesmet is” (Jak. 1:27). Ons moet seker maak dat ons nooit beïnvloed word deur die valse leringe, die heidense vieringe, die lae sedelike standaarde en die spiritistiese gebruike van Babilon die Grote nie! En ons moet mense heeltyd waarsku ‘om uit haar uit te gaan’ sodat hulle nie voor God skuldig sal wees aan haar sondes nie. – Op. 18:4.

GOD SE GROOTSTE VYAND WORD VERNIETIG

DIE VUURKLEURIGE DRAAK

Satan gee gesag aan die wilde dier (Op. 12:3, 9, 13; 13:4; 20:2, 10). Satan is Jehovah se grootste vyand, en hy sal vir 1 000 jaar in die afgrond gegooi word. Daarna sal Satan in “die poel van vuur en swael” gegooi word. (Sien paragraaf 19-20)

19. Wie is die “groot vuurkleurige draak”?

19 Die boek Openbaring praat ook van “’n groot vuurkleurige draak” (Op. 12:3). Hierdie draak veg teen Jesus en sy engele (Op. 12:7-9). Dit val God se knegte aan, en dit gee mag aan die politieke diere (Op. 12:17; 13:4). Wie is hierdie draak? Dit is “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word” (Op. 12:9; 20:2). Hy is die een wat al die ander vyande van Jehovah beheer.

20. Wat sal met die draak gebeur?

20 Wat sal met die draak gebeur? Openbaring 20:1-3 sê dat ’n engel Satan in ’n afgrond sal gooi, wat vir hom soos ’n tronk sal wees. Gedurende daardie gevangenskap sal Satan “die nasies nie meer . . . mislei totdat die 1 000 jaar verby is nie”. Daarna sal Satan en sy demone in “die poel van vuur en swael” gegooi word. Dit beteken dat hulle eens en vir altyd vernietig sal word (Op. 20:10). Dink net hoe wonderlik die wêreld sal wees wanneer Satan en sy demone nie meer daar is nie!

21. Hoekom kan die boodskap in die boek Openbaring ons gelukkig maak?

21 Ons is so bevoorreg om te verstaan wat die tekens in die boek Openbaring beteken! Ons het geleer wie Jehovah se vyande is, en ons het ook gesien wat met hulle sal gebeur. Ja, “gelukkig is die een wat die woorde van hierdie profesie hardop lees en dié wat dit hoor”! (Op. 1:3). Maar watter seëninge sal getroue mense geniet nadat God se vyande vernietig is? Ons sal dit in die laaste artikel van hierdie reeks bespreek.

LIED 23 Jehovah begin regeer

^ par. 5 Die boek Openbaring gebruik tekens om God se vyande te beskryf, en die boek Daniël help ons om te verstaan wat daardie tekens beteken. In hierdie artikel sal ons party van die profesieë in die boek Daniël met soortgelyke profesieë in Openbaring vergelyk. Dit sal ons help om God se vyande te identifiseer. Daarna sal ons bespreek wat met hulle gaan gebeur.

^ par. 6 Nog ’n rede hoekom ons weet dat die dier met die sewe koppe al die politieke magte verteenwoordig, is die feit dat dit “tien horings” het. In die Bybel verwys die nommer tien gewoonlik na iets wat volledig is.

^ par. 10 “Die beeld van die wilde dier” het nie krone op sy horings soos die eerste wilde dier nie (Op. 13:1). Dit is omdat dit “uit die sewe” ander konings kom, en dit is die konings wat gesag aan hierdie beeld gee. – Sien die artikel “Wat is die skarlakenkleurige dier in Openbaring 17?” op jw.org.