Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 19

Openbaring – Wat dit vir jou beteken

Openbaring – Wat dit vir jou beteken

“Gelukkig is die een wat die woorde van hierdie profesie hardop lees.” – OP. 1:3.

LIED 15 Loof God se Eersgeborene!

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoekom moet ons in die boek Openbaring belangstel?

 HET jy al deur een van jou vriende se fotoalbums gekyk? Die meeste van die mense op die foto’s is mense wat jy nie ken nie. Maar een van die foto’s trek jou aandag. Hoekom? Want jy is in die foto. Terwyl jy na die foto kyk, probeer jy onthou wanneer en waar dit geneem is. Jy probeer ook kyk of jy die ander mense in die foto ken. Daardie foto is vir jou spesiaal.

2 Die boek Openbaring is soos daardie foto. Hoekom? Vir ten minste twee redes. Eerstens, hierdie Bybelboek is vir ons geskryf. Die heel eerste vers sê: “’n Openbaring deur Jesus Christus, wat God hom gegee het, om vir sy slawe die dinge te wys wat binnekort moet plaasvind” (Op. 1:1). So die boodskap daarin is nie vir mense oor die algemeen nie, maar vir ons, God se toegewyde knegte. En omdat ons God se knegte is, is ons nie verbaas dat ons deel is van die vervulling van die profesieë in hierdie fassinerende boek nie. Met ander woorde, ons is “in die foto”.

3-4. Volgens die boek Openbaring, wanneer sou die profesieë daarin waar word, en wat moet dit ons motiveer om te doen?

3 Die tweede rede hoekom ons in die profesieë in Openbaring moet belangstel, hou verband met die tyd wanneer hierdie profesieë waar sou word. Wanneer sou dit waar word? Die apostel Johannes het vir ons die antwoord gegee toe hy gesê het: “Deur middel van die heilige gees het ek my bevind in die dag van die Here” (Op. 1:10). Toe Johannes daardie woorde in omtrent 96 HJ geskryf het, was “die dag van die Here” nog ver in die toekoms (Matt. 25:14, 19; Luk. 19:12). Maar volgens Bybelprofesieë het daardie dag in 1914 begin toe Jesus as koning in die hemel gekroon is. Vanaf daardie jaar het die profesieë in Openbaring, waarby God se knegte betrokke is, begin waar word. Dink net, ons lewe nou in “die dag van die Here”!

4 Omdat ons in hierdie opwindende tyd lewe, moet ons spesiale aandag skenk aan die liefdevolle raad in Openbaring 1:3: “Gelukkig is die een wat die woorde van hierdie profesie hardop lees en dié wat dit hoor en wat gehoorsaam is aan die dinge wat daarin geskryf is, want die vasgestelde tyd is naby.” So ons moet “die woorde van hierdie profesie hardop lees”, dit “hoor” en “gehoorsaam” wees daaraan. Wat is van hierdie woorde waaraan ons gehoorsaam moet wees?

MAAK SEKER DAT JOU AANBIDDING AANVAARBAAR IS

5. Hoe wys die boek Openbaring dat dit baie belangrik is om seker te maak dat ons aanbidding vir Jehovah aanvaarbaar is?

5 Vanaf die eerste hoofstuk van Openbaring sien ons dat Jesus heeltemal bewus is van alles wat in die gemeentes van sy volk gebeur (Op. 1:12-16, 20; 2:1). Die boodskappe wat Jesus aan die sewe gemeentes in Klein-Asië gestuur het, is duidelike bewyse daarvan. In daardie boodskappe het hy vir Christene in die eerste eeu spesifieke raad gegee wat hulle sou help om seker te maak dat hulle aanbidding vir Jehovah aanvaarbaar is. En daardie raad kan al God se knegte van vandag ook help. Wat is die les vir ons? Ons Leier, Jesus Christus, weet presies wat ons geestelike toestand is. Ons is onder Jesus se beskermende toesig, en hy sien alles. Hy weet wat ons moet doen as ons wil aanhou om Jehovah se goedkeuring te geniet. Watter raad het hy gegee wat ons vandag moet toepas?

6. (a) Volgens Jesus se woorde in Openbaring 2:3, 4, watter probleem het die gemeente in Efese gehad? (b) Watter les leer ons hieruit?

6 Lees Openbaring 2:3, 4Ons moenie ons eerste liefde vir Jehovah verloor nie. Jesus het die gemeente in Efese geprys omdat hulle in hulle diens aan Jehovah volhard het, al het hulle verskillende probleme gehad. Maar hulle het die liefde verloor wat hulle eers gehad het. Hulle moes hulle liefde weer versterk – anders sou hulle aanbidding nie vir Jehovah aanvaarbaar gewees het nie. So dit is nie genoeg om te volhard nie. Ons moet vir die regte redes volhard. Ons God stel nie net belang in wat ons doen nie, maar ook in hoekom ons dit doen. Hy wil hê dat ons hom moet aanbid omdat ons baie lief is vir hom en hom baie waardeer. – Spr. 16:2; Mark. 12:29, 30.

7. (a) Volgens Openbaring 3:1-3, watter probleem het die gemeente in Sardis gehad? (b) Wat is die les vir ons?

7 Lees Openbaring 3:1-3. Ons moet wakker en waaksaam bly. Die gemeente in Sardis het ’n ander probleem gehad. Hulle was besig om laks te word in hulle diens aan Jehovah. Daarom het Jesus vir hulle gesê om “wakker [te] word”. Wat is die waarskuwing vir ons? Jehovah sal natuurlik nie van ons werk vergeet nie (Heb. 6:10). Maar ons moenie dink dat wat ons in die verlede in Jehovah se diens gedoen het, genoeg is nie. Al het ons nou meer beperkings as in die verlede, moet ons besig bly in “die werk van die Here” en tot die einde toe wakker en waaksaam bly. – 1 Kor. 15:58; Matt. 24:13; Mark. 13:33.

8. Watter les leer ons uit Jesus se woorde aan die gemeente in Laodisea?

8 Lees Openbaring 3:15-17. Ons moet ywerig wees en Jehovah met ons hele hart aanbid. Die gemeente in Laodisea het ’n ander probleem gehad. Hulle was “lou” in hulle aanbidding. Omdat hulle nie ywerig was nie, het Jesus vir hulle gesê dat hulle “bejammer moet word”. Hulle moes hulle ywer vir Jehovah en sy aanbidding versterk (Op. 3:19). Wat is die les vir ons? As ons ’n bietjie van ons ywer verloor het, moet ons ons waardering vir die geestelike rykdom wat ons het, vergroot (Op. 3:18). Ons moet nooit so hard probeer om ’n gemaklike lewe te hê dat ons ophou om Jehovah se diens eerste in ons lewe te stel nie.

9. Watter gevaar moet ons vermy as ons dink aan Jesus se raad aan die Christene in Pergamum en Tiatira?

9 Ons moet die leringe van afvalliges verwerp. Jesus het vir party in die gemeente in Pergamum streng raad gegee omdat hulle verdeeldheid en sektes bevorder het (Op. 2:14-16). Hy het almal in Tiatira geprys wat weggebly het van die “diep dinge van Satan”, en hy het hulle aangemoedig om aan die waarheid vas te hou (Op. 2:24-26). Christene in daardie gemeente wat geestelik swak was en wat toegelaat het dat hulle beïnvloed word deur valse leringe, moes berou toon. Wat van ons vandag? Ons moet enige valse leringe verwerp. Afvalliges sal miskien “lyk asof hulle God dien, maar hulle sal nie lewe soos mense wat God dien nie” (2 Tim. 3:5). Dit is makliker om valse leringe te identifiseer en om dit te verwerp as ons goeie studente van God se Woord is. – 2 Tim. 3:14-17; Jud. 3, 4.

10. Watter ander les leer ons uit Jesus se woorde aan die gemeentes in Pergamum en Tiatira?

10 Ons moenie by enige vorm van onsedelikheid betrokke raak of dit duld nie. Daar was nog ’n probleem in Pergamum en Tiatira. Jesus het vir party in daardie gemeentes streng raad gegee omdat hulle nie onsedelikheid verwerp het nie (Op. 2:14, 20). Wat is die les vir ons? As ons by onsedelikheid betrokke raak, kan ons nie verwag dat Jehovah dit sal oorsien nie, al dien ons hom jare lank en al het ons baie voorregte (1 Sam. 15:22; 1 Pet. 2:16). Hy verwag dat ons by sy hoë sedelike standaarde bly, maak nie saak hoe erg die wêreld se standaarde agteruit gaan nie. – Ef. 6:11-13.

11. Wat het ons tot dusver geleer? (Sien ook die venster “ Lesse vir ons vandag”.)

11 Wat het ons tot dusver geleer? Ons het gesien hoe belangrik dit is om seker te maak dat ons aanbidding vir Jehovah aanvaarbaar is. As ons iets doen wat ons aanbidding onaanvaarbaar maak, moet ons onmiddellik stappe neem om dinge reg te stel (Op. 2:5, 16; 3:3, 16). Maar kom ons kyk nou na nog iets wat Jesus gesê het die gemeentes moet doen.

WEES BEREID OM VERVOLGING TE VERDUUR

Hoe het Satan God se volk aangeval nadat hy uit die hemel uitgegooi is? (Sien paragraaf 12-16)

12. Watter raad het Jesus aan die gemeentes in Smirna en Filadelfia gegee wat ons vandag kan help? (Openbaring 2:10)

12 Kom ons kyk nou na die raad wat Jesus aan die gemeentes in Smirna en Filadelfia gegee het. Hy het vir die Christene daar gesê om nie bang te wees om vervolg te word nie, want hulle sou vir hulle getrouheid beloon word. (Lees Openbaring 2:10; 3:10.) Wat is die les vir ons? Ons moet verwag om vervolg te word en bereid wees om vervolging te verduur (Matt. 24:9, 13; 2 Kor. 12:10). Hoekom is hierdie herinnering belangrik?

13-14. Wat is in Openbaring hoofstuk 12 voorspel, en hoe raak dit God se volk?

13 Die boek Openbaring wys dat God se volk in ons dag – “die dag van die Here” – vervolg sou word. Volgens Openbaring hoofstuk 12 breek oorlog in die hemel uit onmiddellik nadat God se Koninkryk opgerig word. Migael (wat na Jesus Christus verwys) en sy leërmagte veg teen Satan en die demone (Op. 12:7, 8). Migael oorwin hulle en gooi hulle na die aarde toe neer. En daardie vyande van God veroorsaak dat die mense op die aarde baie swaar kry (Op. 12:9, 12). Maar hoe word God se knegte daardeur geraak?

14 Omdat Satan nie meer in die hemel kan ingaan nie, val hy God se gesalfde knegte op die aarde aan. Daardie gesalfde knegte van God is die aardse verteenwoordigers van God se Koninkryk, en hulle het “die werk . . . om van Jesus te getuig” (Op. 12:17; 2 Kor. 5:20; Ef. 6:19, 20). Hoe het hierdie profesie waar geword?

15. Wie word verteenwoordig deur die “twee getuies” in Openbaring hoofstuk 11, en wat het met hulle gebeur?

15 Die “twee getuies” wat in die boek Openbaring genoem word, verwys na die gesalfdes wat die leiding in die predikingswerk geneem het. Satan het veroorsaak dat God se vyande hulle aanval. En volgens die boek Openbaring is hierdie “twee getuies” doodgemaak (Op. 11:3, 7-11). * In 1918 is agt van die broers wat die leiding geneem het, valslik beskuldig en tot ’n lang tronkstraf gevonnis. Vir die meeste mense het dit gelyk asof hulle werk “doodgemaak” is.

16. Wat het in 1919 gebeur, en wat het Satan aangehou om te doen?

16 Die profesie in Openbaring hoofstuk 11 het ook gesê dat die “twee getuies” ná ’n kort tydjie weer lewend gemaak sou word. Minder as ’n jaar nadat hulle tronk toe gestuur is, het hierdie profesie op ’n verstommende manier waar geword. Vroeg in 1919 is daardie gesalfde broers uit die tronk vrygelaat, en later is die aanklagte teruggetrek. Die broers het onmiddellik aan die werk gespring en weer die leiding geneem in die predikingswerk. Maar Satan het nie opgehou om God se volk aan te val nie. Vanaf daardie tyd het Satan “’n rivier” van vervolging teen God se volk laat vloei (Op. 12:15). En daarom het ons “volharding en geloof” beslis nodig. – Op. 13:10.

DOEN JOU BES IN DIE WERK WAT JEHOVAH VIR ONS GEGEE HET

17. Watter onverwagse hulp het God se volk soms ontvang wanneer Satan hulle aangeval het?

17 Openbaring hoofstuk 12 wys dat God se volk hulp uit ’n onverwagse bron sou ontvang. Dit sou wees asof “die aarde” “die rivier” van vervolging insluk (Op. 12:16). En dit is presies wat gebeur het. Soms het die dele van Satan se wêreld wat meer stabiel is, soos sekere regstelsels, God se volk gehelp. Jehovah se knegte het al baie hofsake gewen wat hulle gehelp het om ’n mate van vryheid te geniet. Hoe het hulle hierdie vryheid gebruik? Hulle het dit gebruik om die werk te doen wat Jehovah vir hulle gegee het om te doen (1 Kor. 16:9). Wat sluit hierdie werk in?

Watter twee boodskappe word deur God se volk verkondig? (Sien paragraaf 18-19)

18. Wat is ons belangrikste werk gedurende hierdie laaste dae?

18 Jesus het voorspel dat sy volk die “goeie nuus van [God se] Koninkryk” regoor die aarde sou verkondig, voordat die einde kom (Matt. 24:14). Terwyl hulle dit doen, word hulle ondersteun deur ’n engel, of ’n groep engele, wat “ewige goeie nuus [het] om bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, aan elke nasie en stam en taal en volk”. – Op. 14:6.

19. Watter ander boodskap moet verkondig word deur dié wat Jehovah liefhet?

19 Die goeie nuus van die Koninkryk is nie die enigste boodskap wat God se volk moet verkondig nie. Hulle moet ook die werk ondersteun wat die engele doen wat in Openbaring hoofstuk 8 tot 10 beskryf word. Hierdie engele verkondig ’n reeks verskriklike dinge wat met almal gaan gebeur wat God se Koninkryk verwerp. Dit is hoekom Jehovah se Getuies ’n oordeelsboodskap verkondig wat met “hael en vuur” vergelyk word en wat verduidelik wat God met die verskillende elemente van Satan se goddelose wêreld gaan doen (Op. 8:7, 13). Mense moet weet dat die einde naby is sodat hulle drastiese veranderinge in hulle lewe kan maak en die dag van Jehovah se woede kan oorleef (Sef. 2:2, 3). Maar die meeste mense hou nie van hierdie boodskap nie. Ons het moed nodig om dit te verkondig. En gedurende die groot verdrukking sal die finale oordeelsboodskap selfs meer intens en direk wees. – Op. 16:21.

WEES GEHOORSAAM AAN DIE WOORDE VAN HIERDIE PROFESIE

20. Wat sal ons in die volgende twee artikels bespreek?

20 Ons moet gehoorsaam wees aan “die woorde van hierdie profesie” omdat ons deel is van die vervulling van die profesieë in die boek Openbaring (Op. 1:3). Maar wat sal ons help om getrou te bly wanneer ons vervolg word en om aan te hou om hierdie boodskappe moedig te verkondig? In die volgende twee artikels sal ons twee dinge bespreek wat ons sal versterk. Ons gaan eerstens bespreek wat die boek Openbaring oor God se vyande sê, en tweedens sal ons die toekomstige seëninge bespreek wat ons sal ontvang as ons getrou bly.

LIED 32 Kies kant vir Jehovah!

^ par. 5 Ons lewe in opwindende tye! Profesieë in die boek Openbaring word in ons tyd waar. Hoe raak hierdie profesieë ons? Hierdie artikel en die volgende twee artikels sal vir ons ’n oorsig van die boek Openbaring gee. Dit sal ons wys hoe ons kan toepas wat ons in daardie boek leer sodat ons aanbidding vir Jehovah aanvaarbaar kan wees.