Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 21

Openbaring – Wat dit vir jou toekoms beteken

Openbaring – Wat dit vir jou toekoms beteken

“Amen! Kom, Here Jesus.” – OP. 22:20.

LIED 142 Ons hoop is ’n anker

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter belangrike besluit moet alle mense neem?

 VANDAG moet almal ’n belangrike besluit neem. Sal hulle Jehovah God se heerskappy ondersteun of sal hulle sy wrede vyand, Satan die Duiwel, ondersteun? Almal sal moet kant kies – niemand sal neutraal kan bly nie. Die besluit wat hulle neem, sal hulle ewige toekoms beïnvloed (Matt. 25:31-33, 46). Gedurende “die groot verdrukking” sal hulle vir oorlewing of vir vernietiging gemerk word. – Op. 7:14; 14:9-11; Eseg. 9:4, 6.

2. (a) Wat moedig Hebreërs 10:35-39 ons aan om te doen? (b) Hoe kan die boek Openbaring ons help?

2 Lees Hebreërs 10:35-39. As jy gekies het om Jehovah se heerskappy te ondersteun, het jy ’n wyse besluit geneem. Nou wil jy ander graag help om die regte keuse te maak. Jy kan die inligting in die boek Openbaring gebruik om hulle te help. Daardie fassinerende boek wys wat met almal sal gebeur wat Jehovah teëstaan, maar dit wys ook watter seëninge almal sal geniet wat sy heerskappy lojaal ondersteun. Dit sal vir ons goed wees as ons hierdie belangrike waarhede studeer. Dit sal ons help om vasbeslote te wees om Jehovah te bly dien. En ons kan wat ons geleer het, gebruik om ander te help om die regte besluit te neem en om daarby te bly.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons die volgende vrae bespreek: Watter seëninge sal almal ontvang wat God se heerskappy ondersteun? En wat sal met almal gebeur wat die helderrooi wilde dier ondersteun wat in die boek Openbaring beskryf word?

SEËNINGE VIR JEHOVAH SE GETROUE KNEGTE

4. Watter groep sien Johannes saam met Jesus in die hemel?

4 In ’n visioen sien die apostel Johannes twee groepe wat Jehovah se heerskappy ondersteun en wat met die ewige lewe geseën word. In die eerste groep is daar 144 000 (Op. 7:4). Hulle word van die aarde gekies om hemel toe te gaan, waar hulle saam met Jesus in ’n regering, of Koninkryk, oor die aarde regeer (Op. 5:9, 10; 14:3, 4). In Johannes se visioen staan hulle saam met Jesus op die hemelse berg Sion. – Op. 14:1.

5. Wat sal binnekort gebeur met dié wat deel is van die 144 000 wat nog op die aarde is?

5 Vanaf die tyd van die apostels is duisende mense al gekies om deel te wees van die 144 000 (Luk. 12:32; Rom. 8:17). Maar daar word vir Johannes gesê dat daar gedurende die laaste dae net ’n klein groepie van hulle op die aarde sou oorbly. Voordat die groot verdrukking begin, sal hierdie “oorblywendes” met die seël van Jehovah se goedkeuring finaal “verseël” word (Op. 7:2, 3; 12:17). Daarna, gedurende die groot verdrukking, sal hulle hemel toe geneem word en by die res van die 144 000 aansluit. Daar sal hulle saam met Jesus in God se Koninkryk regeer. – Matt. 24:31; Op. 5:9, 10.

6-7. (a) Watter groep sien Johannes volgende, en wat leer ons oor hulle? (b) Hoekom moet die oorblywendes van die 144 000 sowel as die “groot menigte” in Openbaring hoofstuk 7 belangstel?

6 Daarna sien Johannes “’n groot menigte” wat nie getel kan word nie (Op. 7:9, 10). Wat leer ons omtrent hulle? Daar word vir Johannes gesê: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam” (Op. 7:14). Hierdie “groot menigte” sal die groot verdrukking oorleef, en daarna sal hulle wonderlike seëninge hier op die aarde geniet. – Ps. 37:9-11, 27-29; Spr. 2:21, 22; Op. 7:16, 17.

7 Sien jy jouself in die toneel wat in Openbaring hoofstuk 7 beskryf word? Of ons nou die hoop het om hemel toe te gaan of om hier op die aarde te bly, ons moet onsself in daardie toneel sien, want dit sal ’n baie opwindende tyd vir albei groepe van God se knegte wees! Ons sal oorloop van vreugde omdat ons gekies het om Jehovah se heerskappy te ondersteun. Maar wat sê die boek Openbaring nog vir ons oor die groot verdrukking? – Matt. 24:21.

WAT MET GOD SE TEENSTANDERS SAL GEBEUR

8. Hoe sal die groot verdrukking begin, en hoe sal die meeste mense reageer?

8 Soos daar in die vorige artikel genoem is, sal die politieke elemente van hierdie wêreld Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, binnekort aanval (Op. 17:16, 17). Hierdie aanval sal aandui dat die groot verdrukking begin het. Sal dit daartoe lei dat baie mense Jehovah begin dien? Nee. Volgens Openbaring hoofstuk 6 sal mense wat Jehovah nie dien nie, gedurende daardie kritieke tyd eerder beskerming soek by die politieke en kommersiële stelsels van hierdie wêreld, wat met berge vergelyk word. Jehovah sal daardie mense as teenstanders beskou omdat hulle nie sy Koninkryk ondersteun nie. – Luk. 11:23; Op. 6:15-17.

9. Wat sal Jehovah se knegte gedurende die groot verdrukking doen, en wat sal die resultaat wees?

9 Gedurende daardie baie moeilike tyd sal Jehovah se getroue knegte uitstaan. Hulle sal nog steeds die enigste groep op aarde wees wat Jehovah God dien en wat weier om hulle ondersteuning te gee aan “die wilde dier” (Op. 13:14-17). Hulle lojaliteit sal Jehovah se vyande baie kwaad maak. En daarom sal ’n groep nasies God se volk regoor die aarde aanval. Die Bybel verwys na hierdie aanval as die aanval van Gog van Magog. – Eseg. 38:14-16.

10. Volgens Openbaring 19:19-21, hoe sal Jehovah reageer wanneer sy volk aangeval word?

10 Hoe sal Jehovah reageer wanneer sy volk aangeval word? Hy sê vir ons: “My groot woede [sal] opvlam” (Eseg. 38:18, 21-23). Openbaring hoofstuk 19 verduidelik wat volgende gebeur. Jehovah stuur Sy Seun om Sy volk te verdedig en om hulle vyande te oorwin. “Die leërmagte in die hemel”, dit wil sê die getroue engele en die 144 000, sal saam met Jesus veg (Op. 17:14; 19:11-15). Wat is die uiteinde van hierdie oorlog? Alle mense en organisasies wat Jehovah teëstaan, sal heeltemal vernietig word! – Lees Openbaring 19:19-21.

’N TROUE NÁ DIE OORLOG

11. Wat is die hoogtepunt van die boek Openbaring?

11 Dink net hoe alle getroue mense op die aarde sal voel nadat al God se vyande vernietig is! Dit sal ’n tyd van groot vreugde wees! Almal in die hemel sal uitroep van vreugde wanneer Babilon die Grote vernietig is. Maar daar is nog iets wat tot groter vreugde sal lei (Op. 19:1-3). Wat is dit? “Die huwelik van die Lam” – die hoogtepunt van die boek Openbaring. – Op. 19:6-9.

12. Volgens Openbaring 21:1, 2, wanneer sal die huwelik van die Lam plaasvind?

12 Wanneer sal die huwelik plaasvind? Al die lede van die 144 000 sal al in die hemel wees wanneer Armageddon begin. Maar dit is nie wanneer die huwelik van die Lam sal plaasvind nie. (Lees Openbaring 21:1, 2.) Die huwelik van die Lam vind plaas Armageddon en nadat al God se vyande vernietig is. – Ps. 45:3, 4, 13-17.

13. Wat is die huwelik van die Lam?

13 Wat is die huwelik van die Lam? Net soos ’n huwelik ’n man en vrou verbind, verbind hierdie simboliese huwelik die Koning, Jesus Christus, met sy “bruid”, die 144 000. Hierdie besondere huwelik sal die inwyding wees van die nuwe regering wat vir 1 000 jaar oor die aarde sal regeer. – Op. 20:6.

’N GLORIERYKE STAD EN JOU TOEKOMS

Openbaring 21 sê dat die simboliese stad, Nuwe Jerusalem, “van God af uit die hemel” neerdaal. Gedurende die duisend jaar sal gehoorsame mense baie seëninge ontvang (Sien paragraaf 14-16)

14-15. Waarmee word die 144 000 in Openbaring 21 vergelyk? (Sien prent op voorblad.)

14 In Openbaring hoofstuk 21 word die 144 000 met ’n baie pragtige stad vergelyk wat “Nuwe Jerusalem” genoem word (Op. 21:2, 9). Hierdie stad het 12 fondamentstene met “die 12 name van die 12 apostels van die Lam” daarop. Hoekom sou dit Johannes se aandag trek? Want sy naam was op een van daardie stene. Wat ’n massiewe voorreg! – Op. 21:10-14; Ef. 2:20.

15 Hierdie simboliese stad kan nie met enige ander stad vergelyk word nie. Die hoofstraat van die stad is van suiwer goud, die 12 poorte van die stad is pêrels, die mure en fondamente is met edelstene versier, en die lengte, breedte en hoogte van die stad is gelyk (Op. 21:15-21). Maar daar is geen tempel in die stad nie! Johannes sê: “Ek het nie ’n tempel daarin gesien nie, want Jehovah God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam is ook sy tempel. En die stad het nie die son en ook nie die maan nodig om daarop te skyn nie, want die heerlikheid van God het dit verlig, en sy lamp was die Lam” (Op. 21:22, 23). Dié wat deel is van die Nuwe Jerusalem sal direkte toegang tot Jehovah hê (Heb. 7:27; Op. 22:3, 4). So Jehovah en Jesus is die tempel in daardie stad.

Wie sal baat vind by die voorsienings wat as “’n rivier” en as “bome” uitgebeeld word? (Sien paragraaf 16-17)

16. Hoe sal die lewe op die aarde wees wanneer God se Koninkryk regeer?

16 Die gesalfdes raak opgewonde wanneer hulle aan hierdie stad dink. Maar almal wat die hoop het om op die aarde te lewe, het ook goeie rede om daarin belang te stel. Wanneer God se Koninkryk vir 1 000 jaar regeer, sal die Nuwe Jerusalem vir die aarde baie seëninge bring. Johannes sien hoe hierdie seëninge soos “’n rivier van water van die lewe” vloei. Aan albei kante van die rivier is daar “bome van die lewe”, en die blare van die bome is “vir die genesing van die nasies” (Op. 22:1, 2). Alle mense wat dan lewe, sal die geleentheid kry om baat te vind by daardie voorsienings. Alle gehoorsame mense sal geleidelik volmaak word. Daar sal geen siekte, pyn of hartseer meer wees nie. – Op. 21:3-5.

17. Volgens Openbaring 20:11-13, wie sal almal seëninge ontvang wanneer God se Koninkryk vir 1 000 jaar regeer?

17 Wie sal almal baat vind by hierdie wonderlike voorsienings? Die groot menigte wat Armageddon oorleef en enige kinders wat in die nuwe wêreld gebore word, sal by hierdie voorsienings baat vind. Maar Openbaring hoofstuk 20 belowe ook dat die dooies opgewek sal word. (Lees Openbaring 20:11-13.) Getroue “regverdiges” wat in die verlede gesterf het, sowel as “onregverdiges” – wat nie die kans gekry het om oor Jehovah te leer nie – sal almal hier op die aarde opgewek word (Hand. 24:15; Joh. 5:28, 29). Beteken dit dat al die dooies gedurende die duisend jaar op die aarde opgewek sal word? Nee. Almal wat gekies het om Jehovah nie te dien voordat hulle gesterf het nie, sal nie opgewek word nie. Hulle het hulle kans gehad, en hulle het gewys dat hulle nie waardig is om op die Paradysaarde te lewe nie. – Matt. 25:46; 2 Tess. 1:9; Op. 17:8; 20:15.

DIE FINALE TOETS

18. Wat sal die situasie op die aarde wees aan die einde van die duisend jaar?

18 Aan die einde van die duisend jaar sal almal op aarde volmaak wees. Niemand sal meer onder die invloed wees van die sonde wat ons by Adam geërf het nie (Rom. 5:12). Die vloek van die sonde sal heeltemal weg wees. Aan die einde van die duisend jaar sal almal op aarde ‘lewend word’ in die sin dat hulle vir die eerste keer die lewe sal kan geniet as volmaakte mense. – Op. 20:5.

19. Hoekom is ’n finale toets nodig?

19 Ons weet dat Jesus Satan se versoekings om dislojaal aan Jehovah te wees, weerstaan het. Hy het getrou aan Jehovah gebly toe hy getoets is. Maar sal alle volmaakte mense lojaal aan Jehovah bly wanneer hulle deur Satan getoets word? Aan die einde van die duisend jaar sal almal ’n kans kry om te bewys dat hulle lojaal is aan Jehovah wanneer Satan uit die afgrond vrygelaat word (Op. 20:7). Almal wat hierdie finale toets slaag, sal die ewige lewe ontvang en uiteindelik ware vryheid geniet (Rom. 8:21). Maar dié wat rebelleer, sal saam met die Duiwel en sy demone vir ewig vernietig word. – Op. 20:8-10.

20. Hoe voel jy oor die opwindende profesieë in die boek Openbaring?

20 Hoe het hierdie oorsig van die boek Openbaring jou laat voel? Maak dit jou nie opgewonde om jouself in hierdie opwindende profesieë te sien nie? En maak dit jou nie lus om ander te nooi om ons God saam met ons op ’n rein manier te aanbid nie? (Op. 22:17). Wanneer ons toelaat dat hierdie fassinerende profesieë ons harte en verstande raak, voel ons soos die apostel Johannes wat gesê het: “Amen! Kom, Here Jesus.” – Op. 22:20.

LIED 27 Die openbaring van die seuns van God

[Voetnoot]

^ par. 5 Hierdie artikel is die finale artikel in die reeks oor die boek Openbaring. In hierdie artikel sal ons die wonderlike toekoms bespreek wat almal sal geniet wat aan Jehovah getrou bly, en ons sal ook kyk na wat met almal sal gebeur wat God se heerskappy teëstaan.