Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 23

Ouers – Help julle kinders om Jehovah lief te kry

Ouers – Help julle kinders om Jehovah lief te kry

“Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” – Matt. 22:37.

LIED 134 Kinders is ’n erfdeel van God

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoe kry ons meer waardering vir Bybelbeginsels wanneer ons omstandighede verander?

 OP HULLE troudag luister die bruidegom en sy pragtige bruid baie mooi na die troutoespraak wat vir hulle goeie raad uit die Bybel gee. Die Bybelbeginsels in die toespraak is vir hulle niks nuuts nie, maar van hulle troudag af sal hulle meer waardering vir hierdie beginsels hê. Hoekom? Omdat hulle dit van hulle troudag af as ’n getroude paartjie sal toepas.

2 Iets soortgelyks gebeur wanneer ’n Christenpaartjie ouers word. Oor die jare het hulle miskien ’n hele paar toesprake gehoor oor hoe om kinders groot te maak. Maar noudat hulle ouers is, sal hulle meer waardering hê vir die beginsels wat in daardie toesprake genoem is. Hulle het nou die wonderlike verantwoordelikheid om ’n kind groot te maak! Wanneer ons omstandighede verander, kan dit ons beskouing van Bybelbeginsels wat ons goed ken, verander. Dit is een rede hoekom Jehovah se knegte die Skrif “al die dae” van hulle lewe lees en daaroor nadink, net soos Israel se konings moes doen. – Deut. 17:19.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Ouers, julle het die voorreg om julle kinders oor Jehovah te leer – een van die grootste voorregte wat ’n Christen kan hê. Maar julle wil natuurlik meer doen as om net feite oor te dra. Julle wil hulle help om ’n diep liefde vir hom te ontwikkel. Wat kan julle doen om julle kinders te help om Jehovah lief te kry? In hierdie artikel sal ons vier Bybelbeginsels bespreek wat julle kan help (2 Tim. 3:16). Ons sal ook sien hoe die Bybel se raad party Christenouers al gehelp het.

VIER BYBELBEGINSELS WAT OUERS KAN HELP

Hoekom moet ouers Jehovah se leiding vra en ’n goeie voorbeeld vir hulle kinders stel? (Sien paragraaf 4, 8)

4. Wat kan ouers doen om hulle kinders te help om ’n diep liefde vir Jehovah te ontwikkel? (Jakobus 1:5)

4 Beginsel 1: Vra Jehovah vir sy leiding. Vra Jehovah vir die wysheid wat julle nodig het om julle kinders te help om ’n diep liefde vir hom te ontwikkel. (Lees Jakobus 1:5.) Hy sal vir julle die beste raad kan gee. Hoekom? Om maar een ding te noem, Jehovah is die ouer met die beste ondervinding (Ps. 36:9). En die wyse raad wat hy gee, werk altyd. – Jes. 48:17.

5. (a) Watter hulp voorsien Jehovah se organisasie aan ouers? (b) Wat het jy in die video geleer oor die manier hoe broer en suster Amorim hulle kinders grootgemaak het?

5 Deur middel van sy Woord en sy organisasie gee Jehovah vir julle oorgenoeg raad uit die Bybel wat julle kan help om julle kinders te leer om Jehovah lief te kry (Matt. 24:45). Julle kan byvoorbeeld baie praktiese raad vind in die reeks artikels “Hulp vir die gesin”, wat in die verlede in die Ontwaak! verskyn het en wat nou ook op ons webwerf gevind kan word. En daar is baie video’s op jw.org wat julle kan help om Jehovah se raad toe te pas terwyl julle julle kinders grootmaak. * – Spr. 2:4-6.

6. Hoe voel een pa oor die leiding wat hy en sy vrou van Jehovah se organisasie ontvang?

6 Baie ouers het al gesê hoe dankbaar hulle is vir die hulp wat Jehovah deur middel van sy organisasie voorsien. ’n Pa met die naam Joe erken: “Om drie kinders in die waarheid groot te maak, is nie speletjies nie. Ek en my vrou vra Jehovah altyd om ons te help. En ons het al baie gesien hoe ons ’n artikel of ’n video op presies die regte tyd kry wanneer ons ’n moeilike situasie moet hanteer. Ons kon nog altyd op Jehovah se leiding staatmaak.” Joe en sy vrou het al gesien hoe sulke artikels en video’s hulle kinders help om nader aan Jehovah te kom.

7. Hoekom moet ouers hulle bes doen om ’n goeie voorbeeld te stel? (Romeine 2:21)

7 Beginsel 2: Stel ’n goeie voorbeeld. Kinders hou hulle ouers fyn dop, en baie keer doen hulle wat hulle hulle ouers sien doen. Ouers is natuurlik nie volmaak nie (Rom. 3:23). Maar wyse ouers doen nogtans hulle bes om ’n goeie voorbeeld vir hulle kinders te stel. (Lees Romeine 2:21.) Een pa het die volgende oor kinders gesê: “Hulle is soos sponse wat alles absorbeer. Hulle sal vir ons sê wanneer ons nie die dinge doen wat ons hulle leer om te doen nie.” So as ons wil hê dat ons kinders vir Jehovah lief moet wees, moet hulle duidelik kan sien dat ons baie lief is vir hom.

8-9. Wat het jy uit Andrew en uit Emma se ondervinding geleer?

8 Daar is baie maniere om kinders te leer om Jehovah lief te kry. Kyk na wat ’n 17-jarige broer met die naam Andrew sê: “My ouers het ons altyd gehelp om te verstaan hoe belangrik gebed is. My pa het elke aand saam met my gebid al het ek alreeds gebid. My ouers het altyd vir ons gesê: ‘Jy kan met Jehovah praat soveel as wat jy wil.’ As gevolg van hulle voorbeeld is gebed vir my baie belangrik. Nou is dit vir my baie maklik om met Jehovah te gesels en om hom as ’n liefdevolle Vader te sien.” Ouers, moet nooit onderskat hoe julle liefde vir Jehovah julle kinders kan beweeg om Jehovah ook lief te hê nie.

9 Kom ons kyk ook na die voorbeeld van Emma. Toe haar pa hulle gesin verlaat het, het hy haar ma met baie skuld gelos. Emma sê: “Baie keer het ons nie genoeg geld gehad nie, maar my ma het altyd gepraat van hoe Jehovah vir sy knegte sorg. Alles wat sy gedoen het, het vir my gewys dat sy dit regtig glo. My ma het die dinge toegepas wat sy ons geleer het.” Die les? Selfs onder moeilike omstandighede kan ouers hulle kinders help deur ’n goeie voorbeeld te stel. – Gal. 6:9.

10. Watter geleenthede het baie ouers in Israel gehad om met hulle kinders te kommunikeer? (Deuteronomium 6:6, 7)

10 Beginsel 3: Praat gereeld met julle kinders. Jehovah het vir die Israeliete gesê dat hulle hulle kinders gereeld oor hom moet leer. (Lees Deuteronomium 6:6, 7.) Daardie ouers het dwarsdeur die dag baie geleenthede gehad om met hulle kinders te praat en om hulle kinders te help om Jehovah lief te kry. Byvoorbeeld, baie seuns in Israel het baie tyd saam met hulle pa gespandeer terwyl hulle geplant en geoes het. En baie meisies het baie tyd saam met hulle ma gespandeer terwyl hulle naaldwerk gedoen het, geweef het en ander takies by die huis gedoen het. Terwyl ouers en kinders saam gewerk het, kon hulle oor baie belangrike onderwerpe gesels. Hulle kon byvoorbeeld praat oor hoe goed Jehovah vir hulle is en hoe hy hulle gesin help.

11. Wanneer kan Christenouers met hulle kinders gesels?

11 Maar tye het verander. In baie lande kan kinders en ouers nie gedurende die dag tyd saam spandeer nie. Die ouers is dalk by die werk, en die kinders is by die skool. Daarom moet ouers na geleenthede soek om met hulle kinders te praat (Ef. 5:15, 16; Fil. 1:10). Hulle kan byvoorbeeld lekker gesels wanneer hulle gesinsaanbidding doen. ’n Jong broer met die naam Alexander sê: “My pa beplan altyd ons gesinsaanbidding, en hy maak seker dat niks in ons pad staan om daardie tyd saam te geniet nie. En ná die studie gesels ons net.”

12. Wat moet ’n gesinshoof in gedagte hou wanneer dit kom by gesinsaanbidding?

12 As jy ’n gesinshoof is, wat kan jy doen om julle gesinsaanbidding vir julle kinders lekker te maak? Miskien kan jy ons nuwe publikasie Geniet die lewe vir ewig! met julle kinders studeer. Hierdie boek maak dit maklik om lekker gesprekke te hê. Jy wil hê dat jou kinders openlik moet praat oor hoe hulle voel en oor die dinge waaroor hulle bekommerd is. So moenie julle gesinsaanbidding gebruik om vir hulle te preek of om hulle te kritiseer nie. En probeer om nie te oorreageer as hulle vir jou iets sê wat wys dat hulle op ’n verkeerde manier dink nie. Wees eerder dankbaar dat hulle eerlik is en moedig hulle aan om altyd te sê hoe hulle voel. Jy sal julle kinders beter kan help as jy verstaan hoe hulle regtig voel.

Hoe kan ouers die skepping gebruik om hulle kinders oor Jehovah se eienskappe te leer? (Sien paragraaf 13)

13. Watter ander geleenthede het ouers om hulle kinders te help om nader aan Jehovah te kom?

13 Ouers, julle moet dwarsdeur die dag na geleenthede soek om julle kinders te help om nader aan Jehovah te kom. Julle hoef nie te wag totdat julle hulle Bybelstudie hou om hulle oor ons liefdevolle God te leer nie. Let op wat ’n ma met die naam Lisa sê: “Ons het die skepping gebruik om ons kinders oor Jehovah te leer. Byvoorbeeld, wanneer ons hond snaakse goedjies gedoen het wat ons kinders laat lag het, het ons dit gebruik om vir hulle te leer dat ons Skepper ’n sin vir humor het en dat hy net soos ons die lewe geniet.”

Ouers, ken julle julle kinders se vriende? (Sien paragraaf 14) *

14. Hoekom is dit belangrik dat ouers hulle kinders help om die regte vriende te kies? (Spreuke 13:20)

14 Beginsel 4: Help julle kinders om goeie vriende te kies. God se Woord sê duidelik dat ons vriende ’n goeie of ’n slegte invloed op ons kan hê. (Lees Spreuke 13:20.) Ouers, ken julle julle kinders se vriende? Het julle hulle al ontmoet en tyd saam met hulle gespandeer? Hoe kan jy jou kinders help om vriende te maak met mense wat vir Jehovah lief is? (1 Kor. 15:33). Nooi mense wat goed doen in die waarheid om by julle te kom kuier of om ander dinge saam met julle gesin te doen. – Ps. 119:63.

15. Wat kan ouers doen om hulle kinders te help om goeie vriende te maak?

15 Kom ons kyk na wat ’n pa met die naam Tony en sy vrou gedoen het om hulle kinders te help om goeie vriende te maak. Hy sê: “Oor die jare het ek en my vrou broers en susters van verskillende ouderdomme en agtergronde genooi om by ons te kom eet of om gesinsaanbidding saam met ons te doen. Dit is ’n goeie manier om mense te leer ken wat lief is vir Jehovah en wat hom met vreugde dien. Kringopsieners, sendelinge en ander het al by ons oorgeslaap. Hulle ondervindinge, ywer en selfopofferende gees het ’n massiewe impak op ons kinders gemaak en het hulle gehelp om nader aan Jehovah te kom.” Ouers, doen julle bes om seker te maak dat julle kinders goeie vriende het.

MOENIE HOOP VERLOOR NIE!

16. Wat kan ouers doen as hulle kind sê dat hy Jehovah nie wil dien nie?

16 Sê nou een van julle kinders sê dat hy Jehovah nie wil dien nie, al het julle julle bes gedoen om hom te help om Jehovah lief te kry? Moenie dink dat jy as ’n ouer misluk het nie. Jehovah het ons almal – insluitende jou kind – vrye wil gegee, dit wil sê die vermoë om te kies of ons God wil dien of nie. As jou kind besluit dat hy Jehovah nie wil dien nie, moet jy nie hoop verloor dat hy eendag na hom toe sal terugkeer nie. Dink aan die illustrasie van die verlore seun (Luk. 15:11-19, 22-24). Daardie jong man het heeltemal van die pad afgedwaal, maar uiteindelik het hy tot sy sinne gekom. Party sê dalk: “Dit was maar net ’n illustrasie. Kan dit regtig gebeur?” Ja, dit kan! Dit is eintlik presies wat met ’n jong man met die naam Elie gebeur het.

17. Hoe moedig Elie se ondervinding jou aan?

17 Elie sê: “My ouers . . . het hulle bes gedoen om ’n liefde vir Jehovah en sy Woord, die Bybel, by my in te skerp. Maar as ’n tiener het ek opstandig begin word.” Elie het verkeerde dinge in die geheim begin doen. En toe sy ouers probeer om hom geestelik te help, het hy nie na hulle geluister nie. Nadat hy die huis verlaat het, het hy erger dinge begin doen. Maar hy het af en toe met een van sy vriende oor die Bybel gesels. Elie sê: “Hoe meer ek met my vriend oor Jehovah gepraat het, hoe meer het ek aan Jehovah begin dink. Stadig maar seker het die saadjies van Bybelwaarheid wat rustend in my hart was – saadjies wat my ouers met baie moeite geplant het – begin groei.” Later het Elie na die waarheid toe teruggekom. * Dink net hoe bly sy ouers moes gewees het dat hulle hom van kleins af probeer help het om Jehovah lief te kry! – 2 Tim. 3:14, 15.

18. Hoe voel jy oor ouers wat hulle bes doen om hulle kinders te help om Jehovah lief te kry?

18 Ouers, julle het die wonderlike voorreg om ’n nuwe generasie van Jehovah se aanbidders groot te maak (Ps. 78:4-6). Dit is glad nie ’n maklike taak nie, en ons wil julle opreg prys omdat julle julle bes doen om julle kinders te help! As julle aanhou om julle bes te doen om julle kinders te help om Jehovah lief te kry en om hulle volgens die dissipline en riglyne van Jehovah groot te maak, kan julle seker wees dat julle ons liefdevolle hemelse Vader se hart baie bly sal maak – Ef. 6:4.

LIED 135 God se liefdevolle versoek: “Wees wys, my seun”

^ par. 5 Christenouers is baie lief vir hulle kinders. Hulle werk hard om na hulle kinders se fisiese en emosionele behoeftes om te sien. En nog belangriker, hulle doen hulle bes om hulle kinders te help om ’n diep liefde vir Jehovah te ontwikkel. Hierdie artikel sal vier Bybelbeginsels bespreek wat ouers kan help om daardie doelwit te bereik.

^ par. 17 Sien die artikel “Die Bybel verander lewens” in Die Wagtoring van 1 April 2012.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Pa spandeer tyd saam met sy seun en sy seun se vriend sodat hy die vriend kan leer ken.