STUDIEARTIKEL 22
Wysheid wat tot geluk lei
“Jehovah gee wysheid.” – SPR. 2:6.
LIED 89 Luister en doen wat God sê
IN HIERDIE ARTIKEL *
1. Hoekom het ons almal goddelike wysheid nodig? (Spreuke 4:7)
HET jy al vir wysheid gebid voordat jy ’n belangrike besluit moes neem? (Jak. 1:5). Koning Salomo het geskryf: “Wysheid is van die grootste belang.” (Lees Spreuke 4:7.) Salomo het natuurlik nie van sommer enige soort wysheid gepraat nie. Hy het verwys na die wysheid wat van Jehovah God af kom (Spr. 2:6). Maar kan die wysheid wat Jehovah vir ons gee, ons help met die probleme wat ons vandag ondervind? Ja, dit kan, soos ons in hierdie artikel sal sien.
2. Hoe kan ons ware wysheid kry?
2 Een manier om ware wysheid te kry, is deur die leringe van twee baie wyse manne te studeer en toe te pas. Eerstens sal ons kyk na die raad wat Salomo gegee het. Die Bybel sê dat God vir Salomo “baie wysheid en verstand gegee” het (1 Kon. 4:29). Tweedens sal ons kyk na die leringe van Jesus, die wysste man wat nog ooit gelewe het (Matt. 12:42). Daar is oor Jesus voorspel: “Die gees van Jehovah sal op hom rus, die gees van wysheid en van insig.” – Jes. 11:2.
3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 Deur middel van Salomo en Jesus het Jehovah vir ons praktiese raad gegee wat ons almal kan help. In hierdie artikel sal ons kyk na hoe hulle raad ons kan help om die regte beskouing te hê van geld, van werk en van onsself.
DIE REGTE BESKOUING VAN GELD
4. Hoe het Salomo en Jesus se ekonomiese situasie verskil?
4 Salomo was skatryk, en hy het in weelde gelewe (1 Kon. 10:7, 14, 15). Maar Jesus het min besittings gehad, en hy het nie sy eie huis gehad nie (Matt. 8:20). Maar hulle albei het ’n gebalanseerde beskouing van materiële dinge gehad omdat hulle wysheid van dieselfde bron af gekom het – Jehovah God.
5. Hoe het Salomo geld beskou?
5 Salomo het erken dat geld “’n beskerming” is (Pred. 7:12). Geld maak dit vir ons moontlik om die dinge te koop wat ons nodig het en dalk ook ’n paar dinge wat ons graag wil hê. Maar al was Salomo skatryk, het hy besef dat daar belangriker dinge in die lewe is as geld. Hy het byvoorbeeld geskryf: “’n Goeie naam [of, “’n Goeie reputasie”, vtn.] is beter as baie rykdom” (Spr. 22:1). Salomo het ook gesien dat mense wat lief is vir geld gewoonlik nie tevrede is met wat hulle het nie (Pred. 5:10, 12). En hy het gewaarsku dat ons nie ons vertroue in geld moet stel nie omdat geld vinnig kan verdwyn. – Spr. 23:4, 5.
6. Hoe het Jesus materiële dinge beskou? (Matteus 6:31-33)
6 Jesus het die regte beskouing van materiële dinge gehad. Hy het dit geniet om te eet en om te drink (Luk. 19:2, 6, 7). Die eerste wonderwerk wat Jesus gedoen het, was om water in goeie wyn te verander (Joh. 2:10, 11). En op die dag van sy dood, het hy ’n duur kledingstuk gedra (Joh. 19:23, 24). Maar Jesus het nie toegelaat dat materiële dinge die belangrikste ding in sy lewe word nie. Hy het vir sy volgelinge gesê: “Niemand kan twee meesters as slaaf dien nie . . . Julle kan nie slawe van God en van Rykdom wees nie” (Matt. 6:24). Jesus het gesê dat Jehovah sal sorg dat ons alles het wat ons nodig het, as ons die Koninkryk eerste stel. – Lees Matteus 6:31-33.
7. Hoe het die regte beskouing van geld een broer gehelp?
7 Jehovah se wyse raad oor geld het baie van ons broers en susters al gehelp. Kyk na die voorbeeld van ’n ongetroude broer met die naam Daniel. Hy sê: “Toe ek ’n tiener was, het ek besluit om geestelike dinge eerste in my lewe te stel.” Omdat Daniel ’n eenvoudige lewe gelei het, kon hy sy tyd en vaardighede gebruik om met verskillende teokratiese projekte te help. Hy sê verder: “Ek kan in alle eerlikheid sê dat ek oor niks spyt is nie. Ek kon natuurlik baie geld gemaak het as ek geld eerste in my lewe gestel het. Maar hoe kan geld die wonderlike vriendskappe vervang wat ek nou het? Hoe kan geld die tevredenheid vervang wat ek ondervind omdat ek die Koninkryk eerste stel? Al die seëninge wat Jehovah vir my gegee het, kan nie met geld vergelyk word nie.” Dit is duidelik dat dit baie beter is om op geestelike dinge te fokus as op geld.
DIE REGTE BESKOUING VAN WERK
8. Hoe weet ons dat Salomo die regte beskouing van werk gehad het? (Prediker 5:18, 19)
8 Salomo het gesê dat dit ’n “gawe van God” is om harde werk te kan geniet. (Lees Prediker 5:18, 19.) Hy het geskryf: “Elke soort harde werk hou voordele in” (Spr. 14:23). En Salomo het geweet waarvan hy praat. Hy was ’n harde werker! Hy het huise gebou, wingerde geplant, en tuine en damme vir homself gemaak. Hy het ook stede gebou (1 Kon. 9:19; Pred. 2:4-6). Al daardie harde werk sou hom beslis ’n gevoel van tevredenheid gegee het. Maar Salomo het geweet dat hy meer moes doen as hy regtig gelukkig wou wees. Hy het ook aan geestelike aktiwiteite deelgeneem. Hy het byvoorbeeld ’n pragtige tempel vir Jehovah gebou – ’n projek waaroor hy sewe jaar lank toesig gehou het! (1 Kon. 6:38; 9:1). Nadat Salomo al hierdie verskillende dinge gedoen het, het hy besef dat geestelike aktiwiteite die belangrikste is. Hy het geskryf: “Nadat alles gehoor is, is dít die slotsom: Vrees die ware God en gehoorsaam sy gebooie.” – Pred. 12:13.
9. Hoe het Jesus werk op sy plek gehou?
9 Jesus was ’n harde werker. Hy het eers as ’n timmerman gewerk (Mark. 6:3). Sy ouers het sy hulp natuurlik baie waardeer terwyl hulle hard gewerk het om vir hulle groot familie te sorg. En omdat Jesus volmaak was, sou baie mense seker wou hê dat hy vir hulle werk moes doen! Jesus het sy werk seker baie geniet. Maar al het Jesus baie hard gewerk, het hy nog steeds tyd gemaak vir geestelike aktiwiteite (Joh. 7:15). Later, toe hy voltyds gepreek het, het hy vir mense gesê: “Moenie werk vir die voedsel wat sleg word nie, maar vir die voedsel wat nie sleg word nie en wat ewige lewe gee” (Joh. 6:27). En in die Bergpredikasie het Jesus gesê: “Maak . . . vir julle skatte in die hemel bymekaar.” – Matt. 6:20.
10. Wat kan ’n uitdaging wees vir mense wat hard werk?
10 Jehovah se wyse raad kan ons help om ’n gebalanseerde beskouing van werk te hê. As Christene word ons geleer om “hard [te] werk” en om “goeie werk te doen” (Ef. 4:28). Wanneer werkgewers sien hoe eerlik ons is en hoe hard ons werk, sal hulle dalk vir ons sê hoeveel hulle ons werk waardeer. Ons sal miskien langer ure begin werk omdat ons wil hê dat ons werkgewer ’n goeie indruk van Jehovah se Getuies moet kry. Maar dalk sal ons dan ons familie en geestelike dinge begin afskeep. As ons in so situasie beland, sal ons ons balans weer moet vind.
11. Wat het een broer geleer oor die regte beskouing van werk?
11 ’n Jong broer met die naam William het gesien hoe belangrik dit is om werk op sy plek te hou. Hy het die volgende gesê oor ’n ouerman vir wie hy gewerk het: “[Hierdie broer] is ’n goeie voorbeeld van iemand met ’n gebalanseerde werketiek. Hy werk hard, en weens die gehalte van sy werk, het hy ’n goeie verhouding met sy kliënte. Maar aan die einde van die dag wanneer die werk gedoen is, weet hy hoe om werk opsy te skuif en op sy gesin en aanbidding te fokus. En weet jy wat? Hy is een van die gelukkigste mense wat ek ken!” *
DIE REGTE BESKOUING VAN ONSSELF
12. Hoe het Salomo gewys dat hy die regte beskouing van homself het, maar hoe het hy dit verloor?
12 Toe Salomo ’n getroue aanbidder van Jehovah was, het hy die regte beskouing van homself gehad. Toe hy ’n jong man was, het hy erken dat hy beperkings het en Jehovah nederig vir leiding gevra (1 Kon. 3:7-9). Toe hy ’n nuwe koning was, het hy geweet hoe gevaarlik dit is om trots te word. Hy het geskryf: “Trots lei tot ondergang, en hoogmoed kom voor ’n val” (Spr. 16:18). Maar ongelukkig het Salomo later opgehou om sy eie raad toe te pas. Hy het trots geword en het opgehou om te doen wat God van hom verwag het. Een van die wette het byvoorbeeld gesê dat ’n Hebreeuse koning nie “baie vrouens vir hom [mag] neem nie, sodat sy hart nie ’n verkeerde weg inslaan nie” (Deut. 17:17). Salomo was nie gehoorsaam aan daardie wet nie. Hy het 700 vrouens en 300 byvrouens gehad, en baie van hulle het Jehovah nie aanbid nie! (1 Kon. 11:1-3). Miskien het Salomo gedink dat hy alles onder beheer gehad het. Maar later het Salomo die gevolge gedra van sy ongehoorsaamheid. – 1 Kon. 11:9-13.
13. Wat kan ons leer uit Jesus se nederige gesindheid?
13 Jesus het die regte beskouing van homself behou en het nederig gebly. Voordat Jesus aarde toe gekom het, het hy wonderlike dinge in Jehovah se diens gedoen. Deur middel van Jesus “is alle ander dinge in die hemel en op die aarde geskep” (Kol. 1:16). Toe Jesus gedoop is, het hy blykbaar dinge onthou wat hy gedoen het toe hy saam met sy Vader was (Matt. 3:16; Joh. 17:5). Maar dit het nie veroorsaak dat hy trots word nie. Hy het homself nooit bo ander gestel nie. Hy het vir sy dissipels gesê dat hy aarde toe gekom het “nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy lewe te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matt. 20:28). Hy het nederig erken dat hy niks uit sy eie kon doen nie (Joh. 5:19). Wat ’n nederige gesindheid en wat ’n uitstekende voorbeeld!
14. Hoe kan Jesus se woorde ons help om die regte beskouing van onsself te hê?
14 Jesus het sy volgelinge gehelp om die regte beskouing van hulleself te hê. Eenkeer het Jesus hulle verseker: “Die hare op julle kop is almal getel” (Matt. 10:30). Daardie woorde is so vertroostend, veral as ons geneig is om ’n negatiewe beskouing van onsself te hê. Dit beteken dat ons hemelse Vader baie in ons belangstel en dat ons groot waarde in sy oë het. In Jehovah se oë is jy waardig om sy aanbidder te wees en om vir ewig te lewe. So ons moet nooit dink dat Jehovah verkeerd is nie.
15. (a) Hoe kan ons die regte beskouing van onsself hê? (b) Volgens die prente op bladsy 24, watter seëninge sal ons nie kry as ons te veel op onsself fokus nie?
15 Omtrent 15 jaar gelede het Die Wagtoring die volgende gesê: “Ons wil beslis nie te veel van onsself dink sodat ons verwaand word nie; en ons wil ook nie tot die ander uiterste gaan en niks van onsself dink nie. Ons doelwit moet eerder wees om ’n redelike beskouing van onsself aan te kweek, wat ons sterk punte sowel as ons beperkings in ag neem. ’n Christenvrou het dit soos volg gestel: ‘Ek is nie die verpersoonliking van boosheid nie; en ek is ook nie God se gawe aan die mensdom nie. Ek het goeie sowel as slegte punte, net soos alle ander mense.’” * Ons kan duidelik sien hoe wys dit is om ’n gebalanseerde beskouing van onsself te ontwikkel.
16. Hoekom gee Jehovah vir ons wyse raad?
16 Deur middel van sy Woord gee Jehovah vir ons wyse raad. Hy is lief vir ons, en hy wil hê dat ons gelukkig moet wees (Jes. 48:17, 18). Die besluit wat ons die gelukkigste sal maak, is die wyse besluit om Jehovah se belange eerste in ons lewe te stel. As ons dit doen, sal ons baie van die probleme vermy wat mense ondervind wat te veel fokus op geld, op werk of op hulleself. Mag elkeen van ons vasbeslote wees om wys te wees en om Jehovah se hart bly te maak! – Spr. 23:15.
LIED 94 Dankbaar vir God se Woord
^ par. 5 Salomo en Jesus het baie wysheid gehad. Die bron van daardie wysheid was Jehovah God. In hierdie artikel sal ons sien wat ons kan leer uit die geïnspireerde raad wat Salomo en Jesus gegee het oor hoe ons geld, werk en onsself moet beskou. Ons sal ook sien hoe hierdie raad uit die Bybel party van ons broers en susters al gehelp het.
^ par. 11 Sien die artikel “Hoe om harde werk te geniet” in Die Wagtoring van 1 Februarie 2015.
^ par. 15 Sien die artikel “Die Bybel kan jou vreugde help vind“ in Die Wagtoring van 1 Augustus 2005.
^ par. 52 BESKRYWING VAN PRENT: John en Tom is twee jong broers wat in dieselfde gemeente is. John spandeer baie tyd aan sy kar. Tom gebruik sy kar om ander na vergaderinge te neem.
^ par. 54 BESKRYWING VAN PRENT: John werk oortyd. Hy wil nie sy baas teleurstel nie. Hy stem altyd in as sy baas vir hom vra om laat te werk. Daardie selfde aand doen Tom, wat ’n bedieningskneg is, ’n herdersbesoek saam met ’n ouerman. Tom het al in die verlede aan sy baas verduidelik dat hy sekere aande in die week opsysit vir sy aanbidding.
^ par. 56 BESKRYWING VAN PRENT: John fokus te veel op homself. Tom stel geestelike dinge eerste, en hy maak nuwe vriende terwyl hy instandhoudingswerk by ’n Byeenkomssaal doen.