Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 21

Hoe Jehovah ons gebede beantwoord

Hoe Jehovah ons gebede beantwoord

“Ons [weet] dat ons die dinge gaan kry wat ons vra, omdat ons dit van hom gevra het.” – 1 JOH. 5:15.

LIED 41 Hoor my gebed

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. Waaroor wonder ons dalk wanneer dit kom by ons gebede?

 HET jy al ooit gewonder of Jehovah jou gebede beantwoord? As dit al ooit gebeur het, is jy nie alleen nie. Baie broers en susters het ook gesê dat hulle al hieroor gewonder het, veral wanneer hulle probleme ondervind. As ons deur ’n moeilike tyd gaan, sal dit dalk ook vir ons moeiliker wees om te sien hoe Jehovah ons gebede beantwoord.

2 Kom ons hersien hoekom ons oortuig kan wees dat Jehovah die gebede van sy aanbidders beantwoord (1 Joh. 5:15). Ons sal ook hierdie vrae bespreek: Hoekom lyk dit soms asof Jehovah nie ons gebede beantwoord nie? Op watter maniere beantwoord Jehovah vandag gebede?

JEHOVAH SAL DALK NIE GEBEDE BEANTWOORD OP DIE MANIER WAT ONS VERWAG NIE

3. Hoekom wil Jehovah hê dat ons tot hom moet bid?

3 Die Bybel verseker ons dat Jehovah ons baie liefhet en dat ons vir hom kosbaar is (Hag. 2:7; 1 Joh. 4:10). Daarom nooi hy ons om tot hom te bid en vir sy hulp te vra (1 Pet. 5:6, 7). Hy wil ons help om na aan hom te bly en om moeilike tye te verduur.

Jehovah het Dawid se gebede beantwoord deur hom van sy vyande te bevry (Sien paragraaf 4)

4. Hoe weet ons dat Jehovah die gebede van sy aanbidders beantwoord? (Sien ook prent.)

4 In die Bybel lees ons baie keer dat Jehovah die gebede van sy aanbidders beantwoord het. Kan jy aan ’n voorbeeld dink? Wat van koning Dawid? Hy het regdeur sy lewe ’n klomp gevaarlike vyande gehad, en hy het gereeld tot Jehovah gebid en vir sy hulp gevra. Eenkeer het hy Jehovah gesmeek: “O Jehovah, hoor my gebed. Luister tog na my gesmeek om hulp. Antwoord my in u getrouheid en u regverdigheid” (Ps. 143:1). Dawid het Jehovah gevra om hom te red, en Jehovah het sy gebede beantwoord (1 Sam. 19:10, 18-20; 2 Sam. 5:17-25). Dawid kon met sekerheid sê: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep.” Ons kan ook daarvan seker wees. – Ps. 145:18.

Jehovah het Paulus se gebede beantwoord deur hom die krag te gee wat hy nodig gehad het om te volhard (Sien paragraaf 5)

5. Het Jehovah altyd die gebede van sy knegte van die verlede beantwoord op die manier wat hulle verwag het? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook prent.)

5 Jehovah sal dalk nie ons gebede beantwoord op die manier wat ons verwag nie. Dit was die geval met die apostel Paulus. Hy het God gevra om “’n doring in die vlees” weg te vat. Paulus het op drie geleenthede spesifiek oor hierdie moeilike probleem gebid. Het Jehovah daardie gebede beantwoord? Ja, maar nie op die manier waarop Paulus gehoop het nie. In plaas daarvan om die probleem net weg te vat, het Jehovah Paulus die krag gegee wat hy nodig gehad het om Hom getrou te bly dien. – 2 Kor. 12:7-10.

6. Hoekom lyk dit dalk soms asof Jehovah nie ons gebede beantwoord nie?

6 Soms sal ons gebede dalk ook beantwoord word op ’n manier wat ons nie verwag nie. Ons kan seker wees dat Jehovah presies weet wat die beste manier is om ons te help. Hy kan selfs “oneindig meer vir ons doen as alles wat ons vra of wat ons ons kan voorstel” (Ef. 3:20). Daarom kry ons dalk die antwoord op ons gebede op ’n tyd of op ’n manier wat ons nie verwag nie.

7. Hoekom moet ons dalk die dinge waarvoor ons bid, verander? Gee ’n voorbeeld.

7 Ons moet dalk die dinge waarvoor ons bid, verander wanneer ons Jehovah se wil beter verstaan. Kyk na die voorbeeld van Martin Poetzinger. Kort nadat hy getrou het, is broer Poetzinger na ’n Nazi-konsentrasiekamp gestuur. Aan die begin het hy Jehovah gevra om hom uit die konsentrasiekamp vry te laat sodat hy vir sy vrou kon sorg en weer kon preek. Maar ná twee weke het dit nie gelyk asof Jehovah iets sou doen wat sou veroorsaak dat hy vrygelaat sou word nie. Toe het hy begin bid: “Jehovah, wys my asseblief wat u wil hê ek moet doen.” Hy het toe begin dink aan wat die ander broers in die kamp deurmaak. Baie van hulle was baie bekommerd oor hulle eie vrouens en kinders. Broer Poetzinger het toe gebid: “Jehovah, dankie vir my nuwe toewysing. Help my om my broers te versterk en aan te moedig.” Dit is presies wat hy vir die volgende nege jaar in die kampe gedoen het!

8. Wat is iets belangriks wat ons in gedagte moet hou wanneer ons bid?

8 Ons moet onthou dat Jehovah ’n doel het, en hy sal dit vervul op die tyd wat hy besluit het. Daardie doel sluit in dat Jehovah alle probleme wat vandag so baie lyding veroorsaak, heeltemal en permanent sal wegneem – probleme soos natuurrampe, siekte en die dood. Jehovah sal sy doel vervul deur middel van sy Koninkryk (Dan. 2:44; Op. 21:3, 4). Maar tot dan laat Jehovah Satan toe om oor die wêreld te regeer (Joh. 12:31; Op. 12:9). b As Jehovah nou die mensdom se probleme sou oplos, sal dit dalk lyk asof Satan die wêreld op ’n goeie manier regeer. So al moet ons wag vir Jehovah om sekere beloftes te vervul, beteken dit nie dat hy ons nie sal help nie. Kom ons kyk na ’n paar maniere hoe Jehovah ons help.

MANIERE HOE JEHOVAH GEBEDE VANDAG BEANTWOORD

9. Hoe kan Jehovah ons help wanneer ons besluite moet maak? Gee ’n voorbeeld.

9 Hy gee ons wysheid. Jehovah belowe om vir ons die wysheid te gee wat ons nodig het om goeie besluite te maak. Ons het veral die wysheid van God nodig wanneer ons besluite maak wat die res van ons lewe sal affekteer, soos om te trou of om nie te trou nie (Jak. 1:5). Dink aan die ondervinding van ’n ongetroude suster met die naam Maria. c Sy was ’n gelukkige voltydse pionier toe sy ’n broer ontmoet het. Sy sê: “Soos ons vriendskap ontwikkel het, het ons gevoelens vir mekaar al hoe sterker begin word. Ek het geweet dat ek ’n besluit sou moes maak. Ek het lank en hard daaroor gebid. Ek het Jehovah se leiding nodig gehad, maar ek het ook geweet dat Jehovah nie die besluit vir my sou maak nie.” Sy voel dat Jehovah haar gebede vir wysheid beantwoord het. Hoe? Terwyl sy navorsing in ons publikasies gedoen het, kon sy spesifieke artikels kry wat haar gehelp het om antwoorde op haar vrae te vind. Sy het ook na die wyse raad van haar getroue ma geluister. Hierdie raad het Maria gehelp om haar gevoelens te ondersoek. Sy kon toe ’n wyse besluit maak.

Hoe gee Jehovah ons die krag om te volhard? (Sien paragraaf 10)

10. Wat sal Jehovah doen om sy aanbidders te help volgens Filippense 4:13? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook prent.)

10 Hy gee ons die krag om te volhard. Net soos hy vir die apostel Paulus gedoen het, sal Jehovah ons die krag gee wat ons nodig het om gedurende moeilike tye te volhard. (Lees Filippense 4:13.) Kyk hoe Jehovah ’n broer met die naam Benjamin gehelp het om moeilike omstandighede te verduur. Vir die grootste deel van sy jonger jare het Benjamin en sy gesin in vlugtelingkampe in Afrika gebly. Benjamin sê: “Ek het die heeltyd tot Jehovah gebid en hom gevra om my die krag te gee om te doen wat hom gelukkig maak. Jehovah het my gebede beantwoord deur my innerlike vrede te gee, sowel as die krag om aan te hou preek en die publikasies om geestelik sterk te bly.” Hy sê verder: “Om die ondervindinge van ons broers en susters te lees en om te sien hoe Jehovah hulle gehelp het om te volhard, het my nog meer vasbeslote gemaak om getrou te bly.”

Het jy al gesien hoe Jehovah jou deur middel van jou broers en susters gehelp het? (Sien paragraaf 11-12) d

11-12. Hoe sal Jehovah dalk kies om ons geestelike familie te gebruik om ons gebede te beantwoord? (Sien ook prent.)

11 Hy gebruik ons geestelike familie. Die aand voor hy sy lewe opgeoffer het, het Jesus ernstig gebid. Hy het Jehovah gesmeek om nie toe te laat dat ander dink dat hy nie respek vir God se naam het en dat hulle hom daarvoor veroordeel nie. In plaas daarvan om dit te doen, het Jehovah Jesus gehelp deur ’n engel te stuur om hom te versterk (Luk. 22:42, 43). Jehovah sal ons dalk ook help deur middel van ’n opbouende oproep of ’n besoek van een van ons broers of susters. Ons almal kan soek na geleenthede om “’n goeie woord” met ons broers en susters te deel. – Spr. 12:25.

12 Kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Miriam. ’n Paar weke nadat haar man gesterf het, was Miriam alleen by die huis, en sy het hopeloos en hartseer gevoel. Sy kon nie ophou huil nie en moes met iemand praat. Sy sê: “Ek het nie die krag gehad om iemand te bel nie, en daarom het ek tot Jehovah gebid. Terwyl ek nog gehuil en gebid het, het my foon gelui. Dit was ’n ouerman, ’n goeie vriend.” Daardie ouerman en sy vrou het Miriam vertroos. Sy is oortuig dat Jehovah daardie broer gemotiveer het om haar te bel.

Hoe sal Jehovah dalk ander motiveer om ons te help? (Sien paragraaf 13-14)

13. Gee ’n voorbeeld van hoe Jehovah mense wat hom nie aanbid nie, kan gebruik om ons gebede te beantwoord.

13 Hy gebruik dalk mense wat hom nie aanbid nie (Spr. 21:1). Soms beantwoord Jehovah die gebede van sy aanbidders deur ongelowiges te motiveer om hulle te help. Byvoorbeeld, hy het koning Artasasta gemotiveer om Nehemia toe te laat om na Jerusalem terug te gaan sodat hy kon help om die stad te herbou (Neh. 2:3-6). Jehovah kan vandag ook dié wat hom nie aanbid nie, motiveer om ons te help wanneer ons dit nodig het.

14. Wat het jy omtrent Soo Hing se ondervinding waardeer? (Sien ook prent.)

14 ’n Suster met die naam Soo Hing voel dat Jehovah haar gehelp het deur middel van haar dokter. Haar seun ly aan verskeie verstandelike gesondheidsprobleme. Toe hy in ’n verskriklike ongeluk was, het sy en haar man uit hulle werk bedank om vir hom te sorg. As gevolg hiervan het hulle finansiële probleme gehad. Soo Hing het gesê dat sy soos ’n rubberrekkie gevoel het wat tot sy uiterste gestrek is. Sy het haar hart voor Jehovah uitgestort en hom gevra om haar te help. Die dokter het besluit om na ’n manier te soek om haar en haar gesin te help. As gevolg daarvan het hulle hulp van die regering ontvang, en ’n bekostigbare plek om te bly. Soo Hing het ná die tyd gesê: “Ons het gesien hoe Jehovah ons gehelp het. Hy is regtig die ‘Hoorder van gebed’.” – Ps. 65:2.

GELOOF IS NODIG OM JEHOVAH SE ANTWOORDE OP ONS GEBEDE TE VIND EN TE AANVAAR

15. Wat het ’n suster gehelp besef dat Jehovah besig was om haar gebede te beantwoord?

15 Ons gebede word nie gewoonlik op indrukwekkende maniere beantwoord nie. Maar die antwoorde wat ons wel kry, is net wat ons nodig het om lojaal aan ons hemelse Vader te bly. So wees op die uitkyk vir hoe Jehovah jou gebede beantwoord. ’n Suster met die naam Yoko het gevoel dat Jehovah nie haar gebede beantwoord nie, maar toe het sy die dinge begin neerskryf wat sy Jehovah gevra het. Ná ’n ruk het sy deur haar notaboek gegaan en besef dat Jehovah die meeste van haar gebede beantwoord het, selfs party waarvan sy vergeet het. Van tyd tot tyd moet ons nadink oor hoe Jehovah besig is om ons gebede te beantwoord. – Ps. 66:19, 20.

16. Hoe kan ons geloof beoefen wanneer dit by gebed kom? (Hebreërs 11:6)

16 Ons wys dat ons geloof het nie net deur tot Jehovah te bid nie, maar ook deur sy antwoord op ons gebede te aanvaar, maak nie saak wat dit is nie. (Lees Hebreërs 11:6.) Kyk na die voorbeeld van Mike en sy vrou, Chrissy. Hulle wou graag by Bethel dien. Mike sê: “Ons het jare lank aansoek gedoen en oor en oor tot Jehovah gebid oor hierdie doelwit, maar ons is nooit aanvaar nie.” Mike en Chrissy het vol vertroue gebly dat Jehovah geweet het wat die beste manier is om hulle in sy diens te gebruik. Hulle het aangehou om hulle bes te doen deur as gewone pioniers te dien waar daar meer verkondigers nodig was en deur teokratiese bouprojekte te ondersteun. Vandag is hulle in die reisende werk. Mike sê: “Jehovah het nie altyd ons gebede beantwoord op die manier wat ons verwag het nie, maar hy het dit beantwoord en op maniere wat selfs beter was as wat ons ons ooit kon voorstel.”

17-18. Waarvan kan ons seker wees volgens Psalm 86:6, 7?

17 Lees Psalm 86:6, 7. Die psalmskrywer Dawid was seker dat Jehovah sy gebede gehoor en beantwoord het. Jy kan daardie selfde vertroue hê. Die voorbeelde wat in hierdie artikel bespreek was, verseker ons dat Jehovah ons die wysheid en die krag kan gee wat ons nodig het om te volhard. Hy sal dalk ons geestelike familie en selfs dié wat hom nie op die oomblik dien nie, gebruik om ons op die een of ander manier te help.

18 Al sal Jehovah dalk nie ons gebede altyd beantwoord op die manier wat ons verwag nie, weet ons dat hy dit wel sal beantwoord. Hy sal ons gee net wat ons nodig het en presies wanneer ons dit nodig het. So hou aan om in geloof te bid, met die vertroue dat Jehovah nou vir jou sal sorg en dat hy “die begeerte van alles wat lewe” in die toekomstige nuwe wêreld sal bevredig. – Ps. 145:16.

LIED 46 Ons dank u, Jehovah

a Jehovah verseker ons dat hy ons gebede sal beantwoord as dit in ooreenstemming is met sy wil. Wanneer ons deur moeilike tye gaan, kan ons die vertroue hê dat hy ons sal help om getrou aan hom te bly. Kom ons kyk na hoe Jehovah ons gebede beantwoord.

b Vir ’n bespreking van hoekom Jehovah toegelaat het dat Satan oor die wêreld regeer, sien die artikel “Moenie die groot geskil vergeet nie” in Die Wagtoring van Junie 2017.

c Party name is verander.

d BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ma en haar dogter kom as vlugtelinge in ’n nuwe land aan. Broers en susters verwelkom hulle liefdevol en help hulle op ’n praktiese manier.