Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 23

Hou “die vlam van Jah” aan die brand

Hou “die vlam van Jah” aan die brand

“Die vlamme [van liefde] is ’n brandende vuur, die vlam van Jah.” – HOOGL. 8:6.

LIED 131 ‘Wat God saamgevoeg het’

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoe beskryf die Bybel ware liefde?

 DIE liefde se vlamme “is ’n brandende vuur, die vlam van Jah. Onstuimige waters kan die liefde nie blus nie, en ook kan riviere dit nie wegspoel nie” (Hoogl. 8:6, 7). b Dit is ’n pragtige beskrywing van ware liefde! Hierdie woorde bevat ’n aanmoedigende waarheid vir getroude paartjies: Julle kan mekaar vir ewig liefhê.

2. Wat moet ’n paartjie doen om seker te maak dat hulle liefde nie afkoel nie?

2 Of ’n paartjie mekaar sal liefhê vir so lank as wat hulle lewe, hang van hulle af. Dink hieraan: ’n Kampvuur het die potensiaal om vir ewig te brand – maar net as iemand aanhou om hout daarop te sit. As niemand dit doen nie, sal die vuur uiteindelik doodgaan. Net so kan die liefde tussen ’n man en vrou vir ewig sterk bly – maar net as hulle hulle verhouding versterk. Soms voel ’n paartjie dalk dat hulle liefde besig is om af te koel, veral wanneer hulle finansiële probleme en gesondheidsprobleme het of wanneer hulle die druk ondervind wat kom wanneer jy kinders grootmaak. So as jy getroud is, hoe kan julle “die vlam van Jah” aan die brand hou in julle huwelik? In hierdie artikel sal ons drie maniere bespreek om julle verhouding sterk te hou en ’n gelukkige huwelik te geniet. c

HOU AAN OM JULLE VERHOUDING MET JEHOVAH TE VERSTERK

Soos Josef en Maria moet ’n man en vrou ’n sterk verhouding met Jehovah hê (Sien paragraaf 3)

3. Hoe help ’n sterk verhouding met Jehovah ’n paartjie om hulle liefde sterk te hou? (Prediker 4:12) (Sien ook prent.)

3 Om “die vlam van Jah” aan die brand te hou, moet ’n man en ’n vrou hard werk om ’n sterk verhouding met Jehovah te hê. Hoe help hulle sterk verhouding met hom hulle huwelik? Wanneer ’n paartjie se vriendskap met hulle hemelse Vader vir hulle kosbaar is, pas hulle sy raad gretig toe, en dit help hulle om probleme wat hulle liefde vir mekaar kan laat afkoel, te vermy en te oorkom. (Lees Prediker 4:12.) Geestelike mense probeer ook om Jehovah na te volg en om sy eienskappe te ontwikkel, soos liefde, geduld en vergewensgesindheid (Ef. 4:32–5:1). ’n Paartjie wat sulke eienskappe openbaar, maak dit vir hulle liefde makliker om te groei. ’n Suster met die naam Lena, wat al vir meer as 25 jaar getroud is, sê: “Dit is maklik om ’n geestelike persoon lief te hê en te respekteer.”

4. Hoekom het Jehovah vir Josef en Maria gekies om die ouers te wees van die toekomstige Messias?

4 Kyk na ’n Bybelvoorbeeld. Toe Jehovah ’n paartjie moes kies om die ouers van die toekomstige Messias te wees, het Hy vir Josef en Maria gekies uit die baie nakomelinge van Dawid. Hoekom? Hulle het albei ’n persoonlike verhouding met Jehovah gehad, en Jehovah het geweet dat hulle hom eerste in hulle huwelik sou stel. Getroude paartjies, wat kan julle by Josef en by Maria leer?

5. Wat kan mans by Josef leer?

5 Josef het Jehovah se instruksies gewilliglik gevolg, en dit het hom ’n beter man gemaak. Op ten minste drie geleenthede het hy instruksies van God af gekry oor sy gesin. Elke keer was hy onmiddellik gehoorsaam daaraan, selfs wanneer dit beteken het dat hy groot veranderinge moes maak (Matt. 1:20, 24; 2:13-15, 19-21). Deur God se instruksies te volg, het Josef Maria beskerm, haar ondersteun en vir haar gesorg. Dink net hoe Josef se dade Maria se liefde en respek vir hom moes vergroot het! Mans, julle kan Josef navolg deur raad uit die Bybel te soek oor hoe om vir julle gesinne te sorg. d Wanneer jy hierdie raad toepas, selfs al beteken dit dat jy veranderinge moet maak, wys jy dat jy jou vrou liefhet en versterk jy jou huwelik. ’n Suster in Vanuatu wat al vir meer as 20 jaar getroud is sê: “Wanneer my man Jehovah se leiding soek en dit volg, respekteer ek hom meer. Ek voel veilig, en ek het vertroue in sy besluite.”

6. Wat kan vrouens by Maria leer?

6 Maria het haar eie verhouding met Jehovah gehad; haar geloof het nie afgehang van wat Josef gedoen het nie. Sy het die Skrif goed geken. (Sien die studienota vir Lukas 1:46 in die Engelse Studiebybel.) Sy het ook tyd gemaak om diep na te dink oor wat sy geleer het (Luk. 2:19, 51). Ons kan seker wees dat Maria se vriendskap met Jehovah haar ’n uitstekende vrou gemaak het. Vandag probeer baie vrouens om te doen wat Maria gedoen het. Byvoorbeeld, ’n suster met die naam Emiko sê: “Voordat ek getrou het, het ek my eie geestelike roetine gehad. Nadat ek getrou het, het my man vir ons gebid en die leiding in ons gesinsaanbidding geneem, en ek het toe agtergekom dat my geloof afhanklik geword het van wat hy doen. Ek het besef dat ek my eie vrag moes dra wanneer dit by my verhouding met Jehovah kom. So nou sit ek tyd opsy om alleen met my God te wees – om te bid, om die Bybel te lees en om oor sy gedagtes na te dink” (Gal. 6:5). Vrouens, wanneer julle aanhou om julle vriendskap met Jehovah te versterk, sal julle mans selfs meer redes hê om julle te prys en julle lief te hê. – Spr. 31:30.

7. Wat kan paartjies by Josef en Maria leer oor die feit dat hulle Jehovah saam moet aanbid?

7 Josef en Maria het ook saamgewerk om hulle verhouding met Jehovah sterk te hou. Hulle het verstaan dat dit belangrik is om Jehovah saam as ’n gesin te aanbid (Luk. 2:22-24, 41; 4:16). Dit was dalk moeilik om dit te doen, veral toe hulle meer kinders gehad het, maar hulle het dit reggekry. Hulle stel ’n uitstekende voorbeeld vir getroude paartjies van vandag! As julle kinders het, soos Josef en Maria, is dit dalk moeilik om vergaderinge by te woon of om tyd te maak vir gesinsaanbidding. Dit is dalk selfs moeiliker om tyd te vind om as ’n paartjie saam te studeer of te bid. Maar onthou dat wanneer julle Jehovah saam aanbid, julle nader aan hom en aan mekaar kom. So maak aanbidding ’n prioriteit.

8. Wat kan ’n paartjie wat probleme in hulle huwelik ondervind, doen om meer baat te vind by gesinsaanbidding?

8 Wat kan julle doen as julle probleme in julle huwelik ondervind? Die gedagte om saam te wees vir gesinsaanbidding sit jou dalk af. As dit die geval is, begin deur iets wat kort en lekker is, te studeer, iets wat julle albei wil bespreek. Hierdie stap kan julle verhouding en julle begeerte versterk om geestelike dinge as ’n paartjie te doen.

SPANDEER TYD SAAM

9. Hoekom moet ’n man en vrou tyd met mekaar spandeer?

9 Getroude paartjies, julle kan ook julle liefde vir mekaar sterk hou deur tyd saam te spandeer. Wanneer julle dit doen, is die kanse kleiner dat julle uitmekaar sal dryf – verstandelik en emosioneel (Gen. 2:24). Kyk wat Lilia en Ruslan ontdek het kort nadat hulle meer as 15 jaar gelede getrou het. Sy sê: “Ons het besef dat ons nie so baie tyd saam sou hê as wat ons gedink het nie. Ons was baie besig met ons sekulêre werk, huiswerk en later ons kinders. Ons het besef dat as ons nie tyd maak om saam as ’n paartjie te wees nie, ons uitmekaar kan dryf.”

10. Hoe kan getroude paartjies die beginsel in Efesiërs 5:15, 16 toepas?

10 Wat kan paartjies doen om seker te maak dat hulle tyd saam spandeer? Julle sal dalk tyd opsy moet sit vir mekaar. (Lees Efesiërs 5:15, 16.) ’n Broer in Nigerië met die naam Uzondu sê: “Wanneer ek my aktiwiteite beplan, sluit ek die tyd in wat ek en my vrou saam sal spandeer, en ek maak daardie tyd ’n prioriteit” (Fil. 1:10). Kyk hoe Anastasia, die vrou van ’n kringopsiener in Moldowa, haar tyd op die beste manier gebruik. Sy sê: “Ek probeer om my persoonlike dinge te doen terwyl my man besig is met sy verantwoordelikhede. Op hierdie manier kan ons later tyd saam spandeer.” Maar wat as julle roosters dit vir julle moeilik maak om tyd te vind om saam te spandeer?

Watter dinge kan julle saam as ’n paartjie doen? (Sien paragraaf 11-12)

11. Watter aktiwiteite het Aquila en Priscilla saam gedoen?

11 Getroude paartjies kan leer uit die voorbeeld van Aquila en Priscilla, ’n paartjie vir wie baie vroeë Christene lief was (Rom. 16:3, 4). Die Bybel gee nie baie details oor hulle huwelik nie, maar dit wys dat hulle saam was wanneer hulle gewerk, gepreek en ander gehelp het (Hand. 18:2, 3, 24-26). Om die waarheid te sê, wanneer die Bybel ook al Aquila en Priscilla noem, word hulle altyd saam genoem.

12. Wat kan ’n man en vrou doen om meer tyd saam te spandeer? (Sien ook prent.)

12 Hoe kan paartjies Aquila en Priscilla navolg? Dink aan die baie dinge wat jy en jou huweliksmaat moet doen. Kan julle van daardie dinge as ’n paartjie doen in plaas van op julle eie? Byvoorbeeld, Aquila en Priscilla het saam gepreek. Maak julle gereeld planne om dieselfde te doen? Aquila en Priscilla het ook saam gewerk. Jy en jou huweliksmaat het dalk nie dieselfde werk nie, maar kan julle huistakies saam doen? (Pred. 4:9). Wanneer julle mekaar met takies help, voel julle meer soos ’n span en het julle die geleentheid om te praat. Robert en Linda is al vir meer as 50 jaar getroud. Hy sê: “Om eerlik te wees, ons het nie baie tyd om saam te ontspan nie. Maar wanneer ek die skottelgoed was en my vrou dit afdroog of wanneer ek buite in die tuin werk en sy my kom help, voel ek baie gelukkig. Om dinge saam te doen, bring ons nader aan mekaar. Ons liefde hou aan groei.”

13. Wat moet ’n man en vrou doen om werklik verenig te wees?

13 Maar onthou dat om net saam te wees dalk nie noodwendig tot eenheid bydra nie. ’n Getroude vrou in Brasilië sê: “Deesdae is daar so baie afleidings, en ek het gevind dat ons in die strik kan trap om te dink dat ons tyd saam spandeer net omdat ons onder dieselfde dak bly. Ek het geleer dat dit nie genoeg is om net saam te wees nie. Ek moet ook vir my huweliksmaat die aandag gee wat hy nodig het.” Let op hoe Bruno en sy vrou, Tays, seker maak dat hulle mekaar aandag gee. Hy sê: “Wanneer ons tyd saam spandeer, sit ons ons selfone weg en geniet ons die tyd met mekaar.”

14. Wat kan ’n paartjie doen as hulle dit nie geniet om tyd saam te spandeer nie?

14 Maar wat as jy en jou huweliksmaat dit nie geniet om tyd saam te spandeer nie? Dalk het julle verskillende belangstellings of dalk irriteer julle mekaar. Wat kan julle doen? Dink aan die kampvuur wat vroeër genoem is. Dit is nie ’n groot vuur wanneer dit begin brand nie. Jy moet stadig maar seker groter en groter stukke hout daarop sit. Net so kan julle begin deur elke dag net ’n paar minute saam te spandeer. Maak seker dat julle iets doen wat julle albei geniet, nie iets wat ’n stryery kan veroorsaak nie (Jak. 3:18). Deur klein te begin, sal julle dalk sien hoe julle liefde vir mekaar weer begin groei.

BEHANDEL MEKAAR MET RESPEK

15. Hoekom is respek baie belangrik as ’n paartjie hulle liefde vir mekaar wil sterk hou?

15 Respek is baie belangrik in ’n huwelik. Dit is soos die suurstof wat ’n kampvuur helder laat brand. Sonder suurstof sal ’n vuur vinnig doodgaan. Net so sal ’n paartjie agterkom dat hulle liefde vinnig kan afkoel as hulle nie respek vir mekaar het nie. Aan die ander kant werk ’n man en ’n vrou wat probeer om mekaar met respek te behandel daaraan om hulle liefde sterk te hou. Maar onthou, dit gaan nie oor of jy dink dat jy respekvol is teenoor jou huweliksmaat nie, maar dit gaan oor of jou huweliksmaat gerespekteerd voel. Penny en Aret is al vir meer as 25 jaar getroud. Sy sê: “Omdat ons mekaar respekteer, is daar ’n liefdevolle atmosfeer in ons huis. Ons voel dat ons vryelik kan sê hoe ons voel omdat ons weet dat ons mekaar se opinies respekteer.” So, wat kan jy doen om jou huweliksmaat te laat voel dat jy hom of haar regtig respekteer? Dink aan die voorbeelde van Abraham en Sara.

’n Christenman moet wys dat hy sy vrou se gevoelens respekteer deur mooi na haar te luister (Sien paragraaf 16)

16. Wat kan mans uit Abraham se voorbeeld leer? (1 Petrus 3:7) (Sien ook prent.)

16 Abraham het Sara met respek behandel. Hy het na haar opinies geluister en haar gevoelens gerespekteer. Op een geleentheid was Sara ontsteld en het sy vir Abraham gesê hoe sy gevoel het, en sy het hom selfs vir die probleem blameer. Het Abraham kwaad geword en iets leliks gesê? Nee. Hy het geweet dat Sara ’n onderdanige en ondersteunende vrou is. Abraham het na haar geluister en probeer om die probleem op te los (Gen. 16:5, 6). Wat kan ons leer? Mans, julle het die gesag om besluite vir julle gesinne te maak (1 Kor. 11:3). Maar dit sal liefdevol wees as jy na jou vrou se opinie luister voordat jy ’n besluit maak, veral as die besluit haar sal raak (1 Kor. 13:4, 5). Op ander tye voel jou vrou dalk gestres en wil sy dalk sê hoe sy voel. Respekteer jy haar gevoelens deur mooi na haar te luister? (Lees 1 Petrus 3:7.) Angela en Dmitry is al vir amper 30 jaar getroud. Sy verduidelik hoe haar man haar gerespekteerd laat voel: “Dmitry is altyd gereed om na my te luister wanneer ek ontsteld is of wanneer ek net wil praat. Hy is geduldig met my, selfs wanneer ek baie emosioneel is.”

17. Wat kan vrouens uit Sara se voorbeeld leer? (1 Petrus 3:5, 6)

17 Sara het Abraham gerespekteer deur sy besluite te ondersteun (Gen. 12:5). Op een geleentheid het Abraham besluit om gasvry te wees teenoor onverwagse besoekers. Hy het Sara gevra om te stop waarmee sy besig is en om baie brode voor te berei (Gen. 18:6). Sara het vinnig opgetree en Abraham se besluit ondersteun. Vrouens, julle kan Sara navolg deur julle mans se besluite te ondersteun. Wanneer julle dit doen, versterk julle julle huwelik. (Lees 1 Petrus 3:5, 6.) Dmitry, wat in die vorige paragraaf genoem is, verduidelik hoe sy vrou hom gerespekteerd laat voel. Hy sê: “Ek waardeer wat Angela doen om my besluite te ondersteun, selfs al stem sy nie daarmee saam nie. As dinge nie goed uitdraai nie, kritiseer sy my nie.” Dit is maklik om lief te wees vir iemand wat jou respekteer!

18. Hoe vind getroude paartjies daarby baat wanneer hulle probeer om hulle liefde sterk te hou?

18 Vandag wil Satan die liefde blus wat in Christenhuwelike bestaan. Hy weet dat as ’n paartjie hulle liefde vir mekaar verloor, hulle dalk van Jehovah af kan begin wegdryf. Maar ware liefde kan nie geblus word nie! So mag die liefde in julle huwelik wees soos die liefde wat beskryf word in die Hooglied van Salomo. Wees vasbeslote om Jehovah eerste in julle huwelik te stel, maak tyd vir mekaar en respekteer mekaar se gevoelens en behoeftes. Wanneer julle dit doen, sal julle huwelik die Bron van ware liefde, Jehovah, eer, en net soos ’n sterk vuur sal julle liefde vir ewig brand.

LIED 132 Nou is ons een

a Jehovah het vir mense die geskenk van die huwelik gegee, wat ’n man en vrou toelaat om ’n spesiale liefde tussen hulle te geniet. Maar soms kan daardie liefde afkoel. As jy getroud is, sal hierdie artikel julle help om julle liefde sterk te hou en ’n gelukkige huwelik te geniet.

b Ware liefde wat nie verander nie en wat vir ewig bestaan, word “die vlam van Jah” genoem omdat Jehovah die Bron van sulke liefde is.

c Al het jy ’n ongelowige huweliksmaat, kan hierdie voorstelle jou help om jou verhouding te versterk. – 1 Kor. 7:12-14; 1 Pet. 3:1, 2.

d Byvoorbeeld, kyk na die praktiese raad in die reeks “Hulp vir die gesin” wat op jw.org en in JW Library® beskikbaar is.