Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 24

Jy kan jou geestelike doelwitte bereik

Jy kan jou geestelike doelwitte bereik

“Laat ons . . . nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons oes as ons nie moeg word nie.” – GAL. 6:9.

LIED 84 Ons doen ons bes

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Waarmee het baie van ons al gesukkel?

 HET jy al ooit ’n geestelike doelwit gestel, maar gesukkel om dit te bereik? b As dit die geval is, is jy nie alleen nie. Byvoorbeeld, Philip wou die gehalte van sy gebede verbeter en meer bid, maar hy het gesukkel om tyd te kry om te bid. Erika se doelwit was om betyds te wees vir velddiensvergaderinge, maar sy het nog steeds laat gekom vir amper elke vergadering. Tomáš het ’n hele paar keer probeer om die hele Bybel te lees. Hy sê: “Dit was net nie vir my lekker om die Bybel te lees nie. Ek het drie keer probeer, maar elke keer het ek net tot by Levitikus gekom voordat ek opgehou het.”

2. Hoekom moet ons nie mismoedig word as ons ’n geestelike doelwit het wat ons nog nie bereik het nie?

2 As jy op die oomblik ’n doelwit het wat jy nog nie bereik het nie, moet jy asseblief nie voel dat jy ’n mislukking is nie. Selfs om net ’n eenvoudige doelwit te bereik, vereis dikwels tyd en harde werk. Die feit dat jy nog steeds jou doelwit wil bereik, wys dat jou verhouding met Jehovah vir jou kosbaar is en dat jy hom jou beste wil gee. Jehovah waardeer jou moeite. Hy verwag natuurlik nie meer van jou as wat jy kan gee nie (Ps. 103:14; Miga 6:8). So jou doelwit moet redelik wees volgens wat jou omstandighede toelaat. As dit is, wat kan jy doen om dit te bereik? Kom ons bespreek ’n paar wenke.

MOTIVERING IS BAIE BELANGRIK

Bid vir meer motivering (Sien paragraaf 3-4)

3. Hoekom is motivering belangrik?

3 Motivering speel ’n baie belangrike rol daarin om geestelike doelwitte te bereik. Iemand wat gemotiveerd is, het ’n sterk begeerte om sy doelwitte te bereik. Ons kan motivering vergelyk met die wind wat ’n seilboot na sy bestemming beweeg. As die wind aanhou waai, sal die seeman waarskynlik sy bestemming bereik. En met ’n sterk wind sal hy dalk selfs vinniger daar aankom. Net so is die kans groter dat ons ons doelwitte sal bereik as ons baie gemotiveerd is. “Wanneer jy gemotiveerd voel, probeer jy harder,” sê David, ’n broer in El Salvador. “Jy probeer om nie toe te laat dat enige iets jou keer om jou doelwit te bereik nie.” So wat kan jy doen om meer gemotiveerd te voel?

4. Waarvoor kan ons bid? (Filippense 2:13) (Sien ook prent.)

4 Bid vir meer motivering. Jehovah kan jou deur middel van sy gees motiveer om jou doelwit te bereik. (Lees Filippense 2:13.) Soms stel ons ’n doelwit omdat ons weet dat ons moet, en dit is ’n goeie ding. Maar ons het dalk nie regtig die begeerte om dit te bereik nie. Dit was die geval met ’n suster in Uganda met die naam Norina. Sy het vir haarself die doelwit gestel om ’n Bybelstudie te hou, maar sy was nie gemotiveerd nie omdat sy gedink het dat sy nie ’n goeie onderrigter is nie. Wat het haar gehelp? Sy vertel: “Ek het Jehovah elke dag begin vra om my te help om my begeerte te vergroot om ’n Bybelstudie te hou. Op dieselfde tyd het ek aan my onderrigvermoë gewerk. Ná ’n paar maande het ek opgelet dat my begeerte sterker geword het. Daardie selfde jaar het ek twee Bybelstudies begin.”

5. Waaroor kan ons nadink om ons motivering te vergroot?

5 Dink na oor wat Jehovah vir jou gedoen het (Ps. 143:5). Die apostel Paulus het nagedink oor Jehovah se onverdiende goedheid teenoor hom, en dit het hom gemotiveer om hard vir Jehovah te werk (1 Kor. 15:9, 10; 1 Tim. 1:12-14). Net so sal jy, hoe meer jy nadink oor wat Jehovah vir jou gedoen het, meer gemotiveerd voel om jou doelwit te bereik (Ps. 116:12). Kyk wat ’n suster in Honduras gehelp het om haar doelwit te bereik om ’n gewone pionier te word. Sy sê: “Ek het nagedink oor hoe lief Jehovah vir my is. Hy het my gehelp om sy volk te vind. Hy gee om vir my en beskerm my. Toe ek hieroor nagedink het, het dit my liefde vir hom versterk en my motivering vergroot.”

6. Wat kan ons nog help om ons motivering te vergroot?

6 Fokus op die voordele daarvan om jou doelwit te bereik. Kyk wat Erika, wat vroeër genoem is, gehelp het met haar doelwit om stiptelik te wees. Sy sê: “Ek het besef dat ek op so baie uitmis as ek laat is vir die bediening. Maar as ek vroeër daar aankom, sal ek die broers en susters kan groet en tyd met hulle kan spandeer. Ek sal ook na die praktiese wenke kan luister wat my sal help om my bediening te geniet en te verbeter.” Erika het op die voordele van stiptelikheid gefokus, en sy het haar doelwit bereik. Op watter seëninge kan jy fokus? As jou doelwit te doen het met Bybellees of gebed, dink na oor hoe dit jou vriendskap met Jehovah sal versterk (Ps. 145:18, 19). As dit jou doelwit is om ’n Christelike eienskap te ontwikkel, fokus op hoe dit jou verhoudings met ander sal verbeter (Kol. 3:14). Hoekom maak jy nie ’n lys van al die redes hoekom jy jou doelwit wil bereik nie? Kyk gereeld na daardie lys. Tomáš, wat vroeër aangehaal is, sê: “Hoe meer redes ek het om ’n doelwit te bereik, hoe minder is die kanse dat ek sal opgee.”

7. Wat het Julio en sy vrou gehelp om hulle doelwit te bereik?

7 Spandeer tyd met dié wat jou sal motiveer (Spr. 13:20). Let op wat Julio en sy vrou gehelp het om hulle doelwit te bereik om meer in hulle bediening te doen. Hy sê: “Ons het vriende gekies wat ons doelwit ondersteun het, en ons het ons doelwit met hulle bespreek. Baie van hulle het alreeds soortgelyke doelwitte bereik, so hulle het vir ons goeie wenke gegee. Ons vriende het ons ook gevra hoe dit met ons planne gaan, en hulle het ons aangemoedig wanneer ons dit nodig gehad het.”

WANNEER ONS NIE GEMOTIVEERD VOEL NIE

Probeer om jou doelwit te bereik (Sien paragraaf 8)

8. Wat kan gebeur as ons aan ’n doelwit werk net wanneer ons gemotiveerd voel? (Sien ook prent.)

8 Maar ons almal het dae wanneer ons nie gemotiveerd voel nie. Beteken dit dat ons nie aan ons doelwit kan werk nie? Nee. Dink hieraan: Die wind kan ’n sterk krag wees wat ’n seilboot na sy bestemming beweeg. Maar die wind waai nie elke dag ewe sterk nie, en party dae waai dit dalk glad nie. Beteken dit dat die seeman nie kan beweeg nie? Nie noodwendig nie. Byvoorbeeld, party seilbote het ’n enjin; ander het roeispane. Die seeman kan die enjin of die roeispane gebruik om na sy bestemming te bly beweeg. Ons motivering kan met die wind vergelyk word; ons voel dalk nie elke dag ewe gemotiveerd nie. En party dae voel ons dalk glad nie gemotiveerd om aan ons doelwit te werk nie. So as ons aan ons doelwit werk net wanneer ons gemotiveerd voel, sal ons dit dalk nooit bereik nie. Maar net soos die seeman ander maniere vind om sy bestemming te bereik, kan ons nog steeds probeer om ons doelwit te bereik, selfs wanneer ons nie gemotiveerd voel nie. Dit sal natuurlik beteken dat ons selfdissipline moet hê, maar dit is die moeite werd. Voordat ons kyk na wat ons kan doen, kom ons bespreek ’n vraag wat dalk sal ontstaan.

9. Moet ons aanhou probeer om ’n doelwit te bereik, al voel ons nie gemotiveerd om dit te doen nie? Verduidelik.

9 Jehovah wil hê dat ons hom met vreugde en gewillig moet dien (Ps. 100:2; 2 Kor. 9:7). So moet ons aanhou probeer om ’n geestelike doelwit te bereik, al voel ons nie lus om dit te doen nie? Kyk na die apostel Paulus se voorbeeld. Hy het gesê: “Ek dissiplineer my liggaam en lei dit as ’n slaaf” (1 Kor. 9:25-27, vtn.). Paulus het homself gedwing om te doen wat reg was, selfs wanneer hy dit nie wou doen nie. Was Jehovah gelukkig met Paulus se diens? Beslis! En Jehovah het hom beloon vir wat hy gedoen het. – 2 Tim. 4:7, 8.

10. Watter voordele is daar wanneer ons ’n doelwit probeer bereik, selfs wanneer ons nie gemotiveerd voel nie?

10 Net so maak dit Jehovah gelukkig om te sien dat ons ons doelwit probeer bereik, selfs wanneer ons nie gemotiveerd voel om dit te doen nie. Hy is gelukkig, want hy weet dat ons dalk nie altyd lief is vir wat ons doen nie, maar dat ons dit doen omdat ons lief is vir hom. Net soos Jehovah Paulus geseën het, sal hy ons seën vir wat ons doen (Ps. 126:5). En wanneer ons Jehovah se seëninge ondervind, sal ons dalk selfs gemotiveerd begin voel. ’n Suster uit Pole met die naam Lucyna sê: “Soms wil ek nie gaan velddiens doen nie, veral wanneer ek moeg is. Maar die vreugde wat ek voel nadat ek uitgegaan het, is ’n wonderlike geskenk.” So kom ons kyk wat ons kan doen wanneer ons nie gemotiveerd voel nie.

11. Hoe kan Jehovah ons help om ons selfbeheersing te versterk?

11 Bid vir selfbeheersing. Selfbeheersing is die vermoë om ’n mens se gevoelens en dade te beheer. Die uitdrukking dra dikwels die gedagte oor dat ons onsself keer om te doen wat sleg is. Maar ons het ook selfbeheersing nodig om te doen wat goed is, veral as dit iets moeiliks is of as ons nie gemotiveerd voel nie. Onthou, selfbeheersing is deel van die vrug van die gees, so vra Jehovah vir heilige gees om jou te help om daardie belangrike eienskap te ontwikkel (Luk. 11:13; Gal. 5:22, 23). David, wat vroeër genoem is, verduidelik hoe gebed hom gehelp het. Hy wou sy persoonlike studie gereelder doen. Hy sê: “Ek het Jehovah gevra om my te help om selfbeheersing te ontwikkel. Met sy hulp kon ek ’n goeie studieprogram begin en daarby bly.”

12. Hoe hou die beginsel in Prediker 11:4 verband met geestelike doelwitte?

12 Moenie wag vir perfekte omstandighede nie. In hierdie wêreld sal ons waarskynlik nooit perfekte omstandighede hê nie. As ons daarvoor wag, sal ons dalk nooit ons doelwit bereik nie. (Lees Prediker 11:4.) ’n Broer met die naam Dayniel sê: “Daar is nie iets soos perfekte omstandighede nie. So ons moenie wag nie; ons moet net ’n begin maak.” ’n Broer in Uganda met die naam Paul noem nog ’n rede hoekom ons nie moet uitstel nie: “Wanneer ons ’n begin maak, selfs wanneer dit moeilik is, gee ons Jehovah iets om te seën.” – Mal. 3:10.

13. Hoekom kan dit goed wees om met klein doelwitte te begin?

13 Begin klein. Ons voel dalk nie gemotiveerd nie omdat dit lyk of ons doelwit baie moeilik is om te bereik. As dit in jou geval waar is, kan jy dalk jou doelwit in kleiner doelwitte opbreek? As dit jou doelwit is om ’n eienskap te ontwikkel, hoekom probeer jy nie eers om dit op kleiner maniere te openbaar nie? As dit jou doelwit is om die hele Bybel te lees, kan jy dalk begin deur korter periodes opsy te sit om te lees? Tomáš, wat aan die begin genoem is, het gesukkel met sy doelwit om die Bybel in ’n jaar te lees. Hy sê: “Ek het besef dat ek ’n pas gekies het wat te vinnig was vir my. So ek het besluit om weer te probeer, maar hierdie keer het ek beplan om ’n paar paragrawe elke dag te lees en daaroor na te dink. As gevolg daarvan het ek my Bybellees begin geniet.” Omdat Tomáš sy Bybellees begin geniet het, het hy vir langer periodes begin lees. Op die ou end het hy die hele Bybel gelees. c

MOENIE MISMOEDIG WEES WANNEER DINGE MOEILIK RAAK NIE

14. Wat kan gebeur wat dit moeiliker maak om jou doelwit te bereik?

14 Maak nie saak hoe gemotiveerd of gedissiplineerd ons is nie, daar sal ongelukkig nog steeds dinge gebeur wat dit moeiliker kan maak om ons doelwit te bereik. Byvoorbeeld, “onverwagse gebeure” kan ons beroof van die tyd wat ons nodig het om aan ons doelwit te werk (Pred. 9:11). Ons ondervind dalk ’n probleem wat veroorsaak dat ons mismoedig is en min krag het (Spr. 24:10). Omdat ons onvolmaak is, kan ons foute maak wat dit baie moeiliker vir ons maak om ons doelwit te bereik (Rom. 7:23). Of ons voel dalk net moeg (Matt. 26:43). Wat kan ons help wanneer iets gebeur wat dit moeiliker maak om ons doelwit te bereik?

15. Beteken dit dat ons misluk het wanneer iets gebeur wat dit moeilik maak om ons doelwit te bereik? Verduidelik. (Psalm 145:14)

15 Wanneer iets gebeur wat dit moeilik maak om jou doelwit te bereik, moet jy onthou dat jy nie misluk het nie. Die Bybel sê dat ons herhaaldelik deur moeilike tye sal gaan. Maar dit maak dit ook duidelik dat ons weer kan opstaan, veral met Jehovah se hulp. (Lees Psalm 145:14.) Die broer met die naam Philip, wat vroeër genoem is, sê: “My sukses is nie gebaseer op hoeveel keer ek val nie. Dit is eerder gebaseer op hoeveel keer ek weer opstaan.” David, wat vroeër aangehaal is, sê: “Wanneer iets gebeur wat dit moeilik maak om my doelwit te bereik, probeer ek dit nie sien as struikelblokke nie, maar as geleenthede om vir Jehovah te wys hoe lief ek vir hom is.” Ja, deur aan te hou, selfs wanneer dit moeilik is, bewys jy aan Jehovah dat jy hom gelukkig wil maak. Dit maak Jehovah seker baie gelukkig wanneer hy sien dat jy aanhou om jou doelwit te probeer bereik.

16. Wat kan ons leer wanneer iets gebeur wat keer dat ons ons doelwit bereik?

16 Beskou dit as ’n geleentheid om te leer wanneer iets gebeur wat keer dat jy jou doelwit bereik. Dink aan wat dit veroorsaak het en vra jouself: ‘Kan ek iets verander om te keer dat dit weer gebeur?’ (Spr. 27:12). Maar wanneer jou doelwit te moeilik is om te bereik, kan dit soms beteken dat dit nie so realisties was as wat jy gedink het nie. As jy voel dat dit in jou geval waar is, dink weer na oor jou doelwit om te kyk of dit nog steeds vir jou redelik is. d Jehovah sal nie dink dat jy ’n mislukking is omdat jy nie ’n doelwit kan bereik wat nie vir jou moontlik was nie. – 2 Kor. 8:12.

17. Hoekom moet ons onthou wat ons alreeds bereik het?

17 Onthou wat jy alreeds bereik het. Die Bybel sê: “God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet van julle werk” nie (Heb. 6:10). So jy moet ook nie daarvan vergeet nie. Dink na oor wat jy alreeds bereik het – of jy nou ’n vriendskap met Jehovah ontwikkel het, met ander oor hom praat of jou laat doop het. Net soos jy in die verlede vordering gemaak het en geestelike doelwitte bereik het, kan jy aanhou om vordering te maak om jou huidige doelwit te bereik. – Fil. 3:16.

Geniet die reis (Sien paragraaf 18)

18. Wat moet ons onthou om te doen terwyl ons ons doelwit probeer bereik? (Sien ook prent.)

18 Met Jehovah se hulp kan jy jou doelwit bereik, net soos ’n seeman wat sy bestemming bereik. Maar onthou, baie seemanne geniet ook die reis. So terwyl jy aanhou om jou geestelike doelwit te probeer bereik, moet jy ook nie vergeet om dit te geniet om te sien hoe Jehovah jou help en jou langs die pad seën nie (2 Kor. 4:7). As jy nie opgee nie, sal jy selfs groter seëninge ontvang. – Gal. 6:9.

LIED 126 Staan vas, word sterk, bly waaksaam

a Ons word gereeld aangemoedig om geestelike doelwitte te stel. Maar sê nou ons het alreeds ’n goeie doelwit gestel, maar ons sukkel om dit te bereik? Hierdie artikel sal ’n hele paar wenke gee oor hoe ons ons doelwitte kan bereik.

b WAT DIT BETEKEN: ’n Geestelike doelwit kan enige iets insluit wat jy hard probeer om te verbeter of om te bereik sodat jy Jehovah beter kan dien en hom gelukkig kan maak. Byvoorbeeld, jy stel dalk die doelwit om ’n Christelike eienskap te ontwikkel of om ’n aspek van jou aanbidding te verbeter, soos Bybellees, persoonlike studie of die veldbediening.

c Sien die boek Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool, bl. 10-11, par. 4.

d Vir meer inligting sien die artikel “Wees redelik in jou verwagtinge en wees vreugdevol” in Die Wagtoring van 15 Julie 2008.