Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy groot respek vir Jehovah se Boek?

Het jy groot respek vir Jehovah se Boek?

“Toe julle God se woord ontvang het, . . . het julle dit . . . aangeneem . . . soos dit waarlik is, as die woord van God.”—1 TESS. 2:13.

LIEDERE: 114, 113

1-3. Hoe het die probleem tussen Euodia en Sintige dalk ontstaan, en hoe kan sulke probleme vermy word? (Sien prent aan begin van artikel.)

JEHOVAH se knegte het groot respek vir God se heilige boek, die Bybel. Omdat ons onvolmaak is, ontvang ons almal soms skriftuurlike raad. Hoe sal ons daarop reageer? Kom ons kyk na die voorbeeld van twee eerste-eeuse Christene, Euodia en Sintige. Daar het ’n ernstige probleem tussen hierdie gesalfde vroue ontstaan. Waaroor? Die Bybel sê nie. Maar kom ons dink aan een moontlikheid.

2 Gestel Euodia het ’n paar broers en susters genooi om by haar te kom eet en mekaar se geselskap te geniet. Sintige was nie genooi nie, maar sy het gehoor dat almal dit baie geniet het. Sintige het dalk gesê: ‘Ek kan nie glo dat Euodia my nie genooi het nie! Ek het gedink dat sy my beste vriendin is.’ Sintige het gevoel dat Euodia nie meer van haar hou nie en haar probeer vermy. Sintige het dus ook ’n geselligheid gereël en dieselfde broers en susters genooi—maar nie vir Euodia nie! Die probleem tussen Euodia en Sintige kon die vrede van die hele gemeente versteur het. Die Bybel sê nie wat die uiteinde van hierdie situasie was nie, maar hierdie susters het moontlik goed gereageer op die apostel Paulus se liefdevolle raad.—Fil. 4:2, 3.

3 Vandag veroorsaak soortgelyke situasies soms probleme in gemeentes van Jehovah se volk. Sulke probleme kan egter opgelos of selfs vermy word as ons die raad toepas wat ons in God se Woord, die Bybel, vind. En as ons groot respek vir Jehovah se Boek het, sal ons volgens die instruksies daarin lewe.—Ps. 27:11.

GOD SE BOEK EN MENSLIKE EMOSIES

4, 5. Watter raad voorsien die Bybel wat ons kan help om ons emosies te beheers?

4 Dit is nie maklik om ons emosies te beheers wanneer ons voel dat iemand ons beledig het of onregverdig behandel het nie. Dit kan ons baie seermaak as ons sleg behandel word weens ons nasionaliteit, velkleur of hoe ons lyk. En dit maak selfs seerder as dit ’n mede-Christen is wat ons so behandel! Is daar raad in God se Woord wat ons kan help wanneer ander ons so sleg behandel?

5 Vandat Jehovah mense geskep het, neem hy hulle waar. Hy is bewus van ons emosies en optrede. Ons gedagtes, veral wanneer ons ontsteld is, kan tot woorde en dade lei waaroor ons dalk later spyt sal wees. Hoe wys is dit tog om die Bybel se raad toe te pas om ons humeur te beteuel en nie gou aanstoot te neem nie! (Lees Spreuke 16:32; Prediker 7:9.) Ons almal moet beslis hard probeer om nie te sensitief te wees nie en om meer vergewensgesind te wees. Dit is vir Jehovah en Jesus van die allergrootste belang dat ons ander moet vergewe (Matt. 6:14, 15). Moet jy meer vergewensgesind wees of harder probeer om jou emosies te beheers?

6. Waarom moet ons waak teen verbitterdheid?

6 Mense wat hulle emosies nie beheers nie, raak dikwels verbitterd. Dit kan veroorsaak dat ander hulle wil vermy. ’n Verbitterde persoon kan ’n slegte invloed in die gemeente wees. Hy kan sy verbitterdheid of selfs sy haat probeer wegsteek, maar negatiewe gedagtes wat in sy hart skuil, “sal in die gemeente blootgelê word” (Spr. 26:24-26). Die ouer manne sal sulke persone probeer help om te sien dat verbitterdheid, haat en om wrokke te koester glad nie in God se organisasie hoort nie. Jehovah se kosbare Boek stel dit baie duidelik (Lev. 19:17, 18; Rom. 3:11-18). Stem jy daarmee saam?

ONTHOU DEUR WIE ONS GELEI WORD

7, 8. (a) Hoe lei Jehovah die aardse deel van sy organisasie? (b) Watter riglyne vind ons in God se Woord, en waarom moet ons daaraan gehoorsaam wees?

7 Jehovah lei en onderrig diegene in die aardse deel van sy organisasie. Hy doen dit deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” onder die leiding van Christus, die “hoof van die gemeente” (Matt. 24:45-47; Ef. 5:23). Soos die eerste-eeuse bestuursliggaam aanvaar hierdie slaaf God se geïnspireerde woord, of boodskap, en hulle het groot respek daarvoor. (Lees 1 Tessalonisense 2:13.) Wat is van die riglyne in die Bybel wat ons tot voordeel kan strek?

8 Die Bybel vermaan ons om die vergaderinge gereeld by te woon (Heb. 10:24, 25). Dit spoor ons aan om verenig te wees in wat ons glo (1 Kor. 1:10). God se Woord sê vir ons om die Koninkryk eerste in ons lewe te stel (Matt. 6:33). Die Skrif beklemtoon ook dat dit ons plig en voorreg is om van huis tot huis, op openbare plekke en informeel te getuig (Matt. 28:19, 20; Hand. 5:42; 17:17; 20:20). God se Boek sê vir Christen- ouer manne om sy organisasie rein te hou (1 Kor. 5:1-5, 13; 1 Tim. 5:19-21). En Jehovah verwag dat almal in sy organisasie liggaamlik en geestelik rein moet wees.—2 Kor. 7:1.

9. Wie is deur Jesus aangestel om ons te help om God se Woord te verstaan?

9 Party dink dalk dat hulle die Bybel self kan uitlê. Maar Jesus het die ‘getroue slaaf’ aangestel as die enigste kanaal waardeur hy geestelike voedsel voorsien. Die verheerlikte Jesus Christus gebruik hierdie slaaf sedert 1919 om sy volgelinge te help om God se Boek te verstaan en die riglyne daarin te volg. As ons die Bybel se riglyne gehoorsaam, bevorder ons reinheid, vrede en eenheid in die gemeente. Elkeen van ons kan hom gerus afvra: ‘Is ek lojaal aan die kanaal wat Jesus vandag gebruik?’

JEHOVAH SE STRYDWA IS AAN DIE BEWEEG!

10. Hoe word die hemelse deel van Jehovah se organisasie in die boek Esegiël beskryf?

10 Jehovah se geskrewe Woord vertel ons van die hemelse deel van sy organisasie. Die profeet Esegiël het byvoorbeeld ’n visioen ontvang waarin die hemelse deel van God se organisasie as ’n hemelse strydwa uitgebeeld word (Eseg. 1:4-28). Jehovah ry op hierdie strydwa, en dit gaan waar sy gees ook al wil hê dit moet gaan. En die hemelse deel van sy organisasie beïnvloed die aardse deel. Die strydwa is beslis aan die beweeg! Dink aan al die veranderinge wat die afgelope dekade in die organisasie plaasgevind het—en hou in gedagte dat Jehovah verantwoordelik is vir hierdie veranderinge. Christus en die heilige engele staan op die punt om hierdie goddelose wêreld te vernietig. Binnekort sal Jehovah se soewereiniteit geregverdig word en sy naam geheilig word!

Ons is baie dankbaar teenoor al die vrywilligers wat hard werk aan bouprojekte! (Sien paragraaf 11)

11, 12. Wat rig Jehovah se organisasie in hierdie laaste dae uit?

11 Dink aan wat die aardse deel van God se organisasie in hierdie laaste dae uitrig. Bouwerk. Honderde broers en susters het hard gewerk om die nuwe hoofkwartier van Jehovah se Getuies by Warwick, New York, VSA, te bou. Onder die leiding van die Wêreldkantoor vir Ontwerp en Konstruksie werk duisende vrywilligers regoor die wêreld hard om nuwe Koninkryksale te bou en takfasiliteite uit te brei. Ons is baie dankbaar dat soveel gewillige en ywerige vrywilligers aan sulke projekte werk! Jehovah seën ook Koninkryksverkondigers regoor die wêreld wat nederig en lojaal bydraes gee om te help om hierdie projekte te finansier.—Luk. 21:1-4.

12 Onderrigting. Dink ook aan die verskillende skole wat God gebruik om sy knegte te onderrig (Jes. 2:2, 3). Ons het die Pionierdiensskool, die Skool vir Koninkrykspredikers, die Gileadskool, die Bethelintreeskool, die Skool vir Kringopsieners en hulle Vrouens, die Skool vir Gemeentelike Ouer Manne, die Koninkryksbedieningskool en die Skool vir Takkomiteelede en hulle Vrouens. Jehovah hou beslis daarvan om sy volk te onderrig! Bybelonderrigting word ook op ons webwerf, jw.org, bevorder, waar lektuur in honderde tale beskikbaar is. Die webwerf het spesiale gedeeltes vir kinders en vir gesinne sowel as ’n gedeelte met nuusitems. Gebruik jy jw.org in jou bediening en tydens gesinsaanbidding?

WEES LOJAAL AAN JEHOVAH EN ONDERSTEUN SY ORGANISASIE

13. Watter verantwoordelikheid het ons as Jehovah se lojale aanbidders?

13 Dit is ’n wonderlike voorreg om deel te wees van Jehovah se organisasie! Aangesien ons weet wat God se vereistes en standaarde is, het ons die verantwoordelikheid om te doen wat reg is en om sy soewereiniteit te ondersteun. Hierdie wêreld word al hoe slegter, en daarom is dit belangrik dat ons soos Jehovah ‘die kwaad haat’ (Ps. 97:10). Ons weier om soos die goddeloses te sê “dat goed sleg is en sleg goed” (Jes. 5:20). Omdat ons God wil behaag, streef ons daarna om liggaamlik, sedelik en geestelik rein te bly (1 Kor. 6:9-11). Ons is lief vir Jehovah en stel ons vertroue in hom. Ons toon dat ons aan hom lojaal is deur volgens die standaarde te lewe wat duidelik in sy kosbare Boek uiteengesit word. En ons doen ons bes om hierdie standaarde te volg by die huis, in die gemeente, by die werk, by die skool—waar ons ook al is (Spr. 15:3). Kom ons bespreek nog maniere waarop ons kan toon dat ons aan God lojaal is.

14. Hoe kan Christenouers toon dat hulle aan God lojaal is?

14 Die grootmaak van kinders. Christenouers toon dat hulle aan Jehovah lojaal is deur hulle kinders volgens sy Woord op te lei. Godvresende ouers laat nie toe dat die wêreld beïnvloed hoe hulle hulle kinders grootmaak nie. Die gees van die wêreld is onaanvaarbaar in ’n Christenhuis (Ef. 2:2). ’n Gedoopte Christenvader sal nie dink nie: ‘Wel, in ons land leer die vrou die kinders.’ Die Bybel sê duidelik: “Vaders, . . . hou aan om [julle kinders] in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Ef. 6:4). Godvresende vaders en moeders wil hê dat hulle kinders soos Samuel moet wees, want Jehovah was met hom terwyl hy grootgeword het.—1 Sam. 3:19.

15. Hoe kan ons toon dat ons lojaal aan Jehovah is wanneer ons groot besluite neem?

15 Wanneer ons besluite neem. Wanneer ons groot besluite neem, kan ons toon dat ons aan God lojaal is deur te kyk na wat sy geskrewe Woord en sy organisasie daaroor sê. Om die belangrikheid hiervan te beklemtoon, kan ons kyk na ’n sensitiewe onderwerp wat baie ouers raak. Party immigrante stuur hulle pasgebore babas na hulle familielede om deur hulle grootgemaak te word. Die ouers kan dan aanhou werk en geld verdien in hulle nuwe land. Ja, dit is ’n persoonlike besluit, maar ons moet in gedagte hou dat God ons verantwoordelik hou vir die besluite wat ons neem. (Lees Romeine 14:12.) Is dit verstandig om belangrike besluite te neem oor ons gesin en ons werk sonder om eers te kyk wat die Bybel daaroor sê? Natuurlik nie! Ons het ons hemelse Vader se hulp nodig, want ons kan nie ons eie voetstappe rig nie.—Jer. 10:23.

16. Watter besluit moes ’n ma neem nadat haar seun gebore is, en wat het haar gehelp om die regte besluit te neem?

16 ’n Vrou wat geboorte gegee het aan ’n babaseuntjie terwyl sy in ’n vreemde land gewoon het, was van plan om die kind na haar geboorteland te stuur sodat sy oupa en ouma hom kon grootmaak. In dié tyd het een van Jehovah se Getuies die Bybel met die vrou begin studeer. Sy het goeie vordering gemaak en het geleer dat Jehovah van haar verwag om haar kind groot te maak om Hom te dien (Ps. 127:3; Spr. 22:6). Die jong vrou het opreg tot Jehovah gebid, soos die Skrif ons aanspoor om te doen (Ps. 62:7, 8). Sy het ook met haar Bybelstudiehouer en met ander in die gemeente gepraat. Al het haar familie en vriende druk op haar uitgeoefen om haar kind na sy oupa en ouma te stuur, het sy tot die slotsom gekom dat dit nie reg sou wees nie. Haar man was so beïndruk met die manier waarop die gemeente haar en die baba ondersteun het dat hy ’n Bybelstudie aanvaar het en die vergaderinge saam met sy vrou en kind begin bywoon het. Dink jy hierdie ma het gevoel dat Jehovah haar opregte gebed verhoor het? Beslis!

17. Watter riglyne het ons oor Bybelstudies ontvang?

17 Deur riglyne te volg. Ons toon dat ons aan God lojaal is deur die riglyne te volg wat ons van sy organisasie ontvang. Dink byvoorbeeld aan die riglyne wat ons oor Bybelstudies ontvang het. Nadat ons ’n studie in die boek Wat leer die Bybel werklik? begin het, moet ons ’n paar minute ná elke studie gebruik om die student oor die organisasie te leer. Ons kan dit doen deur die video Wat gebeur by ’n Koninkryksaal? en die brosjure Wie doen vandag Jehovah se wil? te gebruik. Wanneer ons die Leer Bybel-boek voltooi het met ’n student wat vordering maak, moet ons die boek Hou julle in God se liefdemet hom studeer, selfs as hy teen daardie tyd al gedoop is. Die organisasie het hierdie riglyn voorsien sodat nuwe dissipels “in die geloof standvastig gemaak [kan] word” (Kol. 2:7). Volg jy hierdie riglyne wat Jehovah se organisasie voorsien?

18, 19. Waarom moet ons dankbaar teenoor Jehovah wees?

18 Ons het baie redes om dankbaar teenoor Jehovah te wees! Ons is ons lewe aan hom verskuldig. Dit is alleenlik te danke aan hom dat ons beweeg en bestaan (Hand. 17:27, 28). Hy het ons ’n baie kosbare geskenk gegee—sy boek, die Bybel. Soos die Christene in Tessalonika is ons dankbaar vir hierdie geskenk en het ons dit as die woord van God aangeneem.—1 Tess. 2:13.

19 Die geskrewe Woord van God het dit vir ons moontlik gemaak om nader aan Jehovah te kom, en hy het nader aan ons gekom (Jak. 4:8). Ons hemelse Vader het ons die wonderlike voorreg gegee om deel van sy organisasie te wees. Hoe waardeer ons hierdie seëninge tog! Die psalmis het dit mooi gestel toe hy gesing het: “Dank Jehovah, want hy is goed: Want sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd” (Ps. 136:1). Die uitdrukking “sy liefderyke goedhartigheid is tot onbepaalde tyd” kom 26 keer in Psalm 136 voor. Dit kan ook vertaal word met “sy lojale liefde duur vir ewig”. As ons lojaal aan Jehovah en sy organisasie bly, sal ons ondervind hoe waar hierdie bemoedigende woorde is, want ons sal vir ewig lewe!