Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om mekaar elke dag aan te moedig

Hou aan om mekaar elke dag aan te moedig

“As julle enige woord van aanmoediging vir die volk het, spreek dit dan.”—HAND. 13:15.

LIEDERE: 121, 45

1, 2. Waarom moet ons ander aanmoedig?

“MY OUERS moedig my amper nooit aan nie, maar hulle kritiseer my baie. En hulle woorde kan baie seermaak”, sê Cristina, wat 18 jaar oud is. [1] “Hulle sê dat ek onvolwasse is, dat ek nooit sal leer nie en dat ek vet is. Ek huil baie en wil nie met hulle praat nie. Ek voel dat ek niks werd is nie.” Dit kan die lewe baie moeilik maak as ander ons nie aanmoedig nie!

2 Aanmoediging kan egter ’n baie goeie uitwerking hê. “Ek het jare lank gestry teen die gevoel dat ek niks werd is nie”, sê Rubén. “Maar toe ek eendag saam met ’n ouer man velddiens gedoen het, het hy besef dat dit nie vir my ’n goeie dag is nie. Hy het simpatiek geluister terwyl ek gesê het hoe ek voel. Toe het hy my herinner aan die goeie dinge wat ek doen. Hy het my ook herinner aan Jesus se woorde—dat elkeen van ons meer werd is as baie mossies. Ek dink dikwels aan daardie teks, en dit raak my hart nog steeds. Die ouer man se woorde het ’n groot verskil gemaak.”—Matt. 10:31.

3. (a) Wat het die apostel Paulus oor aanmoediging gesê? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Dit behoort ons nie te verbaas dat die Bybel sê dat ons mekaar gereeld moet aanmoedig nie. Die apostel Paulus het aan die Hebreeuse Christene geskryf: “Pas op, broers, dat daar nooit in enigeen van julle ’n goddelose hart met ’n gebrek aan geloof ontwikkel deurdat hy hom van die lewende God terugtrek nie; maar hou aan om mekaar elke dag te vermaan [of, “aan te moedig”], . . . sodat niemand van julle deur die bedrieglike krag van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12, 13). Dink aan ’n tyd toe iemand jou aangemoedig het en dit jou opgebeur het. Dit sal jou help om te besef hoe belangrik dit is om mekaar aan te moedig. Kom ons bespreek dus die volgende vrae: Waarom is dit baie belangrik om ander aan te moedig? Wat kan ons leer uit die manier waarop Jehovah, Jesus en Paulus ander aangemoedig het? En hoe kan ons ander aanmoedig?

MENSE HET AANMOEDIGING NODIG

4. Wie het aanmoediging nodig, maar waarom is dit vandag so skaars?

4 Ons het almal aanmoediging nodig. Dit geld veral vir kinders. “Kinders . . . het aanmoediging nodig soos plante water nodig het”, verduidelik die opvoedkundige Timothy Evans. “As ’n kind aangemoedig word, voel hy dat hy waarde het en waardeer word.” Maar ons lewe in kritieke tye. Mense is selfsugtig, het min natuurlike liefde en moedig ander nie maklik aan nie (2 Tim. 3:1-5). Party ouers prys nie hulle kinders nie omdat hulle eie ouers hulle nooit aangemoedig het nie. En baie mense kla dat hulle nooit by die werk geprys of aangemoedig word nie.

5. Hoe kan ons ander aanmoedig?

5 Ons kan ander aanmoedig deur hulle te prys vir iets wat hulle goed gedoen het. Ons kan ook aanmoedigend wees deur ander te verseker dat hulle goeie eienskappe het. En ons kan vertroostend praat met dié wat mismoedig is (1 Tess. 5:14). Die Griekse woord wat soms met “aanmoedig” vertaal word, beteken letterlik “om iemand na jou sy te roep”. Terwyl ons sy aan sy saam met ons broers en susters dien, sal ons waarskynlik die geleentheid kry om iets aanmoedigends te sê. (Lees Prediker 4:9, 10.) Gebruik ons gepaste geleenthede om vir ander te sê waarom ons vir hulle lief is en hulle waardeer? Voordat elkeen van ons hierdie vraag beantwoord, kan ons gerus oor hierdie spreuk nadink: “Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!”—Spr. 15:23.

6. Waarom wil die Duiwel ons mismoedig laat voel? Gee ’n voorbeeld.

6 Satan die Duiwel wil ons mismoedig laat voel, want hy weet dat dit ons geestelik en op ander maniere kan benadeel. Spreuke 24:10 sê: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.” Satan het teëspoed sowel as beskuldigings gebruik om die regverdige Job te probeer ontmoedig, maar hierdie wrede plan het misluk (Job 2:3; 22:3; 27:5). Ons kan Satan se pogings om God se knegte te ontmoedig, teëstaan deur ons gesinslede en gemeentelede aan te moedig. Sodoende sal ons huis en die Koninkryksaal plekke wees waar ons gelukkig en veilig voel.

BYBELVOORBEELDE WAT ONS KAN NAVOLG

7, 8. (a) Hoe het Jehovah getoon dat dit belangrik is om ander aan te moedig? (b) Wat kan ouers doen om Jehovah se voorbeeld te volg? (Sien prent aan begin van artikel.)

7 Jehovah. Die psalmis het gesing: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy” (Ps. 34:18). Toe Jeremia bang en mismoedig was, het Jehovah hierdie getroue profeet moed gegee (Jer. 1:6-10). En stel jou net voor hoe die bejaarde profeet Daniël aangemoedig is toe God ’n engel gestuur het om hom te versterk. Hierdie engel het Daniël ’n “besonder geliefde man” genoem! (Dan. 10:8, 11, 18, 19). Kan jy verkondigers en pioniers aanmoedig, of bejaarde broers en susters wat nie meer kan doen wat hulle voorheen gedoen het nie?

8 Jehovah en sy dierbare Seun het eeue lank saam gewerk. En tog het Jehovah dit nog steeds goedgedink om Jesus te prys en aan te moedig toe hy op die aarde was. Om die waarheid te sê, Jesus het by twee geleenthede gehoor hoe sy Vader uit die hemel vir hom sê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matt. 3:17; 17:5). God het Jesus dus geprys en hom verseker dat hy trots op hom is. Dit het Jesus sekerlik baie aangemoedig toe hy hierdie woorde by twee geleenthede gehoor het—aan die begin van sy bediening en in die laaste jaar van sy lewe op aarde. En toe Jesus die aand voor sy dood in angs verkeer het, het Jehovah ’n engel gestuur om hom te versterk (Luk. 22:43). As ons ouers is, moet ons Jehovah se voorbeeld volg deur ons kinders gereeld aan te moedig en hulle te prys wanneer hulle goed doen. Ons moet ook alles in ons vermoë doen om hulle te ondersteun as hulle toetse van geloof by die skool ondervind.

9. Wat kan ons leer uit die manier waarop Jesus sy apostels behandel het?

9 Jesus. Die aand toe Jesus die Herdenking van sy dood ingestel het, het hy weer eens gesien dat sy apostels trots is. Jesus het nederig hulle voete gewas, maar hulle het nog steeds gestry oor wie van hulle die grootste is; en Petrus het te veel selfvertroue gehad (Luk. 22:24, 33, 34). En tog het Jesus sy getroue apostels geprys omdat hulle in sy beproewinge altyddeur by hom gebly het. Hy het voorspel dat hulle groter werke as hy sou doen, en hy het hulle verseker dat God vir hulle lief is (Luk. 22:28; Joh. 14:12; 16:27). Ons kan ons afvra: ‘Volg ek Jesus na deur my kinders en ander te prys vir die goeie dinge wat hulle doen? Of is ek geneig om eerder op hulle foute te konsentreer?’

10, 11. Hoe het die apostel Paulus getoon dat dit belangrik is om ander aan te moedig?

10 Die apostel Paulus. Paulus het mede-Christene in sy briewe geprys. Hy het jare lank saam met party van hulle gereis en het ongetwyfeld geweet wat hulle swakhede is. Hy het nogtans goeie dinge van hulle gesê. Paulus het Timoteus byvoorbeeld beskryf as sy “geliefde en getroue kind in die Here” wat opreg sou omsien na die belange van ander Christene (1 Kor. 4:17; Fil. 2:19, 20). Die apostel het Titus by die gemeente in Korinte aanbeveel deur te sê: “Hy is my metgesel en ’n medewerker in julle belang” (2 Kor. 8:23). Dink net hoe aanmoedigend dit vir Timoteus en Titus was om te hoor wat Paulus van hulle dink!

11 Paulus en Barnabas het hulle lewe gewaag deur terug te keer na plekke waar hulle wreed aangeval is. Byvoorbeeld, al het hulle fanatiese teenstand in Listra ondervind, het hulle daarheen teruggekeer om nuwe dissipels aan te moedig om in die geloof te bly (Hand. 14:19-22). In Efese het Paulus met ’n woedende skare te doen gehad. Handelinge 20:1, 2 sê: “Nadat die opskudding bedaar het, het Paulus die dissipels laat haal, en toe hy hulle aangemoedig en vaarwel gesê het, het hy vertrek om na Masedonië te reis. Nadat hy deur daardie streke gegaan en diegene wat daar was, met baie woorde aangemoedig het, het hy in Griekeland gekom.” Dit was vir Paulus baie belangrik om ander aan te moedig.

MOEDIG MEKAAR AAN

12. Hoe help ons vergaderinge ons om mekaar aan te moedig?

12 Ons hemelse Vader wil hê dat ons gereeld moet vergader. Een rede hiervoor is dat dit ons die geleentheid gee om mekaar aan te moedig. (Lees Hebreërs 10:24, 25.) Net soos Jesus se vroeë volgelinge kom ons bymekaar om te leer en om aanmoediging te ontvang (1 Kor. 14:31). Cristina, wat aan die begin van hierdie artikel genoem word, sê: “Iets wat ek veral omtrent die vergaderinge geniet, is die liefde en aanmoediging wat ek daar ontvang. Soms is ek terneergedruk wanneer ek by die Koninkryksaal aankom. Maar die susters kom dan na my toe, gee my ’n drukkie en sê dat ek mooi lyk. Hulle sê dat hulle lief is vir my en bly is om my geestelike vordering te sien. Hulle aanmoediging laat my baie beter voel!” Hoe verkwikkend is dit tog wanneer elkeen van ons ons deel doen om mekaar aan te moedig!—Rom. 1:11, 12.

13. Waarom het ervare knegte van God aanmoediging nodig?

13 Selfs ervare knegte van God het aanmoediging nodig. Dink aan Josua. Hy het God jare lank getrou gedien. Tog het Jehovah vir Moses gesê om hom aan te moedig: “Dra die bevel aan Josua oor en moedig hom aan en versterk hom, want hy sal voor hierdie volk uit deurtrek en hy sal hulle die land laat beërf wat jy sal sien” (Deut. 3:27, 28). Josua sou die groot verantwoordelikheid hê om die Israeliete te lei gedurende hulle verowering van die Beloofde Land. Hy sou terugslae ondervind en ten minste een geveg verloor (Jos. 7:1-9). Geen wonder dat Josua aangemoedig en versterk moes word nie! Elkeen van ons moet die ouer manne, insluitende kringopsieners, aanmoedig, aangesien hulle hard werk om na God se kudde om te sien. (Lees 1 Tessalonisense 5:12, 13.) ’n Kringopsiener sê: “Soms skryf die broers vir ons ’n briefie om te sê dat hulle ons besoek baie geniet het. Ons hou hierdie briefies en lees dit wanneer ons mismoedig voel. Dit is werklik baie aanmoedigend.”

Ons kinders floreer as ons hulle liefdevol aanmoedig (Sien paragraaf 14)

14. Wat toon dat dit vir mense makliker is om raad te aanvaar as hulle geprys en aangemoedig word?

14 Christen- ouer manne en ouers het gevind dat dit makliker vir gemeentelede en kinders is om Bybelraad te aanvaar as hulle aangemoedig en geprys word. Toe Paulus die Korintiërs geprys het omdat hulle sy raad toegepas het, het dit hulle beslis aangemoedig om aan te hou om te doen wat reg is (2 Kor. 7:8-11). Andreas, wat twee kinders het, sê: “Aanmoediging help kinders om geestelik en emosioneel te groei. As jy hulle aanmoedig, laat dit jou raad by hulle insink. Al weet ons kinders wat reg is, maak gereelde aanmoediging dit vir hulle makliker om te doen wat reg is.”

HOE OM AANMOEDIGING TE GEE

15. Hoe kan ons ander aanmoedig?

15 Toon waardering vir die pogings en goeie eienskappe van medeaanbidders (2 Kron. 16:9; Job 1:8). Jehovah en Jesus het groot waardering vir wat ons almal doen om Koninkryksbelange te ondersteun, selfs as ons weens ons omstandighede nie veel kan doen of groot bydraes kan gee nie. (Lees Lukas 21:1-4; 2 Korintiërs 8:12.) Party van ons dierbare bejaarde broers en susters doen baie moeite om die vergaderinge by te woon en daaraan deel te neem en om gereeld velddiens te doen. Moet ons hulle nie hiervoor prys en aanmoedig nie?

16. Wanneer kan ons ander aanmoedig?

16 Maak gebruik van elke geleentheid om ander aan te moedig. As ons iets sien waarvoor ons ander kan prys, moet ons dit doen. Kyk wat gebeur het toe Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië was. Die presiderende beamptes van die sinagoge het vir hulle gesê: “Manne, broers, as julle enige woord van aanmoediging vir die volk het, spreek dit dan.” Paulus het toe ’n uitstekende toespraak gehou (Hand. 13:13-16, 42-44). As ons iemand kan aanmoedig, sal dit goed wees as ons dit doen. Ons sal heel waarskynlik vind dat mense ons sal aanmoedig as ons die gewoonte het om ander aan te moedig.—Luk. 6:38.

17. Wat moet ons doen wanneer ons ander prys?

17 Wees opreg en spesifiek. Jesus se boodskap aan die Christene in Tiatira wys dat ons spesifiek moet wees wanneer ons ander prys en aanmoedig. (Lees Openbaring 2:18, 19.) Byvoorbeeld, as ons ouers is, moet ons vir ons kinders sê wat ons waardeer omtrent hulle geestelike vordering. Ons kan vir ’n enkelma sê wat ons beïndruk omtrent die manier waarop sy haar kinders grootmaak ondanks haar moeilike situasie. As ons ander so prys en aanmoedig, kan dit goeie resultate oplewer!

18, 19. Hoe kan ons diegene opbou wat aanmoediging nodig het?

18 Jehovah het vir Moses gesê om Josua aan te moedig en te versterk. Jehovah sal natuurlik nie persoonlik vir ons sê om iets aanmoedigends vir ’n spesifieke persoon te sê nie. Maar God is bly wanneer ons medegelowiges en ander aanmoedig (Spr. 19:17; Heb. 12:12). Ons kan byvoorbeeld vir ’n broer wat ’n toespraak gehou het, sê dat sy toespraak ons raad gegee het wat ons nodig gehad het of ons gehelp het om ’n sekere teks te verstaan. ’n Suster het aan ’n besoekende spreker geskryf: “Hoewel ons net ’n paar minute gesels het, het jy gesien dat ek mismoedig voel, en jy het my vertroos en opgebeur. Ek wil vir jou sê dat die liefdevolle manier waarop jy gepraat het, toe jy jou toespraak gehou het en toe ons gesels het, vir my ’n gawe van Jehovah was.”

19 Ons sal heel waarskynlik baie maniere vind waarop ons ander geestelik kan opbou as ons vasbeslote is om Paulus se raad toe te pas: “Hou . . . aan om mekaar te vertroos en mekaar op te bou, net soos julle ook reeds doen” (1 Tess. 5:11). Ons almal sal Jehovah beslis behaag as ons aanhou om mekaar elke dag aan te moedig.

^ [1] (paragraaf 1) Van die name is verander.