Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Uit die duisternis geroep

Uit die duisternis geroep

“[Jehovah het] julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep.”—1 PET. 2:9.

LIEDERE: 116, 102

1. Beskryf wat gebeur het toe Jerusalem vernietig is.

IN 607 VHJ het ’n baie groot Babiloniese leërmag onder die bevel van koning Nebukadnesar II die stad Jerusalem aangeval. Die Bybel sê oor die bloedbad wat dit tot gevolg gehad het: “[Nebukadnesar het] hulle jong manne in die huis van hulle heiligdom met die swaard doodgemaak . . . , en ook het hy geen medelye vir jong man of maagd, oue of afgeleefde gevoel nie. . . . Hy het die huis van die ware God verbrand en die muur van Jerusalem afgebreek; en al die woontorings daarvan het hulle met vuur verbrand, en ook al die begeerlike voorwerpe daarvan, om verwoesting aan te rig.”—2 Kron. 36:17, 19.

2. Watter waarskuwing het Jehovah aangaande Jerusalem gegee, en wat sou met die Jode gebeur?

2 Dit moes Jerusalem se inwoners nie verbaas het toe hulle stad vernietig is nie. God se profete het die Jode jare lank gewaarsku dat die Babiloniërs hulle sou verower as hulle voortgaan om God se Wet te ignoreer. Baie Jode sou met die swaard doodgemaak word. Diegene wat die vernietiging oorleef het, sou waarskynlik die res van hulle lewe as ballinge in Babilon moes deurbring (Jer. 15:2). Watter soort lewe het hulle in ballingskap gehad? En was Christene ooit gevangenes van Babilon? Indien wel, wanneer?

DIE LEWE IN BALLINGSKAP

3. Hoe het ballingskap in Babilon verskil van die slawerny wat die Israeliete in Egipte ondervind het?

3 Wat die profete voorspel het, het gebeur. Jehovah het die ballinge aangeraai om hulle nuwe situasie te aanvaar en die beste daarvan te maak. Hy het deur middel van Jeremia vir hulle gesê: “Bou huise [in Babilon] en bewoon dit, en lê tuine aan en eet die vrugte daarvan. Soek ook die vrede van die stad waarheen ek julle in ballingskap laat gaan het, en bid daarvoor tot Jehovah, want in die vrede daarvan sal daar vir julle vrede wees” (Jer. 29:5, 7). Diegene wat gedoen het wat God gesê het, het ’n redelik normale lewe in Babilon gehad. Die Babiloniërs het die ballinge toegelaat om baie van hulle eie sake te reël. Die ballinge kon selfs vryelik deur die land reis. In daardie tyd was Babilon ’n handelsentrum. Dokumente wat opgegrawe is, toon dat baie Jode daar geleer het hoe om handel te dryf, terwyl ander vaardige vakmanne geword het. Party Jode het selfs ryk geword. Ballingskap in Babilon was glad nie soos die slawerny wat die Israeliete eeue tevore in Egipte ondervind het nie.—Lees Eksodus 2:23-25.

4. Wie het saam met die opstandige Israeliete in Babilon gely, en waarom kon hulle nie alles doen wat die Wet vereis het nie?

4 Daar is wel in die Joodse ballinge se materiële behoeftes voorsien, maar wat van hulle geestelike behoeftes? Jehovah se tempel en die altaar is vernietig, en die priesterdom kon nie meer op ’n georganiseerde manier dien nie. Onder die ballinge was getroue knegte van God wat nie die straf verdien het nie, maar hulle het saam met die res van die nasie gely. Hulle het nogtans gedoen wat hulle kon om God se Wet te gehoorsaam. Byvoorbeeld, Daniël en sy drie vriende—Sadrag, Mesag en Abednego—het in Babilon geweier om kos te eet wat die Jode verbied is om te eet. En ons weet dat Daniël aangehou het om gereeld tot God te bid (Dan. 1:8; 6:10). Maar dit was onmoontlik vir ’n godvresende Jood in ’n heidense stad om alles te doen wat die Wet vereis het.

5. Watter hoop het Jehovah sy volk gegee, en waarom was hierdie belofte merkwaardig?

5 Sou die Israeliete God ooit weer kon aanbid op ’n manier wat vir hom heeltemal aanvaarbaar sou wees? Dit het seker nie vir hulle so gelyk nie. Babilon het nooit sy gevangenes vrygelaat nie. Maar Jehovah God het belowe dat sy volk vrygelaat sou word, en dit is presies wat gebeur het. God se beloftes word altyd bewaarheid.—Jes. 55:11.

WAS CHRISTENE OOIT GEVANGENES VAN BABILON?

6, 7. Waarom is dit gepas dat ons ons begrip van Christene se gevangenskap in Babilon aanpas?

6 Het Christene ooit iets ervaar wat vergelyk kan word met die Jode se ballingskap in Babilon? Hierdie tydskrif het jare lank gesê dat God se hedendaagse knegte vanaf 1918 gevangenes van Babilon was en dat hulle in 1919 vrygelaat is. Maar ons sal in hierdie en die volgende artikel ondersoek waarom ons ons begrip van hierdie onderwerp moes aanpas.

7 Dink hieraan: Babilon die Grote is die wêreldryk van valse godsdiens. As God se volk in 1918 gevangenes van Babilon geword het, moes hulle in daardie tyd op die een of ander manier slawe van valse godsdiens geword het. Die feite toon egter dat God se gesalfde knegte in die dekades voor die Eerste Wêreldoorlog nie slawe van Babilon geword het nie. Hulle het in werklikheid van Babilon die Grote begin losbreek. Die gesalfdes is wel gedurende die Eerste Wêreldoorlog vervolg, maar hierdie vervolging is hoofsaaklik deur die regerings veroorsaak, nie deur Babilon die Grote nie. Dit wil dus nie voorkom asof Jehovah se volk in 1918 gevangenes van Babilon die Grote geword het nie.

GEVANGENES VAN BABILON—WANNEER?

8. Wat het ná die dood van die apostels gebeur? (Sien prent aan begin van artikel.)

8 Gedurende Pinkster 33 HJ is duisende Jode en proseliete met heilige gees gesalf. Hierdie nuwe Christene het “’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit” geword. (Lees 1 Petrus 2:9, 10.) Terwyl die apostels gelewe het, het hulle ’n wakende oog oor die gemeentes van God se volk gehou. Maar veral ná die dood van die apostels het manne opgestaan wat “verdraaide dinge” gespreek het om “die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Hand. 20:30; 2 Tess. 2:6-8). Baie van hierdie manne het verantwoordelike posisies in die gemeente beklee en het as opsieners en later as “biskoppe” gedien. ’n Geestelikeklas het begin ontstaan, al het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Julle [is] almal broers” (Matt. 23:8). Vername manne wat deur die filosofieë van Aristoteles en Plato beïnvloed is, het valse godsdiensidees begin verkondig. Dit het die suiwer leringe van God se Woord geleidelik vervang.

9. Beskryf hoe ’n afvallige vorm van die Christelike godsdiens deur die Romeinse Staat ondersteun is en wat die gevolg was.

9 In 313 HJ het hierdie afvallige vorm van die Christelike godsdiens wetlike erkenning van die heidense Romeinse keiser Konstantyn ontvang. Van toe af was die Kerk en die Staat kop in een mus. Byvoorbeeld, ná die Konsilie van Nicea het Konstantyn, wat by die konsilie teenwoordig was, beveel dat die priester Arius verban word omdat hy geweier het om Jesus as God te erken. Onder keiser Teodosius I (379-395 HJ) het die Katolieke Kerk, ’n besoedelde vorm van die Christelike godsdiens, die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk geword. Geskiedkundiges sê dat heidense Rome in die vierde eeu “Christelik” geword het. Maar eintlik was ’n afvallige vorm van die Christelike godsdiens, tesame met die heidense godsdienste van die Romeinse Ryk, teen daardie tyd reeds deel van Babilon die Grote. Nogtans het ’n klein aantal gesalfde Christene, die “koring” waarvan Jesus gepraat het, hulle bes gedoen om God te aanbid, maar niemand het hulle daaraan gesteur nie. (Lees Matteus 13:24, 25, 37-39.) Hulle was beslis gevangenes van Babilon!

10. Waarom het opregte mense die kerk se leerstellings begin bevraagteken?

10 Gedurende die eerste paar eeue van die huidige jaartelling kon baie mense die Bybel in Grieks of Latyn lees. Hulle kon dus die leringe van God se Woord met die leerstellings van die kerk vergelyk. Op grond van wat hulle in die Bybel gelees het, het party van hulle die onskriftuurlike geloofsbelydenisse van die kerk verwerp, maar dit was gevaarlik—lewensgevaarlik—om dit openlik te doen.

11. Waarom het kerkleiers dit reggekry om beheer oor die Bybel uit te oefen?

11 Later het mense nie meer die tale gepraat waarin die Bybel beskikbaar was nie, en die kerk het nie toegelaat dat God se Woord vertaal word in die tale wat die mense gepraat het nie. Gevolglik kon net die kerkleiers en party ander geleerde mense die Bybel self lees, en nie alle kerkleiers kon goed lees en skryf nie. As mense gesê het dat hulle nie saamstem met wat die kerk leer nie, is hulle swaar gestraf. Getroue gesalfde knegte van God moes in die geheim bymekaarkom—en soms was selfs dít nie moontlik nie. Die gesalfde “koninklike priesterdom” kon nie op ’n georganiseerde manier dien nie, net soos in die geval van die priesterdom tydens die ballingskap in Babilon. Babilon die Grote het die mense in ’n ystergreep gehad!

STRAALTJIES VAN LIG

12, 13. Watter twee faktore het daartoe bygedra dat Babilon die Grote se houvas op mense effens begin verslap het? Verduidelik.

12 Sou ware Christene ooit vry wees om God openlik en op aanvaarbare wyse te aanbid? Ja! Straaltjies van geestelike lig het danksy twee belangrike faktore in die duisternis begin skyn. Die eerste was die uitvinding van ’n drukpers met los letters in die middel van die 15de eeu. Voor die uitvinding van die drukpers is afskrifte van die Bybel sorgvuldig met die hand gemaak. Hierdie afskrifte was skaars en duur. Daar is al gesê dat dit ’n vaardige kopiis tien maande geneem het om net een handgeskrewe afskrif van die Bybel te maak! En perkament, die materiaal waarop kopiiste geskryf het, was baie duur. Maar ’n vaardige drukker met ’n drukpers en papier kon 1 300 bladsye per dag druk!

Die drukpers en moedige Bybelvertalers het gehelp om Babilon se houvas op mense te laat verslap (Sien paragraaf 12, 13)

13 Die tweede faktor was die besluit van ’n paar moedige manne aan die begin van die 16de eeu om God se Woord in die tale te vertaal wat die gewone mense gepraat het. Baie vertalers het hulle lewe gewaag om dit te doen. Die kerk was woedend. Die kerkleiers was bang dat ’n Bybel in die hande van ’n godvresende man of vrou ’n gevaarlike wapen kon wees! Toe die Bybel beskikbaar geword het, het mense dit wel gelees. Toe hulle dit gelees het, het vrae by hulle opgekom: ‘Waar in God se Woord praat dit van die vaevuur? of van betaalde misdienste vir die dooies? of van pouse en kardinale?’ Die kerk het dit as verregaande beskou dat die gewone mense die kerk se leringe bevraagteken. Die kerk het terugbaklei. Mans en vroue is as ketters veroordeel omdat hulle die kerk se leringe verwerp het. Sommige van hierdie leringe was gegrond op die heidense filosofieë van Aristoteles en Plato—manne wat gelewe het voordat Jesus Christus gebore is. Die kerk het die sogenoemde ketters tot die dood veroordeel; die Staat het die vonnis voltrek. Die doel was om te keer dat mense die Bybel lees en die kerk se leringe bevraagteken. Die kerk het redelik goed in hierdie doel geslaag. Maar ’n paar dapper persone het hulle nie deur Babilon die Grote laat afskrik nie. Hulle het ’n voorsmakie van die waarheid van God se Woord gekry—en hulle wou meer hê! Die weg is berei vir ’n toekomstige bevryding uit valse godsdiens.

14. (a) Wat het in die laat 1800’s tot ’n beter begrip van Bybelwaarheid bygedra? (b) Beskryf hoe broer Russell na die waarheid gesoek het.

14 Baie mense wat na Bybelwaarheid gedors het, het gevlug na lande waar die kerk nie so ’n groot invloed gehad het nie. Hulle wou lees en studeer en met mekaar praat sonder dat daar vir hulle gesê word wat hulle moet dink. In een van hierdie lande, die Verenigde State, het Charles Taze Russell en ’n paar metgeselle in die laat 1800’s ’n deeglike studie van die Bybel begin maak. Broer Russell se doel was aanvanklik om vas te stel watter van die bestaande godsdienste die waarheid leer. Hy het die leringe van ’n klomp verskillende godsdienste, selfs nie-Christelike godsdienste, noukeurig vergelyk met wat die Bybel sê. Hy het gou besef dat nie een van hierdie godsdienste ten volle by God se Woord gebly het nie. Op een stadium het hy met ’n aantal plaaslike kerkleiers gepraat. Russell het gehoop dat hierdie manne die waarhede sou aanvaar wat hy en sy metgeselle in die Bybel gevind het en dat hulle dit aan hulle gemeentelede sou leer. Die kerkleiers het nie belanggestel nie. Die Bybelstudente het gou besef: Hulle kan God nie aanbid saam met mense wat vasbeslote is om aan valse godsdiens vas te hou nie.—Lees 2 Korintiërs 6:14.

15. (a) Wanneer het Christene gevangenes van Babilon die Grote geword? (b) Watter vrae gaan ons in die volgende artikel beantwoord?

15 Ons het tot dusver gesien dat ware Christene kort ná die dood van die laaste apostels gevangenes van Babilon geword het. Maar ’n aantal vrae ontstaan: Watter bykomende bewyse is daar dat die gesalfdes in die dekades voor 1914 werklik van Babilon die Grote begin losbreek het? Is dit waar dat Jehovah ontevrede was omdat sy knegte gedurende die Eerste Wêreldoorlog nie so bedrywig was in die predikingswerk nie? Het party van ons broers hulle Christelike neutraliteit tot ’n mate prysgegee en sodoende Jehovah se guns verloor? En laastens, as Christene vanaf die tweede eeu HJ gevangenes van valse godsdiens geword het, wanneer is hulle bevry? Dit is baie goeie vrae. Dit sal in die volgende artikel beantwoord word.