Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou styf vas aan die prys

Hou styf vas aan die prys

“Moet julle nie van die prys laat beroof . . . nie.”—KOL. 2:18.

LIED: 122, 139

1, 2. (a) Na watter prys sien God se knegte uit? (b) Wat help ons om ons oë op die prys te hou? (Sien prent aan begin van artikel.)

GESALFDE Christene het ’n baie spesiale hoop. Die apostel Paulus het hierdie hoop “die prys van God se roeping na bo” genoem (Fil. 3:14). Hulle sien daarna uit om saam met Jesus Christus in sy hemelse Koninkryk te dien en om mense te help om weer volmaak te word (Op. 20:6). Wat ’n wonderlike hoop en uitnodiging van God! Die ander skape sien daarna uit om vir ewig op die aarde te lewe. Dit is ook ’n wonderlike hoop!—2 Pet. 3:13.

2 Om gesalfde Christene te help om getrou te bly en die prys te verkry, het Paulus gesê: “Hou julle verstande gerig op die dinge daar bo” (Kol. 3:2). Hulle moes bly fokus op hulle wonderlike hemelse hoop (Kol. 1:4, 5). As God se knegte aan al die seëninge dink wat Jehovah gee, sal dit hulle help om hulle oë op die prys te hou, maak nie saak of hulle ’n aardse of ’n hemelse hoop het nie.—1 Kor. 9:24.

3. Waaroor het Paulus Christene gewaarsku?

3 Paulus het Christene oor gevare gewaarsku wat hulle van die prys kan beroof. Hy het byvoorbeeld aan die gemeente in Kolosse geskryf oor valse Christene wat God se guns probeer verkry het deur aan die Wet gehoorsaam te wees eerder as om geloof in Christus te hê (Kol. 2:16-18). Paulus het ook gevare bespreek wat nog steeds bestaan wat ons van die prys kan beroof. Byvoorbeeld, hy het verduidelik hoe om verkeerde seksuele begeertes te vermy, hoe om probleme met ons broers en susters op te los en hoe om gesinsprobleme te hanteer. Sy raad kan ons ook baie help. Kom ons kyk na ’n paar van Paulus se liefdevolle waarskuwings in sy brief aan die Kolossense.

MAAK VERKEERDE SEKSUELE BEGEERTES DOOD

4. Hoekom kan verkeerde seksuele begeertes ons van die prys beroof?

4 Nadat Paulus sy broers herinner het aan hulle wonderlike hoop, het hy geskryf: “Maak dan dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug” (Kol. 3:5). Verkeerde seksuele begeertes kan baie sterk wees. Dit kan veroorsaak dat ons ons vriendskap met Jehovah en ons hoop om vir ewig te lewe, verloor. ’n Broer wat onsedelik was en wat later teruggekeer het na die gemeente het gesê dat sy verkeerde seksuele begeertes so sterk was dat hy dit nie kon keer voordat dit te laat was nie.

5. Hoe kan ons ons in gevaarlike situasies beskerm?

5 Ons moet veral versigtig wees wanneer ons in situasies is wat daartoe kan lei dat ons ongehoorsaam is aan Jehovah se sedelike standaarde. Byvoorbeeld, dit is belangrik vir twee mense wat uitgaan om vroeg in die verhouding perke te stel wanneer dit kom by soen, om aan mekaar te vat of om nie alleen saam te wees nie (Spr. 22:3). Ander gevaarlike situasies kan ontstaan wanneer jy weggaan vir besigheid of wanneer jy saam met iemand van die teenoorgestelde geslag moet werk (Spr. 2:10-12, 16). As jy in een van hierdie situasies is, moet jy vir mense sê dat jy een van Jehovah se Getuies is. Jy moet jou ordentlik gedra en jy moet onthou dat om te flirt baie probleme kan veroorsaak. Ons moet ook versigtig wees wanneer ons hartseer of eensaam voel. Ons het dalk ’n sterk begeerte om te voel dat iemand ons nodig het. Ons is dalk so desperaat vir liefde en aandag dat ons dit van enigiemand sal aanvaar. As jy ooit so voel, moet jy niks doen wat jou van die prys sal beroof nie. Vra Jehovah en sy knegte om jou te help.—Lees Psalm 34:18; Spreuke 13:20.

6. Wat moet ons onthou wanneer ons vermaak kies?

6 Om verkeerde seksuele begeertes dood te maak, moet ons vermaak verwerp wat ons verkeerde seksuele begeertes kan gee. Baie van vandag se vermaak laat ons dink aan hoe dinge in Sodom en Gomorra was (Jud. 7). Mense in die vermaaklikheidswêreld laat dit lyk asof seksuele sonde normaal en onskadelik is. Ons moet altyd versigtig wees en nie net enige tipe vermaak aanvaar nie. Ons moenie vermaak kies wat sal veroorsaak dat ons die prys verloor nie.—Spr. 4:23.

“BEKLEE JULLE” MET LIEFDE EN GOEDHARTIGHEID

7. Watter probleme kan daar in die Christengemeente wees?

7 Ons is baie bly om deel van die Christengemeente te wees. Wat ons uit die Bybel by die vergaderinge leer en die liefdevolle aanmoediging van ons broers en susters help ons om styf vas te hou aan die prys. Maar soms is daar misverstande wat probleme tussen broers en susters in die gemeente kan veroorsaak. As ons nie sulke probleme gou oplos nie, kan ons dalk baie lank kwaad bly.—Lees 1 Petrus 3:8, 9.

8, 9. (a) Watter eienskappe sal ons help om die prys te wen? (b) Hoe kan ons die vrede bewaar as ’n Christen ons ontstel het?

8 As ons lank vir iemand kwaad bly, kan dit veroorsaak dat ons nie die prys wen nie. Paulus het vir die Kolossense gesê: “Beklee julle dan, as God se uitverkorenes, heilig en gelief, met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen. Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”—Kol. 3:12-14.

9 Liefde en goedhartigheid kan ons help om ander te vergewe. Byvoorbeeld, as ons voel dat ’n broer of suster ons met hulle woorde of dade seergemaak het, kan ons dink aan gevalle toe ons iets verkeerds gesê of gedoen het. Waardeer ons nie ons broers en susters wat ons foute vergewe het se liefde en goedhartigheid nie? (Lees Prediker 7:21, 22.) Ons is dankbaar dat Christus se goedhartigheid ware aanbidders verenig (Kol. 3:15). Ons almal is lief vir dieselfde God, verkondig dieselfde boodskap en het baie van dieselfde probleme. Wanneer ons mekaar liefdevol vergewe, sal dit help om die gemeente te verenig en sal ons ook styf vashou aan die prys.

10, 11. (a) Hoekom is dit gevaarlik om jaloers te wees? (b) Hoe kan ons seker maak dat jaloesie ons nie van die prys beroof nie?

10 Jaloesie kan veroorsaak dat ons nie die prys wen nie. Voorbeelde in die Bybel wys vir ons hoe gevaarlik dit is om jaloers te wees. Byvoorbeeld, Kain was jaloers op sy broer Abel en het hom doodgemaak. Korag, Datan en Abiram was jaloers op Moses en het hom teëgestaan. En koning Saul was jaloers op Dawid en wou hom doodmaak. Daarom sê God se Woord: “Waar daar jaloesie en twisgierigheid is, daar is wanorde en allerhande veragtelike dinge.”—Jak. 3:16.

11 Ons sal nie maklik jaloers word as ons hard daaraan werk om liefdevol en goedhartig te wees nie. God se Woord sê: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie” (1 Kor. 13:4). Om te keer dat jaloesie deel van ons persoonlikheid word, moet ons dinge sien soos Jehovah dit sien. Ons moet ons broers en susters as lede van dieselfde liggaam, die Christengemeente, sien. Die Bybel sê: “As ’n lid verheerlik word, is al die ander lede saam met hom bly” (1 Kor. 12:16-18, 26). Daarom sal ons nie jaloers word as iets goeds met een van ons broers of susters gebeur nie. Ons sal eerder saam met hulle bly wees. Dink aan die voorbeeld van koning Saul se seun Jonatan. Hy was nie jaloers toe Dawid as koning gekies is nie. Hy het Dawid eerder aangemoedig en ondersteun (1 Sam. 23:16-18). Kan ons so liefdevol en goedhartig soos Jonatan wees?

WEN DIE PRYS AS ’N GESIN

12. Watter raad in die Bybel moet ons volg as ons die prys as ’n gesin wil wen?

12 As elkeen in die gesin die raad in die Bybel toepas, sal die gesin gelukkig wees, vrede hê en dit sal hulle help om die prys te wen. Watter raad het Paulus aan die Christene in Kolosse gegee? Hy het gesê: “Vrouens, wees onderdanig aan julle mans, soos dit betaamlik is in die Here. Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê en moenie vir hulle bitter kwaad wees nie. Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want dit is welbehaaglik in die Here. Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie” (Kol. 3:18-21). Jy sal sekerlik saamstem dat hierdie raad nog steeds mans, vrouens en kinders kan help.

13. Hoe kan ’n Christenvrou haar man wat nie in die waarheid is nie, help om Jehovah te dien?

13 Miskien is jy ’n suster wie se man nie in die waarheid is nie. Wat sal jy doen as jy voel dat hy jou nie goed behandel nie? Sal dit jou situasie verbeter as jy met hom daaroor stry en baklei? Selfs al doen hy wat jy van hom vra, sal dit hom help om Jehovah te dien? Seker nie. Maar as jy jou man as die hoof van die huis respekteer, sal daar vrede in die gesin wees en jy sal Jehovah eer. Jou goeie voorbeeld sal dalk jou man motiveer om Jehovah te wil dien en dan sal julle altwee die prys wen.—Lees 1 Petrus 3:1, 2.

14. Wat moet ’n Christenman doen as sy vrou wat nie in die waarheid is nie, hom nie respekteer nie?

14 Miskien is jy ’n man wie se vrou nie in die waarheid is nie. Wat kan jy doen as jy voel dat sy jou nie respekteer nie? Sal sy jou meer respekteer as jy op haar skree om te wys wie die broek in die huis dra? Natuurlik nie! God verwag van jou om Jesus na te volg en ’n liefdevolle hoof te wees (Ef. 5:23). Jesus, die hoof van die gemeente, is altyd geduldig en liefdevol (Luk. 9:46-48). As jy Jesus navolg, sal jou vrou dalk Jehovah ook wil begin dien.

15. Hoe wys ’n Christenman dat hy vir sy vrou lief is?

15 Jehovah sê vir mans: “Hou aan om julle vrouens lief te hê en moenie vir hulle bitter kwaad wees nie” (Kol. 3:19). ’n Liefdevolle man respekteer sy vrou deur na haar opinie te luister en haar te verseker dat hy waardeer wat sy sê (1 Pet. 3:7). Hoewel hy nie altyd kan doen wat sy vra nie, luister hy na haar, want hy weet sy kan hom help om goeie besluite te maak (Spr. 15:22). ’n Liefdevolle man sal sy vrou se respek verdien en nie daarop aandring nie. As ’n man sy vrou en kinders liefhet, sal hulle ’n gelukkige gesin wees wat Jehovah saam dien en die prys van die lewe wen.

Hoe kan ons keer dat gesinsprobleme ons van die prys beroof? (Sien paragraaf 13-15)

JONGMENSE—HOU STYF VAS AAN DIE PRYS!

16, 17. Wat kan jongmense doen om nie vir hulle ouers kwaad te word nie?

16 Miskien is jy ’n tiener wat voel dat jou Christenouers jou nie verstaan nie of dat hulle te streng is. Omdat jy so gefrustreerd is, kan jy dalk begin twyfel of jy Jehovah regtig wil dien. Maar as jy Jehovah ophou dien, sal jy sien dat niemand in die wêreld jou so liefhet soos jou ouers en die broers en susters in die gemeente nie.

17 As jou ouers jou nooit reggehelp het nie, hoe sou jy geweet het of hulle vir jou omgee? (Heb. 12:8). Dalk is dit die manier waarop jou ouers jou dissiplineer wat jou ontstel. Maar moenie daarop fokus nie. Probeer eerder die redes verstaan vir wat hulle doen en sê. Bly kalm en moenie oorreageer nie. God se Woord sê: “Iemand wat sy woorde inhou, besit kennis, en ’n man met onderskeidingsvermoë is kalm van gees” (Spr. 17:27). Maak dit jou doelwit om ’n meer volwasse persoon te wees wat raad aanvaar en iets daaruit leer, maak nie saak hoe dit gegee word nie (Spr. 1:8). Dit is ’n seën om ouers te hê wat lief is vir Jehovah. Hulle wil jou help om die prys van die lewe te wen.

18. Hoekom wil jy styf vashou aan die prys?

18 Ons almal sien uit na ’n wonderlike toekoms—ewige lewe in die hemel of op die aarde. Dit is ’n werklike hoop wat ons Skepper belowe het. Hy sê: “Die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah” (Jes. 11:9). Almal wat dan op die aarde gaan lewe, gaan deur God geleer word. Dit is ’n prys wat die moeite werd is. Onthou altyd wat Jehovah belowe het en hou styf vas aan die prys!