Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Maak jy Jehovah jou toevlug?

Maak jy Jehovah jou toevlug?

“Jehovah verlos die siel van sy knegte; en nie een van dié wat hulle toevlug tot hom neem, sal skuldig geag word nie.”—PS. 34:22.

LIED: 8, 54 *

1. Hoe voel baie van God se getroue knegte oor sonde?

“ELLENDIGE mens wat ek is!” (Rom. 7:24). Baie van God se getroue knegte voel net soos die apostel Paulus. Omdat ons onvolmaak is, doen ons soms dinge wat Jehovah haat en dit kan ons baie ongelukkig maak. Party Christene wat ernstig gesondig het, voel selfs dat God hulle nie kan vergewe nie.

2. (a) Hoe wys Psalm 34:22 dat God se knegte nie moet aanhou skuldig voel oor hulle sondes nie? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek? (Sien die venster “ Lesse of simboliese betekenis?”)

2 Die Bybel sê as ons Jehovah ons toevlug maak, moet ons nie aanhou skuldig voel oor ons sondes nie. (Lees Psalm 34:22.) Wat beteken dit om Jehovah ons toevlug te maak? Wat moet ons doen om Jehovah se genade te verkry en dat hy ons sal vergewe? Ons kry die antwoord as ons kyk na die reëling van die vrystede in eertydse Israel. Hierdie reëling was deel van die Wetsverbond wat op Pinkster in die jaar 33 vervang is. Maar onthou dat Jehovah hierdie Wet vir die Israeliete gegee het. Die reëling van die vrystede wys ons hoe Jehovah voel oor sonde, sondaars en mense wat berouvol is. Maar kom ons kyk eers wat die doel van hierdie stede was.

DIE REËLING VAN DIE VRYSTEDE

3. Wat het die Israeliete met ’n persoon gedoen wat iemand aspris doodgemaak het?

3 Dit was vir Jehovah ’n baie ernstige saak wanneer iemand in eertydse Israel doodgemaak is. Wanneer ’n Israeliet iemand aspris doodgemaak het, moes die naaste manlike familielid van die slagoffer, wat “die bloedwreker” genoem is, wraak neem en die moordenaar doodmaak (Num. 35:19). Op hierdie manier het die moordenaar met sy lewe betaal vir die lewe van die onskuldige persoon wat hy doodgemaak het. Dit het gehelp om die Beloofde land rein te hou, want Jehovah het gesê: “Julle mag die land waarin julle is, nie besoedel nie; want bloed [van iemand wat doodgemaak is] besoedel die land.”—Num. 35:33, 34.

4. Wat het gebeur wanneer ’n Israeliet iemand per ongeluk doodgemaak het?

4 Wat het die Israeliete met iemand gedoen wat ’n persoon per ongeluk doodgemaak het? Al was dit per ongeluk, was hy nog steeds skuldig omdat hy iemand doodgemaak het (Gen. 9:5). Maar hy kon van die persoon vlug wat hom moes doodmaak en na een van die ses vrystede toe gaan. Daar was hy veilig. Hy moes in die vrystad bly tot die hoëpriester se dood.—Num. 35:15, 28.

5. Hoe help die reëling van die vrystede ons om Jehovah beter te verstaan?

5 Jehovah het gesê dat daar vrystede moet wees. Hy het vir Josua gesê: “Praat met die kinders van Israel en sê: ‘Wys vir julle die vrystede aan.’” Die stede was ook deur Jehovah “’n heilige status gegee”, of gekies vir ’n spesifieke doel (Jos. 20:1, 2, 7, 8). Daarom kan ons ons afvra: Hoe help hierdie reëling ons om Jehovah se genade beter te verstaan? En hoe kan dit ons help om beskerming by Jehovah te kry?

HY MOET SY SAAK MET DIE OUER MANNE BESPREEK

6, 7. (a) Wat moes die ouer manne doen met iemand wat ’n persoon per ongeluk doodgemaak het? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Hoekom moes die persoon wat vlug met die ouer manne gepraat het?

6 Nadat ’n persoon iemand per ongeluk doodgemaak het, moes hy eers sy saak met die ouer manne in die stad waarheen hy gevlug het, bespreek. Hulle moes hom verwelkom (Jos. 20:4). Later het hy teruggegaan na die stad waar hy iemand doodgemaak het sodat daardie ouer manne sy saak kon oordeel. (Lees Numeri 35:24, 25.) Eers nadat die ouer manne besluit het dat die moord nie aspris was nie, kon die vlugteling na die vrystad toe teruggaan.

7 Hoekom moes die vlugteling met die ouer manne gaan praat? Om Israel rein te hou en om die persoon wat iemand per ongeluk doodgemaak het, te help om Jehovah se genade te verkry. ’n Bybelkenner het gesê dat as ’n vlugteling nie na die ouer manne toe gegaan het nie, hy doodgemaak kon word. En dit sou sy eie skuld wees omdat hy nie gedoen het wat God gesê het hy moet doen nie. Die persoon wat iemand per ongeluk doodgemaak het kon gehelp word, hy moes net vir hulp vra en dit aanvaar. As hy nie na een van die vrystede gevlug het nie, kon die naaste familielid van die persoon wat hy doodgemaak het, hom doodmaak.

8, 9. Hoekom moet ’n Christen wat ernstig gesondig het met die ouer manne praat?

8 ’n Christen wat ernstig gesondig het, moet met die ouer manne praat sodat hulle hom kan help om weer Jehovah se vriend te word. Hoekom is dit so belangrik? Eerstens, Jehovah het in die Bybel gesê dat ouer manne Christene moet help wat ernstig gesondig het (Jak. 5:14-16). Tweedens, die ouer manne is daar om die berouvolle sondaar te help om weer Jehovah se vriend te word en om nie weer dieselfde fout te maak nie (Gal. 6:1; Heb. 12:11). Derdens, die ouer manne is aangestel en opgelei om berouvolle sondaars te help om nie meer so skuldig en hartseer te voel nie. Jehovah noem hierdie manne “’n skuiling teen die reënstorm” (Jes. 32:1, 2). Hierdie reëling is een manier hoe Jehovah sy genade aan ons bewys.

9 Baie van God se knegte het al beter gevoel nadat hulle met die ouer manne gepraat het. ’n Broer met die naam Daniel het byvoorbeeld ’n ernstige sonde gepleeg en vir maande gehuiwer om met die ouer manne te praat. Hy sê: “Nadat so baie tyd verbygegaan het, het ek gedink dat die ouer manne niks kon doen om my te help nie. Maar ek het oor my skouer bly kyk, want ek het geweet my sondes gaan my inhaal. En wanneer ek gebid het, het ek gevoel dat ek elke keer eers vir Jehovah moes jammer sê vir alles wat ek gedoen het.” Daniel het uiteindelik die ouer manne gevra om hom te help. Hy sê nou: “Ek was bang om na die ouer manne toe te gaan. Maar ná die tyd het dit gevoel asof daar ’n berg van my skouers af is. Nou voel ek dat ek weer met Jehovah kan praat sonder dat iets in my pad staan.” Daniel het nou ’n skoon gewete en dien as ’n bedieningskneg.

“HY MOET NA EEN VAN HIERDIE STEDE VLUG”

10. Wat moes die persoon wat iemand per ongeluk doodgemaak het, doen om vergewe te word?

10 Die persoon wat iemand per ongeluk doodgemaak het, moes na die naaste vrystad vlug om vergewe te word. (Lees Josua 20:4.) Hy moes so gou as moontlik by een van die vrystede uitkom, want sy lewe het daarvan afgehang! Dit was ’n groot opoffering gewees. Hy moes sy werk, sy huis en sy vryheid opgee totdat die hoëpriester gesterf het (Num. 35:25). * Maar dit was alles die moeite werd. As hy die vrystad verlaat het, het hy gewys dat hy nie jammer is oor wat hy gedoen het nie en sou hy ook sy eie lewe in gevaar stel.

11. Hoe kan ’n berouvolle Christen wys dat hy Jehovah se genade waardeer?

11 Vandag moet ’n berouvolle sondaar ook iets doen sodat God hom kan vergewe. Ons moet ons bes doen om nie te sondig nie. Dit beteken dat ons nie net ernstige sondes moet vermy nie, maar selfs die klein foutjies wat tot groter sondes kan lei. Die apostel Paulus het beskryf wat berouvolle Christene in Korinte gedoen het. Hy het gesê: “Wat ’n groot erns het juis die feit dat julle op ’n goddelike wyse bedroef gemaak is, in julle voortgebring, ja, suiwering van julleself, ja, verontwaardiging, ja, vrees, ja, verlange, ja, ywer, ja, regstelling van die oortreding!” (2 Kor. 7:10, 11). As ons alles doen wat ons kan om nie weer te sondig nie, wys ons vir Jehovah dat dit vir ons ’n ernstige saak is en dat ons nie net aanneem dat hy ons sal vergewe nie.

12. Wat moet ’n Christen dalk opgee om Jehovah se genade te verkry?

12 Wat moet ’n Christen dalk opgee om Jehovah se genade te verkry? Hy moet bereid wees om selfs dinge op te gee waarvan hy baie hou om te verseker dat hy nie weer dieselfde fout maak nie (Matt. 18:8, 9). Sal jy bereid wees om nie meer vriende te wees met mense wat jou beïnvloed om dinge te doen waarvan Jehovah nie hou nie? Drink jy dalk te veel alkohol? Sal jy bereid wees om situasies te vermy waar jy dalk te veel kan drink? Het jy verkeerde seksuele begeertes? Sal jy flieks, webwerwe of enigiets vermy wat jou verkeerde seksuele gedagtes kan gee? Onthou, enige opoffering wat ons maak om lojaal aan Jehovah te bly, is die moeite werd. Niks maak so seer as om te voel dat Jehovah jou verlaat het nie. En daar is niks beters as om Jehovah se lojale liefde vir ewig te voel nie.—Jes. 54:7, 8.

“HULLE MOET VIR JULLE AS ’N TOEVLUG . . . DIEN”

13. Verduidelik hoekom ’n vlugteling veilig en gelukkig in ’n vrystad kon wees.

13 ’n Vlugteling was veilig in ’n vrystad. Jehovah het oor die vrystede gesê: “Hulle moet vir julle as ’n toevlug . . . dien” (Jos. 20:2, 3). Jehovah het gesê dat ’n vlugteling nie twee keer vir dieselfde saak geoordeel kan word nie. En die wraaknemer was nie toegelaat om die vlugteling in die stad dood te maak nie. Terwyl die vlugteling in die stad was, was hy veilig, want Jehovah het hom beskerm. Hy was nie in ’n tronk nie. In die stad kon die vlugteling werk, ander help en Jehovah in vrede dien. Hy kon gelukkig en tevrede wees.

Wees verseker dat Jehovah jou vergewe (Sien paragraaf 14-16)

14. Waarvan kan ’n berouvolle Christen seker wees?

14 Party van God se knegte wat ernstig gesondig het maar berou getoon het, voel nog steeds skuldig oor wat hulle gedoen het. Party voel selfs dat Jehovah nooit sal vergeet wat hulle gedoen het nie. Voel jy dalk so? Jy kan daarvan seker wees dat as Jehovah vergewe, vergewe hy heeltemal. Daniel, wat vroeër genoem is, het dit ervaar. Die ouer manne het hom raad gegee en hom gehelp om weer ’n skoon gewete te hê. Hy sê: “Dit het gevoel asof ek weer kon asemhaal. Nadat ek die regte ding gedoen het, het ek nie meer skuldig gevoel nie. Dit wat ek gedoen het, is nou in die verlede. Dit is net soos Jehovah sê, hy vat ons probleme baie ver van ons af weg. Jy hoef dit nooit weer te sien nie.” As ’n vlugteling eers in die vrystad was, was daar geen rede om bang te wees dat die wraaknemer hom sou doodmaak nie. As Jehovah eers ons sondes vergewe het, hoef ons ook nie bang te wees dat hy dit teen ons sal hou of ons weer daarvoor sal straf nie.—Lees Psalm 103:8-12.

15, 16. Hoe verseker Jesus se rol as Verlosser en Hoëpriester jou van Jehovah se genade?

15 Ons het selfs meer rede as die Israeliete om te glo dat Jehovah genadig is. Nadat Paulus gesê het dat hy baie teleurgesteld is omdat hy Jehovah nie volmaak kon gehoorsaam nie, het hy gesê: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!” (Rom. 7:25). Wat het hy hiermee bedoel? Al het Paulus teen sonde gestry en foute gemaak, was hy berouvol. Hy was oortuig dat God hom deur middel van Jesus se losprys sou vergewe. Omdat Jesus die losprys betaal het, kan ons ’n skoon gewete en innerlike vrede hê (Heb. 9:13, 14). En omdat hy ons Hoëpriester is, “kan hy ook dié wat deur hom tot God nader, volkome red, omdat hy altyd lewe om vir hulle te pleit” (Heb. 7:24, 25). Die hoëpriester het die Israeliete daarvan verseker dat Jehovah hulle sondes sal vergewe. Met Jesus as ons Hoëpriester het ons selfs meer rede om seker te wees dat ons “barmhartigheid kan verkry en onverdiende goedhartigheid kan vind vir hulp op die regte tyd.”—Heb. 4:15, 16.

16 As ons Jehovah ons toevlug wil maak, moet ons geloof in Jesus se losprysoffer hê. Moenie net glo dat die losprys baie ander mense help nie. Glo ook dat die losprys jou kan help (Gal. 2:20, 21). Glo dat Jehovah jou deur middel van die losprys vergewe en dat dit jou die hoop gee om vir ewig te lewe. Jesus se losprysoffer is Jehovah se geskenk aan jou.

17. Hoekom wil jy Jehovah jou toevlug maak?

17 Die vrystede is ’n bewys van Jehovah se genade. God het deur hierdie reëling gewys dat lewe heilig is. Dit wys ook hoe die ouer manne ons kan help, wat dit beteken om ware berou te hê en hoekom ons heeltemal oortuig kan wees dat Jehovah ons sal vergewe. Maak jy Jehovah jou toevlug? Daar is geen veiliger plek om te wees nie! (Ps. 91:1, 2). In die volgende artikel gaan ons kyk hoe die vrystede ons kan help om Jehovah, die volmaakte voorbeeld van geregtigheid en genade, na te volg.

^ par. 3 Van hierdie studieartikel af sal ons die nuwe sangboek, ‘Sing met vreugde’ vir Jehovah, gebruik.

^ par. 10 Volgens Joodse geleerdes het die persoon wat iemand per ongeluk doodgemaak het se gesin saam met hom in die vrystad gaan bly.