Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie soos die wêreld dink nie

Moenie soos die wêreld dink nie

“Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog . . . van die wêreld.”—KOL. 2:8.

LIED: 38, 31

1. Watter raad het die apostel Paulus vir Christene gegee? (Sien prent aan begin van artikel.)

DIE apostel Paulus het in ongeveer 60-61 HJ sy brief aan die Christene in Kolosse geskryf, terwyl hy ’n gevangene in Rome was. Hy het vir hulle gesê hoe belangrik dit is om “geestelike insig” te hê. Dit het beteken dat hulle dinge moes sien soos Jehovah dit sien (Kol. 1:9). Paulus het ook gesê: “Dit sê ek sodat geen mens julle met oorredende argumente mislei nie. Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie” (Kol. 2:4, 8). Paulus het ook verduidelik hoekom party idees verkeerd is en hoekom onvolmaakte mense dalk daarvan hou. Hierdie idees kan mense byvoorbeeld laat voel dat hulle beter of slimmer as ander is. Paulus het hierdie brief geskryf om die broers te help om nie soos die wêreld te dink nie en om nie verkeerde dinge te doen nie.—Kol. 2:16, 17, 23.

2. Hoekom gaan ons na voorbeelde kyk van hoe die wêreld dink?

2 Mense wat soos die wêreld dink, ignoreer Jehovah se beginsels. En as ons nie versigtig is nie, kan dit ons geloof stadig maar seker verswak. Ons het elke dag te doen met die wêreld en sy denke op die TV, die Internet, by die werk of by die skool. In hierdie artikel gaan ons kyk hoe ons ons teen hierdie slegte invloede kan beskerm. Ons gaan vyf voorbeelde bespreek van hoe die wêreld dink en hoe ons dit kan verwerp.

MOET ONS AAN GOD GLO?

3. Van watter idee hou baie mense, en waarom?

3 “Ek kan ’n goeie persoon wees sonder om aan God te glo.” In baie lande is dit glad nie vreemd as iemand sê dat hy nie aan God glo nie. Iemand wat dit sê, het dalk nog nie mooi daaroor gedink nie. Miskien hou hulle meer van die idee dat hulle kan doen net wat hulle wil. (Lees Psalm 10:4.) Party voel dalk dat hulle baie slim klink wanneer hulle sê: “Ek kan goeie beginsels hê sonder om aan God te glo.”

4. Wat kan ons vir iemand sê wat nie aan ’n Skepper glo nie?

4 Is dit logies om te glo dat daar nie ’n Skepper is nie? Baie mense raak deurmekaar wanneer hulle kyk na wat die wetenskap sê oor hoe lewe begin het. Maar eintlik is die antwoord maklik. Kan ’n huis net vanself ontstaan? Natuurlik nie! Iemand moes dit gebou het. Maar enigiets wat lewe, is baie ingewikkelder as ’n huis. Selfs die eenvoudigste lewende sel kan meer selle maak deur te repliseer, of ’n kopie van homself te maak, iets wat ’n huis nooit sal kan doen nie! Dit beteken dat selle inligting kan stoor en dit na die nuwe selle oordra sodat die nuwe selle ook kan vermeerder. Wie het hierdie lewende selle ontwerp? Die Bybel sê: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God.”—Heb. 3:4.

5. Wat kan ons sê van die idee dat ons ’n goeie persoon kan wees sonder om aan God te glo?

5 Wat kan ons sê van die idee dat ons ’n goeie persoon kan wees sonder om aan God te glo? Die Bybel sê dat mense wat nie aan God glo nie, ook dalk goeie beginsels het (Rom. 2:14, 15). Byvoorbeeld, hulle is dalk lief vir hulle ouers en respekteer hulle. Maar iemand wat nie Jehovah se standaarde volg van wat reg en verkeerd is nie, kan maklik ’n baie slegte besluit maak (Jes. 33:22). Baie intelligente mense is oortuig daarvan dat ons God se hulp nodig het om die probleme in die wêreld reg te stel. (Lees Jeremia 10:23.) Daarom moet ons nie dink dat ons weet wat reg is as ons nie aan God glo en volgens sy standaarde lewe nie.—Ps. 146:3.

HET ONS GODSDIENS NODIG?

6. Wat dink baie mense van godsdiens?

6 “Jy kan gelukkig wees sonder godsdiens.” Baie mense hou van hierdie idee omdat hulle voel dat godsdiens vervelig is en nie regtig saak maak nie. En party hou nie van ’n godsdiens wat mense van die hel leer, kollektes neem of die politiek ondersteun nie. En daarom verbaas dit ons nie dat al hoe meer mense voel dat hulle sonder godsdiens gelukkig kan wees. Hulle sê dalk: “Ek wil God graag dien, maar ek wil nie aan ’n godsdiens behoort nie.”

7. Hoe kan die ware godsdiens jou gelukkig maak?

7 Kan jy regtig sonder godsdiens gelukkig wees? ’n Persoon kan gelukkig wees sonder valse godsdiens. Maar niemand kan regtig gelukkig wees sonder ’n vriendskap met “die gelukkige God”, Jehovah, nie (1 Tim. 1:11). Alles wat God doen, doen hy om ander te help. En sy knegte is gelukkig omdat hulle ander ook graag help (Hand. 20:35). Dink byvoorbeeld aan hoe ware aanbidding jou gesin kan help om gelukkig te wees. Ware aanbidding help ons om ons huweliksmaat te respekteer, getrou aan hulle te bly, gehoorsame kinders groot te maak en om opreg vir ons familie lief te wees. Hierdie aanbidding help Jehovah se knegte regoor die wêreld om in vrede saam te werk en om almal in die gemeente lief te hê.—Lees Jesaja 65:13, 14.

8. Hoe help Matteus 5:3 ons om te verstaan wat mense regtig gelukkig maak?

8 Kan ’n persoon dan regtig gelukkig wees sonder om God te dien? Wat maak mense gelukkig? Party geniet hulle werk, sport of ’n stokperdjie. Dit maak ander weer gelukkig om vir hulle familie of vriende te sorg. Al hierdie dinge kan jou goed laat voel, maar die lewe behels meer as dit. Ons is nie dieselfde as diere nie. Ons is gemaak om ons Skepper te leer ken en hom getrou te dien. As ons dit doen, sal dit ons gelukkig maak. (Lees Matteus 5:3.) Byvoorbeeld, ons voel gelukkig en aangemoedig wanneer ons saam met ons broers en susters bymekaarkom om Jehovah te aanbid (Ps. 133:1). Dit maak ons ook bly om deel te wees van ’n wêreldwye broederskap, ’n skoon lewe te lei en ’n wonderlike hoop vir die toekoms te hê.

HET ONS SEDELIKE STANDAARDE NODIG?

9. (a) Hoe beskou die wêreld seks? (b) Hoekom sê God se Woord dat seks buite die huwelik verkeerd is?

9 “Wat is verkeerd met seks buite die huwelik?” Mense vra dalk: “Hoekom is julle so streng? Geniet net die lewe.” ’n Christen kan nie seksuele sonde goedkeur nie. Hoekom nie? Want God se Woord waarsku dat seksuele sonde verkeerd is. * (Lees 1 Tessalonisense 4:3-8.) Jehovah het die reg om vir ons wette te gee omdat hy ons gemaak het. Hy sê dat net ’n man en ’n vrou wat met mekaar getroud is, seks mag hê. God gee ons hierdie wette omdat hy vir ons lief is en omdat dit ons kan help. Families wat dit gehoorsaam, geniet respek, liefde en veiligheid. God sal dié straf wat aspris ongehoorsaam is.—Heb. 13:4.

10. Hoe kan ’n Christen seksuele sonde vermy?

10 God se Woord leer ons hoe om seksuele sonde te vermy. ’n Belangrike manier hoe ons dit kan doen, is om te beheer waarna ons kyk. Jesus het gesê: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg . . . As daardie regteroog van jou jou dan nou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou af weg” (Matt. 5:28, 29). Daarom sal ’n Christen nie na pornografie kyk of na musiek luister wat seksuele gedagtes het nie. Die apostel Paulus het aan Christene geskryf: “Maak . . . dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery [of, seksuele sonde]” (Kol. 3:5). Ons moet ook versigtig wees waaroor ons dink en praat.—Ef. 5:3-5.

HET ONS ’N GOEIE WERK IN DIE WÊRELD NODIG?

11. Hoekom wil ons dalk ’n goeie werk hê?

11 “’n Goeie werk sal jou gelukkig maak.” Mense sê dalk vir ons om ons tyd en energie te gebruik om ’n goeie werk te kry en te hou, veral ’n werk waar jy belangrik is of baie geld verdien. Omdat baie mense in die wêreld dink dat ’n goeie werk jou gelukkig sal maak, kan ’n Christen dalk ook so begin dink.

12. Sal ’n goeie werk jou gelukkig maak?

12 Is dit regtig waar dat jy gelukkig sal wees as jy ’n goeie werk het waar jy belangrik is en baie geld verdien? Nee. Dink aan die voorbeeld van Satan. Hy wou in beheer gewees het. Hy wou ook belangrik gewees het. En op ’n manier het hy gekry wat hy wou hê. Maar hy is nie gelukkig nie, hy is kwaad (Matt. 4:8, 9; Op. 12:12). ’n Goeie werk kan jou net vir ’n kort tydjie gelukkig maak. Maar dink net hoe gelukkig ons is wanneer ons ander leer van God en die wonderlike hoop om vir ewig te lewe. Geen werk in hierdie wêreld kan jou so gelukkig maak nie. Mense in die wêreld is ook aggressief, jaloers en kompeteer met mekaar. Maar die Bybel sê dat dit alles “’n gejaag na die wind” is. En daarom voel hulle nog steeds leeg.—Pred. 4:4.

13. (a) Hoe moet ons oor ons werk voel? (b) Wat het Paulus werklik gelukkig gemaak volgens sy brief aan die Tessalonisense?

13 Ons almal moet geld verdien, en dit is nie verkeerd om ’n werk te kies waarvan jy hou nie. Maar ons werk moenie die belangrikste ding in ons lewe wees nie. Jesus het gesê: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie” (Matt. 6:24). As ons Jehovah dien en ander die Bybel leer, sal ons regtig gelukkig wees. Die apostel Paulus het self gesien dat dit waar is. Toe hy jonger was, wou hy ’n sukses van sy loopbaan maak. Maar nadat hy begin preek het en gesien het hoe God se boodskap mense se lewens verander, het dit hom werklik gelukkig gemaak. (Lees 1 Tessalonisense 2:13, 19, 20.) Geen werk in die wêreld kan jou so gelukkig maak nie.

Dit maak ons gelukkig wanneer ons ander van Jehovah leer (Sien paragraaf 12, 13)

KAN ONS DIE WÊRELD SE PROBLEME SELF OPLOS?

14. Hoekom hou mense van die idee dat hulle die wêreld se probleme self kan oplos?

14 “Mense kan hulle eie probleme oplos.” Baie mense hou van hierdie idee. Hoekom? As dit waar is, sou dit beteken dat ons God nie nodig het nie en dat ons kan doen net wat ons wil. Jy het dalk al mense hoor sê dat oorlog, misdaad, siektes en armoede minder word. Een verslag sê selfs: “Die rede hoekom dinge in die wêreld beter word, is omdat mense besluit het om die wêreld ’n beter plek te maak.” Is dit regtig so? Begin mense dit nou uiteindelik regkry om die wêreld se probleme op te los? Kom ons kyk na die feite.

15. Hoekom kan ons sê dat die wêreld se probleme ernstig is?

15 Oorlog: Meer as 60 miljoen mense is in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog dood. Selfs ná die Tweede Wêreldoorlog is mense nog steeds besig om oorlog te maak. Teen 2015 was daar al omtrent 65 miljoen mense wat hulle huise moes verlaat as gevolg van oorlog en vervolging. En net in 2015 was daar omtrent 12.4 miljoen mense wat hulle huise moes verlaat. Misdaad: Al het sekere soorte misdaad op party plekke minder geword, het ander soorte misdaad soos gesinsgeweld, terrorisme en misdaad oor die Internet baie meer geword. Baie mense voel ook dat korrupsie regoor die wêreld erger geword het. Mense kan nie van misdaad ontslae raak nie. Siekte: Party siektes kan genees word. Maar ’n verslag wat in 2013 uitgegee is, het gesê dat daar elke jaar omtrent negemiljoen mense onder die ouderdom van 60 sterf as gevolg van hartsiektes, beroertes, kanker, asemhalingsiektes en diabetes. Armoede: Die Wêreldbank het gesê dat die aantal mense wat in Afrika swaarkry omdat hulle baie arm is, het van 280 miljoen in 1990 tot 330 miljoen in 2012 gestyg.

16. (a) Hoekom kan net God se Koninkryk die wêreld se probleme oplos? (b) Wat het Jesaja en ’n psalmis gesê, sal God se Koninkryk doen?

16 Die ekonomie en politieke organisasies word deur selfsugtige mense beheer. Hulle kan nie oorlog, misdaad, siekte en armoede verwyder nie—net God se Koninkryk kan. Dink aan wat Jehovah vir die mens gaan doen. Oorlog: God se Koninkryk gaan alles verwyder wat oorlog veroorsaak soos selfsugtigheid, korrupsie, patriotisme, valse godsdiens en natuurlik Satan ook (Ps. 46:8, 9). Misdaad: God se Koninkryk leer nou al miljoene mense om mekaar lief te hê en te vertrou. Geen ander regering kan dit doen nie (Jes. 11:9). Siekte: Jehovah gaan alle siekte wegvat en mense sal volmaak en gesond wees (Jes. 35:5, 6). Armoede: Jehovah sal al die armoede in die wêreld wegvat. En almal sal baie gelukkig wees en ’n vriendskap met hom kan geniet. Dit is baie beter as al die geld in die wêreld.—Ps. 72:12, 13.

“WEET HOE JULLE ELKEEN BEHOORT TE ANTWOORD”

17. Wat kan jy doen om nie soos die wêreld te dink nie?

17 As jy iets in die wêreld hoor wat jou geloof dalk toets, moet jy gaan kyk wat God se Woord daaroor sê. En praat hieroor met ’n broer of suster wat geestelik sterk is. Vra jou af: ‘Hoekom hou mense van hierdie idee? Hoekom is dit verkeerd? En hoe kan ek hierdie gedagtes verwerp?’ As ons Paulus se raad volg wat hy aan die gemeente in Kolosse gegee het, kan ons onsself beskerm om nie soos die wêreld te dink nie. Hy het gesê: “Gaan voort om in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is, . . . sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”—Kol. 4:5, 6.

^ par. 9 Baie mense besef nie dat die gedeelte in Johannes 7:53–8:11, wat nog in party Bybels is, nie oorspronklik deel van die Bybel was nie. Party het gedink dat hierdie verse sê dat net ’n persoon sonder sonde iemand kan oordeel wat egbreuk gepleeg het. Maar die wet wat God vir die Israeliete gegee het, sê: “As ’n man betrap word terwyl hy by ’n vrou lê wat aan ’n eienaar behoort, dan moet hulle twee saam sterf.”—Deut. 22:22.