Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om aan te pas by jou nuwe gemeente

Hoe om aan te pas by jou nuwe gemeente

“EK WAS senuweeagtig om hiernatoe te trek. Ek het nie geweet of ek vriende sou maak of aanvaar sou word nie”, sê Allen. * Allen is besig om by ’n nuwe gemeente aan te pas wat meer as 1 400 kilometer weg van sy huis af is.

As jy na ’n nuwe gemeente getrek het, kan dit dalk vir jou ook ’n uitdaging wees. Wat kan jou help om aan te pas? Wat kan jy doen as dit moeiliker is as wat jy verwag het? Of sê nou jy het nie na ’n nuwe gemeente getrek nie, hoe kan jy nuwelinge in jou gemeente help om aan te pas?

HOE KAN JY AANPAS EN FLOREER?

Dink aan hierdie voorbeeld: Wanneer ’n boom oorgeplant word, ondervind dit stres. Die meeste van sy wortels word afgesny wanneer dit uit die grond gehaal word sodat dit makliker vervoer kan word. Nadat dit oorgeplant is, moet die boom onmiddellik begin wortelskiet. Net so was dit dalk vir jou ook stresvol om na ’n nuwe gemeente te trek. In jou vorige gemeente het jou “wortels” diep gegroei omdat jy hegte vriendskappe en ’n vaste geestelike roetine gehad het. Nou moet jy nuwe wortels groei sodat jy in ’n nuwe omgewing kan floreer. Hoe kan jy dit doen? Deur Bybelbeginsels toe te pas. Kom ons bespreek ’n paar:

’n Persoon wat God se Woord gereeld lees, is “soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal suksesvol wees.”Ps. 1:1-3.

Net soos ’n boom gereeld water moet kry om gesond te bly, moet ’n Christen homself gereeld voed met God se Woord om sy verhouding met God sterk te hou. Daarom moet jy elke dag die Bybel lees en gemeentelike vergaderinge gereeld bywoon. Bly by jou goeie gewoontes soos gesinsaanbidding en persoonlike studie. Hou aan om alles te doen wat jy voorheen gedoen het om jou verhouding met Jehovah sterk te hou.

“Wie ander ryklik verkwik, sal ook ryklik verkwik word.”Spr. 11:25.

Wanneer jy ywerig aan die bediening deelneem, sal dit jou verkwik en help om vinniger aan te pas. Kevin, wat as ’n ouer man dien, sê: “Wat my en my vrou die meeste gehelp het, was om hulppionierdiens te doen kort nadat ons by ons nuwe gemeente aangekom het. Ons het die broers, die pioniers en die gebied gou leer ken.” Roger, wat meer as 1 600 kilometer ver weggetrek het, sê: “Die beste manier om by ’n nuwe gemeente aan te pas, is om so gereeld as moontlik in velddiens uit te gaan. Laat die ouer manne ook weet dat jy bereid is om te help waar jy kan, miskien deur die Koninkryksaal skoon te maak, in te staan vir ’n vergaderingdeel of iemand op te tel vir die vergadering. Wanneer die broers en susters sien dat ’n nuwe persoon ’n selfopofferende gees het, sal hulle makliker sy vriende word.”

Maak julle harte wyd oop.2 Kor. 6:13.

Wys vir die broers dat jy hulle liefhet. Nadat Melissa en haar gesin na ’n nuwe gemeente getrek het, het hulle hul bes probeer om nuwe vriende te maak. Sy sê: “Ons het ’n bietjie langer voor en ná die vergaderinge met ander gesels sodat ons genoeg tyd kon hê om meer as net ‘hallo’ te sê.” Dit het die gesin gehelp om nuwe name vinniger te leer. Hulle het ook verder gegaan deur gasvryheid te betoon, wat hulle nuwe bande van vriendskap versterk het. Sy sê ook: “Ons het foonnommers uitgeruil sodat hulle ons kon kontak en ons vir geestelike en ander aktiwiteite kon nooi.”

As jy dit oorweldigend vind om nuwe mense te ontmoet, kan jy kleiner stappe neem om dit makliker te maak. Jy kan byvoorbeeld glimlag, al voel jy aanvanklik nie lus nie. ’n Glimlag sal ander na jou toe aantrek. Rachel, wat ver getrek het van waar sy grootgeword het, sê: “Ek is van nature skaam. Soms moet ek myself dwing om met die broers en susters in my nuwe gemeente te praat. Daarom soek ek na iemand in die Koninkryksaal wat sit en met niemand gesels nie. Miskien is daardie persoon net so skaam soos ek.” Kan jy dalk ’n doelwit stel om voor en ná elke vergadering met iemand anders te gesels?

In die eerste paar weke is jy dalk opgewonde om nuwe mense te ontmoet. Maar daardie gevoel kan ná ’n ruk verdwyn. As dit gebeur, sal jy moontlik harder moet werk om aan te hou om nuwe vriende te maak.

’n Boom wat verskuif word, ondervind stres, maar nadat dit oorgeplant is, groei dit nuwe wortels

GEE JOUSELF TYD OM AAN TE PAS

Party bome neem dalk langer as ander om in ’n nuwe omgewing goed gewortel te raak. Net so neem dit vir party mense langer om by ’n nuwe gemeente aan te pas. As jy ’n ruk gelede getrek het en dit nog steeds moeilik vind om aan te pas, kan die volgende Bybelbeginsels jou help:

“Laat ons derhalwe nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie moeg word nie.”Gal. 6:9.

Gee jouself meer tyd om aan te pas as wat jy oorspronklik verwag het. Sommige Gileadopgeleide sendelinge wat in ’n ander land dien, bly byvoorbeeld ’n hele paar jaar in hulle toewysing voordat hulle weer hulle geboorteland besoek. Dit help hulle om die plaaslike broers beter te leer ken en om by ’n ander kultuur aan te pas.

Alejandro, wat al ’n paar keer getrek het, weet dat jy nie jouself kan dwing om vinniger aan te pas nie. Hy vertel: “Die laaste keer toe ons trek, het my vrou gesê: ‘Al my vriende is in ons vorige gemeente!’” Hy het haar daaraan herinner dat sy twee jaar gelede, ná hulle vorige trek, presies dieselfde ding gesê het. Maar sy het gedurende daardie twee jaar belangstelling in ander getoon, en so het vreemdelinge goeie vriende geword.

“Moenie sê: ‘Waarom was die vroeëre dae beter as hierdie dae?’ nie, want dit is nie uit wysheid dat jy hieroor gevra het nie.”Pred. 7:10.

Moenie jou nuwe gemeente met jou vorige een vergelyk nie. Die broers in jou nuwe gemeente is dalk meer teruggetrokke of meer spontaan as waaraan jy gewoond is. Fokus op hulle goeie eienskappe, net soos jy wil hê hulle op joune moet fokus. Party wat getrek het, is gedwing om hulleself af te vra: ‘Is ek werklik lief vir “die hele gemeenskap van broers”?’—1 Pet. 2:17.

“Hou aan vra, en vir julle sal gegee word.”Luk. 11:9.

Bid voortdurend vir hulp. David, ’n ouer man, sê: “Moenie dit alleen probeer aanpak nie. Daar is baie dinge wat ons slegs met Jehovah se hulp kan doen. Bid daaroor!” Rachel, wat vroeër aangehaal is, stem saam. Sy sê: “As ek en my man nie regtig deel voel van die gemeente nie, bid ons tot Jehovah. Ons vra hom spesifiek: ‘Wys vir ons asseblief of ons iets doen wat dit vir ander moeilik maak om nader aan ons te kom.’ Dan probeer ons om meer tyd saam met die broers en susters te spandeer.”

Ouers, as julle kinders sukkel om in te pas, moet julle die tyd neem om saam met hulle daaroor te bid. Help hulle om nuwe vriende te maak deur geleenthede te skep vir opbouende assosiasie.

HELP NUWELINGE OM WELKOM TE VOEL

Wat kan jy doen om nuwelinge te help wat by jou gemeente ingetrek het? Probeer jou bes om van die begin af ’n ware vriend te wees. Om dit te doen, moet jy jou probeer voorstel watter dinge jy sou waardeer as jy ’n nuweling was, en dan moet jy daardie dinge doen (Matt. 7:12). Kan jy hulle vir gesinsaanbidding oornooi of saam met hulle die maandelikse program van JW Broadcasting kyk? Kan jy hulle nooi om saam met jou velddiens te doen? As julle ’n eenvoudige ete saam geniet, sal hulle jou gasvryheid lank onthou. Op watter ander praktiese maniere kan jy nuwelinge help?

Carlos sê: “Toe ons by ons nuwe gemeente aankom, het ’n suster vir ons ’n lys gegee van winkels met redelike pryse. Dit het baie gehelp.” Iemand wat van ’n ander plek kom waar dit dalk nie so warm, koud of reënerig is nie, sal miskien dankbaar wees as jy hulle help om klere te kies wat vir julle klimaat werk. Jy kan hulle ook help om meer doeltreffend te wees in die bediening deur hulle te vertel van die geskiedenis van die gebied, of jy kan die plaaslike godsdiensoortuigings aan hulle verduidelik.

DIT IS DIE MOEITE WERD OM AAN TE PAS

Allen, wat aan die begin genoem is, is al meer as ’n jaar in sy nuwe gemeente. Hy sê: “Ek moes my aan die begin forseer om die broers en susters te leer ken. Maar nou is hulle vir my soos familie, en ek is gelukkig.” Allen besef dat hy nie vriende verloor het toe hy getrek het nie. Hy het eerder nuwe vriende bygekry, wat waarskynlik lewenslank sy vriende sal bly.

^ par. 2 Van die name is verander.