Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sing met vreugde!

Sing met vreugde!

“Dit is goed om ons God met melodieë te besing.”—PS. 147:1.

LIED: 9, 138

1. Wat help sang ons om te doen?

’N BEKENDE liedjieskrywer het eenkeer gesê: “Woorde gee jou die gedagtes. Musiek gee jou die gevoel. Maar ’n liedjie laat jou die gedagtes voel.” Ons liedjies help ons om Jehovah te loof en om hom te wys dat ons hom liefhet. Dit laat ons nader aan ons hemelse Vader voel. Of ons nou alleen of saam met ons broers en susters sing, sang is ’n belangrike deel van ware aanbidding.

2, 3. (a) Hoekom is party dalk skaam om in die gemeente hardop te sing? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

2 Hoe voel jy daaroor om in die gemeente hardop te sing? Voel jy ’n bietjie skaam? In party kulture voel mans dalk ongemaklik om voor ander mense te sing. Dit kan die gemeente benadeel, veral as die ouer manne huiwer om te sing of as hulle met ander dinge besig is terwyl die res van die gemeente sing.—Ps. 30:12.

3 As sang vir ons ’n belangrike deel van ons aanbidding is, sal ons daar wil wees wanneer dit tyd is om te sing. Daarom moet elkeen van ons ons afvra: ‘Hoe voel ek daaroor om by die vergaderinge te sing? Wat kan ek doen as ek dalk skaam is om voor ander mense te sing? En hoe kan ek die liedjies met gevoel sing?’

SANG IS ’N BELANGRIKE DEEL VAN WARE AANBIDDING

4, 5. Hoe was sang by die tempel in eertydse Israel gereël?

4 Getroue aanbidders van Jehovah het nog altyd musiek gebruik om hom te loof. Toe die Israeliete Jehovah getrou gedien het, was sang ’n belangrike deel van hulle aanbidding. Byvoorbeeld, toe Dawid reëlings vir die tempel gemaak het, het hy 4 000 Leviete gereël om Jehovah met musiek te loof. Daar was 288 “wat geoefen was in sang tot Jehovah, almal meesters”.—1 Kron. 23:5; 25:7.

5 Musiek en sang was ’n belangrike deel van die tempel se toewyding. Die Bybel sê: “Toe die trompetblasers en die sangers soos een man een geluid laat hoor om Jehovah te loof en te dank, en net toe hulle die geluid aanhef met die trompette en met die simbale en met die instrumente vir sang en met lofprysing aan Jehovah, . . . [het] die heerlikheid van Jehovah . . . die huis van die ware God gevul.” Dit moes die Israeliete se geloof baie versterk het!—2 Kron. 5:13, 14; 7:6.

6. Watter reëlings het Nehemia vir musiek en sang gemaak toe hy die goewerneur van Jerusalem was?

6 Toe Nehemia gereël het dat die Israeliete Jerusalem se muur moes herbou, het hy ook gereël dat die Leviete sing en musiek maak. Hierdie spesiale musiekprogram het die toewyding baie vreugdevol gemaak. Daar was ook “twee groot dankkore”. Die kore het in teenoorgestelde rigtings op die muur geloop en naby die tempel ontmoet, en hulle kon van baie ver gehoor word (Neh. 12:27, 28, 31, 38, 40, 43). Ons kan seker wees dat Jehovah baie bly was om te hoor hoe sy aanbidders hom entoesiasties met sang geloof het.

7. Hoe het Jesus gewys dat sang ’n belangrike deel van ons aanbiddingis?

7 Toe die Christengemeente gestig is, het musiek ’n belangrike deel van ware aanbidding gebly. Dink aan wat op die belangrikste aand in die mensegeskiedenis gebeur het. Nadat Jesus die Here se Aandmaal ingestel het, het hy saam met sy dissipels lofliedere gesing.—Lees Matteus 26:30.

8. Hoe het die eerste-eeuse Christene gewys dat sang ’n belangrike deel van ons aanbiddingis?

8 Die eerste-eeuse Christene het gewys hoe ons God met sang moet loof. Hulle het in huise bymekaargekom. Al was dit nie so mooi soos die tempel nie, het hulle nog steeds ywerig vir Jehovah gesing. Die apostel Paulus het vir sy Christenbroers gesê: “Hou aan om mekaar te leer en ernstig te vermaan met psalms, lofliedere tot God, geestelike liedere met welwillendheid, terwyl julle in julle harte tot Jehovah sing” (Kol. 3:16). Die liedjies in ons sangboek is geestelike liedjies wat met waardering gesing moet word. Dit is deel van die geestelike voedsel wat “die getroue en verstandige slaaf” vir ons gee.—Matt. 24:45.

AS JY SKAAM IS OM TE SING

9. (a) Hoekom sing party nie met vreugde by die vergaderinge of byeenkomste nie? (b) Hoe moet ons vir Jehovah sing, en wie moet die leiding neem? (Sien prent aan begin van artikel.)

9 Miskien is jy nie gewoond daaraan om te sing nie, want dit is nie hoe jy grootgeword het nie. Met vandag se moderne tegnologie geniet jy dit dalk om na professionele sangers te luister. Maar wanneer jy jou stem met hulle s’n vergelyk, voel jy dalk ’n bietjie skaam of teleurgesteld. Ons moet onthou dat ons ’n verantwoordelikheid het om Jehovah met sang te loof. Hou jou sangboek hoog, lig jou kop en sing uit volle bors! (Esra 3:11; lees Psalm 147:1.) In baie Koninkryksale vandag word die liedjies se woorde op skerms gewys wat ons help om duideliker te sing. Dit is interessant dat sang nou deel is van die Koninkryksbedieningskool vir ouer manne. Dit wys dat dit belangrik is dat die ouer manne die leiding neem wanneer die gemeente sing.

10. Wat moet ons onthou as ons skaam is om hardop te sing?

10 Die rede hoekom party dalk skaam is om uit volle bors te sing, is omdat hulle bang is dat mense vir hulle sal kyk of nie van hulle stem sal hou nie. Wanneer ons praat ‘struikel ons almal dikwels’ (Jak. 3:2). Maar dit keer ons nie om te praat nie. Daarom moet ons nie toelaat dat ons onvolmaakte stemme ons keer om vir Jehovah te sing nie.

11, 12. Wat kan ons help om beter te sing?

11 Ons is dalk skaam omdat ons nie regtig weet hoe om te sing nie. Maar daar is ’n paar basiese voorstelle wat ons kan volg om beter te kan sing. *

12 Jy kan hard en met ’n sterk stem sing as jy leer om reg asem te haal. Net soos elektrisiteit ’n gloeilamp laat brand, gee asemhaling jou stem krag wanneer jy praat of sing. Jy moet so hard sing soos wat jy praat, of selfs harder as dit. (Sien die voorstelle in Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool, bladsy 181 tot 184, onder die onderhofie “Behoorlike asemhalingsbeheer”.) Die Bybel sê soms vir Jehovah se aanbidders om ‘uit te roep met vreugde’ wanneer ons vir Jehovah sing.—Ps. 33:1-3.

13. Verduidelik hoe jy met meer selfvertroue kan sing.

13 Gedurende gesinsaanbidding of wanneer jy alleen is, kan jy die volgende probeer: Kies ’n liedjie uit ons sangboek waarvan jy baie hou. Lees die woorde hardop met ’n sterk stem en selfvertroue. Sê dan al die woorde van een frase van die liedjie in een asem met dieselfde stemsterkte. Sing dan daardie frase net so hard (Jes. 24:14). Jou sangstem sal sterker word, en dit is ’n goeie ding. Moenie dat dit jou bang maak of skaam laat voel nie!

14. (a) Hoe kan dit jou help om beter te sing as jy jou mond wyd oopmaak? (Sien die venster “ Hoe jy beter kan sing”.) (b) Wat het jou al gehelp om beter te sing?

14 As jy ’n sterker sangstem wil hê, moet jy jou mond wyd oopmaak. Wanneer jy sing, moet jou mond wyer oop wees as wanneer jy praat. Maar sê nou jou stem klink vir jou swak of skril? Daar is praktiese raad hieroor in Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool, bladsy 184, in die venster “Hoe om spesifieke probleme te oorkom”.

SING UIT JOU HART VIR JEHOVAH

15. (a) Watter aankondiging was by die 2016-jaarvergadering gemaak? (b) Hoekom is daar ’n nuwe sangboek?

15 By die 2016-jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië het broer Stephen Lett van die Bestuursliggaam ’n nuwe sangboek vrygestel, met die titel ‘Sing met vreugde’ vir Jehovah. Almal was baie opgewonde. Broer Lett het verduidelik hoekom ons ’n nuwe sangboek het. Omdat die Engelse Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif hersien is, moes woorde wat nie meer daarin gebruik word nie, uit die sangboek uitgehaal of vervang word. Daar is ook nuwe liedjies oor ons predikingswerk en die losprys bygevoeg. En omdat sang ’n belangrike deel van ons aanbidding is, het die Bestuursliggaam besluit om ’n sangboek van hoëgehalte te druk. Daarom lyk die nuwe sangboek en die hersiene Bybel dieselfde.

16, 17. Watter veranderinge is daar in die nuwe sangboek?

16 Die liedjies is volgens onderwerp bymekaargesit, en dít maak dit makliker om die nuwe sangboek te gebruik. Byvoorbeeld, die eerste 12 liedjies gaan oor Jehovah en die volgende 8 gaan oor Jesus en die losprys. Daar is ’n onderwerpindeks wat broers veral sal help wanneer hulle ’n liedjie moet kies vir ’n openbare toespraak.

17 Om almal te help om uit die hart te sing, is woorde wat nie meer gebruik word nie uitgehaal en is party woorde vervang om die gedagte makliker te verstaan. Byvoorbeeld, die titel “Lankmoedigheid” is nou “Wees geduldig” en die liedjie se woorde is ook verander. Die titel “Bewaak jou hart” moes verander word na “Ons bewaak ons hart”. Hoekom? Want by ons vergaderinge en byeenkomste is daar baie nuwelinge, belangstellendes, jongmense en susters in die gehoor. As hulle hierdie woorde sing, kan dit hulle dalk ongemaklik maak om vir ander te sê wat hulle moet doen. En daarom is die titel en die liedjie se woorde verander.

Oefen die liedjies gedurende gesinsaanbidding (Sien paragraaf 18)

18. Hoekom moet ons die liedjies in ons nuwe sangboek leer? (Sien voetnoot.)

18 Baie van die liedjies in ‘Sing met vreugde’ vir Jehovah is in die vorm van ’n gebed. Hierdie liedjies kan jou help om vir Jehovah te sê hoe jy voel. Ander liedjies kan ons ‘tot liefde en goeie werke aanspoor’ (Heb. 10:24). Ons wil graag die musiek, ritme en woorde van ons liedjies leer ken. Jy kan dit doen deur na die kooropnames te luister wat op jw.org beskikbaar is. As jy die liedjies by die huis oefen, sal jy leer om met meer selfvertroue en uit die hart te sing. *

19. Hoe kan almal in die gemeente Jehovah aanbid?

19 Onthou dat sang ’n belangrike deel van ons aanbidding is. Dit is een van die beste maniere hoe ons vir Jehovah kan wys dat ons vir hom lief is en hom waardeer. (Lees Jesaja 12:5.) As jy met vreugde sing, sal jy ander aanmoedig om dit ook te doen. Almal in die gemeente—jonk, oud en belangstellendes—kan Jehovah op hierdie manier aanbid. Moenie skaam wees om uit die hart te sing nie. Ons wil eerder doen wat die psalmis gesê het: “Sing tot Jehovah”! Ja, kom ons sing met vreugde!—Ps. 96:1.

^ par. 11 Vir meer voorstelle wat jou kan help om beter te sing, sien die maandelikse program vir Desember 2014 op JW Broadcasting (Engels) (VIDEO’S > UIT ONS ATELJEE).

^ par. 18 Elke sessie van ’n byeenkoms begin met ’n musiekaanbieding van tien minute. Dit help ons om opgewonde te raak om die liedjies te sing en ook om ons hart voor te berei om na die program te luister. Daarom word ons aangemoedig om te gaan sit voordat die musiek begin sodat ons daarna kan luister.