Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Vrygewige persoon sal geseën word

’n Vrygewige persoon sal geseën word

OFFERANDES was nog altyd ’n belangrike deel van ware aanbidding. Die Israeliete het diere geoffer, en Christene was nog altyd bekend vir hulle ‘lofoffers’. Maar daar is ander offerandes wat God se hart ook bly maak (Heb. 13:15, 16). Die volgende voorbeelde wys dat hierdie offerandes ons nie net gelukkig maak nie, maar ook vir ons seëninge bring.

Hanna, ’n getroue kneg in die Bybel, wou bitter graag ’n seun gehad het, maar sy kon nie kinders hê nie. Sy het gebid en vir Jehovah belowe dat as sy ’n seun sou hê, sy hom “aan Jehovah [sou] gee al die dae van sy lewe” (1 Sam. 1:10, 11). Hanna het toe later swanger geword en ’n seun met die naam Samuel gehad. Toe Samuel oud genoeg was, het Hanna hom na die tabernakel toe gevat, net soos sy belowe het. Jehovah het Hanna geseën omdat sy ’n selfopofferende gesindheid gehad het. Sy het die voorreg gehad om nog vyf kinders te hê. En Samuel het ’n profeet en ’n Bybelskrywer geword.—1 Sam. 2:21.

Net soos Hanna en Samuel, het Christene vandag ook die voorreg om hulle lewe te gebruik in toegewyde diens aan hulle Skepper. Jesus het ook belowe dat ons ryklik geseën sal word vir enige opofferings wat ons maak in ons aanbidding van Jehovah.—Mark. 10:28-30.

In die eerste eeu was daar ’n Christenvrou met die naam Dorkas wat bekend was vir haar “goeie dade en barmhartigheidsgawes”, met ander woorde opofferings wat sy gemaak het om ander mense te help. Ongelukkig het “sy siek geword en gesterf”. Dit het die gemeente baie hartseer gemaak. Toe die dissipels hoor dat Petrus daar naby was, het hulle hom gesmeek om dadelik soontoe te kom. Dink net hoe bly hulle was toe Petrus vir Dorkas uit die dood opgewek het. Dit was die eerste keer dat ’n apostel iemand wat dood was, weer lewend gemaak het! (Hand. 9:36-41). God het nie die opofferings wat Dorkas gemaak het, vergeet nie (Heb. 6:10). Die verhaal van haar vrygewigheid is in God se Woord neergeskryf as ’n uitstekende voorbeeld vir ons om na te volg.

Die apostel Paulus het ook ’n uitstekende voorbeeld gestel van iemand wat baie van sy tyd en aandag aan ander mense gegee het. Toe Paulus vir sy Christenbroers in Korinte geskryf het, het hy gesê: “Wat my betref, ek sal my met die grootste genoeë uitstort en heeltemal uitgestort word vir julle siele” (2 Kor. 12:15). Paulus het deur ondervinding geleer dat wanneer jy van jouself gee en opofferings maak vir ander mense, dit jou tevrede laat voel. Maar nog belangriker, jy kry ook Jehovah se seën en goedkeuring.—Hand. 20:24, 35.

Dit is duidelik dat Jehovah baie bly is wanneer ons ons tyd en energie gebruik om die belange van die Koninkryk te bevorder en om mede-aanbidders te help. Maar is daar ander maniere waarop ons die Koninkrykspredikingswerk kan ondersteun? Ja! Behalwe vir ons tyd en energie, kan ons God ook eer deur ons vrywillige bydraes. Dit word vir die wêreldwye predikingswerk gebruik, soos om sendelinge en ander spesiale voltydse dienaars te onderhou. Ons vrywillige bydraes word ook gebruik vir die voorbereiding en vertaling van lektuur en video’s, noodlenigings-werk en die bou van nuwe Koninkryksale. Ons kan daarvan seker wees dat ’n vrygewige persoon geseën sal word. En nog belangriker, ons eer Jehovah wanneer ons ons waardevolle dinge vir hom gee.—Spr. 3:9; 22:9.