Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy besig om Jehovah se denke jou eie te maak?

Is jy besig om Jehovah se denke jou eie te maak?

“Word verander deur julle verstand te hervorm.” — ROM. 12:2.

LIED: 56, 123

1, 2. Wat leer ons om te doen terwyl ons geestelik groei? Gee ’n voorbeeld.

’N KLEIN seuntjie kry ’n geskenk by iemand. Sy ouers sê vir hom: “Sê dankie.” Hy doen dit, maar net omdat sy ouers vir hom gesê het om dit te doen. Terwyl hy ouer word, begin hy sy ouers se denke verstaan en hoekom dit belangrik is om dankbaar te wees vir die goeie dinge wat ander doen. En nou sê hy uit sy eie dankie, want hy het geleer om dankbaar te wees.

2 Net so, toe ons die waarheid begin leer het, het ons geleer hoe belangrik dit is om Jehovah se basiese vereistes te gehoorsaam. Maar terwyl ons geestelik groei, leer ons meer oor hoe Jehovah dink — waarvan hy hou, waarvan hy nie hou nie en sy beskouing van sake. As ons toelaat dat Jehovah se denke ons dade en persoonlike keuses beïnvloed, wys ons dat ons besig is om sy denke ons eie te maak.

3. Hoekom kan dit moeilik wees om Jehovah se denke ons eie te maak?

3 Alhoewel ons dit baie geniet om te leer om soos Jehovah te dink, kan dit soms moeilik wees om sy beskouing van sake te hê omdat ons onvolmaak is. Byvoorbeeld, ons weet wat Jehovah se beskouing van sedelike reinheid, materialisme, die predikingswerk, die misbruik van bloed en ander dinge is. Maar ons sukkel dalk om te verstaan hoekom dit sy beskouing is. Wat kan ons daaromtrent doen? Hoe kan ons aanhou om God se denke ons eie te maak? En hoe sal dit ons help om nou en in die toekoms goeie besluite te neem?

HOE OM GOD SE DENKE ONS EIE TE MAAK

4. Wat beteken dit om ons “verstand te hervorm”?

4 Lees Romeine 12:2. Hier beskryf die apostel Paulus wat ons moet doen om soos Jehovah te dink. Die vorige artikel het ons gehelp om te sien dat as ons nie “langer na hierdie stelsel van dinge gevorm [wil] word” nie, ons nie ons gedagtes met wêreldse beskouings en gesindhede moet vul nie. Maar Paulus het ook gesê dat dit belangrik is om ons “verstand te hervorm”. Dit beteken dat ons God se Woord studeer met die doel om sy denke te verstaan, daaroor na te dink en om ons denke in ooreenstemming met God s’n te bring.

5. Wat is die verskil tussen om te lees en te studeer?

5 Om te studeer is meer as om net vinnig deur iets te lees of om net die antwoorde op studievrae te onderstreep. Wanneer ons studeer, dink ons na oor wat die inligting ons oor Jehovah leer, hoekom hy dinge op ’n sekere manier doen en hoe hy dink. Ons probeer verstaan hoekom God vir ons sê om sekere dinge te doen en ander dinge te vermy. Ons dink ook oor watter veranderinge ons moet maak in ons lewe en in die manier waarop ons dink. Dit is dalk nie moontlik om gedurende elke studiesessie oor al hierdie dinge te dink nie. Maar dit sal goed wees om miskien die helfte van elke studiesessie te gebruik om na te dink oor wat jy gelees het. — Ps. 119:97; 1 Tim. 4:15.

6. Wat gebeur wanneer ons nadink oor Jehovah se beskouing van sake?

6 Iets wonderliks gebeur wanneer ons gereeld oor God se Woord nadink. Ons ‘maak seker’, of oortuig onsself, dat die manier hoe Jehovah oor sake dink, volmaak is. Ons begin verstaan hoe hy sake beskou en stem dan uiteindelik daarmee saam. Ons verstand word ‘hervorm’, en ons leer om op ’n nuwe manier te dink. Geleidelik maak ons Jehovah se denke ons eie.

WAT ONS DINK, BEÏNVLOED WAT ONS DOEN

7, 8. (a) Wat is Jehovah se beskouing van materiële dinge? (Sien prente aan begin van artikel.) (b) Wat sal altyd vir ons die belangrikste wees as ons soos Jehovah dink?

7 Ons denke beïnvloed nie net hoe ons voel nie, maar ook wat ons doen (Mark. 7:21-23; Jak. 2:17). Om hierdie punt beter te verstaan, gaan ons na ’n paar voorbeelde kyk. Een voorbeeld, wat in die Evangelieverslae gevind word, wys vir ons wat Jehovah se beskouing van materiële dinge is. God het self die ouers gekies wat sy Seun sou grootmaak — ’n paartjie wat nie baie geld gehad het nie (Lev. 12:8; Luk. 2:24). Toe Jesus gebore is, het Maria hom in “’n krip neergelê, want daar was geen plek vir hulle in die gastekamer nie” (Luk. 2:7). As Jehovah wou, kon hy ’n beter plek voorsien het waar sy Seun gebore sou word. Maar wat vir Hom belangrik was, was dat Jesus in ’n geestelike omgewing grootgemaak sou word.

8 Hierdie Bybelverslag oor Jesus se geboorte wys vir ons hoe Jehovah materiële dinge beskou. Party ouers wil die beste vir hulle kinders hê wanneer dit kom by materiële dinge, al beteken dit dat hulle kinders se geestelikheid daaronder ly. Maar dit is duidelik dat geestelike dinge vir Jehovah die belangrikste is. Het jy Jehovah se beskouing hieroor? Wat wys jou dade? — Lees Hebreërs 13:5.

9, 10. Hoe voel Jehovah daaroor wanneer ’n persoon iemand laat struikel, en hoe kan ons wys dat ons dieselfde voel?

9 Nog ’n voorbeeld is hoe Jehovah voel oor ’n persoon wat iemand laat struikel. Jesus het gesê: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat glo, laat struikel, dit sal vir hom beter wees as ’n meulsteen, soos wat deur ’n esel gedraai word, om sy nek gehang en hy inderdaad in die see gewerp word” (Mark. 9:42). Hierdie woorde wys hoe sterk Jesus gevoel het oor ’n persoon wat iemand laat struikel. Jesus het sy Vader se persoonlikheid volmaak weerspieël. Daarom kan ons seker wees dat Jehovah net so sterk voel oor enigiemand wat nie omgee of sy optrede een van Jesus se volgelinge laat struikel nie. — Joh. 14:9.

10 Het ons dieselfde beskouing as Jehovah en Jesus? Het ons hulle beskouing ons eie gemaak? Wat wys ons dade? Byvoorbeeld, ons hou dalk van ’n sekere soort klerestyl of voorkoms. Maar dit kan dalk party in die gemeente ontstel of veroorsaak dat ander onsedelike gedagtes kry. Sal liefde vir ons broers en susters ons motiveer om hierdie styl te vermy? — 1 Tim. 2:9, 10.

11, 12. Hoe kan ons dit vermy om verkeerde dinge te doen as ons selfbeheersing en God se beskouing van slegte dinge het?

11 ’n Derde voorbeeld is: Jehovah haat onregverdigheid (Jes. 61:8). Jehovah weet dat dit soms vir ons moeilik is om die regte ding te doen omdat ons onvolmaak is. Maar hy wil nog steeds hê dat ons net soos hy onregverdigheid moet haat. (Lees Psalm 97:10.) As ons nadink oor hoekom Jehovah slegte dinge haat, sal dit ons help om sy beskouing ons eie te maak, en dit sal ons die krag gee om nie verkeerde dinge te doen nie.

12 As ons Jehovah se beskouing van onregverdigheid het, sal dit ons help om te sien dat sekere dinge verkeerd is, al word dit nie spesifiek in God se Woord genoem nie. Byvoorbeeld, skootdansery (lap dancing) is ’n vorm van onsedelike gedrag wat baie algemeen in die wêreld word. Party voel dalk dat dit nie verkeerd is nie omdat dit nie dieselfde as seksuele omgang is nie. * Maar is dit hoe Jehovah voel, wat alle slegte dinge haat? Kom ons bly ver weg van slegte dinge deur selfbeheersing aan te kweek en te haat wat Jehovah haat. — Rom. 12:9.

DINK NOU OOR WAT JY IN DIE TOEKOMS GAAN DOEN

13. Hoekom moet ons nou al dink oor Jehovah se beskouing van sake sodat ons goeie besluite in die toekoms kan neem?

13 Wanneer ons studeer, moet ons nadink oor Jehovah se beskouing van sake, want dit kan ons help om in die toekoms goeie besluite te neem. Op hierdie manier sal ons gereed wees en weet wat om te doen as ons in ’n situasie is waar ons onmiddellik ’n besluit moet neem (Spr. 22:3). Kom ons kyk na ’n paar Bybelvoorbeelde.

14. Wat leer ons uit Josef se reaksie toe Potifar se vrou hom probeer verlei het?

14 Toe Potifar se vrou Josef probeer verlei het, het Josef haar dadelik verwerp. Dit is duidelik dat Josef voor die tyd gedink het oor Jehovah se beskouing van getrouheid in die huwelik. (Lees Genesis 39:8, 9.) Hy het vir Potifar se vrou gesê: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?” Dit wys dat hy God se denke sy eie gemaak het. Wat van ons? Sê nou iemand by die werk begin met ons flirt. Of wat as iemand ’n seksueel eksplisiete boodskap of foto na ons selfoon stuur? * As ons voor die tyd geleer het om soos Jehovah te dink en reeds besluit het wat ons in sulke situasies gaan doen, sal dit baie makliker wees om getrou aan Jehovah te bly.

15. Hoe kan ons, soos die drie Hebreërs, aan Jehovah getrou bly?

15 Kyk nou na die voorbeeld van die drie Hebreërs Sadrag, Mesag en Abednego. Hulle het geweier om die goue beeld te aanbid wat deur koning Nebukadnesar opgerig is. Hulle duidelike antwoord aan die koning het gewys dat hulle voor die tyd gedink het oor wat dit beteken om getrou aan Jehovah te bly (Eks. 20:4, 5; Dan. 3:4-6, 12, 16-18). Sê nou jou baas vra jou om geld by te dra vir ’n feesviering wat met valse godsdiens te doen het. Wat sou jy doen? In plaas daarvan om te wag totdat so iets gebeur, hoekom dink jy nie nou al oor wat Jehovah se beskouing van sulke sake is nie? Wanneer so iets dan wel gebeur, sal dit vir jou makliker wees om die regte ding te doen en sê, net soos die drie Hebreërs.

Het jy navorsing gedoen, ’n wettige mediese dokument ingevul en met jou dokter gepraat? (Sien paragraaf 16)

16. Hoe kan dit ons help om voorbereid te wees vir ’n mediese noodgeval as ons duidelik verstaan wat Jehovah se beskouing van sake is?

16 As ons nadink oor Jehovah se beskouing van sake, kan dit ons help om getrou aan hom te bly wanneer ons ’n mediese noodgeval het. Ons is vasbeslote om geen bloedoortappings van heelbloed of enige van die vier hoofkomponente van bloed te aanvaar nie. Maar party prosedures waarby bloed betrokke is, vereis dat ons ’n persoonlike besluit moet neem wat op Bybelbeginsels gebaseer is (Hand. 15:28, 29). Die beste tyd om sulke besluite te neem, is natuurlik nie in die hospitaal waar ons dalk in pyn is en onder druk voel om ’n besluit te neem nie. Dit is nou die tyd om navorsing te doen en om ’n wettige mediese dokument in te vul wat jou wense duidelik uiteensit en dan met jou dokter te praat. *

17-19. Hoekom is dit belangrik om nou te leer wat Jehovah se beskouing van sake is? Gee ’n voorbeeld van ’n situasie waarop ons voorbereid moet wees.

17 Laastens, dink aan hoe vinnig Jesus gereageer het op Petrus se onwyse raad: “Wees goed vir uself, Here.” Dit is duidelik dat Jesus baie gedink het oor God se wil vir hom en oor die profesieë oor sy lewe en dood op die aarde. Hierdie kennis het hom meer vasbeslote gemaak om getrou te bly en om sy lewe as ’n losprys vir ons almal te gee. — Lees Matteus 16:21-23.

18 Vandag is dit God se wil dat ons sy vriende word en soveel moontlik in die predikingswerk doen (Matt. 6:33; 28:19, 20; Jak. 4:8). Net soos in Jesus se geval, kan mense wat dalk goed bedoel ons probeer kry om nie ons bes in Jehovah se diens te doen nie. Byvoorbeeld, wat as jou baas vir jou ’n beter posisie met meer geld aanbied, maar jy weet dat dit met jou geestelike aktiwiteite sal inmeng? Of wat as jy nog op skool is en jy kry dalk die geleentheid om uit die huis te trek om verder te gaan leer? Sal jy op daardie oomblik weet wat om te doen? Moenie wag vir so iets om te gebeur voordat jy bid, navorsing doen en met jou familie en die ouer manne daaroor praat nie. Dit is beter om nou te leer wat Jehovah se beskouing van sake is en om sy denke jou eie te maak. As jy dan ooit so ’n aanbod sou kry, sal dit nie eintlik vir jou ’n versoeking wees nie. Jy sal presies weet wat om te doen omdat jy alreeds besluit het om gefokus te bly op jou diens aan Jehovah.

19 Jy kan heel moontlik aan ander situasies dink wat onverwags jou lojaliteit aan Jehovah kan toets. Ons kan natuurlik nie onsself vir elke moontlike situasie voorberei nie. As ons gedurende ons persoonlike studie nadink oor Jehovah se beskouing van sake, sal ons makliker onthou wat ons geleer het en dit dan in enige situasie kan toepas. Kom ons hou aan om uit te vind wat Jehovah se beskouing van sake is, dit ons eie te maak en te dink hoe dit ons kan help om nou en in die toekoms goeie besluite te neem.

JEHOVAH SE DENKE EN JOU TOEKOMS

20, 21. (a) Hoekom sal ons beperkte vryheid in die nuwe wêreld geniet? (b) Hoe kan ons nou al gelukkig wees?

20 Ons sien baie uit na die nuwe wêreld. Die meeste van ons sien daarna uit om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Onder God se Koninkryk sal die mens bevry wees van die probleme wat ons in hierdie wêreld ervaar. En in die nuwe wêreld sal ons nog steeds die vryheid hê om besluite te neem gebaseer op waarvan ons hou en wat ons graag wil hê.

21 Maar sulke vryheid sal natuurlik nie sonder perke wees nie. Wanneer dit kom by wat reg en verkeerd is, sal sagmoediges gelei word deur Jehovah se wette en denke. Dit sal ons baie gelukkig maak en ons sal ’n oorvloed van vrede geniet (Ps. 37:11). Ons kan nou al ’n mate van daardie geluk geniet terwyl ons Jehovah se denke ons eie maak.

^ par. 12 ’n Skootdans is wanneer ’n danser, wat gewoonlik halfkaal is, op ’n kliënt se skoot sit en seksuele bewegings maak. Afhangende van presies wat in ’n situasie gebeur het, kan sulke gedrag neerkom op seksuele onsedelikheid wat vereis dat die ouer manne ’n regterlike komitee vorm. ’n Christen wat by so iets betrokke was, moet die ouer manne se hulp vra. — Jak. 5:14, 15.

^ par. 14 Wanneer iemand seksueel eksplisiete teksboodskappe, foto’s of video’s deur middel van ’n selfoon stuur, word dit sexting genoem. Afhangende van die feite, kan dit dalk vereis dat die ouer manne ’n regterlike komitee vorm. In party gevalle is minderjariges wat by sexting betrokke was, deur die owerheid as seksoortreders aangekla. Vir meer inligting, gaan na die webwerf jw.org en lees die artikel “Jongmense vra — Wat moet ek omtrent sexting weet?” (Kyk onder BYBELLERINGE > TIENERS.) Of sien die artikel “Hoe om met jou tiener oor sexting te praat” in die Ontwaak! van November 2013, bl. 4-5.

^ par. 16 Vir meer inligting oor Bybelbeginsels wat jou kan help, sien byvoorbeeld die boek ‘Hou julle in God se liefde’, bl. 215-217.